23 Oktober 2008
Posted in
Bedieninge -
Passie vir Christus
Wat en wie is Passie vir Christus?
Dit is jy, dit is ek, dit is julle, dit is ONS! Dit is NIE ‘n persoon, “hulle” of ‘n komitee nie. Dit is wat op jou hart lê, dit is wat jy voel, ervaar en vir HOM wil doen, gee en lewe. Dit is samesyn. Dit is liefde gee en ontvang. Dit is vriendskappe maak, vriendskap gee en vriendskap ontvang. Dit is lag en geniet. Dit is omgee. Dit is gesellig en dit is veral lekker! Dit is gemeente waarvan ek deel is en dit is my mense.
“Passie vir Christus” is verlede jaar begin en ‘n klein vlammetjie is aan die brand gesteek wat gelei het tot die groot sukses van die baksteenprojek. Maar omdat die kerk voortdurende groot finansiële verpligtinge het en die enigste bron van inkomste uit lidmate kom, het verskeie lede gevoel dat die “passie” iets is waarop die gemeente moet voortbou.
So het verskeie gemeentelede suksesvolle aktiwiteite ge-inisieer en georganiseer om nie net ons fondse aan te vul nie, maar om ook veral aan die breë behoefte van samesyn en geniet binne die gemeente te voorsien. Ons dink aan:
- lofsangdiens en wegneemetes
- Walton Park se kermis
- “Internasionale” ete en wynproe
- Padkafee
- Manne-ontbyt
- Manne-aand
Gemeentelede het spontaan na vore gekom met projekte en idees. Ons vertrou dat daar in die nuwe jaar ten minste elke maand een of ander aktiwiteit aangebied sal word.
‘n Beroep word dus gedoen op alle gemeentelede, bestuurslede, selgroepe, kleingroepe, gesinne, gebedsgroepe, bedieninge, jeuggroepe, aksie-groepe, kunstenaars, musici en skrywers – of te wel ‘n beroep op ek en jy - wat gedagtes en idees het om ‘n lekker gemeente-aktiwiteit of -projek te loots of aan te bied, om gerus met Liésl by die kerkkantoor kontak te maak.
Het JY ‘n passie?
Ronelle Boshoff
| Volgende > |
|---|






