Lourens

Getuienisbeleid

Druk
PDF

GESTUURDE GEMEENTE:

Die NG Gemeente Somerstrand is van oortuiging dat Christus se laaste opdrag in Mat 28:20 vir elke plaaslike gemeente geld. Dit hou in dat elke gemeente `n Gestuurde Gemeente is met `n roeping om dissipels te maak van alle nasies. Die gemeente het dus die verantwoordelikheid om alle lidmate toe te rus sodat almal hulle unieke plek in die liggaam kan vind (Ef 4:1-16). Om as gestuurde gemeente te kan funksioneer, is dit van wesenlike belang dat elke lidmaat sy of haar rol in die liggaam sal ken en verstaan. 

 

Vir God gaan dit nie in die eerste plek oor die welwese van die plaaslike gemeente nie, maar oor die koms van die Koninkryk van God.  Daarom leer Hy sy dissipels om te bid:  "Laat U Naam geheilig word, Laat U Koninkryk kom, Laat U wil geskied.”.  Die plaaslike gemeente word wel deur God ingeskakel in sy planne met die koms van die Koninkryk.  Die plaaslike gemeente kry die voorreg om deel van God se plan uit te maak en mee te werk aan die koms van die Koninkryk, hier plaaslik en daar ver. 

 

VISIE:

Ons is `n Hawe wat mense versorg en stuur, sodat ons met vreugde kan lewe en met liefde kan dien vanuit `n vaste geloofsverbintenis met Jesus Christus, ons Hoof.

 

MISSIE:

Om bg visie te help bewaarheid, wil die getuieniskommissie elke lidmaat wat gewillig is, begelei op `n pad van dissipelskap om sodoende, a) sy of haar plek in die liggaam te vind en b) sy of haar eie unieke gestuurdheid te ontdek.

 

VERWAGTE UITKOMS:

Indien hierdie missie getrou uitgeleef word, glo ons dat die volgende uitkomste verwag kan word:

1.    Lidmate sal bewus word van hulle eie unieke roeping binne die groter liggaam, sowel as in die wêreld waar hulle woon en werk. Hulle sal ook die nodige toerusting ontvang om dan hulle gestuurdheid, as deel van `n gestuurde gemeente, in die wêreld te kan uitleef.

2.    Die gemeente as geheel sal sodoende tot `n groeiende besef en insig kom van wat die gemeente se unieke gestuurdheid in ons omgewing alles inhou.

3.    Sommige lidmate mag dalk tot die insig kom dat hulle gestuur word na ander nasies, ander kultuurgroepe of ander lande om daar hulle gestuurdheid te gaan uitleef.

 

TAKE VAN DIE KOMMISSIE:

Om sinvol uitvoering te kan gee aan hierdie visie en missie, beoog die kommissie om die volgende aktiwiteite op `n deurlopende basis te bedryf:

1.    Deurlopende bewusmaking van lidmate dat ons almal gestuurdes is en dat ons daarom `n gestuurde gemeente is (dat ons nie net twv onsself bestaan nie).

2.    Jaarlikse werwing van lidmate vir die toerusting wat deur middel van die dissipelskap program gedoen word. Dit moet ook deurlopend gekommunikeer word dat lidmate juis deur middel van die proses begelei sal word om hulle eie gestuurdheid te ontdek en uit te leef.

3.    Om te verseker dat lidmate wat `n roeping ontvang om hulle gestuurdheid in `n ander land of kultuur te gaan uitleef, wel die wil van God reg onderskei het. (Aanhangsel A verduidelik hoe die lidmate op die pad begelei sal word).

4.    Indien dit onderskei word dat iemand wel `n roeping van God ontvang het, moet daar toegesien word dat hierdie lidmate behoorlik geskool en toegerus word alvorens hulle vertrek. (sien Aanhangsel A).

5.    Daar moet ook verseker word dat lidmate wat hulle gestuurdheid in ander lande en kulture gaan uitleef, behoorlik versorg en ondersteun word (sien Aanhangsel B).

6.    Om toe te sien dat daar op `n deurlopende basis in die eredienste aandag gegee word aan die bewusmaking van lidmate dat ons `n gestuurde gemeente, en daarom almal gestuurdes is.

7.    Die deurlopende bewusmaking van lidmate dat elke gemeente van Jesus Christus ook die taak en opdrag het om by onbereikte mense en volkegroepe betrokke te raak.

8.    Hierdie bewusmaking sal geskied deur een Sending Sondag per kwartaal te reël. By hierdie geleentheid sal daar geleentheid gegee word aan sendelinge  van die gemeente om op te tree (tydens hulle besoeke aan die gemeente); sal terugvoer gegee word rondom ons sendelinge, sowel as oor korttermyn uitreike en sal inligting deurgegee word rondom nuwe projekte.

9.    Indien die Here spesifieke areas uitwys waar ons as gemeente ons gestuurdheid kan uitleef, deur die ondersteuning van plaaslike kerke wat in gebiede is waar daar groot nood en armoede is, sal die kommissie ook toesien dat dié aksies op `n verantwoordelike wyse onderneem word.

10.  Die organiseer van korttermyn uitreike na areas waar die gemeente betrokke is, of na gebiede waar lidmate geroepe voel om op `n korttermyn basis in `n spesifieke land te gaan bedien. (sien Aanhangsel C).

11.  Die reël van uitstuur dienste met die vertrek van nuwe sendelinge.

 

SAMESTELLING EN VERANTWOORDELIKHEDE VAN KOMMISSIE-LEDE:

 

Voorsitter: ( Thomas Stewart )

1.    Sien toe dat daar ten minste een vergadering per kwartaal gehou word ten einde alle werksaamhede van die kommissie te koördineer.

2.    Sien toe dat kommissie lede hulle verantwoordelikhede nakom.

 

Skriba: ( Elmarie Brink )

1.    Hou notules van vergaderings, stuur kennisgewings en agendas van vergaderings uit.

2.    Ondersteun die voorsitter om toe te sien dat alle besluite van die kommissie opgevolg en uitgevoer word.

3.    Help met reëlings vir die Dissipelskap dinee aan die einde van die jaar.

 

Lid vir Dissipelskap bediening: (Deon Loots).

1.    Koördineer die indeling van nuwe groepe aan die begin van elke jaar.

2.    Kom gereeld met dissipelskap groepleiers bymekaar om die proses in verskillende groepe te monitor.

3.    Reël jaarlikse dinee in samewerking met skriba vir bekendstelling en werwing van lidmate vir dissipelskap program.

4.    Reël die verskillende dissipelskap retraites.

 

Lid vir Skakeling met en ondersteuning van bestaande sendelinge. ( Pieter Theunissen ).

1.    Sien toe dat alle sendelinge van die gemeente `n ondersteuningsel het.

2.    Sien toe dat daar elke jaar `n besoek aan een van die sendeling(pare) gebring word. Die ideaal is dat elke sendeling(paar) ten minste een keer in elke vier jaar besoek sal word. Hierdie besoeke word gereël in samewerking met die ondersteuningsel van die betrokke sendelinge. Indien moontlik moet die besoeke kombineer word met `n uitreik waar persone die sendeling rondom spesifieke behoeftes gaan bystaan.

3.    Sien toe dat besoekende sendelinge ontvang en versorg (bederf) word.

4.    Reël die program vir besoekende sendelinge.

 

Lid vir toerusting en opleiding van nuwe sendelinge. (Ilse Terblanche).

1.    Begelei nuwe sendelinge in die daarstel van `n ondersteuningsel.

2.    Sien toe dat voornemende sendelinge deeglike opgelei en toegerus word iom die gemeente se sendingbeleid.

3.    Reël die uitstuurdiens vir vertrekkende sendelinge in samewerking met die leraars van die gemeente.

4.    Rus ondersteuningselle van sendelinge toe tov hulle verantwoordelikheid.

 

Lid vir reël en koordineër van korttermyn uitreike (beide na sendelinge en in samewerking met sendingorganisasies) (Stephan en Alida Bothma).

1.    Sien toe dat korttermyn uitreike op `n gereëlde grondslag plaasvind (hetsy na bestaande sendelinge van die gemeente, of in samewerking met sendingorganisasies).  

2.    Sien toe dat korttermyn uitreike iom bestaande riglyne plaasvind.

3.    Om toe te sien dat alle lidmate wat op korttermyn uitreike gaan, beide voor en na hulle uitreik geleentheid kry om die gemeente in te lig oor die uitreik, en ook terugvoer te gee oor die uitreik.

 

Lid vir plaaslike bedieninge (Hannes Marais).

1.    Hierdie lid is `n noodsaaklike skakel met diens van barmhartigheid. In `n gestuurde gemeente, kan getuienis en diakonia nie altyd mooi netjies geskei word nie, aangesien baie lidmate sal ervaar dat hulle gestuur word na nood in die onmiddellike omgewing.

2.    Die lid volg mense op wat klaar is met “Die Lewe van `n Dissipel” en sien toe dat hulle begelei word om: a) iewers in `n bestaande bediening tuis te kom, of b) `n nuwe bediening te begin.

 

Lid vir koördinering van Gebedsaksies (Elizabeth Jacobs).

1.    Die persoon is verantwoordelik om gebedsbehoeftes van sendelinge op `n deurlopende basis deur te gee aan die gebedsgroep vir sending.

2.    Indien inligting ontvang word van probleme of uitdagings op enige gebied, word gereël vir spesiale gebedsaksies.

3.    Sorg dat daar elke maand ten minste een Powerpoint skyfie van elke sendeling, met `n paar gebedsbehoeftes op, in die gemeente as deel van die afkondigings vertoon word.

4.    Gaan deur die pos wat van sendingorganisasies ontvang word en gee relevante gebedsversoeke deur.

 

 

 

 

 

 

AddThis Social Bookmark Button

Elizabeth in China

Elizabeth Jacobs was vroeër vanjaar in China

AddThis Social Bookmark Button