|
09 November 2011
Posted in
Nuus -
Nuusflitse
Die Lenteskool was ‘n opvolg van die Winterskool wat aan die begin van Julie aangebied is. Die groot verrassing was die feit dat die getalle van Julie verdubbel het vanaf 31 na 65! Ons dank die Here daarvoor.
Ons het net weer bewus geword van die groot behoefte wat onder die kinders leef. Behoefte aan iemand om langs hulle te sit en van die begrippe waarmee hulle sukkel, op ‘n een-tot-een vlak, of een-tot-‘n klein groepie, te verduidelik. Van die kinders het aan die einde van ‘n dag kom vra of ons nie vir hulle na-die-tyd nog verder kon help nie. Sulke kinders se leergierigheid is groot, en hulle kort dikwels net hulp met die begrippe wat hulle nie verstaan nie, sodat ook die res dan in plek val. Dis die rede waarom daar soveel onderwysers benodig word. Enige een met die basiese kennis in ‘n vak kan help.
Die Lenteskool het ook sy uitdagings gehad omdat van die onderwysers op die tippie moes onttrek weens indiensopleidingsprogramme wat die Departement kort voor die vakansie aangekondig het. Ons sal meer onderwysers en studente moet kry om te help met kwaliteit onderrig. Ons dink nou-al aan die volgende Winterskool gedurende die eerste week van die Junie-vakansie volgende jaar.
Die kos was, soos altyd, ‘n groot aantreklikheid vir almal, ook die onderwysers! Die personeel van Bloemendal het heerlike kos gemaak. Daarby was daar ook die Somerstranders wat ons ondersteun het met klaargemaakte disse, donasies en diegene wat spesiaal uitgery het om vir ons warm sop te kom aflewer. Vir diegene, asook vir Nellie en Christine met hulle netwerke wat vir ons voorbidding gedoen het, baie dankie.
Die kinders het dit baie geniet. Gevra hoekom hulle aanhou kom, was daar antwoorde soos: “Dis ‘boring’ by die huis!”; “Dit hou ons uit ‘mischief’”. Ander faktore waarna verwys is, is ook die sosiale aspek. Hulle geniet dit om sosiaal met hulle maats te verkeer. Volgende jaar tydens die Winterskool wil ons probeer om hulle vir ‘n uitstappie na Addo te neem. Die addisionele voordeel van so ‘n aktiwiteit in ‘n vakansie is dat dit die kinders weghou van die strate, en hulle help om hul vakansie in ‘n positiewe omgewing deur te bring.
‘n Ander opwindende geleentheid was dat die Here vir ons die moontlikheid geskep het om die Evangelie aan hulle te bring tydens die vroeg-oggend opening met Skriflesing en gebed.
Een kind skryf: “Ek het baie geleer en dit was alles soveel makliker as wat dit by die skool is. Die onderwysers was baie vriendelik en het my baie gehelp. Hulle het iets goed vir my gedoen en daarvoor waardeer ek alles. Die Godsdiens was ongelooflik. Die anties in die kombuis het ‘n goeie werk gedoen”. ‘n Ander een antwoord so op die vraag oor wat sy geniet het: “That we learnt about Jesus Christ as our Saviour; that we had teachers that were patient”.
Ons dank die Here vir die pad wat hy oopgemaak het vir ons na hierdie kinders in hul nood. Ons is ook opgewonde oor die begin van studieklasse in die middae by die kerk, en die moontlikheid van rekenaars wat aan die kerk geskenk kan word om ‘n volwaardige studiesentrum by die kerk te vestig, en ons sien vooruit na die Winterskool van 2012.
Johann McFarlane
| < Vorige | Volgende > |
|---|






