Pastorale bediening
Pastorale bediening - Pastorale Bediening
Donderdag, 07 Januarie 2010 11:29 Laas Opdateer op Woensdag, 20 Januarie 2010 07:02
Somerstrand wil ’n hawe wees wat mense versorg en stuur sodat hulle met vreugde kan lewe en met liefde kan dien vanuit ’n vaste geloofsverbintenis met Jesus Christus, ons Hoof. Die pastorale bediening fokus op die versorging van die lidmate in die hawe sodat hulle gestuur kan word om met vreugde te lewe en met liefde te kan dien. Hierdie bediening fokus dus op die lidmate wat in ’n situasie verkeer waarin daar geoordeel word dat hulle spesiale versorging nodig het. Die pastorale bediening wil dus beskikbaar wees vir mense wat lewensprobleme ervaar, soos siekte, interpersoonlike verhoudings, bejaardheid, rou, of vir enige lewensituasie waarin mense ’n behoefte aan 'n groter mate van emosionele gesondheid ervaar.
Op die oomblik bestaan die volgende struktuur om uitvoering aan ons verstaan van hierdie behoeftes te gee.
- Indiwiduele pastoraat: Deon Binneman is beskikbaar vir lidmate wat behoefte het aan gesprekke oor die probleme wat hulle ervaar. Deon werk gereeld met egpare en hulle huweliksverhoudings, met mense met ’n probleem met afhanklikheid van alkohol of ander chemiese middels, met mense met probleme rondom versoening en vergifnis, ensovoorts. Lidmate is welkom om Deon vir ’n afspraak te kontak. Sy e-pos adres is binneman@iafrica.com. Jy kan hom ook skakel by 041-583 4831 of 082 820 6500.
- Pastorale Versorgers: Daar is ook ’n groep pastorale versorgers in die gemeente wat beskikbaar is vir die emosionele ondersteuning van lidmate. Indien daar lidmate is wat opgelei wil word as pastorale versorgers, kan hulle gerus vir Deon kontak.
- Kursusse: Ons bied tans die volgende kursusse aan: GriefShare© vir lidmate in rou, DivorceCare© vir lidmate wat deur ’n egskeiding gegaan het en die Alpha huweliksverrykingskursus vir egpare wat graag ’n goeie huweliksverhouding beter wil maak. Ons is nie altyd op hoogte van die omvang van die behoefte wat daar op ’n gegewe oomblik aan die onderskeie kursusse is nie. Ons sal dit waardeer indien u vir Deon kan skakel indien u in een van hierdie kursusse belangstel. Mense van buite die gemeente is ook baie welkom om by hierdie kursusse aan te sluit. U kan dus vir vriende en familie hiervan vertel.
- Klub 65: Daar is ’n groot aantal aftree-oorde binne die gemeente.
Baie lidmate kom woon hier nadat hulle reeds afgetree het. Hulle vind dit soms moeilik om werklik tuis in die gemeente te raak omdat hulle min geleenthede vind waar hulle ander lidmate beter kan leer ken. Hierdie behoefte het tot die ontstaan van Klub 65 aanleiding gegee. Klub 65 wil alle lidmate ouer as 65 help om mekaar beter te leer ken. Sandra Pauw en die ander dienswerkers reël dat hulle twee keer per kwartaal op ’n gesellige, informele wyse bymekaar kom. Die foto regs is in 2009 geneem toe ons met die bus Schoenmakerskop toe gegaan het. - Aftree-oorde: Die geestelike en pastorale versorging van die inwoners in die onderskeie aftree-oorde word kwartaalliks onder leiding van Christine Veldsman beplan. Die versorgingswerk word deur wyksleiers, ’n ouderling, ’n diaken en Deon Binneman gedoen.
- Siekebesoek: Siekebesoek word deur Christa Marais, Joyce Coetzee en ander helpers gedoen. Hulle besoek en stuur ‘n kaartjie aan lidmate wat siek is. Deon Binneman en die Pastorale Versorgers is verantwoordelik vir lidmate met ernstige, langdurige siekte.
- Verjaarsdagkaartjies: Edda Prins neem vir hierdie bediening verantwoordelikheid. Kaartjies word aan lidmate bo 65 jaar gestuur.
- “Haai Tee”: Ons sluit elke jaar met ’n gesellige tee af waarheen al die lidmate ouer as 65 genooi word. Die twee foto's hieronder is by 2009 se tee geneem.
- Cheshire: Tertius Swanepoel besoek die inwoners gereeld en sien om na hulle geestelike en fisieke behoeftes. Benewens die Nagmaal wat kwartaalliks hier gevier word, is Deon Binneman ook beskikbaar vir pastorale sorg en huisbesoek.
- Ander pastorale behoeftes: Indien die gemeente bewus word van ander behoeftes, sal daar aandag aan gegee word. Indien jy van ’n behoefte of leemte bewus is, sal ons dit waardeer indien jy vir Deon Binneman (binneman@iafrica.com of 041-583 4831) kan kontak.
- Foto's:
Haai Tee 2009


Klub 65 se afsluiting aan die einde van 2009


Die Fondsinsameling met die HA!Man in die winter van 2009




AANDDIENS: PREKE
BIDDEND LUISTER








