|
19 April 2011
Posted in
Getuienis -
Lidmate
Die gemeente het vanoggend sy Lydens- en Paassangdiens gehou ,en die tema was die “Ek is ...” leringe van Jesus.
Eers terug na Saterdagmiddag. “Dress rehearsel”soos die ou boer gesê het. Daar’s ‘n benouderige, afwagtende atmosfeer. Dit sal die eerste en die enigste keer wees, more is D-dag. Petrus, Pilatus, die moordenaar, Maria Magdalena en Tomas moet die boodskap oordra. Lynette probeer ons op haar besondere manier gerus stel. Chris wat as liturg sal voorgaan, is ontspanne want hy het die teks voor hom, en is daarom ook die “backup” as jou woorde uit jou kop sou ontsnap.So tussen die ligte geskerts deur is daar ‘n dringende erns wat waarskynlik sy wortels het in die diepe besef van die boodskap wat ons moet bring. Die dood en opstanding van Christus. Ek is die weg, die waarheid, die lewe en die opstanding.
Ek moes die skoene van Pilatus inklim. Dit val my op dat Pilatus die buitestander in die gesprek is. Behalwe vir die moordenaar is almal aan Jesus se “kant”, maar sonder enige mag om die verloop van die gebeure te beïnvloed nie. Pilatus daarenteen het al die mag gehad en moes instaan vir die waarheid. Die LEWE van Jesus was in sy hande.
Pilatus bely: “Ek vind geen skuld in die man nie”. Sy vrou smeek hom om niks aan Jesus te doen nie. Voor hom staan die lewende Christus, die Verlosser van die mensdom, wie se enigste woorde was: “U het dit gesê”, op die vraag of Hy wel die Koning van die Jode is.
Pilatus beskik oor al die kennis wat hom tot die waarheid moet lei, maar hy verkies om die blaam vir sy besluit op Jesus en die skare te pak. Jesus vir sy stilte, die skare vir hulle dikvellige rumoerigheid. Nog nooit in die geskiedenis is die waarheid so verkrag soos met daardie ter dood veroordeling, toe Pilatus opdrag gegee het dat Jesus gekruisig moet word, nie.
Dit was hierdie deel wat vir my die moeilikste was. My oë soek oor die gemeente, asof vir enige soort regverdiging vir hierdie bevel. In die voorste ry sit twee pragtige jongmense wat die gesprek in alle erns gevolg het. En presies op hierdie punt het sy haar kop op sy skouer laat sak en haar oë toegemaak asof sy daarmee wou sê: dis nie moontlik nie, kan ‘n mens werklik so wreed en selfsugtig wees?
Pilatus het in sy hande die mag gehad om die hele verloop van die Christendom te verander. Indien hy Christus sou vrygespreek het, wat dan?
MAAR hy het nie. Ons verstand te bowe, het hy slegs God se wil uitgevoer. En so het Jesus aan die kruis vir ons sondes gesterf sodat hy die dood kon oorwin deur sy opstanding.
Toe ek dit besef, het ek vrede gemaak met Pontius Pilatus, die selfsugtige swakkeling. omdat hy in die plan van God ons “Redder” was.
Vrede en Vreugde
Frik/ Pontius Pilatus.






