Ons fokus Sondag op die krisis rondom die Baälgodsdiens en die voortbestaan van die Koningshuis van Juda in 2 Konings 11-12.
Atalia was die dogter van Agab en Isebel van Samaria, die hoofstad van die Noord-ryk. Twee dinge het haar gedryf. Haar godsdiens, die Baälgodsdiens, en haar sug na die mag van die troon van Juda.
Haar troue met Joram, die koning van Juda, was bedoel om hierdie twee dinge na te jaag. Na net 9 jaar het sy haar kans gekry. Haar man Joram en haar seun Ahasia is kort na mekaar doodgemaak. Sy kon die troon bestyg deur doodgewoon al die ander moontlike troonopvolgers uit te wis.
Die gevaar was groot dat die Baälgodsdiens die ware aanbidding van Jahwe sou vervang, en dat die koningshuis van Juda tot ‘n einde sou kom. En daarmee was die Messias-verwagting ook op die spel.
Maar, Jehoseba, haar dogter, getroud met die priester Jojada, het God se stem gehoor in die krisis wat besig was om te ontvou. Sonder dat Atalia dit weet, red sy een van die jong prinsies, die eenjarige Joas. Vir ses jaar steek hulle hom weg en wag hulle kans af. Toe met die hulp van almal wat die Here gedien het, mense uit die stad sowel as uit die platteland, maak hulle Joas koning, en verwoes die Baältempel. Atalia bly ook in die slag.
Daarmee is die ware aanbidding van God herstel en die belofte van die Messias uit die Juda-geslag vir nog ‘n geslag gewaarborg. Só word Jehoseba ‘n instrument in God se hand om sy plan vir die wêreld te verwesenlik. Sonder haar bydrae sou ons die Verlosser van die wêreld, Jesus, nie geken het nie.
Die vraag wat dié verhaal aan ons stel, is: Waar kan ons vandag nog ‘n verskil maak in die krisisse rondom ons, soos Jehoseba en Jojada?
