Waar kan ons vandag nog ‘n verskil maak in die krisisse rondom ons?

Ons fokus Sondag op die krisis rondom die Baälgodsdiens en die voortbestaan van die Koningshuis van Juda in 2 Konings 11-12.

Atalia was die dogter van Agab en Isebel van Samaria, die hoofstad van die Noord-ryk.  Twee dinge het haar gedryf.  Haar godsdiens, die Baälgodsdiens, en haar sug na die mag van die troon van Juda.

Haar troue met Joram, die koning van Juda, was bedoel om hierdie twee dinge na te jaag.  Na net 9 jaar het sy haar kans gekry.  Haar man Joram en haar seun Ahasia is kort na mekaar doodgemaak.  Sy kon die troon bestyg deur doodgewoon al die ander moontlike troonopvolgers uit te wis.

Die gevaar was groot dat die Baälgodsdiens die ware aanbidding van Jahwe sou vervang, en dat die koningshuis van Juda tot ‘n einde sou kom.  En daarmee was die Messias-verwagting ook op die spel.

Maar, Jehoseba, haar dogter, getroud met die priester Jojada, het God se stem gehoor in die krisis wat besig was om te ontvou.  Sonder dat Atalia dit weet, red sy een van die jong prinsies, die eenjarige Joas.  Vir ses jaar steek hulle hom weg en wag hulle kans af. Toe met die hulp van almal wat die Here gedien het, mense uit die stad sowel as uit die platteland, maak hulle Joas koning, en verwoes die Baältempel.  Atalia bly ook in die slag.

Daarmee is die ware aanbidding van God herstel en die belofte van die Messias uit die Juda-geslag vir nog ‘n geslag gewaarborg.  Só word Jehoseba ‘n instrument in God se hand om sy plan vir die wêreld te verwesenlik.  Sonder haar bydrae sou ons die Verlosser van die wêreld, Jesus, nie geken het nie.

Die vraag wat dié verhaal aan ons stel, is: Waar kan ons vandag nog ‘n verskil maak in die krisisse rondom ons, soos Jehoseba en Jojada?

Bookmark and Share
Posted in Gesprekke | View Comments

Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen

Sondag 22 Augustus 2010 fokus ons op 2 Konings 5 by ons familiediens.

Die held in 2 Konings 5 is ‘n klein naamlose Joodse dogtertjie.  Hoekom?  Omdat sy dit wat sy weet, al is dit iets kleins, deel met haar ontvoerders, en dit ‘n verskil maak in die lewe van Naäman en sy gesin.  En hy word nie net genees van sy melaatsheid nie, maar leer ook die Here ken.  Die verhaal spoor ons dus aan om nie net vir wonders te kyk in die groot goed wat gebeur nie.  God is aan die werk in die normale goed wat elke dag gebeur.  Hy is besig in die ontmoetings wat ons met mense het, selfs as ons soms dink mense is “onderbrekings”.

Die verhaal spoor ons dus aan om net so gewillig te wees om die gewone goed te doen, as wat ons graag die buitengewone sou wou doen.  Ons raak baie keer moedeloos omdat ons met een oplossing alle probleme uit die weg wil ruim – terwyl dit soms net iets kleins is wat ons moet doen, wat saam met ‘n paar ander mense se klein liefdesdiensies ‘n groot verskil maak.

Daar is niks wat ons doen, hoe klein ook al, wat nie deur God gebruik word om groot dinge te doen nie.  Dit sien ons in ons eie omgewing.  ‘n Paar boere het gesorg dat ‘n ambulans kinders hospitaal vervoer in Elliot, en dit het ‘n impak op ‘n hele gemeenskap wat onder andere tot misdaadbestryding aanleiding gee.  ‘n Paar gemeentelede skenk 3 rekenaars en ‘n drukker in ’n gemeente in Oos-Londen en ‘n hele woonstelblok se kinders word gehelp om hulle skoolprojekte te kan afhandel, met ‘n verdere gevolg dat 4 van hulle ouers die katkisasieklas begin bywoon en lidmate raak van die gemeente.

Ons kan met verwagting lewe – dat God nog wonders doen – deur die klein dade van gehoorsaamheid wat ons doen.

Bookmark and Share
Posted in Eredienste, Gesprekke | View Comments

Om tot verhaal te kom in ‘n wêreld waar mense maklik uitbrand

Ons leef almal onder ontsettende druk – soveel so dat mense maklik uitbrand.

God, wat ons geskape het, weet dat ons maklik kan uitbrand.  Daarom het hy vir ons die Sabbat gegee, sodat ons tot verhaal kan kom.

Adele Calhoun haal in haar boek vir Wayne Muller aan, wat sê:

Sabbath is not dependant upon our readiness to stop.  We do not stop when we are finished.  We do not stop when we complete our phone calls, finish our project, get through this stack of messages, or get out this report that is due tomorrow.  We stop because it is time to stop.

Deur die Sabbat heilig te hou, word ons verhoudings vernuwe.  Ons word geestelik en fisies vernuwe.  Dit is nie ‘n teken van luiheid of selfsug nie.  Dit is ‘n opdrag van God – en God self het op die sewende dag gerus!

Tog is Sabbat nie ‘n geestelike dissipline wat noodwendig meer vir ons soveel waarde het nie.  Ons sukkel om ‘n dag af te staan vir die Here, om tot verhaal te kom.

Dit is belangrik dat ons elkeen hierdie spesiale dag op ‘n gepaste manier vier: deur op God te fokus, doelbewus te rus, met die regte hoeveelheid mense en aktiwiteite om ons gewone roetine te breek en tot verhaal te kom.

Hoe vier jy die Sabbat?  Hoe kan ons hierdie dissipline weer deel maak van ons lewens?

Bookmark and Share
Posted in Eredienste, Gesprekke, Uncategorized | View Comments

Om te vertrou in ‘n wêreld waar daar broedertwis is

Hierdie Sondag (1 Augustus 2010) verwelkom ons vir ds Andrew Fransman en die VGK gemeente van Bloemendal by ons nagmaalviering.  Hy gaan die prediking behartig en ek die liturgie.

Ek het egter steeds gekies om ‘n preek vir die reeks te skrywe, al is dit dan net om die reeks volledig te hou.

Ek het in die preek die verhaal van Asa in 1 Konings 15 en 2 Kronieke 16 benader uit die hoek van vertroue, in ‘n tyd waar hy voor ‘n keuse gestel is om die Here te bly vertrou, ten spyte van die konflik met hulle broers uit die Noordryk.  En die geestelike dissipline ter sprake, is toerekenbaarheid (accountability).

Sy verhaal leer ons dat ons nooit die oop verhouding met God en met ons profete, mense wat na aan ons lewe en wat ons verantwoordelik moet hou, moet afskeep nie.

Ons is nie bedoel om te lewe as selfstandige onafhanklike konings nie.  Tog is ons bang om sulke oop lewens te lewe.  Miskien is dit omdat ons bang is dat ons mislukkings en swakhede teen ons gehou sal word.  Miskien is dit omdat al ons vingers verbrand het met mense wat nie met integriteit met ons lewens omgegaan het nie.

Maar ons kan nie die Christelike lewe leef sonder betekenisvolle ander mense in ons lewe nie, mense wat nie sal terugdeins om ons verantwoordelik te hou vir dít waarin ons self sê dat ons glo nie.  Ons is immers gemaak vir gemeenskap met ander mense, nie net sodat dit ons kan koester en versorg nie, maar ook dat dit ons kan beskerm teen onsself, en teen ons swakhede en mislukkings.

Daarom het ons nodig om mense in ons lewe toe te laat wat ons verantwoordelik kan hou.  Jak 5:16 sê immers: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Het Asa maar dié raad gevolg!

En die Hebreërskrywer raai ons aan: “Julle moet mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (3:13)

Ek dink die Here roep ons op tot twee reaksies:

  1. Om na te dink oor iemand met wie ons oor ons geestelike lewe kan gesels.  En met wie ons eerlik kan wees en met wie ons ’n oop verhouding kan handhaaf.  Dit hoef nie iemand te wees wat ouer as jy is nie, of wat wyser is as jy nie.  Maar dit moet iemand wees met wie jy die vrymoedigheid sal hê om jou lewe mee te deel.
  2. Om na te dink oor iemand vir wie jy ’n oop deur wil gee, om met jou oor hulle geestelike lewe te gesels.

Sal graag wil hoor hoe julle hieroor dink.

Bookmark and Share
Posted in Eredienste, Gesprekke | View Comments

Om om te gee in ‘n wêreld waar daar baie onderdrukking is

1 Konings 12

Through worship, prophetic word, and protest, we are called to expose oppressive social realities and insist:  It could be otherwise. – Walter Brueggemann

Die sentrale verhaal van die Bybel, is die Eksodus-narratief:  God verlos uit  slawerny.  Dis nie iets wat maklik gebeur nie, maar gaan gepaard met pyn en opoffering.  Tog bly dit ‘n deurlopende tema:  God gee om vir onderdruktes.  Daarom is Jesus se volgelinge mense wat omgee.  Ons sien onderdrukking raak.  Ons het empatie.  Ons weet dat liefde altyd hande en voete het.

In ‘n artikel genaamd “Entitled neighbors” skryf Brueggemann:

We mock the poor when we imagine that they are not present to us and we make them invisible. We mock the poor when we imagine they are not entitled (simply because they are among us). We mock the poor if we blame them for their status which is created by hidden power arrangements and unacknowledged social advantage. We mock the poor when we resist viable ways through which to share the well-being of society. We mock the poor, and they are helpless to retaliate (except, of course, in random acts of violence). We mock the poor … and God is unsettled … and the stakes are upped severely.

The counter to mocking the poor is to take the poor with economic seriousness as entitled neighbors, as legitimate members of the community who are not going to go away. It is God’s practice to notice the poor. It is God’s delight when God’s powerful and blessed also notice … and act accordingly.

Lees die res van die artikel hier.

Bookmark and Share
Posted in Eredienste, Gesprekke, Preke | View Comments

Om te luister in ‘n wêreld waar wysheid nodig is

Sondag begin ‘n nuwe reeks in ons gemeente: Stories wat inspireer.

Ons lees die verhaal van Salomo in 1 Konings 3 en put inspirasie uit Salomo se legendariese wysheid.

Dit tref my dat Salomo van God gehoorsaamheid vra dat hy reg sal kan regeer en in alles insig sal hê, veral omdat hy nog jonk en onervare is. In die oorspronklike word gehoorsaamheid met twee woorde geskryf: “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal: “discerning heart”.

God voldoen nie net aan sy versoek nie, maar gee ook vir hom rykdom, aansien en ‘n lang lewe.  Die belangrikste is dat God vir Salomo wysheid en insig gee:

‘n luisterende hart.

  • Hy luister met insig na die 2 vroue wat stry oor hul kind.
  • Hy  reël skofte vir sy werkers met die bou van die tempel: 1 maand weg in Libanon en 2 maande by die huis (1 Kon 5).
  • Hy skryf ‘n hele aantal spreuke en psalms, waarvan sommige in die Bybel opgeneem is (dele van Spreuke, Hooglied, Prediker, Psalm 72 en 127).
  • Hy het ‘n internasionale impak soos die talle verhale van hom in die Arabiese en Ethiopiese tradisies getuig, wat hom eer vir sy intellek.

Die feit dat Salomo uiteindelik in sy middel-vyftigs die pad byster geraak het, lief geword het vir perde en vroue – ten minste liewer vir hulle geword het as vir die Here – neem nie weg dat hy ‘n ongelooflike gawe gehad het nie, die gawe van wysheid.

En dit is dié kant van Salomo, sy luisterende wysheid, wat my inspireer.

Bookmark and Share
Posted in Eredienste | Tagged | View Comments

Bybelskool.com! – Paulus se briewe aan Tessalonika en Korinte

Hallo vriende

Dankie vir julle betrokkenheid by die Bybelskool die afgelope jaar.  Ek het dit nie net geniet om die bydraes te skryf nie, maar ook die baie kommentaar en bydraes wat julle gelewer het.  Hou so aan!

Hierdie kwartaal gaan ons voort met die Bybelskool.  Ons fokus op Paulus se eerste vier briewe: 1 en 2 Tessalonisense en 1 en 2 Korintiërs.  Ek beplan om in die eerste sessie eers die verhaal van die twee gemeentes in Handelinge te hanteer, om uit daardie hoek dan weekliks na Paulus se briewe te kyk.  Dit laat ‘n mens die briewe met baie meer perspektief lees.  Soos altyd, sal ek weekliks ‘n bydrae by die webtuiste lewer.

Ek het ook besluit om die Bybelskool as ‘n selfstandige webtuiste te registreer: http://www.bybelskool.com.  Dit help veral die intekenaars van buite die gemeente.

Ek wil jou dus vra om ook daar te registreer.

Die voordeel is dat jy met jou registrasie ook ingeskryf word om die bydraes outomaties per e-pos te ontvang.

Onthou ook om elke keer in te teken as jy die webtuiste besoek.  Dan kan jy kommentaar lewer sonder om weer al jou detail in te vul, en sal jou bydrae onmiddellik geplaas word.  Ek moet net die eerste kommentaar goedkeur.

Klik op hierdie skakel om te registreer.

Ek begin die 21ste Julie met die eerste bydraes.  Die eerste sessie sal Woensdag 28 Julie om 18:30 wees.  Vir die Somerstranders: ons het nie weer ‘n ete nie – Baie jammer!

Ek hoop dat jy die 4 briewe van Paulus saam met my gaan lees.  Ek sien uit daarna om saam met jou nuwe insigte in hierdie belangrike vestigingsfase van die kerk te kry.  En soos altyd, hoop ek dat die Here self ‘n pad met jou sal stap in jou refleksie daaroor, soos hy inderdaad dit ook met my doen.

Ek kan nie wag om te begin nie!

Groete

Chris van Wyk
acv.vanwyk@gmail.com

Bookmark and Share
Posted in Bybelskool, Didage, Tessalonisense en Korintiërs | View Comments

2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie

Ons sien hier ‘n kant van God wat ons nie maklik eien nie.  Die God wat ons in Jesus ken as die vergewingsgesinde, die een wat belowe dat Hy ons sonde so ver van ons af sal verwyder as die ooste van die weste af is, dié God besluit om Juda uit sy teenwoordigheid te verwyder.

Hoekom?  Uiteraard was dit weens die konings van dié tyd, Jojakim en na hom Jojagin, wat volhard het in die sondes van hulle voorvaders.  Jojakim het byvoorbeeld die Woord van God geminag deur dit te verbrand (Jer 36) en die woord van Jeremia in die wind geslaan. Maar volgens die skrywers van Konings was dit veral weens die sonde van Manasse en die onskuldige bloed wat hy in Jerusalem vergiet het:

“en die Here wou dit nie vergewe nie.”

Maar dit is nie al nie.  Uit die boek Jeremia kan ‘n mens agterkom dat dié sondes ook wyd deur die priesters, profete en die gewone Judeërs nagevolg is (bv. Jer 23).  Die hele samelewing het verword en was aan die Here ongehoorsaam.  Vergelyk bv. die oordeel van die Here oor hoe hulle met vrygelate slawe gesondig het (Jer 34) deur hulle weer in slawerny te dompel.

Terug by die verhaal.  Die Here stuur ‘n hele paar volke teen Juda, maar dit is uiteindelik die koning van Babel, Nebukadnesar (die Babiloniërs het die Assiriese ryk verslaan en as wêreldmag oorgeneem), wat in 597 vC vir Jojagin onderwerp en die “hele” Jerusalem wegvoer na Babel, veral die intelligensia, die amptenare, soldate, vakmanne en smede.  Die profeet Esegiël was ook onder diegene.  Net die armstes van die landsbevolking het agter gebly.

Anders as met die Assiriërs volg die Babiloniërs ‘n ander beleid met die volke wat hulle in ballingskap wegvoer, soos ons uit die geskiedenis van daardie tyd leer.  In plaas daarvan om die volke doelbewus met ander volke te integreer, wat onder andere die noord-ryk se nekslag was, word die onderskeie volke toegelaat om hulle eie godsdienste en kulture te handhaaf.  Dit verseker dat die volk van Juda ‘n identifiseerbare eenheid kon bly en uiteindelik as volk ook kon terugkeer in die tyd van die Persiese koning Darius.

Weer terug by Konings.  Die eerste wegvoering van Jerusalem word 11 jaar later opgevolg deur nog ‘n veldtog van Nebukadnesar, in die tyd van koning Sedekia (Mattanja), die 20ste en laaste koning van Juda wat uitloop op nog ‘n wegvoering na Babel in 586 vC.  Sedekia word op dieselfde manier as sy voorgangers veroordeel as ‘n koning wat nie die Here gedien het nie.  Jeremia wys ons egter in Jeremia 38 van die worsteling wat hy gehad het, hoewel hy net nie homself so ver kon kry om die Here te vertrou en Jeremia se raad te volg nie.  Jerusalem word ingeneem, die tempel verwoes, en Sedekia gevange geneem, sy kinders doodgemaak en sy oë uitgesteek.  Weereens bly net die armstes van die mense agter om ‘n ogie oor die wingerde en lande te hou.

“So is Juda dan uit sy land weggevoer” (25:21).  Gedalja bly as goewerneur agter, maar word deur opstandelinge uit die koninklike familie vermoor, wat uiteindelik ly tot ‘n vlug na Egipte, waarheen hulle vir  Jeremia (Jer 43) ook neem.

Die boek sluit af met ‘n klein sprankie hoop, die vrylating van Jojagin in Babel, so asof die skrywers wil sê, daar is hoop, dinge kan weer omdraai.  Maar dit is ‘n verhaal wat eers in Nehemia en Esra vertel sal word.

Bookmark and Share
Posted in Bybelskool, Didage, Konings | Tagged | View Comments

2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek

Let op dat Josia die “boek van die verbond” nie alleen lees nie.  Man en muis is saam met hom in die huis van die Here en sluit saam met hom ‘n verbond met die Here om Hom te volg en sy riglyne met hulle hele hart en siel te gehoorsaam.  Die Bybel is nie vir individue in die eerste plek nie, dit is vir gemeenskappe wat saam die Here wil dien.

Let ook op dat dit hierdie tipe gesamentlike lees is wat die verandering voorafgaan en inlei.  Josia begin diepgaande hervormings in die stad gefokus op die tempel en tempel-diens, sowel as in die ander stede van Juda gefokus op die hoogtes.  Hy betrek ook die priesters van die ander stede by sy hervormings, hoewel hy ‘n onderskeid tussen hulle en die priesters by die tempel in Jerusalem tref.

Onder die diverse afgode en altare wat hy laat afbreek, is ook die altaar in Bet-El, die een wat Jerobeam opgerig het.  En in vervulling van die profesie van die naamlose man van God (1 Kon 13) word mensbeendere op die altaar verbrand.  Josia reinig dus nie net sy eie land, Juda, van afgode nie, maar ook dele van die grondgebied van Israel, so ver as Samaria.  Dit alles mond uit op ‘n grootse Paasfees.

Die Konings skrywers vind Josia doodgewoon onbesproke: “Daar was nie voor hom nog so ‘n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie” (23:25).  Tog laat die Here sy toorn oor Juda nie vaar nie, spesifiek oor Josia se pa, Manasse, nie.  En die skrif is aan die muur vir die ballingskap, met vier slegte konings wat een na die ander doen wat verkeerd is in die oë van die Here: Joahas, Jojakim, Jojagin en uiteindelik Sedekia, die laaste koning van Juda.

Bookmark and Share
Posted in Bybelskool, Didage, Konings | Tagged | View Comments

2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here

Ek sien twee bewegings raak in hierdie hoofstuk.

Aan die een kant is daar die groeiende bewuswording by koning Josia dat die volk regtig ver afgedwaal het van God se pad, wat tot daadwerklike praktiese toewyding en geestelike hervormings lei.

  • Dit begin met sy herstelwerk aan die tempel, die plek waar God Homself openbaar – let op hoe sy optrede ooreenkom met een van sy grootjies, Joas (2 Kon 11-12).
  • Dit verdiep met die ontdekking van die wetboek, die plek waar God sy wil openbaar – darem ontstellend dat die priesters die Woord van God letterlik verloor het, terwyl hulle met die werk van die tempel aangegaan het!
  • En dit word prakties met die geestelike onderskeiding wat Gulda aan die dag lê deur die lewende woord van God vir Josia uit te lê.

Iets soortgelyks is nodig vir ons in ons private geloofslewe: 1) ‘n totale oorgawe aan God se teenwoordigheid – ons is immers vandag ‘n tempel van die Here (1 Kor 6); 2) ‘n totale oorgawe aan God se Woord – soos dit in die Bybel vir ons oorgelewer is; 3) ‘n totale oorgawe aan die praktiese riglyne wat God ons deur geestelike onderskeiding gee. 

Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here.

Maar daar is ‘n ander ontstellende beweging sigbaar in die hoofstuk: dat die oordeel van God nie meer afgewend kan word deur Josia se hervormings nie, al het hy “in alles die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie.” (22:2).  Al konsessie wat God gee, is dat die oordeel nie in die tyd van Josia sal gebeur nie.  Die nalatenskap van veral Manasse was net te sterk (23:26).

En onthou, dit was ‘n tyd van die grootste profetiese aktiwiteit in Juda se geskiedenis: Gulda, Jeremia, Sefanja en dalk ook Nahum en Habakuk tree in hierdie tyd op met Esegiél wat ‘n tydjie later in die ballingskap sy opebaringe bekend sou maak.  Selfs die profete, of die koning, ondersteun deur die priester Gilkija,  kon dus die ballingskap nie keer wat binnekort sou kom nie.

God se eer is op die spel deur die doen en late van sy volk oor ‘n hele paar eeue, en selfs hierdie omvattende hervorming kan sy oordeel, om sy eer te herstel, nie keer nie.

Bookmark and Share
Posted in Bybelskool, Didage, Konings | Tagged | View Comments