Archive for September 12th, 2010
Voorbeeld van vertroue
Die storie van Hiskia gaan oor vertroue: op wie vertrou jy? Hiskia was bekend as ‘n koning wat God vertrou het. Die hoofadjudant van Assirië het egter die paleisamptenare gespot deur juis hul vertroue te bevraagteken: geen land, koning of God kan hulle help nie. Maar Hiskia bly vertrou. Al 11 verwysings na “vertroue” in Konings en Kronieke, verwys na Hiskia en sy vertroue in God. Sy vertroue was sigbaar daarin dat hy getrou was aan die Here (18:6). Hier staan letterlik dat hy God “aangekleef” (דּבק dâbaq) het – dieselfde woord wat in Gen. 2:24 gebruik word vir ‘n man wat saam met sy vrou leef.
Hiskia het geglo dat God Assirië sal straf (יכח yâkach 19:4). Dit is die eerste keer dat ons hierdie woord vir straf in die Bybel lees. God neem egter Assirië se dreigement selfs ernstiger op as Hiskia. God gebruik konsekwent die woord “belaster” (גּדף gâdaph 19:6,22). Behalwe vir Hiskia se verhaal, word hierdie woord net nog 3 keer in die Bybel gebruik.
