Author Archive
Die Pottebakker en jy
God is die Pottebakker en ons die klei. So leer ons uit Genesis 2:7, Jeremia 18, Jesaja 45 en nog baie ander Skrifgedeeltes.
Ons het vanoggend oor die betekenis hiervan nagedink in die gesinsdiens. Elkeen het ‘n stukkie klei gehad, en kon daarmee iets maak. En ek het die gemeente begelei om dieper daaroor na te dink.
‘n Mens moet natuurlik versigtig wees om alles hiervan op God en ons van toepassing te maak. Maar, van my gedagtes was die volgende:
- God is net so intiem by jou lewe betrokke as wat jy nou met die klei gespeel en daarvan iets gemaak het. Hy werk nie van ‘n afstand af met jou nie. Hy hou sy hand op jou. Hy is bewus van elke gedagte, van elke beweging, van elke besluit wat jy maak. Soos die Psamdigter sê, Hy omvou my van agter en van voor. En Hy gee om oor wat met jou gebeur. Niks wat met jou gebeur, is toevallig nie, en niks is onbelangrik vir God nie.
- Daar is ‘n spontane interaksie tussen jou en God, tussen jou gawes en vermoëns en wat God daarvan kan maak. Dit is iets wat my van verlede week se teksgedeelte die meeste getref het. Die eerlike interaksie tussen Moses en God in die woestyn (Numeri 11). Jy kan maar praat met God, jy kan selfs verskil van wat God doen, en dit eerlik vir Hom sê. En Hy sal daarna luister, en daarop reageer. Uiteraard is dit Hy wat jou vorm, so sy wil sal altyd die deurslag gee. Maar reg deur die Bybel is daar gedeeltes wat ons oortuig, God verander dinge in reaksie op jou, en jou gebede, en jou wense en behoeftes. Jy kan Hom daarvoor vertrou.
- Soms is daar ‘n groot stuk breiwerk nodig in jou lewe. Om jou voor te berei vir dié voorwerp wat God van jou wil maak. Niemand van ons hou van die druk van moeilike besluite of moeilike omstandighede nie. Dit sou masochisties wees! Maar, dit is nou eenmaal so, as die druk nie daar is nie, bereik ons minder. Van die groot leiers in die wêreld is dit waar, so sê navorsing by Harvard, dat hulle een of ander tyd in hulle lewe deur ‘n tyd van stres en disoriëntasie gegaan het, waarna hulle gewoonlik meer kon bereik.
- Daarom is dit so belangrik dat ek plooibaar in die hand van God se werk bly. Op die wiel, in sy hande, in gesprek met Hom, maar sonder om teë te stribbel, sonder om self te besluit wat ek wil word, maar in die interaksie met God te groei en te floreer. Dit is eintlik die heel belangrikste perspektief van alles. Sonder hierdie onmiddellike reaksie op God, kan ‘n mens nie ontplooi in die instrument wat God van jou wil maak nie.
Hoe ervaar jy God in jou lewe? Watter betekenis het dit vir jou?
Gesels met ons hier dat ons kan leer uit mekaar se stories.
Ons is Koringkorrels wat Koringplante moet word!
In my oordenking van Johannes 12:22-26 het dit vir my ‘n deurslaggewende perspektief gegee op wat Handelinge 2:42 bedoel met: “hulle het hulle heelhartig toegelê” In my verwoording van Jesus se voorbeeld van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterwe, anders dra dit nie vrug nie, sê ek dit so:
Ons is Koringkorrels wat Koringplante moet word!‘n Koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om vir jare sy kragte te spaar en in te span vir homself. En dit kan hy suksesvol doen deur in die skuur te bly en te sorg dat die boer hom nie in die hande kry nie! Of ‘n koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om die Here Jesus te volg … deur sy lewe vir ander te gee, in die grond geplant te word en te verander in ‘n koringplant wat are het en koringkorrels lewer, wat op hulle beurt geplant kan word om die lewe aan ander te gee sodat ander kan lewe en die lewe wat in hulle opgesluit is, te kan vermenigvuldig.
In my preek het ek die volgende gesê:
“Een van die beste maniere om Jesus te volg, as die Here vandag hierdie begeerte om Jesus te volg in jou hart weer aangeblaas het, is om die dissipline van stiltetyd te laat herleef, en meer spesifiek ‘n joernaal te hou sodat die pad wat jy met Hom stap met tyd vir jou meer sin kan begin maak.
“Wat doen ‘n mens met ‘n joernaal (scrapbook)?
Adele Calhoun sê: dis om jou in te stel: “to be alert to my life through writing and reflecting on God’s presence and activity in, around and through me”. ‘n Joernaal help jou om jouself in te stel om raak te sien wanneer God opdaag in jou lewe. Hy is natuurlik altyd daar, maar omdat ons nie onsself instel om Hom raak te sien nie, sien ons Hom nie raak nie! In ‘n sekere sin help ‘n joernaal ons natuurlik eintlik om die waarheid oor onsself raak te sien … dat ons in God se hande is, dat Hy met ons ‘n pad stap … en dit gebeur wanneer ons ruimte maak in ons lewe om te kan agterkom wat aangaan. En onthou: daar is eintlik niks waardeur God nie met ons praat nie! Jy kan skryf oor dinge buite jou en dinge binne in jou. Jy kan jou gebede neerskryf. En soos wat ons herhalende temas, sondes, gevoelens, behoeftes, beperkings, bekommernisse, verwagtinge begin raak sien, kom ons in aanraking met die genesende teenwoordigheid van God. En ons joernaal word ‘n reis van ons siel na God toe. Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier vir ‘n joernaal nie. Daarom het ek die voorbeeld van ‘n scrapbook gekies om met die kinders te behandel. Jy kan teken, skryf of plak. Jy kan sleutel woorde onderstreep om agter te kom watter dinge by herhaling vir jou betekenis het. En baie gou sal jy agterkom dat jy met jou joernaal in ‘n gesprek met God betrokke raak waar jou joernaal nie net jou kreatiwiteit ten toon sal stel nie, maar ‘n getuienis van God se teenwoordigheid in jou lewe sal wees. Jy moet jou eie ritme vind, daagliks, weekliks, maar verseker gereeld. En dit is absoluut noodsaaklik as daar veranderinge in jou lewe is, of jy besluite moet neem, of jy worstel met goed … asof dit nie elke dag is nie!? En dit help as jy plek en tyd maak vir ander om saam met jou die pad te stap. Veral vir ons families: die dissipline van huisgodsdiens kan bestaan in die deel met mekaar van ons joernale. Dit kan ook ‘n welkome afwisseling vir kleingroepe wees om vir ‘n tyd spesifiek hierop te fokus. Laat elkeen kom met dié een ding wat die week in stiltetyd duidelik geword het, en dit met mekaar te deel. Dit kan soms ook ‘n vraag wees, of ‘n gebedsversoek, of ‘n stuk leed en hartseer waarmee geworstel word. Maar dit begin by stiltetyd … en ‘n joernaal.
Christen wees is Volgeling wees.Volgeling wees is om ‘n Koringplant te word.Die koringkorrel moet in die grond val, en dit moet ‘n koringplant word, lewe ter wille van ander.Begin vandag met ‘n joernaal om dié reis neer te pen, sodat dit ‘n getuienis vir jouself kan wees van die proses waarin jy ‘n volwasse volgeling van Jesus Christus word.
“Hulle het hulle HEELHARTIG toegelê …”
