Author Archive
Waar is jy?
Praat gerus saam oor die volgende stellings.
“The vast majority of people say they believe in God. But it’s abundantly clear in the so-called Crhistian nations of the Western world that professing belief in God and allowing that belief to make any discernible difference in your life are two entirely different things.
As obvious as this lapse of logic is, few seem to notice it. To believe in an all-powerful supreme being to whom you owe your very existence and yet to live as if you are the one in control doesn’t appear strange. In fact, it feels normal.” (Jan Hettinga, Follow Me, 1996:22).
“Ons word geroep om al meer gelykvormig te wees aan die beeld van hierdie ewige, selfopofferende, ontfermende, gemeenskapstigtende, lewegewende, omgee-vir-die-ander God. Maar ook in ons dag en omgewing is selfopoffering ter wille van die ander; is ontferming, barmhartigheid en geregtigheid; is gemeenskapstigting, solidariteit en behoort-aan; is lewe-gee en lewe-gun en lewe-skenk en lewe-bevorder; ja, is omgee-vir-die-ander nié die waardes waarna allerweë gestrewe word nie, nie die soort mensbeeld wat ons graag aan onsself en ander voorhou nie. (D Smit, Neem Lees! 2006:179).
Missionêr-diakonale Gemeentes
Nota: Hierdie verslag is ‘n uittreksel uit Boek 1 van die Agenda Algemene Sinode 2007, bl 84vv. Boek 1 is op die web beskikbaar by www.ngkok.co.za/as2007.
9. VERDERE OMSKRYWING VAN MISSIONÊR-DIAKONALE GEMEENTES
9.1 Diens en Getuienis, die wesenstaak van die Kerk
GOD SE SENDING EN ONS SENDING
Een van die mees inspirerende ontdekkings – herontdekkings sou waarskynlik ‘n beter woord wees – van ons tyd is dat sending nie in die eerste plek die verantwoordelikheid van van mense of selfs kerke is nie, maar van God self. Sending moet eerstens as missio Dei, God se sending, gesien word. Dis die drieënige God wat die eerste inisiatief geneem het, leer die Bybel ons. Die Vader het in liefde na die mensdom uitgereik en sy Seun gestuur. Die Seun het as eerste Gestuurde na die aarde gekom om God se heilsplan bekend te maak en in werking te stel. En toe Jesus se werk voltooi is, het die Vader en die Seun die Heilige Gees na die wêreld gestuur om God se heilswerk te bevestig.
Vir baie eeue het die kerk dit nie raakgesien nie. Diens en getuienis is as die werk van die kerk gesien – óf van indiwidue, óf organisasies – wat die verlossingsboodskap na al die nasies moes uitdra. Die verantwoordelikheid het op ons skouers gerus om dit te doen. Soms, skryf David Bosch, is sending in soteriologiese terme verstaan – ons moes uitgaan om mense van ‘n ewige verdoemenis te red. Ander kere was sending as ‘n kultuuraksie gesien – om die “seëninge” van die Weste aan mense van die Suide en Ooste deur te gee. In baie kringe is sending ekklesiologies beskou, as die uitbreiding van die kerk oor ses kontinente, of heilshistories, as ons bouwerk aan God se komende ryk.
Dit was Karl Barth wat reeds in 1932 by ‘n sendingkonferensie daarop gewys het dat sending nie in die eerste plek uit ons menslike aktiwiteit bestaan nie, maar dat dit God se werk is. Gaandeweg het meer missioloë en teoloë met Barth begin saamstem, totdat daar vandag onder vrywel alle kerke en tradisies eenstemmigheid oor die saak is. Sending is bowe-al missio Dei. Jare gelede reeds het die NG Kerk die oortuiging in sy Sendingreglement (18:1) ingeskryf:
“Sending is die heilshandeling van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees met die wêreld, waardeur Hy uit die ganse menslike geslag vir Hom ‘n gemeente deur sy Woord en Gees vergader”.
Maar as sending God se werk is, wat van ons? Sluit die missio Dei die missio ecclesiae, die sending van die kerk, uit? Natuurlik nie! Die sending van God mond uit in die sending van die kerk. God maak ons sy medewerkers in die saak. “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle”, het Jesus aan sy dissipels ná sy opstanding gesê (Joh 20:21). Met sy afskeid van sy dissipels Hy dit duidelik gestel: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels” (Matt 28:18v). Volgens Lukas het die Here die missio ecclesiae as ‘n eenvoudige stelling geponeer: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees…” (Hand 1:8). Die getuienistaak van die kerk is ‘n omvattende taak wat op die nood van die wêreld in al sy dimensies gerig moet wees. Die liefde van die Here moet in woord en daad verkondig word, én in die lewe van die kerk gedemonstreer word. Daarom vervolg die sendingreglement met die volgende woorde:
Deur die gemeente
- laat God sy Woord aan die gevalle wêreld verkondig (kerugma)
- bring Hy die gemeenskap van die heiliges uit alle nasies tot stand (koinonia)
- laat Hy diens aan die wêreld in nood lewer (diakonia),
- laat Hy sy opdrag om die skepping te bewaar en te bewerk sigbaar tot uitdrukking kom,
- en word sy geregtigheid aan die samelewing en die wêreld verkondig.
So laat Hy sy koninkryk kom tot by die voleinding van die wêreld.
9.2 Getuienis, die Bestaansrede van die Kerk
Kerk en sending kan nooit van mekaar geskei word nie. Die kerk leef vir die sending; dit is die bestaansrede van die kerk. Dit het baie eeue geduur voordat die sentrale Bybelse gedagte herontdek is dat die kerk nie ter wille van homself leef nie, maar ter wille van die wêreld, dat God sy gemeente roep en bemagtig om sy verteenwoordiger op aarde te wees.
“Julle is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, sodat julle die verlossingsdade van God sal verkondig…”, was Petrus se woorde aan die gemeentes in Klein-Asië (1 Pet 2:9,10, vgl die Griekse teks).
Natuurlik is die opbou van die gemeente – eredienste, kategese, pastorale versorging, ensovoorts – van groot belang. Maar dit alles moet in diens staan van die uitbou van die kerk, om die gelowiges te inspireer en toe te rus vir hulle getuienis in die wêreld. Die kerk is alleen die kerk van Christus as dit vir ander mense, vir die wêreld, bestaan, het Dietrich Bonhoeffer vanuit sy tronksel geleer. En, het aartsbiskop illiam Temple bygevoeg, die kerk is die enigste maatskappy op aarde wat ter wille van diegene wat nie aandeelhouers is nie, funksioneer.
Die oortuiging dat die kerk van nature missionêr is, het sedert die Tweede Wêreldoorlog veld gewen. Een teoloog na die ander het dit beklemtoon. In ekumeniese diskussies en besluite is dit met dik hale onderstreep. Die afgelope jare het die oortuiging vanuit die VSA nuwe stukrag gekry deur verskillende publikasies oor “the missional church”. Indrukwekkende programme om gemeentes te motiveer om na buite te leef, om hul verantwoordelikheid teenoor die wêreld as hoogste prioriteit te aanvaar, is van stapel gestuur. In ons eie land, ook in die kring van die NG Kerk, word heelwat in die verband gedoen.
9.3 Plaaslike Gemeentes
Maar wie is die kerk wat die opdrag ontvang het? Met die Bybel in die hand is dit duidelik dat die kerk primêr op plaaslike vlak bestaan. Natuurlik is denominasionele en sinodale strukture belangrik, maar die eintlike gestalte van die kerk is die plaaslike gemeente. Al die mooi beelde wat in die Nuwe Testament vir die kerk gebruik word (volk van God, uitverkore geslag, liggaam van Christus, lig, sout, aangename geur, briewe van Christus, ensovoorts) verwys in die eerste plek na plaaslike gemeentes. Paulus se briewe is aan gemeentes op spesifieke plekke geskrywe. Die plaaslike gemeente is die belangrikste rolspeler in die getuienistaak, wat deur God as sy agent in die gemeenskap aangestel is.
9.4 Elke Lidmaat
Daarby moet dit duidelik gestel word dat elke lidmaat ‘n verantwoordelikheid het. In die kerk is daar altyd ‘n behoefte aan voltydse sendelinge, professionele gemeenskapswerkers, tentmaker-sendelinge en korttermyn-sendelinge. Maar hulle staan tweede in die ry. Die algemene amp van alle gelowiges staan eerste. Elke Christen, elkeen wat Jesus as Verlosser leer ken het, word geroep om ‘n getuie te wees, om sy Naam met woord en daad te bely – tuis, in die huwelik, by die werkplek, in jou vriendekring, in elke sfeer van die samelewing.
9.5 Dimensie en Intensie
Wanneer daar oor die verantwoordelikheid van gemeentes om Diens en Getuienis te lewer gepraat word, is dit nodig om tussen ‘n missionêre dimensie en ‘n missionêre intensie te onderskei. As die kerk dáár is vir die wêreld, as die kerk in alles wat hy doen die liefde van die Here wil uitstraal, spreek dit vanself dat élke aksie van die kerk ‘n missionêre dimensie moet hê. Of eredienste gehou word of kategese bedryf word, of pastorale sorg ter sprake is of ‘n kerkbouprogram, of daar kermis gehou word of oor die jaarlikse begroting besluit moet word, telkens moet die vraag gevra word: dien dit ons getuienis? Lok dit mense na Christus – of stoot dit af? Maar die kerk het nog meer as dit nodig: ‘n missionêre intensie. In die program van die gemeente moet voortdurend plek gemaak word vir spesifieke getuienis- en diensaksies en projekte. Die evangelie-liefde van die Here moet verkondig word en ook gedemonstreer word. En daarvoor is planne en strukture nodig.
9.6 Missionêre Strukture
Dit alles bring mee dat elke gemeente eerlik voor die spieël van die Here sal moet gaan staan en vra: watter dinge verhoed ons om ons taak behoorlik na te kom? Dra die gemeentelike strukture ons missionêre aksie, of pootjie ons tradisionele strukture ons? Is die gemeente hoofsaaklik na binne gerig, bo alles op hul eie oorlewing ingestel? Of lewe dié gemeente na buite, na die wêreld, waarheen die Here hul geroep het om as Sy getuies op te tree? In die verlede het die kerk met reg teen ketterse leerstellings gewaak, wat dit vir mense onmoontlik gemaak het om die evangelie behoorlik te hoor en te aanvaar. Met net soveel erns moet die kerk ook teen ketterse strukture waak, wat die vrye verkondiging van die evangelie kniehalter. Dit kan ‘n ongemaklike oefening wees, maar dis broodnodig!
* * * *
Vir die NG Kerk is sy roeping in die wêreld – veral in Suid-Afrika én in Afrika met hul geweldige uitdagings en probleme – sy erns. Daarvoor is dit nodig dat ons met nuwe moed en oortuiging aanmeld, dat gemeentes in elke Sinode opgeroep word om in die lig van die missio Dei en die missio ecclesiae hul verantwoordeliheid raak te sien en na te kom. As ons werklik deel uitmaak van die kerk van die Here, sal dit ook nie anders kan nie. Emil Brunner, die Switserse teoloog, het dit rég gesê: “Soos ‘n vlam nie anders kan as om te brand nie, kan ‘n gemeente nie anders as om te getuig nie”.
Gesels saam: Hoe help ons bedieninge & kommissies ons om missionêr te leef? Hoe kan hulle dit nog meer doen?
(Lees ook ons Getuienisbeleid hier.)
Hoe gemaak met Genesis 50:15-21?
Chris beskryf sy gedagtes oor Genesis 50:15-21:
Ek vind Genesis se gedeelte amper te ryk om oor te preek, want dit eindig aan die een kant die hele verhaal van Genesis en kyk vorentoe na wat in Eksodus gaan volg.
Van die dinge wat my aanspreek (en hoe kies ek!?):
· “The past got in my eyes” – Lucy in die Peanuts strokiesprent as sy ‘n bal misvang – dit is nogal wat met die broers gebeur!
· Kommentare sê daar is net die een verhaal van interpersoonlike vergifnis in die OT – ek wonder hoekom? En wat dit vir ons sê?
· Aanhaling van Buechner: “With God: the worst things are never the last things” – dis ‘n preek op sy eie werd!
· Josef se broers maak steeds staat op misleiding om hulle sin te kry – en hulle probeer Josef op ‘n emosionele vlak omkoop! Die waarheid is, sonder vergifnis word die broers aan hulle verlede vasgeketting en hulle pogings om só los te kom, is gedoem tot mislukking (but for the grace of God in Josef).
· Josef se broers hoop dus vir haat … om hulle skuld te vereffen – hulle wil ‘n pak slae hê, want dit sal hulle beter laat voel!
· Josef huil op ‘n manier sy broers se trane – dit is vir my ‘n aangrypende kykie in die psige in Josef (hy huil nogal baie as ‘n mens die hele verhaal in gedagte hou!)
· Dié stunning insig kry ek by Annes Nel – Josef se broers se probleem is dat hulle kyk na wat hulle gedoen het, en nie na wat God gedoen het nie.
· Daarby, die broers probeer die impak en implikasies van droom van Josef ontwyk en in die niet laat verdwyn, beide in die verlede as in die hede.
· Vir Josef tel die droom egter en skep dit vir hom die werklikheid!
· Bose planne verlam nie God se planne nie – hoe wonderlik!
· Josef verbind hom aan die goeie wat God beplan – en nie aan die boosheid van sy broers wat in daardie plan ingesluit is nie!
· God se hand word in die donkerste tye van die lewe sigbaar.
· God kry dit reg om die kwaad goed te dink (Noordmans – wat ‘n wonderlike teoloog!).
· Josef se broers raak op ‘n vreemde manier “medewerkers” aan hulle redding – dit is iets wat ek nog moet internaliseer – dat jy met verkeerde bedoelings by die regte plek kan uitkom! Weens die genade van ‘n Josef/Jesus.
· Die heil kom tot stand deur onheil – dit is die kruisevangelie!
· Brueggemann sê: Josef betaal nie sy broers terug nie – Hy gee vir hulle ‘n tuiste – Ek wens só dié gedagte kan die gesprek tussen die NGK en VGK vorentoe vat! Die ironie is natuurlik dat die broers weer vir hom ‘n tuiste moet bied deur die belofte wat hulle maak om sy bene terug te neem na Israel – hy bly op ‘n manier ‘n outcast of outsider wat van die insiders afhanklik is om ingesluit te word. Dit laat my kop so ‘n bietjie draai!
· Slegs dié wat onskuldig gely het, kan die siklus van skuld en sonde verbreek – ditto vir die bogenoemde gesprek – die NGK kan nie die siklus verbreek nie, op ‘n manier kan net dié aan wie onreg gedoen is, dit doen. Dít is/was die waarde van iemand soos Nelson Mandela (en die probleem van aner politikusse wat die onreg lewendig hou en nie die vergifnis uitdeel nie) wat ‘n ruimte van vergifnis kon skep waarin alle SAners mekaar kon vind.
Nou ja – sal maar bly voor die Here om te hoor!
Matt 13:31-33, 44-52 – Son 27 Jul
Deon B se preek van Sondag kan hier gelees word.
Deon het daarop gewys dat die 5 kort gelykenisse spesifiek gaan oor die koninkryk. “In Matteus word dit duidelik dat die koninkryk mense is, gelowiges wat die Koningskap van Jesus Christus aanvaar. Persone wat hierdie keuse maak, betree nie die koninkryk nie, maar is die koninkryk.”
Daarna het Deon gesê dat die koninkryk ‘n bepaalde aantrekkingskrag en ‘n transformerende uitwerking het. Verder is die koninkryk kosbaar/waardevol. Laastens het hy gesê dat die koninkryk vir nou is, nie net vir eendag nie.
Somerstrand Lentefees!
Ons nooi ieder en elk om gedurende September uit te sien na die volgende:
Wegneemetes 2x per week die hele maand.
’n Heerlike Lentedans.
’n Kaskarresies (Spanne moet solank begin bou en oefen en ma’s moet daardie middag vleisbraai!
’n Manne-aand (Heerlike kuier saam met Johan Griesel en sy afvalpotte)
’n Gesins-motor-rally (Groot pret in en om Somerstrand)
‘n Opvoering deur Danie Matthee.
’n Groot Lofprysingsdiens.
’n Wynproe saam met internasionale kosse en kenners.
Passie vir Christus
Matt 13:24-30, 36-43 – Son 20 Jul
Chris se preek van Sondag kan hier gelees word.
Chris het begin deur te verwys na die probleem van “onkruid” in die gemeente. Daarna het hy op die verskil tussen die werkers en die boer verwys: dit is opvallend dat die boer rustig bly, want hy het ‘n plan en het volle vertroue dat dié plan sal werk. Die boer is die geduld self!
Die boer se geduld troos die werkers dat hulle maar met hul werk kan voortgaan, sonder om op die onkruid te fokus. Hulle kan rus in die wete dat die goeie sal seëvier.
Chris het gesê dat die impak hiervan op ons tweeledig is: eerstens kan ons ontspan, “ons is nie in die onkruidverwydering-besigheid nie, maar in die saai-en-versorging-besigheid”. Tweedens konfronteer dit ons met die werklikheid van die laaste oordeel en vra dat ons selfondersoek doen.
Die preek het ge-eindig met die gedagte dat God tweede kanse gee: “in God se boerdery word doringbome immers sipresse, distels baie keer mirtebome…” Dit is met dié verwagting dat ons ons werk moet doen.
Chris sluit af met die woorde: “Die gelykenis help ons om met ander oë te kyk na mense en na dié waarvoor die Here ons roep. God vra dat ons vir en na die koring moet kyk, nie vir die onkruid nie. Ons fokus moet wees om koring te bevorder, nie onkruid uit te roei nie. Dít is hoe die koninkryk kom en dít is hoe ons in die koninkryk moet werk.”
