TENNIS EN DIE BYBELSKOOL
Hoekom vertel ek dit vir jou ? Op ‘n Woensdagmiddag volg ‘n Woensdagaand en Woensdagaand is Bybelskool. In my toestand nie die beste plek om heen te gaan nie. Om vir ‘n uur te gaan konsentreer en intelligent te probeer lyk met ‘n gebroke vlees en ‘n amper onwillige gees is ‘n tall order.
Lees verder by die Bybelskool!
Bybelskool.com! – Paulus se briewe aan Tessalonika en Korinte
Hallo vriende
Dankie vir julle betrokkenheid by die Bybelskool die afgelope jaar. Ek het dit nie net geniet om die bydraes te skryf nie, maar ook die baie kommentaar en bydraes wat julle gelewer het. Hou so aan!
Hierdie kwartaal gaan ons voort met die Bybelskool. Ons fokus op Paulus se eerste vier briewe: 1 en 2 Tessalonisense en 1 en 2 Korintiërs. Ek beplan om in die eerste sessie eers die verhaal van die twee gemeentes in Handelinge te hanteer, om uit daardie hoek dan weekliks na Paulus se briewe te kyk. Dit laat ‘n mens die briewe met baie meer perspektief lees. Soos altyd, sal ek weekliks ‘n bydrae by die webtuiste lewer.
Ek het ook besluit om die Bybelskool as ‘n selfstandige webtuiste te registreer: http://www.bybelskool.com. Dit help veral die intekenaars van buite die gemeente.
Ek wil jou dus vra om ook daar te registreer.
Die voordeel is dat jy met jou registrasie ook ingeskryf word om die bydraes outomaties per e-pos te ontvang.
Onthou ook om elke keer in te teken as jy die webtuiste besoek. Dan kan jy kommentaar lewer sonder om weer al jou detail in te vul, en sal jou bydrae onmiddellik geplaas word. Ek moet net die eerste kommentaar goedkeur.
Ek begin die 21ste Julie met die eerste bydraes. Die eerste sessie sal Woensdag 28 Julie om 18:30 wees. Vir die Somerstranders: ons het nie weer ‘n ete nie – Baie jammer!
Ek hoop dat jy die 4 briewe van Paulus saam met my gaan lees. Ek sien uit daarna om saam met jou nuwe insigte in hierdie belangrike vestigingsfase van die kerk te kry. En soos altyd, hoop ek dat die Here self ‘n pad met jou sal stap in jou refleksie daaroor, soos hy inderdaad dit ook met my doen.
Ek kan nie wag om te begin nie!
Groete
Chris van Wyk
acv.vanwyk@gmail.com
2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie
Ons sien hier ‘n kant van God wat ons nie maklik eien nie. Die God wat ons in Jesus ken as die vergewingsgesinde, die een wat belowe dat Hy ons sonde so ver van ons af sal verwyder as die ooste van die weste af is, dié God besluit om Juda uit sy teenwoordigheid te verwyder.
Hoekom? Uiteraard was dit weens die konings van dié tyd, Jojakim en na hom Jojagin, wat volhard het in die sondes van hulle voorvaders. Jojakim het byvoorbeeld die Woord van God geminag deur dit te verbrand (Jer 36) en die woord van Jeremia in die wind geslaan. Maar volgens die skrywers van Konings was dit veral weens die sonde van Manasse en die onskuldige bloed wat hy in Jerusalem vergiet het:
“en die Here wou dit nie vergewe nie.”
Maar dit is nie al nie. Uit die boek Jeremia kan ‘n mens agterkom dat dié sondes ook wyd deur die priesters, profete en die gewone Judeërs nagevolg is (bv. Jer 23). Die hele samelewing het verword en was aan die Here ongehoorsaam. Vergelyk bv. die oordeel van die Here oor hoe hulle met vrygelate slawe gesondig het (Jer 34) deur hulle weer in slawerny te dompel.
Terug by die verhaal. Die Here stuur ‘n hele paar volke teen Juda, maar dit is uiteindelik die koning van Babel, Nebukadnesar (die Babiloniërs het die Assiriese ryk verslaan en as wêreldmag oorgeneem), wat in 597 vC vir Jojagin onderwerp en die “hele” Jerusalem wegvoer na Babel, veral die intelligensia, die amptenare, soldate, vakmanne en smede. Die profeet Esegiël was ook onder diegene. Net die armstes van die landsbevolking het agter gebly.
Anders as met die Assiriërs volg die Babiloniërs ‘n ander beleid met die volke wat hulle in ballingskap wegvoer, soos ons uit die geskiedenis van daardie tyd leer. In plaas daarvan om die volke doelbewus met ander volke te integreer, wat onder andere die noord-ryk se nekslag was, word die onderskeie volke toegelaat om hulle eie godsdienste en kulture te handhaaf. Dit verseker dat die volk van Juda ‘n identifiseerbare eenheid kon bly en uiteindelik as volk ook kon terugkeer in die tyd van die Persiese koning Darius.
Weer terug by Konings. Die eerste wegvoering van Jerusalem word 11 jaar later opgevolg deur nog ‘n veldtog van Nebukadnesar, in die tyd van koning Sedekia (Mattanja), die 20ste en laaste koning van Juda wat uitloop op nog ‘n wegvoering na Babel in 586 vC. Sedekia word op dieselfde manier as sy voorgangers veroordeel as ‘n koning wat nie die Here gedien het nie. Jeremia wys ons egter in Jeremia 38 van die worsteling wat hy gehad het, hoewel hy net nie homself so ver kon kry om die Here te vertrou en Jeremia se raad te volg nie. Jerusalem word ingeneem, die tempel verwoes, en Sedekia gevange geneem, sy kinders doodgemaak en sy oë uitgesteek. Weereens bly net die armstes van die mense agter om ‘n ogie oor die wingerde en lande te hou.
“So is Juda dan uit sy land weggevoer” (25:21). Gedalja bly as goewerneur agter, maar word deur opstandelinge uit die koninklike familie vermoor, wat uiteindelik ly tot ‘n vlug na Egipte, waarheen hulle vir Jeremia (Jer 43) ook neem.
Die boek sluit af met ‘n klein sprankie hoop, die vrylating van Jojagin in Babel, so asof die skrywers wil sê, daar is hoop, dinge kan weer omdraai. Maar dit is ‘n verhaal wat eers in Nehemia en Esra vertel sal word.
2 Konings 23 – Die Woord is ‘n gemeenskapsboek
Let op dat Josia die “boek van die verbond” nie alleen lees nie. Man en muis is saam met hom in die huis van die Here en sluit saam met hom ‘n verbond met die Here om Hom te volg en sy riglyne met hulle hele hart en siel te gehoorsaam. Die Bybel is nie vir individue in die eerste plek nie, dit is vir gemeenskappe wat saam die Here wil dien.
Let ook op dat dit hierdie tipe gesamentlike lees is wat die verandering voorafgaan en inlei. Josia begin diepgaande hervormings in die stad gefokus op die tempel en tempel-diens, sowel as in die ander stede van Juda gefokus op die hoogtes. Hy betrek ook die priesters van die ander stede by sy hervormings, hoewel hy ‘n onderskeid tussen hulle en die priesters by die tempel in Jerusalem tref.
Onder die diverse afgode en altare wat hy laat afbreek, is ook die altaar in Bet-El, die een wat Jerobeam opgerig het. En in vervulling van die profesie van die naamlose man van God (1 Kon 13) word mensbeendere op die altaar verbrand. Josia reinig dus nie net sy eie land, Juda, van afgode nie, maar ook dele van die grondgebied van Israel, so ver as Samaria. Dit alles mond uit op ‘n grootse Paasfees.
Die Konings skrywers vind Josia doodgewoon onbesproke: “Daar was nie voor hom nog so ‘n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie” (23:25). Tog laat die Here sy toorn oor Juda nie vaar nie, spesifiek oor Josia se pa, Manasse, nie. En die skrif is aan die muur vir die ballingskap, met vier slegte konings wat een na die ander doen wat verkeerd is in die oë van die Here: Joahas, Jojakim, Jojagin en uiteindelik Sedekia, die laaste koning van Juda.
2 Konings 22 – Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here
Ek sien twee bewegings raak in hierdie hoofstuk.
Aan die een kant is daar die groeiende bewuswording by koning Josia dat die volk regtig ver afgedwaal het van God se pad, wat tot daadwerklike praktiese toewyding en geestelike hervormings lei.
- Dit begin met sy herstelwerk aan die tempel, die plek waar God Homself openbaar – let op hoe sy optrede ooreenkom met een van sy grootjies, Joas (2 Kon 11-12).
- Dit verdiep met die ontdekking van die wetboek, die plek waar God sy wil openbaar – darem ontstellend dat die priesters die Woord van God letterlik verloor het, terwyl hulle met die werk van die tempel aangegaan het!
- En dit word prakties met die geestelike onderskeiding wat Gulda aan die dag lê deur die lewende woord van God vir Josia uit te lê.
Iets soortgelyks is nodig vir ons in ons private geloofslewe: 1) ‘n totale oorgawe aan God se teenwoordigheid – ons is immers vandag ‘n tempel van die Here (1 Kor 6); 2) ‘n totale oorgawe aan God se Woord – soos dit in die Bybel vir ons oorgelewer is; 3) ‘n totale oorgawe aan die praktiese riglyne wat God ons deur geestelike onderskeiding gee.
Die Bybel moet geleef word in die teenwoordigheid van die Here.
Maar daar is ‘n ander ontstellende beweging sigbaar in die hoofstuk: dat die oordeel van God nie meer afgewend kan word deur Josia se hervormings nie, al het hy “in alles die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie.” (22:2). Al konsessie wat God gee, is dat die oordeel nie in die tyd van Josia sal gebeur nie. Die nalatenskap van veral Manasse was net te sterk (23:26).
En onthou, dit was ‘n tyd van die grootste profetiese aktiwiteit in Juda se geskiedenis: Gulda, Jeremia, Sefanja en dalk ook Nahum en Habakuk tree in hierdie tyd op met Esegiél wat ‘n tydjie later in die ballingskap sy opebaringe bekend sou maak. Selfs die profete, of die koning, ondersteun deur die priester Gilkija, kon dus die ballingskap nie keer wat binnekort sou kom nie.
God se eer is op die spel deur die doen en late van sy volk oor ‘n hele paar eeue, en selfs hierdie omvattende hervorming kan sy oordeel, om sy eer te herstel, nie keer nie.
2 Konings 21 – Genadetyd raak kort vir Jerusalem
Manasse was nou werklik ’n afvallige koning in direkte kontras met sy pa Hiskia. Dit is asof Manasse ’n lys gemaak het van alles wat vorige konings verkeerd gedoen het, en dit een vir een uitgevoer het. Deur sy lang regeringstyd was daar regtig niks positiefs wat die skrywers van Konings kon kry om van hon te sê nie. Hulle ignoreer selfs die klein verhaaltjie van hoop waarvan 2 Kron 33 vir ons vertel. Hoekom? Want, met die Baäl-godsdiens regdeur die Asjera-aanbidding tot by kinderoffers het hy die Here uitgetart en geminag met die “stinkende afgode” en die einde van die volk se tyd in Jerusalem verhaas. Konings oordeel daaroor baie skerp.
Manasse se naam beteken: “die een wat laat vergeet” en sy ouers het heel moontlik ’n baie positiewe verwagting van dié seun van hulle gehad. Hy het egter die naam deur die modder gesleep deur die volk van God te laat vergeet.
Let op hoe die Here besluit om Jerusalem met dieselfde maat te meet as Samaria en die ballingskap ’n al hoe groter moontlikheid raak.
Sy seun Amon volg in sy pa se voetspore, maar amptenare sweer teen hom saam en maak hom na slegs twee jaar se regeringstyd dood. Hulle kry hulle verdiende loon deurdat die burgers van die land weer teen die amptenare optree en hulle uitwis, sodat die jong Josia, die laaste goeie koning van Juda, die troon kon bestyg.
2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom
Hiskia word koning in Juda en vir die eerste keer is daar ’n koning wat ’n ongekwalifiseerde regmerkie agter sy naam kry. Hy gehoorsaam die Here in alles, selfs in die vernietiging van die hoogtes wat so ’n knaende probleem vir die volk van die Here reg deur die koningstyd was. Interessant genoeg maak die koperslang van Moses (Num 21) ook hier sy opwagting, maar as ’n afgodsbeeld, wat Hiskia daarom met reg verwoes. Dit is darem tragies as die dinge van God belangriker as God self raak en selfs aanbid word!
Geen wonder dat Hiskia voorspoedig was nie, want die Here was by Hom op ’n manier wat net nie moontlik was met van die vorige konings van Juda nie. En stukkie vir stukkie kry hy dit reg om sy onafhanklikheid terug te wen van die Assiriërs en Filistyne.
’n Paar dinge tref my in die verhaal van Hiskia.
- Die bedreiging van die Assiriërs kom van God af. Let op hoe Sanherib dit selfs deur sy hoofadjudant só verwoord: “ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek nie” (18:25).
- Maar die Assiriërs oorskry hulle mandaat, soos die boodskap van Jesaja dit uitspel (19:20 vv): “Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het …” (19:27).
- God se heilsboodskap aan Hiskia en die volk word gedoen: “om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil” (19:34).
- Gebed (Hiskia met die briewe in die tempel, interessant genoeg voor die ark in die Allerheiligste) en die onderskeiding van God se wil (profesie van Jesaja) speel ’n belangrike rol om by God se planne in te skakel.
- God bewerk die verlossing, sonder dat Juda ’n vinger verroer.
- God luister na die gebed om genesing van Hiskia (vgl Jes 38), maar dit plaas ongelukkig ’n skaduwee (ironies gegewe die teken van die skaduwee!) oor sy lewe, omdat hy self in hoogmoed (vgl Sanherib) met sy skatte spog en daarvoor geoordeel word.
Terloops, 18:13-16 waarskynlik ’n korter berig oor die veldtog van Sanherib, en 18:17-19:37 (vgl ook Jesaja 36:1-37:38) ’n langer berig oor sekere aspekte daarvan, wat doodgewoon langs mekaar geplaas is. Dit beskryf nie noodwendig twee veldslae nie, hoewel daar ook geleerdes is wat dit as twee gebeure sien.
2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword
Agas word koning in Juda en volg nie die voorbeeld van sy pa, Jotam nie. Hy loop die pad van die konings van Israel, nie net in terme van die afgodsoffers nie, maar selfs deur die offer van sy eie seun. Hy gaan ook ’n verdrag met die opkomende Assiriërmag van Tiglat-Pileser III aan om die uitdaging van die Arameërs en die Noord-ryk af te weer, die sogenaamde Siro-Eframitiese oorlog (Jes 7), en dompel Juda nie net in die skuld daardeur nie, maar bring ook van die Aramese godsdiensgebruike terug na Jerusalem na ’n besoek aan Damaskus. Let op hoe die priesters saamwerk om die heiligdom van God te ontheilig en hoe Agas ter ere van homself offer. Ten spyte van die profeet Jesaja se ernstige aandrang dat hy op die Here moet vertrou en nie op die Assiriërs nie, kan hy homself nie so ver kry om God te vertrou nie.
Hoewel Hosea, die 19de koning van Israel, minder kras geoordeel word as die konings van Israel voor hom, ten spyte selfs van die feit dat hy Peka vermoor het om die troon te bestyg, is hy die laaste koning van Israel in wie se tyd die ballingskap uiteindelik ’n werklikheid word vir die 10 noordelike stamme in die jaar 722 vC. Die genadetyd het uitgeloop vir Israel. Hosea verbreek sy aanvanklike ooreenkoms met Salmaneser, koning van die Assiriërs, deur nie belasting te betaal nie, en by Egipte (koning So van die Nyldelta, nie die farao nie) hulp te soek, en word gevange geneem, en na drie jaar se beleg, word Samaria ingeneem en die Israeliete na Assirië weggevoer.
Hierna volg ’n opsommende verklaring van die rede vir die ballingskap wat uiteraard in die eerste plek vir die ballinge self verduidelik waarom hulle in ’n benarde posisie in die vreemde sit. Maar in die tweede plek is dit ’n aanduiding van wat God verwag van sy mense:
- dankbaarheid/verering vir God vir verlossing (17:7),
- ’n lewenstyl volgens sy wil en nie volgens die gangbare gebruike van die ander volke nie (17:8) en
- aanbidding van God alleen en volgens sy voorskrifte wat ander gode uitsluit (17:9-12).
Interessant dat die skrywers meld dat Israel dinge aan God toegedig het wat nie waar was nie. Dit het begin met die goue kalwers wat Jerobeam in Dan en Bet-El opgerig het, wat tot verkeerde persepsies van God aanleiding gegee het, en daarom deur die volk en die konings nagevolg is. Hoewel die Here oor eeue moeite gedoen het om die volk deur die profete en sieners te waarsku, en sy beeld te herstel, het die konings en die volk die waarskuwings in die wind geslaan en die gevolge gedra. Hulle het mense van geen betekenis geword:
“hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword” (17:15)
Die ballingskap het egter ’n verdere nadraai gehad, immigrante van oral oor is deur die Assiriërs in die Noord-ryk se grondgebied kom vestig. Hulle het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon. Hieruit het die Samaritaanse volk ontstaan, uit die vermenging van Israeliete wat in die land agtergebly het, met die immigrante uit alle wêrelddele. Selfs die terugbring van een van die priesters om die nasies te leer om die Here te vereer, na ’n plaag van leeus deur die Here gestuur is, het nie die situasie ooit heeltemal herstel nie. Sinkretisme was aan die orde van die dag: die Here is vereer, EN ’n mengelmoes van eie afgodsbeelde. Dit verklaar Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh 4:22).
2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here
In ’n vinnige opeenvolging van 5 konings word die verhaal van Israel se wel en wee verder vertel, met 2 konings van Juda se verhale wat dit omraam en begin en afsluit.
Asarja van Juda, ook Ussia genoem (2 Kon 15:13; 2 Kron 26), het ’n baie lang regering gehad, hoewel ’n groot deel daarvan in afsondering was, weens melaatsheid wat hy weens ’n oortreding in die tempel opgedoen het (2 Kron 26). Dit is in sy sterfjaar dat Jesaja as profeet geroep is (Jes 6). Dit is treffend die kontras tussen koning Ussia wat hom vergryp aan God se heerlikheid en gestraf word daarvoor, en Jesaja wat met ontsag vervul word deur God se heerlikheid en daardeur as profeet geroep word. Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here, en Hy doen sy werk deur die profete!
Sy seun Jotam het koning geword van Juda na sy dood, en moes onder andere die uitdaging van Peka van Israel en Resin van die Arameërs trotseer, waarvan ons ook in die profesie van Jesaja lees (hfst. 7), wat op die bekende belofte van die Immanuel wat uit ’n maagd gebore sou word, uitloop.
In teenstelling met Ussia, het Sagaria, seun van Jerobeam, weer net 6 maande geregeer in Samaria voor hy deur Sallum vermoor is, net soos die Here voorspel het. Sallum is op sy beurt na net meer as ’n maand deur Menahem vermoor, ’n besonder wrede koning, wat selfs swanger vroue laat opsny het.
Hoe treffend beskryf die profeet Hosea dié tyd: “Waar is jou koning dan nou? Laat hy jou help in al jou stede! Waar is jou regeerders van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en amptenare’? ‘Ek gee vir jou ’n koning in my toorn en Ek vat hom weg in my woede!’” (13:10-11)
En die oordeel van die Here word in geen onsekere taal uitgespreek nie: “Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word. Samaria, jou goue kalf is afstootlik! My toorn het losgebreek teen Samaria. Hoe lank sal hulle voortgaan om onrein te bly 6as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur ’n ambagsman gemaak, dit is nie ’n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly.” (8:4-6).
’n Groot wêreldmag was egter aan die opstaan, die Assiriërs, onder leiding van Pul (15:19) of Tiglat-Pileser III (15:29), wat ’n ander beleid as vorige maghebbers gevoer het. Hulle het telkens mense in ballingskap weggevoer om die gebiede wat hulle verower het, onderdanig te hou.
Menahem moes aan hom belasting begin betaal wat eintlik die skrif aan die muur was vir die Noord-ryk. Sy seun Pekahia is na net 2 jaar deur ’n sameswering van sy koningskap beroof deur ’n adjudant van hom, Peka, wat 20 jaar in Samaria geregeer het totdat ook hy vermoor is in ’n sameswering deur Hosea, in wie se tyd die ballingskap gebeur het, waarvan ons verder in hoofstuk 17 sal lees.
2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk
Die goeie werk wat Joas gedoen het, word voortgesit deur sy seun Amasia. Nie net het hy gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar hy voer ook die wet van Deuteronomium 24:16 uit, dat kinders nie vir die vaders se sondes gedood mag word nie, deur die amptenare wat sy pa vermoor het, dood te maak, maar die kinders te laat leef. Hy was ook effektief teen die Edomiete, hoewel hy steeds nie die hoogtes vernietig het nie, wat hom verkwalik word. Hy misreken hom egter lelik met Joas van Israel deur hom tot ’n oorlog uit te lok en lelik tweede te kom. Hoewel Joas sy lewe spaar is dit ten koste van ’n deel van die muur rondom Jerusalem en ’n groot klomp goud en silwer uit die huis van die Here. Ook ’n paar gyselaars is na Samaria geneem, waarskynlik om te verseker dat hulle aan hom belasting betaal.
Dieselfde lot wat sy pa getref het, ’n sameswering, tref egter vir hom ook, heel waarskynlik vanweë die dwase oorloë wat hy onderneem. Sy vlugtog help niks nie, en hy sterf in Lakis. Sy seun Asarja word koning, maar ons lees ons in hoofstuk 15 verder oor sy regering.
Met die dood van Joas van Israel word Jerobeam II koning van Israel en hy geniet ’n baie lang regeringstyd, trouens, hy was heel moontlik hulle beste koning, ten spyte van die feit dat hy steeds, soos sy voorsate, doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Konings skrywers dig darem een goeie ding aan hom toe, die herstel van ’n groot deel van die Dawidiese grense van Israel, wat Damaskus (histories gesproke het hulle weer ’n handelsarea daar gehad) en Hamat weer onder Israelitiese gesag gebring het.
Dit word egter steeds toegeskryf aan die genade van die Here wat deur die profesie van die profeet Jona aan Israel verkondig is. Daarby het dit ekonomiese welvaart gebring wat tot ’n groot kloof tussen ryk en arm sou lei, wat veral deur die profeet Amos aangespreek is. Amos se voorspelling dat Jerobeam deur die swaard sou val (Amos 7:11) word nie vir hom waar nie, maar wel vir sy nageslag, Sagaria (2 Kon 15:10). Kort hierna het die ballingskap vir die Noord-ryk van Israel gekom, waarna daar geen herstel meer moontlik was nie.
