1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid

Written by Webmeester on April 26th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

Let op hoe Salomo erkenning verleen nie net aan wat sy pa vermag het in die vestiging van die koninkryk nie, maar veral die rol van God daarin uitlig.  Die belofte van die Here dat Salomo die tempel sal bou, word nou Salomo se roeping wat hy op uitnemende wyse binne 7 jaar uitvoer (ongeveer 960 vC is bouwerk begin).  Beloftes het immers baie keer ook ons samewerking nodig!  Let ook op met hoeveel wysheid Salomo die versoek om hout aan koning Hiram van Tirus rig.  Salomo het ook ’n uitstekende plan met die houtkappery.  Hy span nie net Hiram se mense teen betaling in nie, maar gee sy mense, dws sy dwangarbeiders, skofte om te werk: 1 maand weg met die kappery in Libanon en 2 maande terug by die huis.

Die dwangarbeid sou egter op die lang duur nie deug nie.  Die breuk na Salomo se dood met die koningskap van Jerobeam I was veral as gevolg van die dwangarbeid.  Interessant is dat volgens 2 Kronieke 2:17 en 18 baie van die arbeiders nie volksgenote was nie.  ’n Mens wonder in watter mate dit ook tot spanning aanleiding gegee het.

’n Nuwe belofte word nou ook aan Salomo gemaak (6:11-13) dat God tussen die Israeliete sal woon en hulle nie sal verlaat nie.  Let op hoe ’n groot verantwoordelikheid die Here tog ook met die belofte op Salomo lê: “As JY volgens my voorskrifte leef … sal Ek my beloftes nakom teenoor jou.”

Van een kant gesien sou die tempel die godsdiensbeoefening in Israel verenig, en was dit inderdaad die ideaal wat reeds in Deuteronomium uitgespreek is.  Van ’n ander kant gesien het die tempel juis in Jerusalem die stad in konflik en kompetisie met die ander heiligdomme in Israel gebring.  Die impak daarvan sou lank hierna nog gevoel word.

Salomo skeep ook nie af met die bou van sy paleis nie, maar die fokus bly op die bou van die tempel.  Hiram van Tirus was die vakman (verband met die koning – 2 Kron 2:1-16).  Soos die skrywers sê, daar is so baie brons gebruik dat dit nie geweeg kon word nie.

Salomo was by net een veldslag betrokke (2 Kron 8:3) en dit nadat hy die tempel gebou het.  Die tempel kon net in ’n tyd van rus en vrede gebou word.

1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here

Written by Webmeester on April 23rd, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

Die verhaal van Salomo word voortgesit met klem op sy wysheid en voorspoed.  ’n Tema wat uiteindelik tot sy afvalligheid aanleiding sou gee, word egter ook aangeraak in hfst. 3, sy huwelik met Farao se dogter.  Salomo was lief vir uitlandse vroue en hulle afgode sou hom verlei om hulle te aanbid.

Let op dat Salomo steeds op die hoogtes offer, hier by die vernaamste een in Gibeon.  Dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting (2 Kronieke 1:2-13) was.  Dit is betekenisvol dat dit juis hier is waar die Here in die droom aan Salomo verskyn.

Salomo wys sy liefde vir die Here deur gehoorsaam te wees aan die opdragte van sy pa.  Let op hoe hy Dawid ook in sy droomgesprek met die Here erken en respekteer.

Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê.  Gehoorsaamheid in die oorspronklike beteken eintlik ’n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.

God gee daarmee vir hom die ander goed ook, dié dinge wat hy nie gevra het nie.

Daarna keer hy terug na Jerusalem toe en bring sy offers daar.

En die wysheid wat God gee is onmiddellik sigbaar met die uitspraak wat hy gee in die geval van die seuntjie wat doodgelê is.  Dit verleen hom hoë agting in die oë van die volk as ’n man wat Goddelike wysheid het.  Hy raak bekend vir sy spreuke, liedere en gedigte in die hele Midde-Ooste (4:29-34).  Let op hoe die onderwerpe waaroor hy skrywe ook die aarde en die skoonheid van plant en dier insluit.

Twee van die streekbestuurders was getroud met Salomo se dogters wat sy greep op die administrasie verklaar.

Die beloftes aan Abraham word waar: hfst. 4:20: “Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see.”  Interessant dat van hulle gesê word dat hulle gelukkig was.

Salomo het ’n groot huishouding gehad: 15 ton meel per dag, 30 beeste en 100 skape behalwe die wild en hoenders!

Salomo heers oor die grootste gebied van al die Israeliese konings.  Hy verwesenlik die Abrahamitiese droom om die land te besit van Dan tot Berseba.  Die ideaal van “elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit” (4:25) word bereik en bly ook die ideaal waaraan die profete die toekoms meet.

1 Konings 1-2 – Salomo word koning te midde van groot intriges

Written by Webmeester on April 22nd, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

Adonia

Adonia speel aanvanklik ’n groot rol in dié twee hoofstukke voordat Salomo die troon bestyg.

Let op hoe Adonia se hoogmoed (1:3) hom lei om op eie stoom die troon te probeer bestyg, sonder sy pa Dawid se seën of inspraak.  Hy maak aanspraak op die troon doodgewoon op grond van sy ouderdom.  Daarteenoor word Salomo se troonbestyging moontlik gemaak deur mense wat namens hom optree, heel eerste die profeet Natan (wat ook ‘n boek oor Dawid en Salomo geskrywe het (1 Kronieke 29:29; 2 Kronieke 9:29), en daarna Batseba, Salomo se ma, en hoe hulle hulle optrede baie spesifiek afhanklik maak van Dawid se uitsprake.

Dit is ook interessant dat Adonia nooit deur sy pa berispe is nie (1:6), wat op tragiese wyse hier moontlik bydra tot sy arrogansie.  Let ook op hoe min insig hy daarom toon as hy Batseba versoek om namens hom te vra vir Abisag as vrou.  Dit kon eintlik net vertolk word as ‘n bedekte manier om ‘n aanspraak op die troon te maak (2:17 – ‘n mens sien hier ooreenkomste met Abner se dwase verbintenis met Rispa in ‘n poging om sy posisie in die Saul dinastie te verstewig [2 Sam 3:6 vv]).  Salomo het sy eerste poging tot die koningskap verdra, maar nie dié vergryp nie en bring hom om die lewe (2:25).

Dit is ook betekenisvol dat Adonia telkens as die seun van Gaggit aangedui word, wat moontlik op ‘n broeiende konflik tussen Gaggit en Batseba dui.  Batseba het egter duidelik die koning se steun, terwyl Gaggit dit nie het nie.

Dawid

Interessant dat Salomo een van die kinders was wat vir Dawid in Jerusalem gebore is (2 Samuel 5:14-15) terwyl Adonia as vierde kind van Dawid in Hebron gebore is (2 Samuel 3:2-5 – Amnon, die oudste, is deur Absalom om die lewe gebring, weens die verkragting van sy suster, Tamar; Kilab, seun van Abigajil, die tweede oudste, lees ons nêrens meer van nie – hy het heel moontlik ook die naam Daniël gehad volgens 1 Kronieke 3:1; Absalom, die derde oudste, is natuurlik vroeër in sy opstand teen Dawid, om die lewe gebring).

Dit is dus ‘n kind wat gebore is in die tyd van sy koningskap oor die hele Israel, wat voorkeur geniet, en nie die kinders wat gebore is in die tyd van sy heerskappy net oor Juda nie (vgl 2 Samuel 5:5).  Let ook op dat Adonia spesifiek die manne van Juda na sy kroningsplegtigheid uitnooi!

‘n Mens lees ook nie in die Bybel van Dawid se keuse vir Salomo voordat Batseba na ‘n vorige uitspraak van die koning hieroor verwys nie (1:17) nogal in opdrag van die profeet Natan. Dit lyk dus op die oog af na ‘n doelbewuste poging tot beïnvloeding deur die profeet (1:11-14, 24).  Maar Dawid reageer op Batseba se retoriese vraag met baie positiwiteit (1:30) wat beteken dat Natan heel moontlik net beter as die meeste, sy koning se wense geken het en daarvolgens opgetree het.

Dit tref my hoe Dawid uiteindelik aan God die lof gee vir die troonbestyging van Salomo, en dat hy dit met sy eie oë kon sien (1:48).

Salomo

Dit tref my ook hoe Salomo aanvanklik met baie grasie optree teenoor Adonia, deur te belowe dat hy hom nie sal doodmaak nie (1:52-53).   Adonia se dwase versoek om Abisag as vrou verseël egter Adonia se lot.

Dit is tragies dat ook Simeï aanvanklik aan Salomo se kant is (1:8), maar uiteindelik deur Salomo doodgemaak word, op grond van Dawid se wrok teenoor hom (2:8 – vgl. 2 Samuel 16:5-14 en 19:15-23).  Sy vroeëre keuse vir Absalom in plaas van Dawid, sowel as die feit dat hy ‘n familielid van Saul was, speel heel moontlik hierin ‘n groot rol.

Let ook op hoe die profesie van die Here oor die huis van Eli voltrek word met die uiteindelik dood van Abjatar (2:27 – vgl. 1 Samuel 2:27-36; 3:11-14; 22:6-23).  Abjatar maak die sleutelfout hier om vir Adonia te ondersteun, waardeur die voorkeur van die Sadokiete as priesterlike huis bevestig word.  Hulle skaar hulleself agter Salomo (1:8).

Salomo tree dus met groot wysheid op, selfs voor die gesprek tussen hom en die Here daaroor (hfst. 3).  Deur Dawid se laaste bevele uit te voer, met die hulp van Benaja, bevestig hy sy koningskap deur van Adonia, Abjatar, Joab en Simeï ontslae te raak.

Ander mense en plekke van betekenis

  • Sunem (rusplek) was in die gebied van Issaskar (Jos 19:18), waar Elisa later in die huis van die Sunamitiese vrou tuisgaan (2 Kon 4:8). Dit speel ook ‘n rol as die woonplek van die Sulammitiese vrou, die bruid in Hooglied (6:13).
  • Abisag se naam beteken: “die vader is op reis” wat moontlik betekenisvol verwys na Dawid se naderende dood.
  • Benaja was die leier van Dawid se Filistynse lyfwag en een van die helde (2 Sam 8:18; 23:20 – vgl. sy heldedade o. a. deur ‘n leeu in ‘n put dood te maak).  Sy pa, Jojada, was op ‘n tyd hoëpriester (1 Kronieke 27:5) en ook betrokke by Dawid se aanvanklike troonbestyging in Hebron (1 Kronieke 12:23).  Daar word hy as ‘n Aäronitiese vors met 3700 man onder hom beskrywe!
  • Reï is vir ons onbekend.

Indeling van 1 en 2 Konings – leesplan

Written by Webmeester on April 21st, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

WEEK 1: 1 KONINGS 1-11

  1. Salomo word koning ná Dawid se dood – hfst. 1-2 – Donderdag 22 April.
  2. Salomo se gebed om wysheid – hfst. 3-4 – Vrydag 23 April.
  3. Salomo bou die tempel van God en sy paleis – hfst. 5-7 – Maandag 26 April.
  4. Salomo wy die tempel aan God en vernuwe die verbond – hfst. 8-9 – Dinsdag 27 April.
  5. Salomo spog met sy rykdom; hy bewerk sy eie ondergang met vroue uit vreemde volke – hfst. 10-11 – Woensdag 28 April.

WEEK 2: 1 KONINGS 12-16:20

  1. Rehabeam se optrede laat die ryk skeur – hfst. 12 – Donderdag 29 April
  2. Jerobeam se afgodediens word veroordeel – hfst. 13 – Vrydag 30 April
  3. Jerobeam se huis word veroordeel – hfst. 14 – Maandag 3 Mei
  4. Abia, Asa en Nadab – hfst. 15:1-32 – Dinsdag 4 Mei
  5. Baesa, Ela en Simri – hfst. 15:33-16:20 – Woensdag 5 Mei

WEEK 3: 1 KONINGS 16:21-2 KONINGS 1

  1. Omri, Agab, Elia en die droogte – hfst. 16:21- 18 – Donderdag 6 Mei
  2. Elia op die berg Horeb – hfst. 19 – Vrydag 7 Mei
  3. Agab en die Arameërs – hfst. 20 – Maandag 10 Mei
  4. Nabot se wingerd – hfst. 21 – Dinsdag 11 Mei
  5. Agab se einde, Josafat en Ahasia – hfst. 22 – 2 Konings 1 – Woensdag 12 Mei

WEEK 4: 2 KONINGS 2-10

  1. Elia se mantel val op Elisa – hfst. 2-3 – Donderdag 13 Mei
  2. Elisa dien gewone en vername mense – hfst. 4-5 – Vrydag 14 Mei
  3. Elisa en die Arameërs (Sirië) – hfst. 6-7 – Maandag 17 Mei
  4. Elisa en Damaskus – hfst. 8 – Dinsdag 18 Mei
  5. Elisa en Jehu – hfst. 9-10 – Woensdag 19 Mei

WEEK 5: 2 KONINGS 11-17

  1. Joas word koning oor Juda – hfst. 11-12 – Donderdag 20 Mei
  2. Joahas word koning oor Israel en die dood van Elisa – hfst. 13 – Vrydag 21 Mei
  3. Amasia word koning oor Juda en Jerobeam II oor Israel – hfst. 14 – Maandag 24 Mei
  4. Verskeie konings van die 8ste eeu vC – hfst. 15 – Dinsdag 25 Mei
  5. Agas word koning van Juda en Hosea koning oor Israel tot met die Noordelike ryk se ballingskap – hfst. 16-17 – Woensdag 26 Mei

WEEK 6: 2 KONINGS 18-25

  1. Die verhaal van koning Hiskia – hfst. 18-20 – Donderdag 27 Mei
  2. Die sonde van Manasse – hfst. 21 – Vrydag 28 Mei
  3. Josia word koning oor Juda – hfst. 22 – Maandag 31 Mei
  4. Josia se hervormings – hfst. 23 – Dinsdag 1 Junie
  5. Nebukadnesar neem Jerusalem in en voer die volk in ballingskap weg – hfst. 24-25 – Woensdag 2 Junie

Blog

Soos in die verlede, gaan ek ‘n Gesprekforum op hierdie blog bedryf, waar ek elke weeksdag gaan skryf oor my eie lees van Konings. Julle kan dit lees vir meer inligting en ook julle vrae daar vra.  Ek kan dit ook per e-pos vir julle stuur.  Maar, ek sal dit veral waardeer as julle ook julle eie leeswerk daar as kommentaar – ook kommentaar op ons ander se leeswerk – sal skryf, sodat ons almal daarin kan deel en in die saamgesels verryk kan word.

Metodiek

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief (luister-metodiek of Lectio Divina bv.) van aard.

Die idee is om beide die breë lyne van bv. die verhaal van Salomo, Elia of Elisa as die fyner detail daarvan raak te lees en die betekenis en die impak daarvan vir ons lewe te oorweeg. Elke week sal ons dus die groeptyd gebruik om ook daaroor te gesels.  Dit is juis in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel dat geestelike groei plaasvind.

Jy kan enige sisteem gebruik om vir jou aantekeninge te maak, selfs kort aantekeninge in die kantlyn van die Bybel:

Een manier is om met drie simbole te werk waaroor jy dan kan reflekteer en in die groep kan bespreek:

! – IETS WAT JOU GETREF HET

? – IETS WAAROOR JY ‘N VRAAG HET

– IETS VAN GROOT BETEKENIS

Julle kan self kies hoe julle wil lees met enige van die vorige metodes.

Ek gee hier ook weer vir julle die vier metodes van Adele Calhoun.  Sy stel 4 metodes vir Bybelstudie voor (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief:

  • Lees soos ‘n Kunstenaar
    • Wat tref my?
    • Watter nuwe gedagtes kry ek?
    • Wat moet ek daarmee doen?
  • Lees soos ‘n Speurder
    • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
    • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
    • Wat nou (aksie, met wie)?
  • Lees soos ‘n Skatkisjagter
    • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
    • Wat moet ek hiermee doen?
  • Lees soos ‘n Vakleerling
    • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
    • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En elke week kom ons dan bymekaar om saam te gesels oor wat ons gehoor het, vrae wat ons miskien het uit te pluis, en ons eie verstaan te verdiep vir die reis wat ons saam met God in die lewe onderneem.

Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk

Written by Webmeester on April 20th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

Die verhale van die konings van die verenigde Israel en later van die gedeelde ryk Israel en Juda word vertel vanuit hulle lojaliteit aan die God van die verbond.  Dit word veral gewys deur twee goed:

  1. hulle houding teenoor die sentrale heiligdom in Jerusalem en
  2. hulle hantering van sinkretisme, die aanbidding van Jahwe saam met ander gode.

Die verhaal van Salomo bepaal die agenda vir hierdie perspektief.  Sy mees betekenisvolle bydrae was die bou van die tempel.  Hy kon die versoeking van ander gode egter nie weerstaan nie, wat tot sy val gelei het.

Hierdie agenda word geaksentueer deur die wyse waarop die daaropvolgende konings se verhale vertel word:

  1. ’n Koning se regering word in verband met ’n ander koning s’n gebring.
  2. Die lengte van sy regering word vertel en in watter stad hy geregeer het.
  3. Die Judese konings se moeders word genoem.
  4. Sy godsdiensbeleid word beskryf – die noordelike konings word konsekwent beskryf as net so sondig as Jerobeam; die suidelike konings word beoordeel in terme van hulle navolging van Jahwe en hulle houding teenoor die hoogtes.
  5. Laasgenoemde is baie keer ’n bron vir verdere inligting oor die koning
  6. Dit word afgesluit met inligting oor sy dood en begrafnis en wie hom opgevolg het.

Die godsdiensbeleid van die koning is die enigste basis vir die beoordeling van ’n koning se regering.  Dit bepaal ook watter inligting in die skryf van hulle verhale gebruik word.  Dit is dus nie geskiedenisskrywing soos ’n mens sou verwag nie.   Daarom word ook soveel spasie aan die profete, Elia en Elisa afgestaan, omdat hulle as God se agente optree in sy verhouding met die konings.

Anders as met die boek van Samuel, word die verhaal van Konings ook in die konteks van die groter wêreldmagte, Assirië, Babilon en Egipte vertel.  Hulle is, in ’n sekere sin net soos die profete, God se instrumente in sy hantering van die koning en die volk.

Van die dood van Dawid tot die val van sy koninkryk.

1 en 2 Konings dek die tydperk van Dawid se dood in 970 vC tot die sesde eeuse ballingskap van Juda in 586 vC.  Dit sluit die sogenaamde Vroeë Profete af wat ook Josua en die boek 1 en 2 Samuel insluit.

  1. Die koninkryk van Salomo – 1 Konings 1 – 11 – Dit dek Salomo se troonbestyging, sy wysheid, sy bouwerk aan die tempel en sy paleis sowel as sy val weens afgodery.
  2. Die skeuring van die Ryk – 1 Konings 12 – 16:20 – Dit vertel die verhaal van die skeuring van die ryk tydens die regering van Jerobeam 1, waarin ’n mens trekke van die verhaal van Aäron se goue kalf hoor.
  3. Die verhaal van die verdeelde ryk: Noordelike ryk – 1 Konings 16:21 – 2 Konings 10
    1. Die bediening van Elia – 1 Konings 17 – 2 Konings 1
    2. Die bediening van Elisa – 2 Konings 2 – 10
  4. Die verhaal van die verdeelde ryk: Die verhaal van die Suidelike ryk en ballingskap vir die Noordelike ryk – 2 Konings 11 – 17 – die profetiese aktiwiteit in die Noorde kan die ballingskap van Israel nie voorkom nie.
  5. Juda se laaste jare tot by hulle ballingskap – 2 Konings 18 – 25 – die verhaal van twee goeie konings, Hiskia en Josia kan die ballingskap van Juda nie voorkom nie.

Bybelskool oor 1 en 2 Konings

Written by Webmeester on April 19th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

Die Bybelskool oor Markus was vir my ‘n louter vreugde.  Nie net oor die helderder prentjie wat ek self van Jesus daardeur gevorm het nie.  Maar ook weens die interaksie met deelnemers nie net in my eie gemeente nie, maar reg oor die wêreld.  Dit is wonderlik om deur julle brille te kyk na die Bybel en in julle perspektiewe self so baie te leer.

Ek sal graag wil hoor, noudat julle ‘n bietjie afstand gekry het op die leeswerk van die vorige kwartaal, watter verskil die Bybelskool oor Markus in julle lewe gemaak het!

Ons keer nou terug na die Ou Testament en gaan oor die volgende 6 weke die verhale van 1 en 2 Konings lees (leesplan word Woensdag gepubliseer).

INLEIDING

“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:

Om in die Woord te Woon.

Navorsing wys dat daar vier katalisators is vir geestelike groei:

  • Geestelike oortuigings en houdings – oor God, Christus, Heilige Gees, die Bybel, genade
  • Georganiseerde kerklike aktiwiteite – eredienste, kleingroepe, diensgeleenthede
  • Persoonlike geestelike praktyke – refleksie oor die Bybel, gebed
  • Geestelike aktiwiteite saam met ander – ongeorganiseerde dinge soos vriendskappe, dienslewering in informele netwerke

Gelowiges se behoeftes verskil soos hulle vorder op die pad van geestelike groei:

  • Geleenthede om met God en ander gelowiges te connect – veral eredienste
  • Kleingroepe en basiese persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Diensgeleenthede en gevorderde persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Mentor geleenthede en ‘n wye reeks van diensgeleenthede

Die belangrikste behoefte wat in alle fases van geestelike groei uitgespreek word, is:

“Help my om die Bybel in diepte te verstaan en oor die betekenis daarvan te reflekteer.”

En dit is my passie om mense hiermee te help: om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.

1 EN 2 KONINGS

Die afgelope jaar of wat het ons nou al deur die Pentateug gewerk, die eerste 5 boeke van die Bybel; ons het die evangelie van Lukas saam met die Handelinge van die Apostels deurgelees, weer ‘n draai gemaak in die Ou Testament en Josua, Rigters en 1 en 2 Samuel deurgelees.

Die eerste kwartaal van die jaar het ons die evangelie van Markus gelees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kon uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.

Hierdie kwartaal wil ek die boek van 1 en 2 Konings saam met julle deurlees.  Die boek sal ons ’n perspektief gee op God se hantering van die wêreldgeskiedenis, beide in die groter tendense en bewegings, as in die kleiner plaaslike stories waarbinne ons lewens hulself afspeel.  En net soos die boek Konings alle konings beoordeel in die lig van hulle lojaliteit aan God, só sal die boek ook vir ons help om ons eie lewe in die lig van ons lojaliteit aan God te beskou.

Ek sal van tyd tot tyd opmerkings maak oor vergelykende dele in 1 en 2 Kronieke, maar gaan dit nie as sodanig hanteer nie.  Kronieke gebruik die verhale van Samuel en Konings as basis vir sy verhaal, maar voeg baie ander materiaal by: geslagsregisters, lyste, psalms en toesprake.  Kronieke skep daarmee ’n eenheidsverhaal van Israel van Adam af tot by die terugkeer uit ballingskap in die sesde eeu vC.  Kronieke fokus ook meer op die positiewe kante van die koningsverhale, terwyl Konings die verhale in hulle volle, soms aaklige, detail vertel.

OORSIG

1 en 2 Konings was oorspronklik een boek. Dit vorm deel van die Vroeë Profete: Josua, Rigters, Samuel en Konings. Die samehang tussen hulle bestaan in die verband tussen heilsgeskiedenis en die wêreldgeskiedenis, waarvan laasgenoemde veral in Konings beskryf word.

Die boeke is heel moontlik geskryf deur voor-ballingskap skrywers wat finaal in die ballingskap geredigeer is. Gedurende die ballingskap is die geskiedenis van die konings (in Israel en Juda) in die lig van die val van Jerusalem in 586 vC nuut geïnterpreteer.

Die eerste lesers was dus heel moontlik Jode in ballingskap.  Die brandende vraag in hulle harte: “Hoekom is ons hier in ballingskap?” word deur Konings beantwoord.  Dit het ook die implisiete appél ingesluit aan hulle om die slegte voorbeeld van die konings te vermy en lojaal aan God te bly, ook in die vreemde omstandighede waarin hulle hul bevind.

Jahwe, die God van Israel, word deur die boek Konings as die Almagtige beskrywe.  Hy verhoog en Hy verneder.  Hy gebruik soms op ‘n verstommende wyse nederige en selfs magtelose mense. Vergelyk byvoorbeeld die verhaal van die melaatse Naäman,  en die (naamlose!) konings van Aram en Israel in 2 Konings 5 waarin ‘n jong dogtertjie en die profeet Elisa die sleutelrolle speel.

Dit is verder ironies dat die koninklike vertelling eintlik telkens eerder die verhale van profete op die voorgrond bring. Brueggemann sê hieroor:

“It suggests that the texts are not overly impressed with the kings and in fact do not believe the kings are the real makers of Israel history. Rather the kings are incidental public points of reference which simply provide a context for the real history-makers, who are the prophets.”

Dié gedeeltes dien dus as verhale om die konings se legitimiteit te bevraagteken en die koninklike persepsie van die werklikheid te ontken. Die verhale wil dit duidelik stel dat die wêreld nie is soos die konings sê dit is nie. En dat die perspektief wat die profete op die tafel sit, God se werklikheid, die eintlike werklikheid is.

Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan

Written by Webmeester on March 10th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Ek wil nie graag by die onverkwiklike debat oor die opstanding wat deur sommige organisasies en teoloë gevoer word, betrokke raak nie.  Ek wil ook nie met allerhande hermeneutiese nuanses met woorde speel rondom die opstanding nie.  Markus 16:1-8 sê soos die ander evangelies dat Jesus opgestaan het. Dit was liggaamlik (as jy Paulus se taal wil gebruik, ‘n verheerlikte liggaam soos ons in 1 Kor 15 leer).  En ek glo dit.

Verder bly dit darem net ongelooflik hoe die vroue aan die einde van die evangelie na vore tree as ondersteuners en getuies, terwyl al die mans, behalwe moontlik Johannes, gevlug het.  Dit is uiters betekenisvol in die lig van die patriargale omgewing waarbinne hulle gelewe het.

Die teks van Markus wat aan ons oorgelewer is, het eintlik 3 eindes.  Die beste manuskripte eindig die teks by vers 8.  Sommige ander voeg ‘n vers 9 by, en nog ander voeg ‘n paar verse, 9-20 by, soos ons dit tans in die NAV het.  Die langer tekstradisies dateer heel moontlik eers uit die tweede eeu nC, heel moontlik om ‘n meer afgeronde afsluiting vir die evangelie te verskaf.  Die konsensus onder geleerdes is dat die langer eindes heel moontlik latere byvoegings is, maar dat die korter teks ook te kortaf is, en dat daar van die oorspronklike teks moontlik ‘n deel verlore geraak het.

Korter einde: 3 vroue gaan die Sondagmôre na die graf, Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome.  Let op hoe die jongman, ‘n engel, Jesus in sy mensheid as van Nasaret identifiseer.  ‘n Boodskap aan Petrus is ook sy missie vir hulle, dat die dissipels Jesus in Galilea moet ontmoet.

Die korter teks eindig met die vroue wat weghardloop en Markus se evangelie wat dus eindig met die woorde: “Want hulle was bang.”

Effens langer teks: Die effens langer teks het ‘n soort opsomming van die gesprek tussen die vroue en Petrus en die ander dissipels, en die mededeling dat Jesus self aan hulle verskyn het en deur hulle die evangelie oral laat verkondig het.

Langer einde: Die langste teks voeg dan by dat Jesus aan Maria Magdalena verskyn het, sowel as aan 2 mense op pad na die platteland, wat ons uit Lukas se weergawe weet die Emmaüsgangers was.

Die onderlinge verskille tussen hierdie Markus weergawe en Lukas s’n wys egter dat dié teks, soos die effens langer teks, heel moontlik nie oorspronklik is nie:

Daar word in vers 13bv. gesê dat ander dissipels die twee Emmausgangers nie geglo het nie. Dit verskil van Lukas 24:34 waar die dissipels vir die Emmausgangers sê dat hulle inligting ooreenkom met dít wat hulleself by Simon gehoor het.

Die teks stel die Emmausgangers ook as dissipels voor wat nie die geval was volgens die ander evangeliste nie.

Hoe dit ook al sy, die teks vertel ons dat Jesus se verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart gou oorslaan in ‘n opdrag om die evangelie te gaan verkondig.  Jesus gee hulle voorsmakie van die tipe wondertekens wat by hulle sal voorkom, genesing van duiwelbesetenheid en siekte, tale, en beskerming teen slange en gif (onthou Paulus se ervaring op die eiland Malta – Hand 28).

Markus se langer einde eindig met Jesus se hemelvaart en ‘n kort beskrywing van die evangelieverkondiging wat deur wondertekens bekragtig is.

Matteus, Lukas en Johannes

Korter einde: Matteus noem die ma van Jakobus slegs die “ander Maria” wat ons laat vermoed dat dit dieselfde persoon kan wees.  Hy beskryf die toneel by die graf ook meer volledig met ‘n aardbewing waarna ‘n engel die klip voor die graf wegrol en daarop gaan sit, met die wagte wat bewe en soos dooies word.  Sy boodskap is dat Jesus opgewek is en dat dié nuus aan die dissipels vertel moet word.  Hulle gaan doen dit dan tegelykertyd bang en bly.

Lukas se detail verskil van Markus en Matteus se weergawe; daar is 2 engele en hulle gaan in gesprek met die vroue.  Matteus noem ook vir Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, maar met hulle saam was daar ook Johanna (Salome?).  En hy vertel van Petrus se besoek aan die graf.

Johannes vertel weer in meer detail van Petrus en sy eie ervarings by die graf.  Interessant is dat hulle wel begin glo dat Jesus opgestaan het, maar nog nie sover kan kom om die Skrif hieroor te verstaan nie.

Langer einde: Matteus sluit sy evangelie af met die Groot Opdrag net voor Jesus se Hemelvaart.  Lukas brei weer uit oor die pragtige verhaal van die Emmaüsgangers, sowel as die toneel by Galilea waar Jesus vis eet om hulle van die werklikheid van sy opstanding te oortuig.  Hy sluit met ‘n korter weergawe van die Hemelvaart.  In Handelinge is ‘n langer weergawe.  Johannes brei weer uit oor die engele se gesprek met Maria Magdalena, waarna Jesus self aan haar verskyn.  Hy vertel van nog twee verskynings van Jesus, een waar Tomas nie by was nie, en een waar ook die ongelowiges Tomas ‘n getuie van die opstanding word.

Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe

Written by Webmeester on March 9th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging: Dit bly vir my interessant hoe Pilatus die waarheid skerp kan insien, maar nie daarvolgens kan handel nie.  Hy is die eerste wat die rede vir Jesus se verwerping deur die Joodse Raad insien en verwoord: afguns.  Jesus kan dinge doen wat hulle nie kan nie, en eerder as om Hom daarvoor te erken, verwerp hulle Hom.

Maar om die mense hulle sin te gee, laat los hy eerder Barabbas (Jesus Barabbas [seun van Abbas] – volgens Matteus se weergawe) as Jesus van Nasaret.  Hy is bang vir nog ‘n opstand, aangesien Rome hom vir vorige opstande al voor stok gekry het, soos ons uit die Romeinse geskiedenis kan agterkom.  Jesus word met ’n kats geslaan wat uit ’n aantal smal riempies bestaan waaraan stukkies yster en been vasgebind is. So gaan Jesaja 53:5 in vervulling.

Die soldate bespot Jesus: Voor sy kruisiging loop Jesus deur onder die soldate waar Hy met ‘n pers (koninklike) mantel en doringkroon bespotlik gemaak word.  Markus (en Matteus en Johannes) vertel nie die gebeure by Herodes nie, soos Lukas wel doen.

Jesus word gekruisig: Die breë trekke van die kruisverhaal is vir ons bekend: Simon van Sirene in Noord-Afrika (pa van Aleksander en Rufus – ons tref ‘n Rufus in die gemeente van Rome aan – Rom 16:13) dra die dwarsbalk van Jesus se kruis; Jesus word op Golgota (die heuwel het soos ‘n skedel gelyk) gekruisig, waar die regoppaal geplant is; sy klere word onder die soldate met die lot verdeel; die bordjie aan die kruis kondig sy misdaad aan, dat Hy die koning van die Jode is (waarmee die Jode ook eintlik beledig word), ironies genoeg presies wat Hy is; die mense laster Hom met aanhalings wat Hy vroeër gemaak het oor die tempel.  Interessant is egter dat Markus wel noem dat daar twee ander rowers saam met Hom gekruisig is, wat Hom ook beledig, maar nie dat Hy met hulle in gesprek tree nie.

Jesus sterwe: Na die 3 ure lange duister, roep Jesus na God met daardie beroemde Aramese woorde uit Psalm 22:2: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (My God, My God, waarom het U my verlaat?) en blaas die laaste asem uit.  Twee goed gebeur dan:

  1. Die voorhangsel van die tempel (waarskynlik die een tussen die Allerheiligste en die Heilige) skeur van bo na onder oop – wat die boodskap dra a) dat die tempel se einde begin het en b) dat die toegang tot God nou vir alle mense oop is (Hebr 9);
  2. Die offisier by die kruis bely dat Jesus werklik die Seun van God was – wat die boodskap dra dat Jesus se dood reeds vir almal betekenis het.

Dit ontroer my dat dit Jesus se dood is, wat dié offisier oortuig dat dit God is.

En daarmee is die klimaks van Markus se verhaal bereik.  Hy het begin skryf dat Jesus die Seun van God is (1:1), en hier bely ‘n heidense Romeinse offisier dit (15:39).

Markus brei dan uit oor al die vroue wat Jesus ondersteun het by die kruis, trouens deur sy hele lewe: Maria Magdalena (van Magdala waaruit Jesus 7 duiwels gedryf het – Luk 8:2), Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses (ons weet niks meer van haar af nie) en nog Salome ook (vrou van Sebedeus – Matt 27:56 en die ma van die 2 dissipel-broers, Jakobus en Johannes), moontlik ook nog die suster van Maria (Joh 19:25).  Indien laasgenoemde waar is, was Jesus en Johannes en Jakobus neefs.  Hierdie 3 vroue is dan ook op die opstandingsmôre by.

Jesus word begrawe: Josef van Arimatea (30 km noordwes van Jerusalem) wat ‘n geheime (Johannes) volgeling van Jesus was sorg dat die voorbereidings vir Jesus se begrafnis getref word en voorsien ook die graf.

Matteus, Lukas en Johannes

Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging:  Matteus brei op Markus se weergawe uit met die naam van Barabbas, Jesus, sowel as die verhale van Pilatus se vrou wat hom probeer waarsku om nie verkeerd te handel met hierdie onskuldige man nie, en Pilatus wat sy hande in onskuld was.  Hy sluit af met die ontstellende woorde van die volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus.”  Lukas noem ook dat Jesus by Herodes was, terwyl Johannes meer uitbrei oor die interaksie tussen Pilatus en Jesus, en Pilatus en die Joodse Raad.

Die soldate bespot Jesus:  Matteus volg Markus se weergawe met die een byvoeging dat Jesus ook ‘n stok in die hand gestop is, waarskynlik as ‘n soort septer.  Lukas vertel nie dié verhaal nie, en Johannes verwys net kortliks daarna.

Jesus word gekruisig: Matteus volg Markus se weergawe met twee byvoegings, die een is dat die mengsel wat hulle Hom gegee het om te drink, wyn en gal bevat het, terwyl Markus sê dat dit wyn met mirre was.  Volgens Matteus was daar ook ‘n ekstra lyntjie op die aanklag teen Hom geskrywe: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”  Lukas vertel van die interaksie van Jesus met die vroue waar Hy onder andere uit Hos 10:8 aanhaal en noem ‘n ekstra kruiswoord: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  Hy is ook die enigste wat die pragtige verhaal vertel van die een moordenaar wat saam met Hom opgehang is, se erkenning van Jesus waarna hy deur Jesus in die paradys ingenooi word.  Johannes brei nog verder uit oor die taal waarin die opskryf bo die kruis geskryf is, in Hebreeus, Latyn en Grieks, en ook oor die verdeling van Jesus se klere met ‘n aanhaling uit Ps 22:19.  Hy vertel ook van die vroue wat by die kruis was, waarvan die suster van Maria, Jesus se moeder, ‘n interessante toevoeging is, en gee ook ekstra inligting oor die ander Maria, dat sy die vrou van Klopas (vir ons onbekend) was.  Dit wil voorkom asof Johannes – die dissipel vir wie Hy baie lief was – die enigste dissipel was wat by die kruis was, wat ook daartoe lei dat Jesus sy ma aan hom toevertrou.  Hy plaas die kruisiging ook ‘n drie uur later (19:14) moontlik om Jesus se sterwe met die slag van die paaslam te laat saamval (Geulich).

Jesus sterwe:  Matteus verkort Markus se weergawe. Lukas het ‘n ekstra kruiswoord uit Ps 31:6: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” en het sy eie weergawe van wat die offisier gesê het: “Hierdie man wat werklik onskuldig” terwyl hy vir God prys.  Johannes het twee ekstra kruiswoorde: “Ek is dors” (Ps 69:22) en “Dit is volbring!”

Hier is die sewe kruiswoorde in hulle waarskynlike volgorde:

  • “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”: Lukas 23:34.
  • “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”: Lukas 23:43.
  • “Daar is u seun” … “Daar is jou moeder”: Johannes 19:25-27.
  • “`Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”: Matteus 27:46.
  • “Ek is dors”: Johannes 19:28.
  • “Dit is volbring!”: Johannes 19:30.
  • “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”: Lukas 23:46.

Jesus word begrawe: Matteus noem dat Josef ‘n ryk man was, benewens sy invloedrykheid op die Joodse Raad, en dat Jesus in sy eie nuwe graf begrawe is.  Die “ander Maria” was waarskynlik Maria, die moeder van Klein-Jakobus, en die vrou van Klopas.  Lukas voeg ook elemente van die voorbereidings by, reukolie en salf, en dat hulle almal op die sabbatdag gerus het.  Johannes het die ekstra detail dat Nikodemus ook betrokke geraak het en 50 liter mirre en aalwyn vir die salwing gebring het, en dat die graf in ‘n tuin was.

Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte

Written by Webmeester on March 8th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Jesus word gevange geneem: As die gebed van Jesus aan jou hart geruk het in die vorige perikoop, gaan die verdere verloop van die verhaal jou met afgryse vervul.  Wat in die duister beplan is, begin nou sy ware kleure wys.  Judas kom met ‘n klomp mense (soldate en tempelwagte – Johannes) met swaarde en stokke daar aan om Jesus gevange te neem.  Hy verraai Jesus met die voorafgespreekte teken, die kus van ‘n leerling vir sy leermeester.

Een van Jesus se dissipels (Petrus – volgens Johannes – moontlik omdat hy wou wys dat hy by Jesus sal staan, hoewel dié bravade nie lank hou nie) slaan met ‘n kort swaard na een van hulle, ‘n slaaf van die hoëpriester (Malgus – volgens Johannes), en kry dit reg om sy (regter)-oor af te kap.  Jesus keer die res van hulle om in ‘n geveg betrokke te raak.  Markus en Matteus vertel nie dat Jesus die oor weer genees het nie, wat Lukas en Johannes wel in hulle verhale insluit.

Jesus tree wel met die mense in gesprek deur die agterbaksheid van hulle handelinge uit te wys, maar interpreteer dit steeds as die vervulling van die Skrif.  Die dissipels laat Hom hierna egter liederlik in die steek.

Markus voeg aan die einde ‘n mededeling by, dat ‘n sekere jongman wel agter Jesus aan is, soos ons later ook sal agterkom Petrus ook gedoen het.  Volgens oorlewering is dit heel moontlik dat dié jongman Johannes Markus, die skrywer van hierdie Evangelie was. Nie een van die ander Evangelieskrywers noem egter hierdie insident nie. Moontlik het Markus net uit die bed opgestaan net met sy bokleed om, om saam met Jesus-hulle Getsemane toe te gaan en het daarom nie nog onderklere aangehad nie. Dié verloor hy in die proses en vlug kaal weg.  Later sou die dissipels soms in sy ma se huis bymekaar kom (Hand 12:12).  Dit kan ook wees dat dit in dié huis is waar die bovertrek was waar Jesus saam met sy dissipels bymekaar gekom het (Hand 1:13).

Jesus voor die Joodse Raad: Darem ironies dat die hemelse Hoëpriester, die Alfa en die Omega, na die aardse hoëpriester weggelei word.  Dat ‘n mens só die plot kan mis, jou met die tyd, die kairos kan misreken.  Die hoëpriester is Kajafas (Matteus).

Petrus volg op ‘n afstand tot in die binnehof van die hoëpriester se huis (Johannes vertel in sy evangelie dat dit hy is dit reggekry het om hom binne te laat, omdat die hoëpriester hom geken het).

Die Joodse Raad probeer met valse getuies ‘n aanklag teen Jesus formuleer, maar die getuienis stem nie ooreen nie.  Dan tree die hoëpriester tot die proses toe, maar Jesus weier om op die vals getuienis te reageer. Dit is eers as die hoëpriester vra of Hy die Christus, die Seun van God is, dat Jesus daaroor getuienis aflê: “Ek is” en daarop uitbrei met ‘n aanhaling uit Ps 110 en Dan 7.

Met teatrale vertoon skeur die hoëpriester sy klere oor die godslastering, ten spyte daarvan dat die wet dit verbied het (Lev 10:6), en na die Raad Hom veroordeel het, word Jesus verneder met spoeg, en vuisslanery, terwyl hulle met sy profetiese vermoë spot.

Petrus verloën Jesus: Petrus word hier drie keer gevra of Hy nie saam met Jesus van Nasaret was nie, twee keer deur een van die hoëpriester se diensmeisies, en een keer deur die ander wat by die vuur gestaan het.  Na die eerste ontkenning kraai ‘n haan, en weer na die derde ontkenning, nogal met ‘n gevloek en gesweer, val die woorde van Jesus Petrus by dat hy Hom sou verraai.  Dit laat Petrus in trane uitbars.

Jesus voor Pilatus: Die môre vroeg word Jesus na Pilatus gestuur, nadat die volle Joodse Raad Hom uitgelewer het.  Pilatus se vraag oor sy koningskap word positief deur Jesus beantwoord, maar die beskuldigings lok geen verweer by Jesus uit nie.  Dit het Pilatus verbaas.

Matteus, Lukas en Johannes

Jesus word gevange geneem: Matteus volg in breë trekke Markus se verhaal, maar voeg detail by, soos Judas wat vir Jesus: “Goeiemôre” sê (dit was nog voor hanekraai!).  Jesus noem ironies genoeg: “Vriend”.  Volgens Matteus het Jesus sy dissipels ook probeer leer dat dié wat die swaard gebruik deur die swaard sal omkom; daarom moet hulle nie daarmee probeer om goed reg te maak nie.  Jesus verwys ook na die meer as 12 legioene engele wat tot sy hulp sou kon kom.  Dit is tussen 48 000 en 72 000 engele, ‘n formidabele mag!  Matteus beklemtoon selfs meer as Markus dat dié proses nie gekeer mag word nie, want dít is hoe die Skrif daaroor skryf.

Lukas vertel die verhaal korter en voeg benewens die genesing van Malgus se oor die veelseggende frase by, dat dit nou “die tyd van die duistere magte” is – ‘n afgryslike gedagte.

Johannes het weer meer uitgebreide detail as Markus.  Die soldate kom bv. met lanterns en fakkels; hulle benoem Jesus na aanleiding van sy afkoms, van Nasaret; deins aanvanklik terug vir Jesus en val op die grond neer; en laat toe dat Jesus sy mense wegstuur, sodat die Skrif vervul sou word, dat Jesus niemand van dié wat God Hom gee, verlore laat gaan nie.

Jesus voor die Joodse Raad: Matteus vertel die verhaal in breë trekke net soos Markus met klein detail verskille.  Lukas verkort Markus se weergawe weereens, maar voeg ‘n interessante gesprek by waar Jesus op die vraag of Hy die Christus is, reageer deur hulle daarop te wys dat al antwoord Hy dit positief, sal hulle tog nie in Hom glo nie.  Soos reeds genoem, het Johannes die ekstra gegewens dat dit hy (die ander dissipel) was wat Petrus in die hoëpriester se woning ingekry het.  Hy vertel ook dat Annas betrokke was, die skoonpa van Kajafas, en die vorige hoëpriester.

Petrus verloën Jesus: Matteus se detail verskil effens van Markus s’n deurdat die tweede vraag aan Petrus in die mond van ‘n ander diensmeisie geplaas word.  Lukas sê ook dat die tweede vraag deur iemand anders gevra is en gee ‘n tydsaanduiding van die verloop van sake.  Hy skets ook die roerende prentjie van Jesus wat omdraai met die derde verloëning en Petrus aankyk.  Johannes plaas die derde vraag aan Petrus ironies genoeg in die mond van familie van Malgus, die een wie se oor hy so pas tevore afgekap het.

Jesus voor Pilatus: Matteus voeg net een detail by, dat Pilatus goewerneur was, terwyl Lukas uitbrei oor die aanklag van die Joodse Raad teen Jesus voor Pilatus: dat Hy die volk opgehits he tom nie belasting te betaal nie, en dat Hy voorgee dat Hy ‘n koning is.  Pilatus vind egter geen skuld in Hom nie.  Johannes beskryf die ironie van ‘n Joodse Raad wat nie die woning van Pilatus wil binnegaan nie, omdat dit hulle onrein sou maak om die paasmaaltyd te eet, terwyl die Paaslam binne die onrein woning van Pilatus is, waarmee Jesus eintlik die boodskap gee dat Hy daar is vir almal.  Hy brei uit oor die gesprek met Pilatus wat handel oor die koninkryk en die waarheid.

Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam

Written by Webmeester on March 5th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Dit tref my hoe anders hierdie Paasfees vir Jesus moes gewees het.  Jesus het saam met sy ouers elke jaar vir die Paasfees Jerusalem toe gekom (Luk  2:41).  Hierdie keer sou egter nou ‘n heel ander ervaring vir hom en vir hulle wees.  Waar hulle vroeër ‘n lam sou slag vir die paasmaaltyd, word Hy nou die Paaslam.  Maar let op hoe dit uiteindelik op sy eie terme is wat Hy die maaltyd hou en Homself beskikbaar stel om God se wil uit te voer.  Hy kan Homself uit die voete maak, of ‘n legioen van engele gebruik om Hom te beveilig, maar Hy kies om Hom aan die kwaad wat mense beplan, te onderwerp.

Die voorbereidings: Jesus stuur 2 van sy dissipels om die paasmaaltyd gereed te kry.  Die reëling is heel moontlik vooraf getref sodat Judas nie sou weet waar dit sou wees nie, en Jesus die paasmaaltyd onverhinderd kon vier – ‘n man sou hulle ontmoet, nogal met ‘n kruik water in die hand, wat normaalweg deur vrouens gedra is; hy sou hulle na die eienaar neem, waar die kamer reeds ingerig was.

Ek kan my regtig inleef in Jesus se ervaring wat waarskynlik saam met die dissipels na die tempel met die lam gaan, soos al die ander Jode, die lam se keel afsny op die voorgeskrewe manier waar die bloed gedreineer word in ‘n bak wat deur ‘n priester vasgehou word, en daarna by die voet van die altaar gesprinkel word.  Dit terwyl Hy die hele tyd weet dít is wat ook op soortgelyke wyse met Hom die volgende dag gaan gebeur.

Vir ‘n bietjie agtergrond oor die feeste: Vanaf die vroegste tyd is die Joodse jaar gekenmerk deur groot feeste. Sommige feeste is gereël om saam te val met die wisseling van die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle ‘n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon. Op ander feeste is die groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk, die geleenthede toe God op ‘n onmiskenbare wyse ingetree het om sy volk te verlos. Al die feeste was geleenthede van vreugde en die genieting van God se goeie gawes, en terselfdertyd plegtige byeenkomste om sy vergewing en reiniging te vra.

Die doel van die feeste was geestelik: ‘n groot en heerlike ontmoeting tussen God en sy volk, en die profete het hulle skerp uitgespreek teen diegene wat die feeste tot blote formaliteit en leë ritueel verlaag het.

Daar was waarskynlik baie plaaslike feeste (Rigters 21:21), maar al die mans moes die drie groot nasionale feesvierings bywoon:

  1. Paasfees en die fees van die ongesuurde brood (Eks 12:1-20; 23:15). Hierdie twee feeste is saam gevier om die uittog uit Egipte te herdenk (kyk Eks 11-12). Dit het op die 14de dag van die eerste maand begin en ‘n week geduur.
  2. Die fees van die weke (oesfees) (Num 28:26; Eks 23:16; Lev 23:15-21). Die fees – later’ bekend as pinkster – is 50 dae na die begin van die paasfees gevier. Dit was in wese ‘n landboufees waar die eerstelinge van die oes aan God gewy is.
  3. Die fees van die insameling (huttefees) (Eks 23:16; Lev 23:33-43). ‘n Herfsfees aan die einde van die insameling van die vrugteoes. Die volk het sewe dae lank in hutte wat van takke gemaak is, gewoon – uit dank vir die oes, maar ook as ‘n herinnering aan die dae toe hulle in die woestyn in tente gewoon het (Lev 23:43). Al hierdie feeste is beskou as “heilige” geleenthede waarop die gewone werk gestaak is. Daar was ook ander feesvierings. (Philip Budd – Handboek by die Bybel)

Die paasmaaltyd: Dit begin met Jesus se stelling dat een van julle Hom sal verraai.  Op hulle ontsteltenis oor wie dit kan wees, antwoord Jesus dat dit die een sal wees wat sy brood saam met Jesus in die skottel (óf die een met gedroogte vrugte: dadels, vye en rosyne in ‘n wyn-asyn sous óf die een met die bitter kruie) insteek, sonder om dit nader te verduidelik (Johannes identifiseer dit as Judas, en sê verder dat Jesus vir hom die stukkie brood gegee het, hoewel hy ook sê dat niemand geweet het wat Jesus bedoel nie).

Jesus se opmerking dat Sy dood wel ‘n vervulling van die Skrifte is, maar dat dit beter sou gewees het dat sy verraaier nooit gebore was nie, wys op die misterieuse manier waarop God se werk en dié van mense in tyd saamval.

Die instelling van die nagmaal: Die gedeelte is vir ons baie bekend.  Jesus neem die brood en die beker (die derde beker van vier wat deur die loop van die paasmaaltyd gebruik is) en verbind die betekenis daarvan aan sy liggaam en bloed wat die verbond beseël, wat vir baie mense bedoel is.  Daarby voeg Hy die voorneme om nie weer wyn te dring totdat Hy die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink nie.

Petrus se verloëning: Na die lofsang (deel van die pasgaritueel – heel moontlik Ps 116-118) is hulle uit na die Olyfberg, waar Jesus onder andere die profetiese rede gelewer het.  Jesus verklaar dat almal van Hom afvallig sal word met ‘n aanhaling uit Sagaria 13:7.  Hy sal hulle egter na sy opstanding in Galilea gaan ontmoet, dws weg van Jerusalem af.  Petrus se dapper verbintenis aan Jesus lok die bekende uitspraak van Jesus uit, dat Petrus Jesus voor die haan ‘n tweede keer gekraai het, dws voor die oggend aangebreek het, 3 keer sal verloën.  Let op dat die ander ook soos Petrus dieselfde verbintenis gemaak het.

Jesus in Getsemane (“oliepers”): Jesus gaan die moeilikste toets van sy lewe tegemoet met gebed.  Hy probeer dit doen saam met die drietal dissipels wat saam met Hom op die berg van verheerliking was, maar dié kan ironies genoeg om die dood toe nie wakker bly nie.  Jesus is ontsteld en beangs en doodsbenoud.  Hierdie angs is natuurlik nie net vir die dood self nie, maar ook vir die oordeel van God wat vir Hom wag.  Hy bid dat die lydensuur nie vir Hom aanbreek nie, en dat die lydensbeker van Hom af weggeneem word.  Hy  gee Hom egter ook oor aan sy Vader se besluit en wil.  Na die derde tyd van gebed was dit genoeg: “Die tyd het gekom.”  Jesus is gereed vir die pad wat Hy moet loop.

Matteus, Lukas en Johannes

Die voorbereidings: Let op hoe Matteus Jesus se boodskap aan die eienaar weergee as: “My tyd is naby,” wat verband hou met die woorde later in Getsemane: “Die uur het gekom.”  Lukas identifiseer die 2 dissipels as Petrus en Johannes, wat hierna baie keer só saam sou optree (Handelinge 3-4).  Johannes vertel nie iets hieroor nie.

Die paasmaaltyd: Matteus brei uit op Markus se weergawe en vertel spesifiek van ‘n gesprek tussen Jesus en Judas, waar Judas vra of hy miskien die verraaier is – en onthou, hy het al die verraad begin pleeg – waarop Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”  Lukas gee Markus se weergawe korter weer. Johannes plaas dié maaltyd en gesprek natuurlik as deel van die voetewas episode.  Hy maak baie van die voorkennis van Jesus, sowel as sy verbintenis aan die Skrifwoord, dié keer uit Psalm 41:10: “Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.”  Hy brei ook uit oor Jesus se ontsteltenis daaroor, en die “dissipel vir wie Jesus baie lief was” se vraag na wie dit kan wees.  Jesus antwoord Hom dat dit die een is vir wie Hy ‘n stukkie brood wat Hy in die sous gesteek het, sal gee, waarmee Hy eintlik die Psalmuitspraak dramatiseer.  Let op hoe dit ook die moment is waarop die Satan Judas invaar en Jesus hom die opdrag gee om sy werk af te handel.  Dit is egter net Jesus en Judas wat weet wat gebeur.  Die ander is salig onbewus van die drama wat onder hulle oë afspeel.  Hoe onheilspellend sluit dié perikoop nie af nie: “Dit was nag.”

Die instelling van die nagmaal: Matteus het net twee klein uitbreidings.  Hy meld dat die nagmaal “tot vergewing van sondes” lei en dat die koninkryk dié van sy Vader is.  Lukas gee weer van die menslike emosies weer: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.”  Hy sê ook dat Hy die paasmaaltyd nie weer sal geniet voordat dit in die koninkryk van God “sy volle betekenis” gekry het nie.  Die orde van die instelling van die nagmaal word ook in sy voller pasga konteks geplaas, met ‘n beker wyn voor die werklike instelling van die nagmaal, soos ons dit ken.  Jesus voeg ook die woorde by wat Paulus in 1 Korintiërs 11:23-25 later sou gebruik: “Gebruik dit tot my gedagtenis”.  Lukas praat ook van die “nuwe” verbond, heel moontlik aangehaal uit Jer 31:31.  Johannes het nie dié instellingswoorde nie.  In Paulus se skrywe aan die Korintiërs wil dit lyk asof hy dié nagmaalsritueel direk van die Here af ontvang het, maar dat dit interessant genoeg meer met Lukas se weergawe daarvan ooreenstem.  Hulle was nie verniet ‘n hele paar keer saam op reis nie …

Petrus se verloëning: Lukas volg Markus se weergawe, net met een detail verskil: Petrus sal Jesus verloën voor die haan kraai.  Lukas brei uit oor die gesprek met Petrus waarin Jesus uitbrei oor sy vooraf gebed vir Petrus dat die Satan hom nie van sy geloof sou ontroof nie.  En gee hom die hoopvolle opdrag dat as hy weer tot inkeer gekom het, hy die broers moet versterk.  Lukas sê ook dat die verloëning voor die hanekraai sal gebeur, en spel uit dat die verloëning sal insluit dat Petrus sal sê dat hy Jesus nie ken nie.  Johannes vertel die hele verhaal op sy eie manier.  Op Jesus se vertelling van sy verheerliking (dood) in die vorige perikoop, wonder Petrus wat dit alles beteken, waarna Jesus die nuus vir hom breek, dat hy Jesus sal verloën (ook voor die hanekraai).

Jesus in Getsemane: Matteus volg Markus se weergawe met ‘n paar detail wysigings: hy noem Jakobus en Johannes die twee seuns van Sebedeus, en vertel dat Jesus gekniel het met die gesig teen die grond.  Lukas vertel dit weer op sy eie manier, met ‘n engel wat aan Hom verskyn om Hom te versterk as Sy doodsangs sy sweet soos bloeddruppels laat word terwyl Hy nog ernstiger gebid het.  Die dissipels se moeite om wakker te bly word interessant genoeg ook eerder gewyt aan uitputting deur droefheid, as aan doodgewone moegheid.  Johannes gee ekstra detail, dat hulle deur die Kedronspruit by Getsemane uitgekom het, en noem spesifiek dat dit ‘n tuin was.