Nuts en Bolts en die kerk

Written by Webmeester on November 23rd, 2010. Posted in Gesprekke, God

As jy skuins kyk, is jy normaal. Nee ek wil nie die kerk herstel nie. Ek wil gewoon iets vir jou vertel wat op ‘n  blou Maandagoggend my pad in ‘n parkeerterein gekruis het.

Soos enige aardse bewandelaar van my jare word daar maar in paaiemente uit die bed gerol. As daar nog pyne is, dan lewe jy nog. Al die nodige word gedoen ten einde die buitewêreld in die gesig te kan kyk. Gespitpolish en gedres ry ek na die winkelsentrum en en trek niksvermoedend langs ‘n paneelwa in.

Met die oopmaak slag van die deur hoor ‘n man wat opgewek sing.  Nuskierig is my tweede naam en ek loer om die paneelwa se deure om my te vergewis van die vrolike gesingery. En wie sing so vrolik, vra ek versigtig. Dis ek, sir , en ‘n vriendelike, laggende ronde gesig kyk my reguit in die oë. ‘N Kort op die been stewig geboude bruinman staan voor my. Sy kop is blinkgeskeer en sy oë glinster.

As lewensblyheid verbeeld kon word, het dit voor my gestaan. Nou wat laat ‘n man op Maandag so vreugdevol die week tegemoet gaan, vra ek.

Sir, lat ek jou vertel. Gister was Sondag en ek het gaan worship by my kerk. Ek was lanklaas daar, maar gister het die preacher net met my gepraat. Hy raak ‘n oomblik stil. Hy bring sy regterhand so van sy maag af teen sy bors langs sy keel na sy mond toe op en laat sy vingerpunte oopmaak terwyl hy sê. Sir, ek kan nie vir jou vertel wat gister gebeur het nie, dis kompleet of die Lord my nuts en bolts weer opgelyn het. Die wat te vas was, het Hy losgemaak  en die wat te los was weer vasgemaak . Toe ek vamôre wakker word, sir, wou ek net rejoice en worship en nie een van my nuts of bolts het gerattle nie.

Ek was stom geslaan . Die vrede en die vreugde wat op die Maandag oor my gekom het, was wonderlik. Ek wat dit altyd vir ander sê, vrede en vreugde, kry dit toe ongevraagd en dit omdat ‘n totale vreemdeling my herinner het aan die belangrikheid van die samesyn van die gelowiges onder die geklank van God se Woord.

Vrede en vreugde.

Frik Buys

God se woord is sterker as mense se woorde

Written by Webmeester on May 20th, 2010. Posted in God

Ek het vanoggend ‘n lang tyd spandeer om na te dink oor die Bybelse siening van vloeke en seëninge.  Sommige gelowiges beskou dit as baie werklik, en ander as ‘n verouderde manier van dink.

Hier is ‘n paar van my gedagtes daaroor:

Psalm 109 handel oor die impak wat vloeke op die bidder het, maar bely die werklikheid dat God se seënende Woord kragtiger is as mense s’n.

God se woord is sterker as mense se woorde.

In ‘n wêreld waar geglo is woorde het ‘n werklike mag oor mense, beide woorde wat seën en woorde wat vervloek, het hierdie belydenis ‘n kragtige uitwerking gehad.  Dit was letterlik ‘n toevlug en verskansing teen die pyn wat woorde mense kan aandoen.

Maar ons moet versigtig wees om te dink dat die Bybelse skrywers en Bybelse gelowiges inderdaad almal só geglo het, dat woorde ‘n outomatiese magiese en bonatuurlike krag het.  Dit is immers een van die dinge wat die Bybelse geloof onderskei van die ander gelowe van daardie tyd, dat oor God gedink is as persoonlik en nie onpersoonlik nie.  Hy is ‘n God waartoe gebid word en met wie in gesprek getree word, nie een wat deur allerlei rites en rituele of woorde outomaties en onpersoonlik werk nie.

Vandag sal baie van ons dus nie só daaroor praat, asof daar ‘n stuk magiese krag in woorde sit wat outomaties kan werk nie, soos die antieke mense inderdaad geglo het. Ons leef immers nie meer in ‘n wêreld waar alles in terme van towerkragte verklaar word nie.

  1. Deur só ‘n beskouing gee ons aan die woorde van mense, om te vloek of te seën, ‘n groter krag as wat hulle in werklikheid het.
  2. Nog erger, ons gee daarmee aan mense ‘n idee dat woorde ‘n krag het wat onafhanklik van God se woorde van seën, veral in die lewe van ‘n gelowige, destruktief kan werk.  Dit skep onnodige vrees en onsekerheid. So laat ons mense goed glo wat onwaar, misleidend en destruktief is.
  3. Maar, nog belangriker, deur só ‘n wêreldbeskouing te omhels, word ons verstaan van God gedegradeer tot ‘n Godsbeeld wat op dieselfde vlak is as die gode van hierdie wêreld van kragte en magte, ‘n God wat onpersoonlik is eerder as persoonlik.  Dit is juis die wins van die Bybelse Godsbeeld, dat Hy ‘n persoon is, en nie maar net ‘n krag of mag nie.

Spreuke 26:2 sê immers alreeds:

“Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie, so gaan ’n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie.”

Daarom sal Jakob die seën wat hy oor sy kinders uitspreek in die vorm van ‘n gebed doen, omdat dit net sy krag kry in die antwoord en werk van die persoonlike God wat hy aanbid (Gen 49:25). Dit werk nie magies en outomaties nie.  God is in beheer van die vloek en die seën.

MAAR … dit is nie al nie:

Daar is op ‘n manier ook niks nuuts onder die son nie!

Die taalfilosowe praat vandag steeds van die wêreld wat woorde skep, die sogenaamde language-game (Thiselton).  En hoewel dit heel anders beredeneer word as in die magiese voorstelling van die antieke wêreld, tref dit my hoe eenders die uitwerking daarvan op mense is.  Hoekom?

Want, oral waar ‘n woord ter harte geneem word, word dit ‘n werklikheid vir mense, en skep dit letterlik ‘n wêreld waarin gewoon en geleef word.  Dit maak nie saak of dit empiries waar is of nie.  Dit maak saak wat jy daarvan glo of nie!

En dit tref my dat in só ‘n wêreld Psalm 109 steeds ongelooflike betekenis het, dat die verydelende vervloekende woorde wat mense teenoor jou uitspreek – woorde wat wil seermaak, verwond, wil doodmaak – deur God se woorde getroef word en uitgewis word, vir dié wat in Hom glo.

Ons hoef dus nie ‘n magiese interpretasie van die werklikheid te aanvaar om die betekenis van die Psalm vir onsself toe te eien nie.  Ons kan ‘n ander wêreldbeeld hê en steeds die Here loof vir sy woorde wat groter mag het as dié van die vervloekers, hoe ons die mag daarvan ook al definieer.  Ons kan dus leef in dié waarheid en werklikheid wat God se woorde aan ons skep en wat ander se woorde troef.

Hoe wonderlik dat ons kan glo dat ons vrygespreek is van die vloek van die wet (Gal 3:13) en die skuld en mag van die sonde (Rom 6:1-11; 2 Kor 5:21) en die effek van die bose in ons lewe, woorde en al!

En hoe nuut klink Jesus se raad vir ons nie:  In ‘n wêreld van verydeling en vervloeking word ons geroep om vervloeking met seën te ontmoet en te verander (Bergrede – Luk 6:27-28):

“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. “

So, of jy nou die language-game as werklikheidsbeskouing aanvaar, of ‘n antieke magiese beskouing, so lank as wat jy net by hierdie waarheid oor God uitkom, dat Hy persoonlik is, dat Sy woorde magtiger is as enige ander woorde wat oor jou uitgespreek is of word, en dat jy in die vryheid wat Hy gee, met jou woorde van hierdie wêreld ‘n beter plek kan maak.

The Dawkins Delusion? Atheist fundamentalism and the denial of the divine

Written by Webmeester on December 7th, 2009. Posted in God

Baie gelowiges het moontlik al kennis geneem van Richard Dawkins se ateïstiese agenda wat hy in verskeie boeke volg.  Hy spesialiseer daarin om geloof belaglik te maak en met evangeliese ywer ateïsme te bevorder.

The Dawkins Delusion? Atheist fundamentalism and the denial of the divine (2007) van Alister McGrath en Joanna Collicutt McGrath is geskryf om gelowiges te help om hierdie venyn te hanteer.  Dit ontbloot die ateïstiese fundamentalisme van Richard Dawkins se boek The God Delusion (2006) en wys onomwonde op die swak argumente wat Dawkins aanvoer.

Die doel met die boek is eenvoudig: “(to) assess the reliability of Dawkins’ critique of faith in God” (:xiii).

Die boek bevat die volgende vier hoofstukke:

1. Deluded about God?

In ‘n eerste hoofstuk antwoord die McGraths Dawkins se argumente dat geloof 1) infantile en 2) irrational is en gebaseer is op ‘n Godsbeeld wat 3) uiters onwaarskynlik is en eintlik net 4)  ‘n verklaring vir die gapings in ons kennis is (The God of the gaps).

Vele gevalle van mense wat later in hulle lewe eers begin glo het, sowel as die wêreldwye toename in geloof, maak argument 1 onwaar en onsinnig.  Dawkins se 2de argument, dat geloof onredelik is, word deur sy eie metodiek ondergrawe, deurdat hy óf Christen teoloë verkeerd aanhaal (Tertullianus) óf hulle argumente ongenuanseerd aanhaal (Luther).

Die argument oor God se onwaarskynlikheid berus op die idee dat alles wat iets anders verduidelik, ook self verduidelik moet word.  Dawkins dink dat God self ook verduidelik moet word, anders is dit onwaarskynlik dat Hy bestaan.  McGrath wys twee foute in hierdie redenasie uit.

  • Eerstens het Dawkins geen probleem met die wetenskaplike soeke na ‘n “grand unified theory” of “theory of everything”, maar wel as die Christelike godsdiens dit doen.  Dit wys onteenseglik daarop dat hy inkonsekwent in sy argumentasie is.
  • Tweedens is dit ook onwaarskynlik dat die mens bestaan, soos Dawkins self argumenteer in Climbing Mount Improbable, maar tog is ons hier.  Onwaarskynlikheid is dus nie ‘n argument vir nie-bestaan nie, en kan dus nie as argument aangevoer word vir God se nie-bestaan nie.

God as ‘n verklaring vir die gapings in ons kennis, is ‘n argument wat geen teoloog meer voer nie.  Dit beteken dat dié argument van Dawkins ook platval.  McGrath haal dan vir Richard Swinburne aan wat aanvoer dat die blote kapasiteit van die wetenskaplike soeke na verklarings self verduideliking nodig het en dat die mees ekonomiese en betroubare rede hiervoor in die idee van ‘n Skepper God lê.  Dit is dus nie die gapings in ons kennis wat na God wys nie, maar die feit dat ons die kapasiteit het om kennis te kan opdoen wat na God wys.

2. Has science disproved God?

Regdeur Dawkins se aanpak in The God Delusion is daar die fundamentele aanname dat die wetenskap God se nie-bestaan bewys het.  Die wat aangaan om in God te glo, is mislei.  Ateïsme is die enigste opsie vir die ernstige denkende persoon.  (Die ateïs Stephen Jay Gould is nader aan die waarheid, as hy die redelikheid van beide geloof en ongeloof aanvaar, soos hy dit onder sy wetenskaplike kollegas aantref.  Wetenskaplike uitnemendheid is nie gelyk te stel aan ateïsme.)

McGrath wys egter uitvoerig aan dat die wetenskappe nie “ultimate questions” of meaning kan beantwoord nie (Karl Popper).  Die groot vrae van die lewe kan nie deur die induktiewe afleidings van die wetenskappe bewys of afgewys word nie, dinge soos die betekenis van die lewe en die bestaan van God.  Die wetenskappe se beperking lê in die feit dat dit slegs die waarneembare fenomene van die werklikheid kan beskryf en nie dieper vrae oor bv. die doel daarvan nie.

3. What are the origins of religion?

In hierdie hoofstuk neem McGrath Dawkins se ontwikkeling van Ludwig Feuerbach se idees oor God as ‘n projeksie van menslike behoeftes onder die loep.  Dit is immers die kern argument van ateïsme.

Feuerbach se argument het min of meer as volg geloop:

Daar is nie ‘n God nie.

Baie mense glo in God.  Hoekom?

Want hulle soek vertroosting.

Daarom projekteer hulle hierdie behoefte en noem dit “God”.

McGrath wys egter hoe absurd dit is om uit ‘n behoefte af te lei dat iets nie bestaan nie.  Die feit dat ‘n mens dors is, beteken tog nie dat ‘n mens ‘n uitspraak kan maak oor die bestaan óf nie-bestaan van water nie.  ‘n Mens sou die argument ook as volg kon omkeer:

Daar is ‘n God.

Baie mense glo nie in God nie.  Hoekom?

Want hulle soek selfstandigheid en onafhanklikheid.

Daarom projekteer hulle hierdie behoefte en noem dit “God-bestaan-nie”.

Dawkins se kern-oortuiging van die bestaan van godsdiens is dat dit “accidental” is.  Interessant dat hy nie die logiese gevolgtrekking maak dat dit daarom deel van die evolusie proses ook van die mens is nie, want dit is immers ook die fundamentele aanname oor die evolusie proses, dat dit toevallig is.

Die belangrikste vraag wat McGrath egter aan Dawkins stel, is waar is die wetenskaplike ondersoek hiervan?  Een van die redes vir dié gebrek in Dawkins se aanpak, is dat hy nie probeer om ‘n definisie van godsdiens te gee nie, en hoogstens na die gevolgtrekkings van uitgediende navorsing uit die 19de eeu verwys (Sir James Frazer).  ‘n Nog dieper gebrek is dat Dawkins nie onderskei tussen godsdiens en die vraag na God en geloof in God nie.

Twee idees van Dawkins word vervolgens bespreek, 1) die idee van God as ‘n soort “virus of the mind” en 2) die idee van ‘n kulturele replikator (oordraer) wat hy op voetspoor van die gene-navorsing (’n geen is ‘n biologiese replikator) ‘n meem noem.  Die blote feit dat nie een van hierdie idees in die wetenskaplike wêreld enige groot aanhang gekry het nie, wys alreeds op die swak onderbou van Dawkins se argumente.  Daar is geen wetenskaplike getuienis vir enige van die twee idees nie.

4.  Is Religion evil?

Die Mc Graths stem saam met Dawkins dat godsdiens bose dinge kan te weeg bring,  Hulle wys egter uit dat dieselfde van ateïsme gesê kan word, waarvan die ateïstiese Soviet geweld ten godsdiens in die 20ste eeu ‘n prima voorbeeld is, iets wat Dawkins gerieflik verswyg.  Elke godsdiens moet ook aan sy beste eksponente en sy basis dokumente getoets word, nie net aan die bose uitwasse daarvan nie.

Slot

Samevattend: Dawkins se kritiek op geloof in God is onwetenskaplik.  Hy werk met uitgediende idees oor geloof en God wat eerder van randfigure af kom en nie gewig dra in die hoofstroom godsdienste nie.  Sy poging om biologiese verklarings van toepassing te maak op godsdienstige en kulturele idees slaag nie.  Dit is eerder ‘n verbete poging van ‘n oortuigde ateïs om geloof ten alle koste verdag te maak, maak nie saak hoe swak of hoe onoortuigend sy argumente is nie.

Die McGraths sluit af met die betekenisvolle vraag:

Might atheism be a delusion about God?”

Die idee van God in die Ou Testament het progressief ontwikkel binne die uitdagings van die volk se leefwêreld

Written by Webmeester on November 21st, 2009. Posted in Bybelskool, God, Samuel

Die Ou Testament het nie ‘n afgeronde sistematiese beskrywing van God nie.  Die Ou Testament is ‘n versameling tekste wat handel oor mense in hulle verhouding met God in hierdie wêreld, wat uitgedruk word in ‘n groot variëteit van verhale, tradisies, gedigte, profesieë, liedere en wyshede.  Hieruit kan ons alleen maar ‘n gedeeltelike prentjie van die idee van God vorm uit ons afleidings en interpretasies, wat nie net afhang van die tekste self nie en die wêreld daaragter nie, maar ook van ons eie leefwêreld en verstaansraamwerke.  Die tekste het dus nie net betekenisse wat afgelei kan word uit die taal, beelde en geskiedenis en die wêreld agter die tekste nie.  Ons skep ook nuwe betekenisse in ons lees van die Bybel uit die wêreld voor die teks.  Die teks is dus beide ‘n venster op die verlede en ‘n spieël vir die hede.

Daar is dus nie net een betekenis wat aan ‘n teks in die Ou Testament geheg kan word nie.  Daar is verskillende interpretasies moontlik, afhangende van ons kennis van die tekste, en van ons bewussyn van ons eie wêreld en sy invloed op die teks.

Wat ons egter kan doen om by ‘n genoegsame of adekwate interpretasie uit te kom, is om ernstig te probeer om aan die een kant getrou te bly aan die tekste self en die uitleg daarvan, en aan die ander kant ook ernstig te probeer sin maak van die betekenis vir vandag, gevorm deur ons eie begrip en interaksie met die tekste en uiteindelik die lewende God. Dit sluit in dat ons waarderend sal wees vir die uitnemende pogings in die verlede om hierdie verhouding met God te verwoord en krities sal wees vir die gebreke wat ook sigbaar is in dieselfde tekste.  Die Ou Testament is na alles God se Woord in mensetaal, wat beide ‘n goddelike dimensie as ‘n menslike een het, wat boonop nie maklik van mekaar geskei kan word nie.

Een aspek van die idee van God in die Ou Testament wat duidelik is, is dat dit deur verskillende stadiums ontwikkel het. ‘n Mens hoef net Eksodus se verhale van God te lees en dit te vergelyk met die verhale van God in Genesis om ‘n merkwaardige ontwikkeling in die idee van God raak te sien.  Eksodus skets ‘n persoonlike God, wat vir die eerste keer aan Moses Homself as Jahwe bekend stel.  Toegegee, elemente hiervan was al teenwoordig in die verhale van Abraham, Isak en Jakob, maar dit word beslissend uitgebrei in die wyse waarop God teenwoordig raak op die volk se reis deur die woestyn.  Hierin speel die ontwikkeling rondom die tien gebooie en die tabernakel ‘n baie belangrike rol.  Die Soewereine Skepper God wat die wel en wee van nasies en die aartsvaders bepaal, word die Persoonlike Verlosser God wat ‘n uitverkore volk begelei na die Beloofde Land.

‘n Ander aspek van God is dat die dominante beskrywings van Hom saamhang met die situasie waarbinne die volk of ‘n individu verkeer.  Die Eksodus verhaal in die Pentateug is ook tekenend daarvan deurdat ‘n onderdrukte slawevolk deur God bevry word en veral as Verlosser geteken word.  Die Godsbeeld pas by die situasie waarbinne die volk verkeer het.  Hierdie bevryding het met baie konflik met ander volke gepaardgegaan wat ‘n hoogtepunt bereik met die Intog in die Beloofde Land onder leiding van Josua.  Die prentjie van God wat in dié tyd die botoon voer is die een van ‘n Kryger God wat ‘n Heilige Oorlog voer namens en ter wille van sy uitverkore volk.

Hoewel ‘n mens krities kan wees oor hierdie beeld van God vanuit ‘n hedendaagse perspektief, en selfs uit die Nuwe Testament beeld van God – jy moet jou vyande liefhê – moet dit jou nie verlei om daarom dié beeld af te keur en te ignoreer nie.  Hierdie verhale is juis onverdund en sonder omhaal van woorde vertel, en so oor die eeue oorgelewer, om God as ‘n God van aksie te teken.  Dit sê, God is nie veraf en onbetrokke nie.  Hy is nie magteloos as sy volk só voel nie.  Hy kan optree en sy volk in gevaar beskerm en ‘n plek gee waar hulle kan leef en voorspoed kan beleef.  En daardie idee van God as Verlosser het vandag nog betekenis vir ons denke oor God.

‘n Mens kan dieselfde waarneem in die stryd in die oorgang van die rigter tyd na die monargie (God word geteken as die ware koning van Israel), die koningshuis van Saul en Dawid (God word geteken as die Verbondsgod wat aan die Dawidshuis verbind is) en die stryd tussen die Baäl- en Jahwe-aanbidding na die skeuring van die ryk (God word as die God van die profete geteken wat Sy woord laat geld).  Elke keer word ander kante van God na vore gebring, na gelang van die dominante verhaal wat in Israel afspeel.

Die idee van God in die Ou Testament word dus die hele tyd aangepas, duideliker verwoord, sodat die volle prentjie mettertyd in al sy fasette na vore tree.  En dan het ons nog nie eers gepraat oor die prentjie uit die wysheidsliteratuur en die Psalms nie!

Die waardigheid van mense

Written by Webmeester on October 8th, 2009. Posted in God

John Webster skryf in ‘n feesgeskrif The God of Love and Human Dignity (2007) ‘n artikel The Dignity of Creatures die volgende:

“Human dignity has its basis in the loving act of God the creator who summons creatures into being and bestows life on them, ordering their nature and determining their destiny by calling them to enact their being in fellowship with himself.

God the reconciler defeats creatures’ trespass upon their own dignity, restoring them to fellowship with himself and re-establishing their dignity.

God the perfecter completes the dignity of creatures, gathering them into the fellowship of the saints and empowering them actively to testify to God’s perfection of human dignity.”

‘n Mens kan eintlik net op dié trinitariese inkleding van menswaardigheid AMEN sê!

What would Jesus do?

Written by Webmeester on October 8th, 2009. Posted in God

Gelowiges vra dikwels: WWJD – What would Jesus do?

Sommige dra die WWJD bandjies om hulle arms om hulle te herinner daaraan dat enige situasie eintlik met dié vraag na Jesus hanteer kan word.

Noordmans sê hieroor dat dit egter soms nodig is om ook te vra:

  • wat sou dit beteken om die Vader te volg in ‘n situasie, of
  • wat sou die Heilige Gees doen in hierdie situasie?

Daarmee help hy ons verstaan, dat dit eintlik eers is as ons dié drie vrae tegelykertyd vra, dat ons na ‘n meer verantwoorde reaksie gelei word.

Soos God die Vader in die Ou Testament op baie verskillende maniere met sy volk gepraat het, kom Hy in die Evangelies in die gestalte van Sy Seun na ons toe en maak Homself op ‘n ongelooflike praktiese wyse bekend aan ons.  En in Handelinge en die briewe van die Nuwe Testament troos Hy ons deur Sy Gees en begelei ons in ‘n intieme geloofsverhouding met Hom.

Hy is immers vir ons as Vader, met ons as Seun, en in ons as Gees.

Op hierdie verskeidenheid van maniere verryk Hy ons lewens, nooi Hy ons uit om met Hom in verhouding te tree en om uit sy onuitputlike kreatiewe voorsiening en troos te leef.

As God ver is

Written by Rethie on September 11th, 2009. Posted in God

Lees die artikel “Luther and the Hidden God” hier.

‘n Kwaadwillige God?

Written by Rethie on August 14th, 2009. Posted in God

Die Dag toe God vir Moses wou doodmaak (Eks 4:24-26)

In Eksodus 4 lees ‘n mens hoe, net na Moses die belangrike opdrag van God ontvang het om die Israeliete van slawerny uit Egipte te bevry (Eksodus 3-4), God skielik teen Moses draai en probeer om Moses en sy gesin dood te maak. Net die vorige vers nog, in v 23, gee God vir Moses, op pad na Egipte, spesiale opdragte met betrekking tot sy bevrydingstaak. En dan skielik, in v 24, in die middel van die nag verskyn ’n kwaadwillige God op die toneel.

Geen rede word vir God se onvoorspelbare woedeuitbarsting gegee nie. Ons lees wel in vv 25-26 dat Moses se vrou Sippora Moses red deur haar seun te besny, en die bloederige voorhuid op sy voete gooi met die woorde: “jy is vir my ’n bloedbruidegom.” Haar dapper optrede weer God se woede af en ons lees in v 26 dat God vir Moses met rus gelaat het.

Nou wat maak ’n mens met hierdie vreemde, en meer nog, ontstellende uitbeelding van ’n kwaadwillige God wat een oomblik nog vir jou uitkies om ’n spesiale opdrag uit te voer en die volgende oomblik jou wil doodmaak? In sy boek, What Rough Beast? Images of God in the Hebrew Bible, bied David Penchansky ‘n indringende ondersoek van hierdie ontstellende beeld wat hy as ‘n “Malevolent God” beskryf (Westminster, John Knox, 1999), 67-79.

Hy wys ondermeer hoe onverstaanbaar hierdie storie is – byvoorbeeld hoe dit glad nie duidelik is wat die term “bloedbruidegom” beteken nie.  Of dat ’n mens glad nie seker is wie aangeval is, wie besny is, en op wie se voete die voorhuid gegooi is nie? (Let op dat die NAV se vertaling een moontlike interpretasie kies, maar dat die Hebreeus baie onduidelik is in hierdie verband).

Deur die eeue heen het mense probeer sin maak van hierdie vreemde storie, byvoorbeeld hoekom God dan nou vir Moses sy geliefde dienaar sou wou doodmaak. V 26b bied vir ons die vroegste interpretasie wanneer die “bloedbruidegom” verklaar word in terme van die besnydenis wat ook dan ’n rede impliseer waarom God vir Moses wou doodmaak: Hy het nie sy seun besny nie wat ’n sentrale teken van die verbond tussen God en Abraham was (Genesis 17). So ’n verklaring “regverdig” dus God se daad. Of doen dit?

’n Ander verklaring meen dat Sippora se opmerking dat Moses haar bloedbruidegom is verband hou met die gebeure in Eksodus 2 wanneer Moses in woede ’n Egiptiese man doodmaak omdat dié ’n Israeliet mishandel het. Volgens hierdie verklaring wil God vir Moses doodmaak omdat daar bloed aan sy hande is presies op die punt wat hy uit die asielstad in Midean sou getrek het. Sippora se daad om haar seun se bloederige voorhuid vir God aan te bied is dan ’n daad van versoening vir haar man se misstap. Weereens “regverdig” hierdie verklaring God se daad. Of doen dit?

Die rede vir my vrae is die groter vraag of hierdie kwaadwillige uitbeelding van God in Eksodus 4:24-26 dan nou die God is wat ons aanbid? ’n God wat enige oomblik kan uitbars en jou tot die dood toe kan straf vir oortredinge klein en groot. Indien wel, sou hierdie verstaan van God ons as gelowiges elke oomblik in vrees laat lewe vir die spreekwoordelike bliksemstraal om ons te tref. En wat meer is, wanneer tragedie wel toeslaan, sien ’n mens dan die hand van ’n kwaadwillige God daarin?

Soos in my boek, ’n Groter God (Lux Verbi, 2009), is ek nie tevrede met hierdie antwoord nie. Ek meen dat, soos in die voorbeeld van God as ’n bloeddorstige kryger of God as ’n vroueslaner, is dit belangrik vir ons om met hierdie beelde te worstel. So moet ons probeer verstaan hoekom hierdie beeld in die Bybel is. Is dit nie dalk soos in die geval van my hoofstuk, “Stuur God Tsunamies?” dat die bybelskrywers probeer sin maak het van ’n skielike tragedie nie? Miskien (en hierdie is ’n wilde raaiskoot (-: ) het Moses op pad na Egipte ’n hartaanval gehad? Is dit nie dalk wat die storie probeer verklaar nie? Wie weet. Die eintlike punt van hierdie storie is dat dit onverklaarbaar is en soos Penchansky dit stel, die plek word waar ons ons eie narratief sou kom skep (soos byvoorbeeld my hartaanval voorstel).

Wat wel ongelooflik is om raak te sien in hierdie storie is die optrede van Sippora. ’n Mens hoor selde van haar, maar in die konteks van Eksodus 1-3, waar vroue keer op keer na vore tree as die bevryders, staan sy op teen ’n kwaadwillige God in al sy mag en dink vinnig wat sy kan doen om haar man en haar gesin te beskerm (lees meer oor haar storie in Jacqueline E. Lapsley, Whispering the Word: Hearing Women’s Stories in the Old Testament. Louisville: Westminster John Knox, 2005, 69-88). En die werklik ongelooflike van hierdie verhaal is dat God Sippora se pogings respekteer. God sien af van sy plan om vir Moses dood te maak, en in v 27 gaan die storie aan asof niks gebeur het nie wanneer God vir Aaron stuur om vir Moses te kom help.

Die vreemde, ontstellende, onverklaarbare verhaal in Eksodus 4 daag ons uit om te bly groei in ons Bybelleesvaardighede. ’n Volwasse geloof vra dat ons bly vrae vra, bly leer, bly worstel met die Bybel se betekenis vir ons vandag.

Dr. L. Juliana M. Claassens
Besoekende Professor van Ou Testament
Wesley Theological Seminary, Washington DC/
Buitegewone Besoekende Mede Professor, Dept Ou en Nuwe Testament, Universiteit van Stellenbosch
jclaassens@wesleyseminary.edu

Dr. Claassens het hierdie artikel spesiaal vir ons gemeente se blog geskryf.  Haar boek, ‘n Groter God (waarop hierdie kwartaal se reeks gebasseer is) kan hier bestel word, of by die Sinodale Kantoor (041 365 5319 – vra vir Chantal).

‘n Groter God

Written by Rethie on August 12th, 2009. Posted in God

9780796308023Die inspirasie vir hierdie kwartaal se reeks In verwondering oor God kom uit die boek ‘n Groter God deur Julie Claassens. Jy kan dit hier bestel.

Gaan luister na die interessante gesprek oor Die vele gesigte van God met Julie Claassens, Anton van Niekerk en Koos Fouché.

Ons Godsbeeld in Jesus

Written by Rethie on July 30th, 2009. Posted in God

Om N.T. Wright se artikel The Cross and The Caricatures te lees, klik hier.