Die weduwee se leë kruike
Die gedagte dat gebed eintlik maar net is om met jouself te gesels, terwyl God daarna luister, is nie nuut nie. Immanuel Kant het reeds so gedink en geleer dat in jou gebed jy eintlik met jou eie morele vorming besig is. Dit maak van jou ’n beter mens. Dit is ’n vorm van self-terapie (Miles).
Vincent Brümmer (What are we doing when we pray?) sê dat ‘n mens ‘n sekere waardering vir sulke terapeutiese gebed kan hê, omdat dit inderdaad is wat baie keer in gebed gebeur, dat gebed ons help om reg te lewe (Augustinus en Calvyn het dit ook gesê). Maar die probleem is, as dit al is wat gebed vir jou is, dan is jy eintlik net intellektueel besig en nie eksistensieel nie. So ’n gebed kan jy bid sonder om te glo. God is eintlik glad nie nodig vir só ’n gebed nie. Jy is eintlik maar net met jouself en wat jy kan doen, besig.
Daarom dat gebed ook smeking is, vra vir, worstel met … want die ervaring van gelowiges – ten spyte van negatiewe ervarings en gebede wat in hulle oë nie beantwoord is nie – is dat God tog uitkomste gee, dat dit inderdaad in sy plan vir ons is, om goeie goed vir ons te gee.
Gebed is daarom vir my soos die leë kruike van die weduwee in Elisa se tyd (2 Konings 4) wat gereed staan, voorbereid is, om te ontvang wat God ook al wil gee.
Leef Waarderend
Al 4 die evangelies vertel die verhaal van ‘n vrou wat Jesus gesalf het: Markus 14:3-9; Matt 26:6-13; Lukas 7:36-50; Joh 12:1-8. Die Evangelie-skrywers het soms van dieselfde mondelinge en geskrewe bronne gebruik gemaak, ander kere weer nie. Hulle het ook elkeen verskillende teikengehore en doelwitte in gedagte gehad. Daarom verskil die besonderhede van die vier weergawes so dat sommige wonder of hulle na dieselfde insident verwys! In 2 gevalle word Jesus se kop gesalf (Mark & Matt) en in die ander twee sy voete (Luk & Joh). By Markus en Matteus speel die toneel af “in Betanië in die huis van Simon die melaatse.” By Lukas gebeur dit aan huis van Simon, “een van die Fariseërs”. Johannes sê net dat dit in Betanië was en dat Marta, Maria en Lasarus teenwoordig was. Almal behalwe Johannes beskryf die vrou wat Jesus gesalf het, bloot as “’n vrou” (sonder ‘n naam.) Net Lukas beskryf haar as ‘n vrou “wat ‘n sondige lewe gelei het”. (Dalk is dit hier waar die skinderstories wat sommige mense vandag oor Maria glo, vandaan kom?) Johannes is die enigste wat sê dit was Maria. In drie gevalle (behalwe Lukas) word daar met verontwaardiging op die vrou se optrede gereageer – deur onderskeidelik die dissipels, omstanders en Judas.
(Verwys “Moed om Mens te Wees” – Elna Mouton e.a.)
Leef luisterend
Jesus is vasbeslote op reis na Jerusalem. Hy weet dat sy lyding die kruis sal insluit. Hy het dus ‘n behoefte aan gasvryheid. Op sy reis deur ‘n dorp van die Samaritane weier hulle egter om Hom te ontvang en Hom verblyf te gee (Luk 9:51-56). “Die Seun van die mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie,” sê Jesus (9:58).
Hy stuur 72 van sy dissipels na ander dorpe om die evangelie te verkondig. Hy spel spesifiek uit dat hulle hul op die gasvryheid van die mense moet verlaat (10:1-15). In die mense se gasvryheid en luister, al dan nie, word hulle gehoorsaamheid aan God sigbaar: “Wie na julle luister, luister na My; Wie julle verwerp, verwerp My” (10:16).
Op ‘n vraag van ‘n wetsgeleerde: “wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” antwoord Jesus met ‘n samevatting van die wet, dat jy God en jou naaste moet liefhê (10:25-28). En vertel dan die verhaal van die Gasvrye Samaritaan, om die wetsgeleerde te leer dat gasvryheid vir die vreemdeling naasteliefde is. Hy betoon immers gasvryheid aan die man wat onder rowers deurgeloop het deur hom in die herberg te laat versorg, in sy barmhartigheid (10:29-37).
Dit laat ‘n mens die verhaal van Marta en Maria met ‘n gans ander bril lees.
- Marta ontvang Jesus as gas. Sy doen dus dít wat die Samaritane nie vir Hom wou gee nie. Sy is die Gasvrye en Barmhartige Samaritaan! Sy maak alles klaar om Hom te bedien. En daarin is sy reg. Dit is gasvry.
- Maar dan wil Marta hê dat Maria ook soos sy moet optree. Dit laat haar ongasvry optree deur Jesus te berispe asook haar suster. Jesus wys haar tereg daaroor tereg!
- Maria ontvang Jesus op ‘n ander manier as gas. Sy doen wat Jesus verwag het die ander dorpe moet doen, om te luister na die dissipels. Hier luister sy egter net na Homself. Sy ontvang só die koninkryksboodskap, en in die proses God self!
Daarom dat Jesus vir Maria prys, want sy het die beste deel gekies, iets wat nie van haar weggeneem kan word nie – die koninkryk van God.
Ons leer hier dat gasvryheid nie net is om vreemdelinge te ontvang en te dien of te “help” nie. Ons kan ook iets by hulle leer. Ons móét trouens ook by hulle leer, want dit is baie keer die manier hoe God self onder ons teenwoordig is, soos ons ook by die Emmausgangers leer!
Leef inklusief
Saggeus
In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf. Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.
Tollenaars het nie net hulleself verryk met belastings nie, hulle was ook die loan sharks van die tyd. Deur die toedoen van Saggeus het mense verarm, en het hy waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.
Wat doen God met Saggeus? Jesus sien vir Saggeus raak in die boom en begin ’n gesprek, en dring daarop aan dat Hy by hom wil gaan eet. God reik dus uit en dring Saggeus se ruimte in om die gemeenskap tussen hulle te herstel.
Hoekom? Want God is ’n inklusiewe God. En uiteraard vra Hy van ons om op dieselfde manier te leef.
Spiritualiteit
Ons dink baie keer oor ons geestelike volwassenheid uit die hoek van ons stiltetyd en ons kerkbywoning en hoe ons met die Bybel en God omgaan. Ons beskryf dit baie keer as ons spiritualiteit – en in die lig van Galindo se onderskeiding, as ons gedeelde taal.
Maar gasvryheid, soos ons nou al vele kere gehoor het in dié reeks die kwartaal, is net so ’n belangrike eienskap van geestelike volwassenheid, van ons spiritualiteit. Soos Jimmy Dorrell (Pass the Potatoes, Please) skryf:
“Who sits at our dinner tables is an important indicator of our spiritual condition”
Die Bybel is vol daarvan dat ons geloof gemeet kan word aan doodgewone goed soos om die hongeriges kos te gee, die siekes en die gevangenes te besoek, en vreemdelinge gasvry te ontvang (Dink maar net aan die skeiding tussen die skape en die bokke aan die einde van die tyd, wat op grond van sulke goed gedoen word – Matt 25:34-36).
Ons naaste is nie die een wat langs ons bly nie. Ons IS ’n naaste as ons stilstaan by die mens in nood en iets aan sy lot doen. Dit is die gemengde ras Samaritaanse man wat vir ons ’n model word van hoe in die koninkryk van God opgetree word. Ons ken hom as die Barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37) wat vir ons wys hoe ’n naaste is, en wat ’n naaste doen, en hoe gasvryheid werk.
Jesus leef inklusief
Jesus is hier vir ons die model wat ons moet navolg, want HY leef inklusief. En let op dat dit op ’n ongeskeduleerde spontane manier gebeur – Jesus was immers op pad deur die stad (19:1) na Jerusalem toe (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31; 19:28). Dit gaan dus nie net oor die voorbereide etes met uitgesoekte gaste nie, ook die spontane ontmoetings van elke dag waar uitgereik word, ingesluit word, bederf word.
En dit sal altyd ’n grens van een of ander aard oorsteek sosiaal, ekonomies, selfs moreel, as ons Jesus en die Samaritaanse vrou (Joh 4) en die vrou wat in owerspel gevang is (Joh
in gedagte hou.
En, laat ons eerlik wees, dit is ’n risiko, dit kan jou kos – soos ek ’n tyd terug gepreek het.
Maar, en dit is ’n belangrike maar, dit is ook die begin van ’n geestelike avontuur, van ’n ervaring van die Heilige Gees se werking, wat verlore mense deur ons aksies van gasvryheid weer insluit in die kring, die gemeenskap van gelowiges.
Elke ontmoeting van elke dag raak ’n potensiële punt waar God se werk sigbaar word.
Geestelike gewoonte – Leef inklusief
Dit is nie nodig om te begin met groot treë nie. Nooi ’n nuwe intrekker na jou sel of Bybelstudiegroep. Besoek ons bosslapers se sopkombuis op Woensdae. Gaan Barcelona toe en kyk wat daar gebeur. Neem jou kinders saam na MTR Smit toe en begin uitreik na kinders wat nie dieselfde gemeenskapsvoorregte as jy en joune het nie. Kies een persoon uit die talle wat voor jou deur verbykom en maak ’n verskil aan sy of haar lewe – deur nie net kos te gee nie, maar uit te vra na ware behoeftes en betrokke te raak.
Natuurlik is dit ’n risiko, natuurlik gaan jy soms jou vingers verbrand, gaan jy soms mislei word. In die proses is jy egter besig om die Here se werk te begin raaksien, en bring dit ’n energie in jou geestelike lewe wat kosbaar en kragtig is.
Leef inklusief … soos God inklusief leef.
Soos Jimmy Dorrell, Pass the Potatoes, Please, sê:
In the mystery of God’s upside-down ways, God uses common acts of hospitality to strangers to overcome cultural barriers with others and bring us closer to Him.
Leef Gasvry
In die verhaal van die Emmaus-gangers word die verhaal van die sondeval (Genesis 3) omgekeer. ‘n Egpaar, Kleopas en Maria (Joh. 19:25), se oë word oopgemaak. Eerder as hul sonde, herken hulle vir Jesus. (Die Grieks in Luk 24:31 is baie na aan die Griekse Ou Testament – Septuagint – se vertaling van Gen. 3:7.)
Christelike gasvryheid behels méér as die gesellige saamkuier waarin vriende en familie hulle harte en huise vir mekaar oopstel. Dit is ook, en veral, gasvryheid aan vreemdelinge en vervreemdes. Die Griekse woord wat die Nuwe Testament vir gasvryheid gebruik, is philoxenia. Dit dui op “liefde vir die vreemdeling”. Dit staan direk teenoor xenophobia. Christelike gasvryheid gaan dus nie net oor die verwelkoming van hulle wat “soos ons” is nie, maar oor die openheid vir hulle wat “anders as ons” is. In die proses betree jy ‘n ander wêreld en só verbreed jy jou eie kyk op die lewe. Gasvryheid vra ten diepste dat ons ons identiteit sal oopstel vir die ander en hulle andersheid; dat ons sal raaksien dat die openheid vir die ander nie beteken dat ons ons eie identiteit prysgee nie, maar dit juis verruim. (Robert Volsoo – Engele as Gaste)
In die Emmaus-verhaal word die gas die Gasheer. En dié wat gysvryheid bewys, word die ontvangers. Ware gasvryheid is om midde-in ons weerloosheid en afhanklikheid ook gas te wees, om te leer om te ontvang. (Robert Vosloo – Engele as Gaste)
In ‘n artikel genaamd “Untamed Hospitality” skryf Elizabeth Newman:
Many in our culture equate hospitality with a generic friendliness. The picture of God that sustains such hospitality, if there is one, is that God is a kind of therapeutic nice guy who asks only that we be nice too.
Sy bespreek dan verwronge beelde van gasvryheid en sê dat Christelike gasvryheid nié ‘n privaat praktyk is nie. Dit is eerder ‘n openbare manier van saamwees wat alle lewensfere raak. Sy herinner ons ook daaraan dat aanbidding ‘n vorm van gasvryheid is:
…worship itself is hospitality. We do not gather ourselves; God gathers us; God invites us in. More fully, we are brought by the power of the Holy Spirit into a worship already taking place in the life of God. … Worship is the primary place where we learn to be guests and hosts in God’s Kingdom.
Sy bespreek ook gasvryheid as ekonomies en polities. Gaan lees die volledige artikel hier.
Om om te gee in ‘n wêreld waar daar baie onderdrukking is
1 Konings 12
Through worship, prophetic word, and protest, we are called to expose oppressive social realities and insist: It could be otherwise. – Walter Brueggemann
Die sentrale verhaal van die Bybel, is die Eksodus-narratief: God verlos uit slawerny. Dis nie iets wat maklik gebeur nie, maar gaan gepaard met pyn en opoffering. Tog bly dit ‘n deurlopende tema: God gee om vir onderdruktes. Daarom is Jesus se volgelinge mense wat omgee. Ons sien onderdrukking raak. Ons het empatie. Ons weet dat liefde altyd hande en voete het.
In ‘n artikel genaamd “Entitled neighbors” skryf Brueggemann:
We mock the poor when we imagine that they are not present to us and we make them invisible. We mock the poor when we imagine they are not entitled (simply because they are among us). We mock the poor if we blame them for their status which is created by hidden power arrangements and unacknowledged social advantage. We mock the poor when we resist viable ways through which to share the well-being of society. We mock the poor, and they are helpless to retaliate (except, of course, in random acts of violence). We mock the poor … and God is unsettled … and the stakes are upped severely.
The counter to mocking the poor is to take the poor with economic seriousness as entitled neighbors, as legitimate members of the community who are not going to go away. It is God’s practice to notice the poor. It is God’s delight when God’s powerful and blessed also notice … and act accordingly.
Lees die res van die artikel hier.
Die Pottebakker en jy
God is die Pottebakker en ons die klei. So leer ons uit Genesis 2:7, Jeremia 18, Jesaja 45 en nog baie ander Skrifgedeeltes.
Ons het vanoggend oor die betekenis hiervan nagedink in die gesinsdiens. Elkeen het ‘n stukkie klei gehad, en kon daarmee iets maak. En ek het die gemeente begelei om dieper daaroor na te dink.
‘n Mens moet natuurlik versigtig wees om alles hiervan op God en ons van toepassing te maak. Maar, van my gedagtes was die volgende:
- God is net so intiem by jou lewe betrokke as wat jy nou met die klei gespeel en daarvan iets gemaak het. Hy werk nie van ‘n afstand af met jou nie. Hy hou sy hand op jou. Hy is bewus van elke gedagte, van elke beweging, van elke besluit wat jy maak. Soos die Psamdigter sê, Hy omvou my van agter en van voor. En Hy gee om oor wat met jou gebeur. Niks wat met jou gebeur, is toevallig nie, en niks is onbelangrik vir God nie.
- Daar is ‘n spontane interaksie tussen jou en God, tussen jou gawes en vermoëns en wat God daarvan kan maak. Dit is iets wat my van verlede week se teksgedeelte die meeste getref het. Die eerlike interaksie tussen Moses en God in die woestyn (Numeri 11). Jy kan maar praat met God, jy kan selfs verskil van wat God doen, en dit eerlik vir Hom sê. En Hy sal daarna luister, en daarop reageer. Uiteraard is dit Hy wat jou vorm, so sy wil sal altyd die deurslag gee. Maar reg deur die Bybel is daar gedeeltes wat ons oortuig, God verander dinge in reaksie op jou, en jou gebede, en jou wense en behoeftes. Jy kan Hom daarvoor vertrou.
- Soms is daar ‘n groot stuk breiwerk nodig in jou lewe. Om jou voor te berei vir dié voorwerp wat God van jou wil maak. Niemand van ons hou van die druk van moeilike besluite of moeilike omstandighede nie. Dit sou masochisties wees! Maar, dit is nou eenmaal so, as die druk nie daar is nie, bereik ons minder. Van die groot leiers in die wêreld is dit waar, so sê navorsing by Harvard, dat hulle een of ander tyd in hulle lewe deur ‘n tyd van stres en disoriëntasie gegaan het, waarna hulle gewoonlik meer kon bereik.
- Daarom is dit so belangrik dat ek plooibaar in die hand van God se werk bly. Op die wiel, in sy hande, in gesprek met Hom, maar sonder om teë te stribbel, sonder om self te besluit wat ek wil word, maar in die interaksie met God te groei en te floreer. Dit is eintlik die heel belangrikste perspektief van alles. Sonder hierdie onmiddellike reaksie op God, kan ‘n mens nie ontplooi in die instrument wat God van jou wil maak nie.
Hoe ervaar jy God in jou lewe? Watter betekenis het dit vir jou?
Gesels met ons hier dat ons kan leer uit mekaar se stories.
Die Vanilla Faktor
Die Bybel is die “Vanilla Faktor” vir ons geestelike groei.
“Om die dieptes van die Bybel te probeer peil is soos om die bodem van die see met ‘n spons te probeer opdroog” -Onbekend-
“Die Bybel is ‘n lewende boek, ‘n boek wat die hele tyd groter en groter word.” -James McClure-
Ons is Koringkorrels wat Koringplante moet word!
In my oordenking van Johannes 12:22-26 het dit vir my ‘n deurslaggewende perspektief gegee op wat Handelinge 2:42 bedoel met: “hulle het hulle heelhartig toegelê” In my verwoording van Jesus se voorbeeld van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterwe, anders dra dit nie vrug nie, sê ek dit so:
Ons is Koringkorrels wat Koringplante moet word!‘n Koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om vir jare sy kragte te spaar en in te span vir homself. En dit kan hy suksesvol doen deur in die skuur te bly en te sorg dat die boer hom nie in die hande kry nie! Of ‘n koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om die Here Jesus te volg … deur sy lewe vir ander te gee, in die grond geplant te word en te verander in ‘n koringplant wat are het en koringkorrels lewer, wat op hulle beurt geplant kan word om die lewe aan ander te gee sodat ander kan lewe en die lewe wat in hulle opgesluit is, te kan vermenigvuldig.
In my preek het ek die volgende gesê:
“Een van die beste maniere om Jesus te volg, as die Here vandag hierdie begeerte om Jesus te volg in jou hart weer aangeblaas het, is om die dissipline van stiltetyd te laat herleef, en meer spesifiek ‘n joernaal te hou sodat die pad wat jy met Hom stap met tyd vir jou meer sin kan begin maak.
“Wat doen ‘n mens met ‘n joernaal (scrapbook)?
Adele Calhoun sê: dis om jou in te stel: “to be alert to my life through writing and reflecting on God’s presence and activity in, around and through me”. ‘n Joernaal help jou om jouself in te stel om raak te sien wanneer God opdaag in jou lewe. Hy is natuurlik altyd daar, maar omdat ons nie onsself instel om Hom raak te sien nie, sien ons Hom nie raak nie! In ‘n sekere sin help ‘n joernaal ons natuurlik eintlik om die waarheid oor onsself raak te sien … dat ons in God se hande is, dat Hy met ons ‘n pad stap … en dit gebeur wanneer ons ruimte maak in ons lewe om te kan agterkom wat aangaan. En onthou: daar is eintlik niks waardeur God nie met ons praat nie! Jy kan skryf oor dinge buite jou en dinge binne in jou. Jy kan jou gebede neerskryf. En soos wat ons herhalende temas, sondes, gevoelens, behoeftes, beperkings, bekommernisse, verwagtinge begin raak sien, kom ons in aanraking met die genesende teenwoordigheid van God. En ons joernaal word ‘n reis van ons siel na God toe. Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier vir ‘n joernaal nie. Daarom het ek die voorbeeld van ‘n scrapbook gekies om met die kinders te behandel. Jy kan teken, skryf of plak. Jy kan sleutel woorde onderstreep om agter te kom watter dinge by herhaling vir jou betekenis het. En baie gou sal jy agterkom dat jy met jou joernaal in ‘n gesprek met God betrokke raak waar jou joernaal nie net jou kreatiwiteit ten toon sal stel nie, maar ‘n getuienis van God se teenwoordigheid in jou lewe sal wees. Jy moet jou eie ritme vind, daagliks, weekliks, maar verseker gereeld. En dit is absoluut noodsaaklik as daar veranderinge in jou lewe is, of jy besluite moet neem, of jy worstel met goed … asof dit nie elke dag is nie!? En dit help as jy plek en tyd maak vir ander om saam met jou die pad te stap. Veral vir ons families: die dissipline van huisgodsdiens kan bestaan in die deel met mekaar van ons joernale. Dit kan ook ‘n welkome afwisseling vir kleingroepe wees om vir ‘n tyd spesifiek hierop te fokus. Laat elkeen kom met dié een ding wat die week in stiltetyd duidelik geword het, en dit met mekaar te deel. Dit kan soms ook ‘n vraag wees, of ‘n gebedsversoek, of ‘n stuk leed en hartseer waarmee geworstel word. Maar dit begin by stiltetyd … en ‘n joernaal.
Christen wees is Volgeling wees.Volgeling wees is om ‘n Koringplant te word.Die koringkorrel moet in die grond val, en dit moet ‘n koringplant word, lewe ter wille van ander.Begin vandag met ‘n joernaal om dié reis neer te pen, sodat dit ‘n getuienis vir jouself kan wees van die proses waarin jy ‘n volwasse volgeling van Jesus Christus word.
“Hulle het hulle HEELHARTIG toegelê …”
Waar is jy?
Praat gerus saam oor die volgende stellings.
“The vast majority of people say they believe in God. But it’s abundantly clear in the so-called Crhistian nations of the Western world that professing belief in God and allowing that belief to make any discernible difference in your life are two entirely different things.
As obvious as this lapse of logic is, few seem to notice it. To believe in an all-powerful supreme being to whom you owe your very existence and yet to live as if you are the one in control doesn’t appear strange. In fact, it feels normal.” (Jan Hettinga, Follow Me, 1996:22).
“Ons word geroep om al meer gelykvormig te wees aan die beeld van hierdie ewige, selfopofferende, ontfermende, gemeenskapstigtende, lewegewende, omgee-vir-die-ander God. Maar ook in ons dag en omgewing is selfopoffering ter wille van die ander; is ontferming, barmhartigheid en geregtigheid; is gemeenskapstigting, solidariteit en behoort-aan; is lewe-gee en lewe-gun en lewe-skenk en lewe-bevorder; ja, is omgee-vir-die-ander nié die waardes waarna allerweë gestrewe word nie, nie die soort mensbeeld wat ons graag aan onsself en ander voorhou nie. (D Smit, Neem Lees! 2006:179).
