Eerste gedagtes oor Filippense 1:21-30

Written by Webmeester on September 16th, 2008. Posted in Preke

Ons staan by die brief aan die Filippense  stil vir die volgende vier weke.’n Eerste paar gedagtes vir Sondag se gedeelte, Fil 1:21-30:

  • Ter wille van julle!
    • Paulus skryf uit die tronk uit: vuil, onhigiënies, donker, vasgeketting aan ‘n klomp ander gevangenis, geen privaatheid, min en sleg kos.
    • Die hemel moes in die situasie aanloklik gelyk het en ‘n geweldige innerlike stryd ontketen het, maar … hy kies om te bly … ter wille van mense wat nog een en ander oor die evangelie moet leer!
  • Lewer altyd jou beste!
    • Hy illustreer die evangeliese waarheid met sy brief en bemoediging vir die Filippense vanuit die tronk: lewer altyd jou beste, maar nie saak waar jy is nie (het ‘n mooi storie daaroor, maar dit is vir Sondag!).
  • Lewe soos vriende!
    • Paulus vra die Filippense om “soos vriende”  te lewe, ‘n tema wat regdeur die brief voorkom.  Bv. in vers 27 gebruik hy ‘n politiese term wat op ‘n soort medeburgerskap dui (julle lewenswandel) en volg dit op met ‘n oproep tot eengesindheid (NIV “contending as one man for the faith of the gospel” ) en vermaan hy Euodia en Sintige in 4:2 om eengesind te wees.
    • Vir die Grieke was ware vriende een siel wat in twee liggame geleef het, met dieselfde wil of strewe!
  • ” No way to lose!” 
    • Een kommentaar sê, Paulus werk met die gedagte: “No way to lose” !  Of hy sterf of lewe, die lewe is vir Hom Christus. Nogal ‘n manier om te kyk na ons lewe!

Paulus se gebruik van die woord liggaam en vlees in die gedeelte:

  • Die woord vir “hele wese” in vers 20 is die Griekse woord liggaam, wat sin maak in die lig van die feit dat Paulus in die vers oor dood en lewe praat. 
  • NIV vertaal daarom eerder as volg: “I eagerly expect and hope that I will in no way be ashamed, but will have sufficient courage so that now as always Christ will be exalted in my body, whether by life or by death. “
  • Paulus gebruik verder aan die woord vlees (vers 22 en 24 wat met lewe vertaal word) om uit te druk dat hy in die vlees lewe, waarmee my eintlik ‘n onderskeid tussen sy menswees (ek) en sy liggaamlikheid (vlees) probeer uitdruk. Die Afrikaanse vertalers het probeer om die onderskeid  tussen die twee woorde (liggaam en vlees) te maak deur die eerste woord liggaam te vertaal met hele wese en die tweede woord vlees met lewe. 
  • Ek is nie seker of dit ‘n baie geslaagde vertaling is nie.  
  • Ek hou baie meer van die NIV se opsie om albei woorde met liggaam te vertaal (bv. vers 22): “If I am to go on living in the body, this will mean fruitful labour for me. “

Nog gedagtes oor die woord vrymoedigheid:

  •  Vrymoedigheid kom in die Grieks voor met die woord, parrêsia, wat in Engels vertaal kan word met 1) boldness (8x in NT), 2) confidence (6x in NT), 3) openly (4x in NT) en 4) plainly (4x in NT). Sommige Engelse vertalings vertaal dit ook met courage (NIV bv.).
  • In die verklarings van die woord, word die betekenisse uitgespel as (en in Afrikaans deur my uitgedruk):
    • vrymoedig of dan die moed om vryelik te praat – boldness
    •  vertroue, sonder vrees, met moed en versekering, met oorgawe, met opgewekte moed (ek hou van dié een!) – confidence
    •  ongereserveer, sonder om terug te hou, openlik (“Frankly dear, I don’t give a …”soos Gone with the wind dit verewig het!) – openly (frankly)
    •  eenvoudig, eerlik, sonder om doekies om te draai, sonder dubbelsinnigheid of ‘n omhaal van woorde – plainly

 

Hoe gemaak met Genesis 50:15-21?

Written by Rethie on September 11th, 2008. Posted in Preke

Chris beskryf sy gedagtes oor Genesis 50:15-21: 

Ek vind Genesis se gedeelte amper te ryk om oor te preek, want dit eindig aan die een kant die hele verhaal van Genesis en kyk vorentoe na wat in Eksodus gaan volg.

Van die dinge wat my aanspreek (en hoe kies ek!?):

·         “The past got in my eyes” – Lucy in die Peanuts strokiesprent as sy ‘n bal misvang – dit is nogal wat met die broers gebeur!

·         Kommentare sê daar is net die een verhaal van interpersoonlike vergifnis in die OT – ek wonder hoekom?  En wat dit vir ons sê?

·         Aanhaling van Buechner: “With God: the worst things are never the last things” – dis ‘n preek op sy eie werd!

·         Josef se broers maak steeds staat op misleiding om hulle sin te kry – en hulle probeer Josef op ‘n emosionele vlak omkoop!  Die waarheid is, sonder vergifnis word die broers aan hulle verlede vasgeketting en hulle pogings om só los te kom, is gedoem tot mislukking (but for the grace of God in Josef).

·         Josef se broers hoop dus vir haat … om hulle skuld te vereffen – hulle wil ‘n pak slae hê, want dit sal hulle beter laat voel!

·         Josef huil op ‘n manier sy broers se trane – dit is vir my ‘n aangrypende kykie in die psige in Josef (hy huil nogal baie as ‘n mens die hele verhaal in gedagte hou!)

·         Dié stunning insig kry ek by Annes Nel – Josef se broers se probleem is dat hulle kyk na wat hulle gedoen het, en nie na wat God gedoen het nie. 

·         Daarby, die broers probeer die impak en implikasies van droom van Josef ontwyk en in die niet laat verdwyn, beide in die verlede as in die hede. 

·         Vir Josef tel die droom egter en skep dit vir hom die werklikheid!

·         Bose planne verlam nie God se planne nie – hoe wonderlik!

·         Josef verbind hom aan die goeie wat God beplan – en nie aan die boosheid van sy broers wat in daardie plan ingesluit is nie!

·         God se hand word in die donkerste tye van die lewe sigbaar.

·         God kry dit reg om die kwaad goed te dink (Noordmans – wat ‘n wonderlike teoloog!).

·         Josef se broers raak op ‘n vreemde manier “medewerkers” aan hulle redding – dit is iets wat ek nog moet internaliseer – dat jy met verkeerde bedoelings by die regte plek kan uitkom!  Weens die genade van ‘n Josef/Jesus.

·         Die heil kom tot stand deur onheil – dit is die kruisevangelie!

·         Brueggemann sê: Josef betaal nie sy broers terug nie – Hy gee vir hulle ‘n tuiste – Ek wens só dié gedagte kan die gesprek tussen die NGK en VGK vorentoe vat!  Die ironie is natuurlik dat die broers weer vir hom ‘n tuiste moet bied deur die belofte wat hulle maak om sy bene terug te neem na Israel – hy bly op ‘n manier ‘n outcast of outsider wat van die insiders afhanklik is om ingesluit te word.  Dit laat my kop so ‘n bietjie draai!

·         Slegs dié wat onskuldig gely het, kan die siklus van skuld en sonde verbreek – ditto vir die bogenoemde gesprek – die NGK kan nie die siklus verbreek nie, op ‘n manier kan net dié aan wie onreg gedoen is, dit doen.  Dít is/was die waarde van iemand soos Nelson Mandela (en die probleem van aner politikusse wat die onreg lewendig hou en nie die vergifnis uitdeel nie) wat ‘n ruimte van vergifnis kon skep waarin alle SAners mekaar kon vind.

Nou ja – sal maar bly voor die Here om te hoor!

Matt 13:31-33, 44-52 – Son 27 Jul

Written by Rethie on July 29th, 2008. Posted in Preke

Deon B se preek van Sondag kan hier gelees word.

Deon het daarop gewys dat die 5 kort gelykenisse spesifiek gaan oor die koninkryk.  “In Matteus word dit duidelik dat die koninkryk mense is, gelowiges wat die Koningskap van Jesus Christus aanvaar. Persone wat hierdie keuse maak, betree nie die koninkryk nie, maar is die koninkryk.”

Daarna het Deon gesê dat die koninkryk ‘n bepaalde aantrekkingskrag en ‘n transformerende uitwerking het.  Verder is die koninkryk kosbaar/waardevol.   Laastens het hy gesê dat die koninkryk vir nou is, nie net vir eendag nie.

Matt 13:24-30, 36-43 – Son 20 Jul

Written by Rethie on July 22nd, 2008. Posted in Preke

Chris se preek van Sondag kan hier gelees word.

Chris het begin deur te verwys na die probleem van “onkruid” in die gemeente.  Daarna het hy op die verskil tussen die werkers en die boer verwys:  dit is opvallend dat die boer rustig bly, want hy het ‘n plan en het volle vertroue dat dié plan sal werk.  Die boer is die geduld self!

Die boer se geduld troos die werkers dat hulle maar met hul werk kan voortgaan, sonder om op die onkruid te fokus.  Hulle kan rus in die wete dat die goeie sal seëvier.

Chris het gesê dat die impak hiervan op ons tweeledig is:  eerstens kan ons ontspan, “ons is nie in die onkruidverwydering-besigheid nie, maar in die saai-en-versorging-besigheid”.  Tweedens konfronteer dit ons met die werklikheid van die laaste oordeel en vra dat ons selfondersoek doen.

Die preek het ge-eindig met die gedagte dat God tweede kanse gee: “in God se boerdery word doringbome immers sipresse, distels baie keer mirtebome…”  Dit is met dié verwagting dat ons ons werk moet doen.

Chris sluit af met die woorde:  “Die gelykenis help ons om met ander oë te kyk na mense en na dié waarvoor die Here ons roep.  God vra dat ons vir en na die koring moet kyk, nie vir die onkruid nie.  Ons fokus moet wees om koring te bevorder, nie onkruid uit te roei nie.  Dít is hoe die koninkryk kom en dít is hoe ons in die koninkryk moet werk.”