1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou

Written by Webmeester on May 4th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

Die tema van gehoorsaamheid onder die konings al dan nie, word voortgesit in hierdie hoofstuk.

Abia, Rehabeam se seun by Maäka, ’n dogter van Abisalom (sommige dink hier word na Absalom verwys, maar hy het net een dogter gehad, Tamar) word koning in Jerusalem, maar is ongehoorsaam aan die Here.  ’n Interessante idioom word gebruik in die Hebreeuse teks om sy ongehoorsaamheid uit te druk: “sy hart was nie lojaal/volledig/perfek toegewy aan die Here nie”.  Vergelyk dit met die “luisterryke hart” van Salomo (1 Kon 3:9) soos “gehoorsaamheid” in die oorspronklike teks lui.

Die Here seën hom egter ter wille van Dawid.  Soos die geval was met sy pa, is daar oorlog tussen hom en Jerobeam van Israel (lees in 2 Kron 13 hieroor, waar dit blyk dat die Here aangeroep word deur Abia en Hy vir hulle die stryd wen – Kronieke dui Abia se ma aan as Miga).

Sy seun Asa was ’n goeie en gehoorsame koning in Juda wat groot hervormings gebring het.  Hy het die tempelprostitute verban, die afgodsbeelde verwoes, selfs sy ouma Maäka as koninginmoeder onttroon en haar Asjerabeeld vernietig.  Hoewel die hoogtes nie heeltemal verdwyn het nie, was Asa, volgens die Konings skrywers, sy hele lewe lank getrou aan die Here.  Hy was ook ‘n slim strateeg en hernu ’n ou verbintenis met Ben-Hadad en die Arameërs (Siriërs) in Damaskus in sy oorlog teen Baesa van Israel.

Die Kronieke skrywers (2 Kron 16:7-10) beoordeel dié verbintenis egter uit ’n ander hoek, deurdat die siener Ganani Asa voor stok kry omdat hy nie op God in sy stryd met Israel gesteun het nie, maar op die Arameërs.  Dit was volgens Ganani die rede waarom hy nooit vrede sou ken nie, maar voortdurend in oorlog gewikkel sou wees.  Let op die pragtige belofte wat in Ganani se profesie voorkom:

“Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9)

Ook die terloopse verwysing na die voetkwaal wat Asa opdoen (1 Kon 15:23) word in Kronieke (2 Kron 16:12) gewyt aan sy keuse om dokters te vertrou eerder as die Here.  Twee jaar later is hy oorlede.

Nadab, seun van Jerobeam, was, soos ’n mens nou al verwag, ’n ongehoorsame koning.  Sy kortstondige regering word beëindig deur Baesa wat in ’n veldtog teen die Filistynese stad Gibbeton vir Nadab om die lewe bring.  Dit lei tot ’n familiemoord, waar al die nasate van Jerobeam uitgeroei word, presies soos Agija van Silo voorspel het (dit is ’n ander Agija as Baesa se pa wat ook die naam Agija dra).

If you enjoyed this post, make sure you subscribe to my RSS feed!

Tags: , ,

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Dirkje Brookes
    03/12/2012 at 17:02 |

    Ek wil beslis meer tyd spandeer om deur al die leringe te werk. Dit is baie interessant en help om dinge weer te koppel aan ander gebeure in die Woord en ook natuurlik om die Woord beter te verstaan. Baie dankie.

Leave a comment