1 Samuel 25 – om met vrygewigheid te leef
Drie dinge tref my in die gedeelte.
- Die eerste is die kontras tussen Nabal, met wie ‘n mens nie kan praat nie (:17), en Dawid, met wie Agajil wel kon praat (:24, 35). Leerbaarheid en ‘n luisterende gesindheid is van die mees fundamentele verskille tussen ‘n dwase en ‘n wyse mens. Dit is ook die verskil tussen Dawid en Saul. Albei het verkeerde goed gedoen in hulle lewens, maar net Dawid was bereid om te luister as God hom daaroor deur die profete aangespreek het.
- Die tweede is die ironie dat Nabal soos ‘n koning, melek (:36), feesvier, maar dwaas is soos koning Saul. Dawid darenteen tree wys op, deur te luister na die insig wat Abigajil vir hom gee. En daarmee stel hy ons gerus dat God se keuse van hom as regeerder, nagid (:30 – die woord beteken prins, wat ‘n meer charismatiese leierskap aandui), die korrekte een is.
- Die derde is die les wat Nabal en Abigajil ons leer, dat inhaligheid jou inhaal, terwyl vrygewigheid jou vrymaak. Dit is wanneer ‘n mens vasgryp aan jou goed, jou besittings net vir jou eie belange gebruik, en nie omgee vir ander nie, en nog erger, onregverdig optree teenoor dié wat jou besittings help beskerm, dat jou lewe juis in gevaar kom. Vrygewigheid darenteen stel jou vry om op God te kan vertrou vir wat jy nodig het.
If you enjoyed this post, make sure you subscribe to my RSS feed!
Tags: Samuel
Trackback from your site.
