Die ontstaan van die Bybel
- Die skrif stelling van die Bybelse verhale kom van baie vroeg af. Die Bybel self skryf daaroor alreeds in die verhale van Moses, Josua en Samuel. In Eksodus lees ons dat Moses daarmee besig was (Eks. 24:4), dat sy skryfwerk deur die Leviete bewaar is (Deut 31:9), deur hulle en die leiers bestudeer is, en die boek raak wat Josua sy eie maak (Jos 1:7). Die skryfwerk word ook later deur Josua aangevul (Jos 24:26). Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan. Dan lees ons onder andere ook nog van die Boek van die Opregte (Jos. 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is).
- Ons sien dus hier die begin van ‘n kern-kanon, die begin van die Bybel, wat veral met die berg Sinai verbind word. Later sou Samuel ook regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam 10:25) en saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar. Van tyd tot tyd is die verhale van Josua opgedateer (van die stede in Jos. 15 het moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom) om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou. Ons lees ook van die Annale van Salomo (1 Kon 11:41).
- Uit die ontdekking van die Dooie See rolle in 1948 kom ons agter dat in die latere biblioteke veral op drie tipe boeke gekonsentreer is, die Bybelse tekste self, kommentare op die Bybel en teologiese geskrifte.
- Die meeste Jode van die eerste eeu n.C. was geletterd en kon lees en skryf. Hulle kon ook meer as een taal verstaan, ten minste Aramees (spreektaal) en Hebreeus (OT). Baie kon ook Grieks, die wêreldtaal van die tyd, verstaan en het dit in die alledaagse kommunikasie gebruik. Die Griekse vertaling van die OT, die LXX of Septuagint, was ook baie gewild.
- Shorthand is baie keer gebruik, weens die skaarsheid en prys van papier (papirus of leer [perkament]). Matteus, die belastinggaarder, was heel moontlik vaardig daarmee, en kan verklaar hoe hy die bergrede so volledig kon weergee in Matteus 5-7.
- Daar was van die begin af ‘n hele paar mense wat verhale oor Jesus neergeskrywe het (Luk 1:1-2), wat gedien het as bronne vir die evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Johannes skryf selfs met ‘n tikkie humor daaroor (Joh 21:25). En Paulus het skryf as ‘n baie belangrike deel van sy bediening gesien (2 Tim 4:13: “[bring] die boeke, veral die perkamente [saam].”)
- Hierdie belangstelling in boeke en literêre werke het beteken dat tekste met groot sorg hanteer is en in biblioteke en argiewe opgeneem en bewaar is.
- As ‘n mens natuurlik meer kopieë wou hê, moes dit natuurlik telkens met die hand oorgeskryf word.
If you enjoyed this post, make sure you subscribe to my RSS feed!
Tags: Samuel
Trackback from your site.

Comments (5)
my dogter van 16 wil weet wie het besluit om die boeke van die bybel agtermekaar te sit te bind en te se “DIT IS DIE BYBEL”
Die Ou Testament se boeke is veral by die tempel deur die priesters versamel, soos ek hierbo skrywe. Dit is mettertyd deur die Joodse leiers aangevul met die boeke van die profete wie se Goddelike inspirasie deur die volk/leierskap erken is. Daarby het ook mettertyd die wysheidsliteratuur en die Psalms gekom. Die kerk het eenvoudig van baie vroeg af al hierdie proses erken en dié boeke ingesluit in die Bybel, soos ons dit vandag het.
Die Nuwe Testament boeke is deur die gemeentes versamel en bewaar, omdat die kerk ervaar het dat dit Goddelik geïnspireer is. Paulus se briewe is bv. van vroeg af versamel (2 Pet 3:15-16), sowel as die evangelies van Markus, Matteus, Lukas en Johannes, sowel as Handelinge (Lukas) en Openbaring (Johannes). Dat hierdie boeke gesag gedra het in die kerk, sien ‘n mens uit die talle kere wat daaruit deur die vroeë kerkvaders (Justinus, Irenaeus, Clement, Origines, Tertullianus ens) aangehaal is in hulle eie geskrifte uit die 2de eeu na Christus, waardeur die Goddelike inspirasie daarvan erken is. So het ‘n kern-Nuwe Testament ontstaan.
Die beginsels vir insluiting in die kanon was onder andere: 1) Is dit deur ‘n apostel (bv. Paulus, Johannes) of metgesel van ‘n apostel (bv. Markus, Lukas) geskrywe? 2) Was die boodskap van die boek in lyn met die boodskap van Jesus Christus soos die kerk dit ontvang en geleer het? 3) Is die boek wyd aanvaar deur die kerk in al sy gemeentes?
Daar was onsekerheid oor boeke soos 1) Hebreërs, omdat die outeur nie duidelik aangedui is nie (sommige dink dat dit deur Barnabas, die metgesel van Paulus, geskrywe is), of 2) Jakobus, omdat daar onsekerheid was of die boodskap van die boek in lyn was met wat Paulus in sy briewe geskrywe is. Daarom is daar gesprek gevoer daaroor totdat daar na 3 eeue breë konsensus was watter boeke kanonies was en ingesluit kon word in die Bybel.
Ons lees daarvan bv. in ‘n brief van Atanasius (367 n C), waar hy die huidige lys NT boeke aanhaal, net soos ons dit vandag het. By ‘n konsilie – amper soos ons sinodes van vandag – die konsilie van Kartage in 397 nC, is dié lys boeke uiteindelik in ‘n besluit erken. Die kerk het die inspirasie van dié boeke erken met die term: “recipemus”, wat beteken: “om te ontvang”. Hulle het dus die gesag van die boeke erken, nie afgedwing met ‘n besluit nie.
Opsommenderwys: Die Bybel is saamgestel uit dié boeke wat die kerk in sy gemeentes erken het as gesagvol en vir hulle Goddelike inspirasie gehad het.