Week 2 van die Bybelskool oor Markus
Hallo Bybelskool vriende
Ons het gister ‘n eerste rondte gesprek oor Markus gehad in die gemeente, aan die hand van Markus 1:1-3:6.
Een ding wat ek baie spesifiek beklemtoon het, is dat die Bybel nie net vir informasie gelees moet word nie, maar vir formasie. Dit beteken, na ‘n mens alles gelees het oor ‘n teks, wat die woorde beteken, wat die situasie moontlik was … moet jy uiteindelik vra: Wat nou? of Wat beteken dit vandag vir my?
Dit is immers in die refleksie en nadenke oor die betekenis van die Bybel vir my persoonlik, wat geestelike groei plaasvind.En dit is die doel van die Bybelskool. ’n Mens kan in die vergelykende lees van tekste só vasval in die analisering van die tekste, dat jy kan vergeet om uit te kom by die betekenis vir jouself.
Daarom het ek tyd spandeer om te illustreer hoe ek self die tekste lees, en gee dit as vir julle riglyn deur:
- Ek bid gewoonlik ‘n gebed waar ek die vorige dag se gebeure met die Here deurgesels. Deur die eeue was dit bekend as die daily examen. John Ackerman het ‘n oulike proses daarvoor geskep: Stop, Look, Listen. Die idee is dat ‘n mens tot stilstand kom, die gebeure van die vorige 24 uur deurdink en kyk waar jy spore van God se teenwoordigheid ervaar het. En dan te luister na wat dit vir jou sê. (Terloops ‘n boekie van hom hieroor, Staying in Touch, is vertaal in Afrikaans met die titel Bly in Voeling. Dit is die week gepubliseer en kan by www.bmedia.co.za bestel word.)
- Daarna lees ek eers die Markus teks met een van die 6 metodes wat ek op die webtuiste gegee het. Elkeen van dié metodes sluit in dat ek vra na die betekenis vir myself.
- Dit is verstommend hoe baie raakpunte dan kom tussen my gebed oor die vorige dag se gebeure en die teks wat ek die oggend lees.
- Dan bid ek gewoonlik weer en antwoord die Here daarop.
- Eers daarna begin ek die ander tekste uit Matteus en Lukas en Johannes vergelyk met Markus.
- Ek lees ‘n paar kommentare vir meer inligting – sodat ek vir julle ‘n paar goed daaroor kan skrywe op die webtuiste!
- En dan skryf ek die post(s) op die webtuiste.
- En só word die teks en refleksie daaroor deel van my lewe vir daardie dag!
Ek wil voorstel dat julle ‘n soortgelyke patroon volg – kleur dit na jou behoefte in, maar onthou om altyd te vra na die betekenis vir jouself.
Geniet die verdere lees die week!
Groete
–
Chris van Wyk
0825749191 | acv.vanwyk@gmail.com
Trackback from your site.
