Om te luister in ‘n wêreld waar wysheid nodig is
Sondag begin ‘n nuwe reeks in ons gemeente: Stories wat inspireer.
Ons lees die verhaal van Salomo in 1 Konings 3 en put inspirasie uit Salomo se legendariese wysheid.
Dit tref my dat Salomo van God gehoorsaamheid vra dat hy reg sal kan regeer en in alles insig sal hê, veral omdat hy nog jonk en onervare is. In die oorspronklike word gehoorsaamheid met twee woorde geskryf: “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal: “discerning heart”.
God voldoen nie net aan sy versoek nie, maar gee ook vir hom rykdom, aansien en ‘n lang lewe. Die belangrikste is dat God vir Salomo wysheid en insig gee:
‘n luisterende hart.
- Hy luister met insig na die 2 vroue wat stry oor hul kind.
- Hy reël skofte vir sy werkers met die bou van die tempel: 1 maand weg in Libanon en 2 maande by die huis (1 Kon 5).
- Hy skryf ‘n hele aantal spreuke en psalms, waarvan sommige in die Bybel opgeneem is (dele van Spreuke, Hooglied, Prediker, Psalm 72 en 127).
- Hy het ‘n internasionale impak soos die talle verhale van hom in die Arabiese en Ethiopiese tradisies getuig, wat hom eer vir sy intellek.
Die feit dat Salomo uiteindelik in sy middel-vyftigs die pad byster geraak het, lief geword het vir perde en vroue – ten minste liewer vir hulle geword het as vir die Here – neem nie weg dat hy ‘n ongelooflike gawe gehad het nie, die gawe van wysheid.
En dit is dié kant van Salomo, sy luisterende wysheid, wat my inspireer.
Tags: wysheid
Trackback from your site.
