Gasvryheid – God se teenwoordigheid
Gasvryheid – liefde vir die vreemdeling – is ’n risiko. Dit kan jou duur te staan kom. Dit kan jou in konflik bring. Jy kan misbruik word. Daarom is daar groot wysheid nodig om gasvryheid te beoefen.
Pat Keiffert skryf hieroor in Welcoming the Stranger (1992:59):
“Provision of hospitality to the stranger is full of dynamic conflict. It requires a decentering of our self-centred lives that is most disturbing. It requires risk and wisdom, since the stranger can and does do us harm.”
Waarom lê die Bybel dan soveel klem op liefde vir die vreemdeling?
- Dit is ’n sentrale tema in die wet (Levitikus 19:34).
- Dit is ’n baie belangrike deel van Salomo se gebed by die inwyding van die tempel (1 Kon 8:41-42).
- Jesus steek telkens die grens oor uit liefde vir vreemdelinge: Saggeus (Lukas 19), Siro-Feniciese vrou (Markus 7), Maria Magdalena (Lukas 8 – die vrou met die sewe bose geeste).
- Selfs Petrus steek die grens oor na die vreemdeling Kornelius (Hand 10).
- En Paulus se hele bediening word gewy aan die liefde vir vreemdelinge, selfs al kos dit hom tronkstraf en pyn en verwerping.
Waarom?
Want ervaring het geleer dat dit juis in die risiko van gasvryheid is wat God se teenwoordigheid ervaar word. Dit is wanneer ’n vreemdeling vriendelik ontvang word dat ons oë vir die misterieuse teenwoordigheid van God oopgaan.
- Wanneer Abraham naderdraf na die 3 vreemdelinge om hulle met 16 kg se roosterkoeke en ’n kalf te bedien, ontmoet hy God self, wat hom seën met ’n kind, en toelaat om sy neef Lot uit die vloek van Sodom en Gomorra te verlos (Gen 18).
- Wanneer Saggeus Jesus ontvang in sy huis, raak hy weer deel van die Joodse gemeenskap en kan hy regmaak wat hy verbrou het (Luk 19).
- Wanneer Petrus dit waag om Kornelius se huis binne te gaan, kom die eerste van die ander nasies tot geloof (Hand 10).
Dit is ook wat met die Emmaus-gangers gebeur. Deur die vreemdeling saam met hulle te laat loop (in die publiek) , deur met hom in gesprek te tree (oor hulle geloofsdokument), deur hom in te nooi in hulle huis (in hulle private persoonlike ruimte) en saam met hom te eet (sosiaal te assossieer), raak hulle harte warm, gaan hulle oë oop en raak hulle getuies van die grootste gebeurtenis ooit, die opstandingslewe van Jesus.
Want let op hoe hierdie gesprek met Jesus in ’n Heilige Gesprek verander. Let op hoe die Bybel sy regmatige plek in hulle lewens inneem, beide in terme van hulle kennis daarvan en die toepassing daarvan in hulle situasie. En so verdiep hulle verhouding met Jesus en raak hulle sy getuies.
Ek sal graag wil hoor hoe jy dink ons dit kan regkry om hierdie risiko te neem?
Hierdie Sondag gaan ek verder met hierdie gedagtes werk met die tema: Leef met Kantlyne
Trackback from your site.

Comments (4)
Hi,
Ek speel so ‘n bietjie met ‘n paar gedagtes na ek hierdie gelees het. Die een is watter relasie daar is tussen alles weggee en gasvryheid en die ander watter relasie daar is tussen om gasvryheid te ontvang en gasvry te wees.
Ek dink daar is iets in die feit dat wanneer ‘n mens vry van besittings is, ‘n mens ook vry is om uit die hart te kan gee.
Dan dink ek ook dat eers wanneer ‘n mens iets ontvang het, wat jy regtig nodig gehad het, jy ook meegevoel kan he met ‘n ander mens wat nood het, en dan gasvry kan wees in nederigheid.
Ek dink ‘n mens is om die beurt gas en gasheer of -vrou. Dit is wat ek met my preek hieroor op die tafel probeer sit het, deur te werk met die twee woorde Beperk en Bederf. Ek laat ander mense ook ruimte om vir my iets te beteken ek ek steek self ook die grens oor om gasvry te wees: http://www.ngkerksomerstrand.co.za/erdienste/preke/1-chris/676-erediens-leef-met-kantlyne-lukas-2413-35-son-17-oktober-2010 .
Ek dink jy’t nogal ‘n punt beet! Ek wonder weer die laaste tyd baie oor hoe ons die godsdiens “mak” gemaak het, geïnstitusionaliseer het – en in die proses moontlik die kern van die aard van die gemeenskap wat Jesus kom vestig het, verloor het.