HERODES DIE GROTE: ‘N BOODSKAP VAN HOOP
Dis ‘n gewone dag êrens in die week. Soos so baie ander is ek ook maar besig met die daaglikse verpligtinge. Die vibrasie op my lyf herinner my dat my selfoon lui en ek sit die skreeuende hoeksnyer op die werktafel neer.
Op die skerm van my selfoon staan “Chris predikant “ . Dis kerksake dink ek, min wetend dat hierdie oproep my gedagtegang en ook my lewe ingrypend gaan beïnvloed. Ons beweeg deur die gewone vriendelike gemeenplase van welsyn en die weer. Toe kom die vraag. “ Frik, volgende Sondag, soos jy weet, is ons Kerssangdiens. Ons wil vanjaar fokus op die reaksies van ‘n aantal Bybelfigure op die geboorte van Christus. Sien jy kans om die reaksie van Herodes, die Grote, te verwoord”. Sonder om twee maal te dink het ek ingestem, effens gevlei deur die feit dat iemand gedink het dat ek so iets sou kon doen. Ons groet en ek gaan voort om die ysters te sny.
Bevoorreg soos wat ek is, sit ek toe die son sak, onder’ n groot koorsboom en kyk hoe die son sy laaste kwasstrepe trek oor die pers van die jakarandas, die kopergeel van die silwereike en die wisselende groen van die sitrusbome. Ek drink rustig aan ‘n witwyntjie en laat my gedagtes gaan oor die gebeure van die dag . Chris het van Herodes gepraat, en wat weet ek van Herodes.
Vir die volgende paar dae was dit ek en Herodes en die Christuskind. Skielik het ek die insluiting van die reaksie van ‘n monster soos Herodes in ons Christusfees begin bevraagteken. Hierdie man wat niks sou ontsien om sy eie posisie as koning te beveilig nie, al was dit ook ten koste van die lewens van talle klein kindertjies. Ek het dit selfs oorweeg om te onttrek ,of te vra dat ek ‘n ander karakter doen.
Dis Sondagoggend. Al die deelnemers is saam in die gebedskamer. Oor minder as ‘n halfuur sal die diens begin. Ek is Herodes, of ek dit nou wil weet of nie. Die gebede dra die kersspel aan die Here op en vra vir Sy seën, en so in die verbygaan dat ons ons woorde sal onthou. Sal ek dit onthou? Sal ek die reaksie van Herodes aan die gemeente kan oordra?
Bileam, die donkie-man, vertel sy storie, Josef en Maria vertel met verwondering hulle belewenis en die herbergier spreek sy spyt uit dat Jesus in die stal gebore moes word. Met die wegsterf van die engele sang beweeg ek vorentoe. Daar is nie meer omdraai kans nie: Herodes moet praat. Die magsugtige egoïstiese wrede koning moet vir die gemeente vertel hoe hy alles in sy vermoë gedoen het om die Christuskind te vernietig ten einde sy troon te beskerm.
My oë dwaal oor die gemeente . Links voor sit my kleinkinders in verwondering na hulle oupa en kyk, en toe vang my oog hom. Regs voor in die orrelkant-blok, direk langs die paadjie, in die vierde ry. ‘n Pragtige blonde seuntjie op sy pa se skoot, niks ouer as twee jaar nie. Ek kry ‘n knop in my keel, maar Herodes neem oor, en ek blaker my moordplan aan die gemeente uit.
Uiteindelik is dit verby. Al die karakters staan op die verhoog. Deur die kerkgebou klink die wonderlike woorde van Stille Nag. Die laaste reels van vers drie gryp my aan “Jesus Heer, voor U mag, voor u ryk moet die duisternis swig, tot in ewigheid bly U die lig. Heer gebore vir ons”.
Ek kyk na die dankbare gesigte voor ons en die trane loop ongevraagd oor my wange. Ek kyk na Lynette wat die dryfkrag agter die kersspel was, en sien hoe sy versigtig en half ongemerk die trane afvee. Ek merk ook talle ander wat aan hulle “neuse” vat.
Toe weet ek verseker: God laat nie toe dat enigiemand Sy Kind sy Troon ontneem nie, ook nie Herodes nie.
Herodes se aanslag op Christus se troon, hoewel onmenslik wreed, bevestig God se almag, en gee daarom vir ons hoop
Vrede en vreugde .
Frik Buys/ Herodes
Trackback from your site.

Comments (1)
sjoe, dis aangrypend! Dankie dat jy dit met ons deel, Frik! Ek raak by die dag al meer spyt ek kon nie daar wees nie! (Ek gaan hierdie sommer op ons Facebook page ook sit.)