Nuts en Bolts en die kerk
As jy skuins kyk, is jy normaal. Nee ek wil nie die kerk herstel nie. Ek wil gewoon iets vir jou vertel wat op ‘n blou Maandagoggend my pad in ‘n parkeerterein gekruis het.
Soos enige aardse bewandelaar van my jare word daar maar in paaiemente uit die bed gerol. As daar nog pyne is, dan lewe jy nog. Al die nodige word gedoen ten einde die buitewêreld in die gesig te kan kyk. Gespitpolish en gedres ry ek na die winkelsentrum en en trek niksvermoedend langs ‘n paneelwa in.
Met die oopmaak slag van die deur hoor ‘n man wat opgewek sing. Nuskierig is my tweede naam en ek loer om die paneelwa se deure om my te vergewis van die vrolike gesingery. En wie sing so vrolik, vra ek versigtig. Dis ek, sir , en ‘n vriendelike, laggende ronde gesig kyk my reguit in die oë. ‘N Kort op die been stewig geboude bruinman staan voor my. Sy kop is blinkgeskeer en sy oë glinster.
As lewensblyheid verbeeld kon word, het dit voor my gestaan. Nou wat laat ‘n man op Maandag so vreugdevol die week tegemoet gaan, vra ek.
Sir, lat ek jou vertel. Gister was Sondag en ek het gaan worship by my kerk. Ek was lanklaas daar, maar gister het die preacher net met my gepraat. Hy raak ‘n oomblik stil. Hy bring sy regterhand so van sy maag af teen sy bors langs sy keel na sy mond toe op en laat sy vingerpunte oopmaak terwyl hy sê. Sir, ek kan nie vir jou vertel wat gister gebeur het nie, dis kompleet of die Lord my nuts en bolts weer opgelyn het. Die wat te vas was, het Hy losgemaak en die wat te los was weer vasgemaak . Toe ek vamôre wakker word, sir, wou ek net rejoice en worship en nie een van my nuts of bolts het gerattle nie.
Ek was stom geslaan . Die vrede en die vreugde wat op die Maandag oor my gekom het, was wonderlik. Ek wat dit altyd vir ander sê, vrede en vreugde, kry dit toe ongevraagd en dit omdat ‘n totale vreemdeling my herinner het aan die belangrikheid van die samesyn van die gelowiges onder die geklank van God se Woord.
Vrede en vreugde.
Frik Buys
Trackback from your site.
