Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen
Sondag 22 Augustus 2010 fokus ons op 2 Konings 5 by ons familiediens.
Die held in 2 Konings 5 is ‘n klein naamlose Joodse dogtertjie. Hoekom? Omdat sy dit wat sy weet, al is dit iets kleins, deel met haar ontvoerders, en dit ‘n verskil maak in die lewe van Naäman en sy gesin. En hy word nie net genees van sy melaatsheid nie, maar leer ook die Here ken. Die verhaal spoor ons dus aan om nie net vir wonders te kyk in die groot goed wat gebeur nie. God is aan die werk in die normale goed wat elke dag gebeur. Hy is besig in die ontmoetings wat ons met mense het, selfs as ons soms dink mense is “onderbrekings”.
Die verhaal spoor ons dus aan om net so gewillig te wees om die gewone goed te doen, as wat ons graag die buitengewone sou wou doen. Ons raak baie keer moedeloos omdat ons met een oplossing alle probleme uit die weg wil ruim – terwyl dit soms net iets kleins is wat ons moet doen, wat saam met ‘n paar ander mense se klein liefdesdiensies ‘n groot verskil maak.
Daar is niks wat ons doen, hoe klein ook al, wat nie deur God gebruik word om groot dinge te doen nie. Dit sien ons in ons eie omgewing. ‘n Paar boere het gesorg dat ‘n ambulans kinders hospitaal vervoer in Elliot, en dit het ‘n impak op ‘n hele gemeenskap wat onder andere tot misdaadbestryding aanleiding gee. ‘n Paar gemeentelede skenk 3 rekenaars en ‘n drukker in ’n gemeente in Oos-Londen en ‘n hele woonstelblok se kinders word gehelp om hulle skoolprojekte te kan afhandel, met ‘n verdere gevolg dat 4 van hulle ouers die katkisasieklas begin bywoon en lidmate raak van die gemeente.
Ons kan met verwagting lewe – dat God nog wonders doen – deur die klein dade van gehoorsaamheid wat ons doen.
Trackback from your site.
