Om te vertrou in ‘n wêreld waar daar broedertwis is

Written by Webmeester on July 31st, 2010. Posted in Eredienste, Gesprekke

Hierdie Sondag (1 Augustus 2010) verwelkom ons vir ds Andrew Fransman en die VGK gemeente van Bloemendal by ons nagmaalviering.  Hy gaan die prediking behartig en ek die liturgie.

Ek het egter steeds gekies om ‘n preek vir die reeks te skrywe, al is dit dan net om die reeks volledig te hou.

Ek het in die preek die verhaal van Asa in 1 Konings 15 en 2 Kronieke 16 benader uit die hoek van vertroue, in ‘n tyd waar hy voor ‘n keuse gestel is om die Here te bly vertrou, ten spyte van die konflik met hulle broers uit die Noordryk.  En die geestelike dissipline ter sprake, is toerekenbaarheid (accountability).

Sy verhaal leer ons dat ons nooit die oop verhouding met God en met ons profete, mense wat na aan ons lewe en wat ons verantwoordelik moet hou, moet afskeep nie.

Ons is nie bedoel om te lewe as selfstandige onafhanklike konings nie.  Tog is ons bang om sulke oop lewens te lewe.  Miskien is dit omdat ons bang is dat ons mislukkings en swakhede teen ons gehou sal word.  Miskien is dit omdat al ons vingers verbrand het met mense wat nie met integriteit met ons lewens omgegaan het nie.

Maar ons kan nie die Christelike lewe leef sonder betekenisvolle ander mense in ons lewe nie, mense wat nie sal terugdeins om ons verantwoordelik te hou vir dít waarin ons self sê dat ons glo nie.  Ons is immers gemaak vir gemeenskap met ander mense, nie net sodat dit ons kan koester en versorg nie, maar ook dat dit ons kan beskerm teen onsself, en teen ons swakhede en mislukkings.

Daarom het ons nodig om mense in ons lewe toe te laat wat ons verantwoordelik kan hou.  Jak 5:16 sê immers: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Het Asa maar dié raad gevolg!

En die Hebreërskrywer raai ons aan: “Julle moet mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (3:13)

Ek dink die Here roep ons op tot twee reaksies:

  1. Om na te dink oor iemand met wie ons oor ons geestelike lewe kan gesels.  En met wie ons eerlik kan wees en met wie ons ’n oop verhouding kan handhaaf.  Dit hoef nie iemand te wees wat ouer as jy is nie, of wat wyser is as jy nie.  Maar dit moet iemand wees met wie jy die vrymoedigheid sal hê om jou lewe mee te deel.
  2. Om na te dink oor iemand vir wie jy ’n oop deur wil gee, om met jou oor hulle geestelike lewe te gesels.

Sal graag wil hoor hoe julle hieroor dink.

If you enjoyed this post, make sure you subscribe to my RSS feed!

Trackback from your site.

Leave a comment