‘n Kwaadwillige God?
Die Dag toe God vir Moses wou doodmaak (Eks 4:24-26)
In Eksodus 4 lees ‘n mens hoe, net na Moses die belangrike opdrag van God ontvang het om die Israeliete van slawerny uit Egipte te bevry (Eksodus 3-4), God skielik teen Moses draai en probeer om Moses en sy gesin dood te maak. Net die vorige vers nog, in v 23, gee God vir Moses, op pad na Egipte, spesiale opdragte met betrekking tot sy bevrydingstaak. En dan skielik, in v 24, in die middel van die nag verskyn ’n kwaadwillige God op die toneel.
Geen rede word vir God se onvoorspelbare woedeuitbarsting gegee nie. Ons lees wel in vv 25-26 dat Moses se vrou Sippora Moses red deur haar seun te besny, en die bloederige voorhuid op sy voete gooi met die woorde: “jy is vir my ’n bloedbruidegom.” Haar dapper optrede weer God se woede af en ons lees in v 26 dat God vir Moses met rus gelaat het.
Nou wat maak ’n mens met hierdie vreemde, en meer nog, ontstellende uitbeelding van ’n kwaadwillige God wat een oomblik nog vir jou uitkies om ’n spesiale opdrag uit te voer en die volgende oomblik jou wil doodmaak? In sy boek, What Rough Beast? Images of God in the Hebrew Bible, bied David Penchansky ‘n indringende ondersoek van hierdie ontstellende beeld wat hy as ‘n “Malevolent God” beskryf (Westminster, John Knox, 1999), 67-79.
Hy wys ondermeer hoe onverstaanbaar hierdie storie is – byvoorbeeld hoe dit glad nie duidelik is wat die term “bloedbruidegom” beteken nie. Of dat ’n mens glad nie seker is wie aangeval is, wie besny is, en op wie se voete die voorhuid gegooi is nie? (Let op dat die NAV se vertaling een moontlike interpretasie kies, maar dat die Hebreeus baie onduidelik is in hierdie verband).
Deur die eeue heen het mense probeer sin maak van hierdie vreemde storie, byvoorbeeld hoekom God dan nou vir Moses sy geliefde dienaar sou wou doodmaak. V 26b bied vir ons die vroegste interpretasie wanneer die “bloedbruidegom” verklaar word in terme van die besnydenis wat ook dan ’n rede impliseer waarom God vir Moses wou doodmaak: Hy het nie sy seun besny nie wat ’n sentrale teken van die verbond tussen God en Abraham was (Genesis 17). So ’n verklaring “regverdig” dus God se daad. Of doen dit?
’n Ander verklaring meen dat Sippora se opmerking dat Moses haar bloedbruidegom is verband hou met die gebeure in Eksodus 2 wanneer Moses in woede ’n Egiptiese man doodmaak omdat dié ’n Israeliet mishandel het. Volgens hierdie verklaring wil God vir Moses doodmaak omdat daar bloed aan sy hande is presies op die punt wat hy uit die asielstad in Midean sou getrek het. Sippora se daad om haar seun se bloederige voorhuid vir God aan te bied is dan ’n daad van versoening vir haar man se misstap. Weereens “regverdig” hierdie verklaring God se daad. Of doen dit?
Die rede vir my vrae is die groter vraag of hierdie kwaadwillige uitbeelding van God in Eksodus 4:24-26 dan nou die God is wat ons aanbid? ’n God wat enige oomblik kan uitbars en jou tot die dood toe kan straf vir oortredinge klein en groot. Indien wel, sou hierdie verstaan van God ons as gelowiges elke oomblik in vrees laat lewe vir die spreekwoordelike bliksemstraal om ons te tref. En wat meer is, wanneer tragedie wel toeslaan, sien ’n mens dan die hand van ’n kwaadwillige God daarin?
Soos in my boek, ’n Groter God (Lux Verbi, 2009), is ek nie tevrede met hierdie antwoord nie. Ek meen dat, soos in die voorbeeld van God as ’n bloeddorstige kryger of God as ’n vroueslaner, is dit belangrik vir ons om met hierdie beelde te worstel. So moet ons probeer verstaan hoekom hierdie beeld in die Bybel is. Is dit nie dalk soos in die geval van my hoofstuk, “Stuur God Tsunamies?” dat die bybelskrywers probeer sin maak het van ’n skielike tragedie nie? Miskien (en hierdie is ’n wilde raaiskoot (-: ) het Moses op pad na Egipte ’n hartaanval gehad? Is dit nie dalk wat die storie probeer verklaar nie? Wie weet. Die eintlike punt van hierdie storie is dat dit onverklaarbaar is en soos Penchansky dit stel, die plek word waar ons ons eie narratief sou kom skep (soos byvoorbeeld my hartaanval voorstel).
Wat wel ongelooflik is om raak te sien in hierdie storie is die optrede van Sippora. ’n Mens hoor selde van haar, maar in die konteks van Eksodus 1-3, waar vroue keer op keer na vore tree as die bevryders, staan sy op teen ’n kwaadwillige God in al sy mag en dink vinnig wat sy kan doen om haar man en haar gesin te beskerm (lees meer oor haar storie in Jacqueline E. Lapsley, Whispering the Word: Hearing Women’s Stories in the Old Testament. Louisville: Westminster John Knox, 2005, 69-88). En die werklik ongelooflike van hierdie verhaal is dat God Sippora se pogings respekteer. God sien af van sy plan om vir Moses dood te maak, en in v 27 gaan die storie aan asof niks gebeur het nie wanneer God vir Aaron stuur om vir Moses te kom help.
Die vreemde, ontstellende, onverklaarbare verhaal in Eksodus 4 daag ons uit om te bly groei in ons Bybelleesvaardighede. ’n Volwasse geloof vra dat ons bly vrae vra, bly leer, bly worstel met die Bybel se betekenis vir ons vandag.
Dr. L. Juliana M. Claassens
Besoekende Professor van Ou Testament
Wesley Theological Seminary, Washington DC/
Buitegewone Besoekende Mede Professor, Dept Ou en Nuwe Testament, Universiteit van Stellenbosch
jclaassens@wesleyseminary.edu
Dr. Claassens het hierdie artikel spesiaal vir ons gemeente se blog geskryf. Haar boek, ‘n Groter God (waarop hierdie kwartaal se reeks gebasseer is) kan hier bestel word, of by die Sinodale Kantoor (041 365 5319 – vra vir Chantal).
Trackback from your site.
