Leef inklusief
Saggeus
In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf. Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.
Tollenaars het nie net hulleself verryk met belastings nie, hulle was ook die loan sharks van die tyd. Deur die toedoen van Saggeus het mense verarm, en het hy waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.
Wat doen God met Saggeus? Jesus sien vir Saggeus raak in die boom en begin ’n gesprek, en dring daarop aan dat Hy by hom wil gaan eet. God reik dus uit en dring Saggeus se ruimte in om die gemeenskap tussen hulle te herstel.
Hoekom? Want God is ’n inklusiewe God. En uiteraard vra Hy van ons om op dieselfde manier te leef.
Spiritualiteit
Ons dink baie keer oor ons geestelike volwassenheid uit die hoek van ons stiltetyd en ons kerkbywoning en hoe ons met die Bybel en God omgaan. Ons beskryf dit baie keer as ons spiritualiteit – en in die lig van Galindo se onderskeiding, as ons gedeelde taal.
Maar gasvryheid, soos ons nou al vele kere gehoor het in dié reeks die kwartaal, is net so ’n belangrike eienskap van geestelike volwassenheid, van ons spiritualiteit. Soos Jimmy Dorrell (Pass the Potatoes, Please) skryf:
“Who sits at our dinner tables is an important indicator of our spiritual condition”
Die Bybel is vol daarvan dat ons geloof gemeet kan word aan doodgewone goed soos om die hongeriges kos te gee, die siekes en die gevangenes te besoek, en vreemdelinge gasvry te ontvang (Dink maar net aan die skeiding tussen die skape en die bokke aan die einde van die tyd, wat op grond van sulke goed gedoen word – Matt 25:34-36).
Ons naaste is nie die een wat langs ons bly nie. Ons IS ’n naaste as ons stilstaan by die mens in nood en iets aan sy lot doen. Dit is die gemengde ras Samaritaanse man wat vir ons ’n model word van hoe in die koninkryk van God opgetree word. Ons ken hom as die Barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37) wat vir ons wys hoe ’n naaste is, en wat ’n naaste doen, en hoe gasvryheid werk.
Jesus leef inklusief
Jesus is hier vir ons die model wat ons moet navolg, want HY leef inklusief. En let op dat dit op ’n ongeskeduleerde spontane manier gebeur – Jesus was immers op pad deur die stad (19:1) na Jerusalem toe (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31; 19:28). Dit gaan dus nie net oor die voorbereide etes met uitgesoekte gaste nie, ook die spontane ontmoetings van elke dag waar uitgereik word, ingesluit word, bederf word.
En dit sal altyd ’n grens van een of ander aard oorsteek sosiaal, ekonomies, selfs moreel, as ons Jesus en die Samaritaanse vrou (Joh 4) en die vrou wat in owerspel gevang is (Joh
in gedagte hou.
En, laat ons eerlik wees, dit is ’n risiko, dit kan jou kos – soos ek ’n tyd terug gepreek het.
Maar, en dit is ’n belangrike maar, dit is ook die begin van ’n geestelike avontuur, van ’n ervaring van die Heilige Gees se werking, wat verlore mense deur ons aksies van gasvryheid weer insluit in die kring, die gemeenskap van gelowiges.
Elke ontmoeting van elke dag raak ’n potensiële punt waar God se werk sigbaar word.
Geestelike gewoonte – Leef inklusief
Dit is nie nodig om te begin met groot treë nie. Nooi ’n nuwe intrekker na jou sel of Bybelstudiegroep. Besoek ons bosslapers se sopkombuis op Woensdae. Gaan Barcelona toe en kyk wat daar gebeur. Neem jou kinders saam na MTR Smit toe en begin uitreik na kinders wat nie dieselfde gemeenskapsvoorregte as jy en joune het nie. Kies een persoon uit die talle wat voor jou deur verbykom en maak ’n verskil aan sy of haar lewe – deur nie net kos te gee nie, maar uit te vra na ware behoeftes en betrokke te raak.
Natuurlik is dit ’n risiko, natuurlik gaan jy soms jou vingers verbrand, gaan jy soms mislei word. In die proses is jy egter besig om die Here se werk te begin raaksien, en bring dit ’n energie in jou geestelike lewe wat kosbaar en kragtig is.
Leef inklusief … soos God inklusief leef.
Soos Jimmy Dorrell, Pass the Potatoes, Please, sê:
In the mystery of God’s upside-down ways, God uses common acts of hospitality to strangers to overcome cultural barriers with others and bring us closer to Him.
Volledig erediens en prediking vir dié wat meer wil lees.
Trackback from your site.
