Posts Tagged ‘Bybelskool’

Bybelstudie metodiek

Written by Webmeester on January 27th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Ek het al baie verskillende Bybelstudie metodes in die loop van die Bybelskool voorgestel, sommige meer informatief van aard en ander meer formatief (Eenvoudige luistersiklus of Lectio Divina bv.) van aard.

Julle kan self kies hoe julle wil lees met enige van die vorige metodes.

Hier is egter nog vier metodes vir die avontuurlikes onder julle wat ek by Adele Calhoun raakgelees het.  Sy stel 4 metodes vir Bybelstudie voor (Spiritual Disciplines Handbook, 164), sommige meer formatief en ander meer informatief:

  • Lees soos ‘n Kunstenaar
    • Wat tref my?
    • Watter nuwe gedagtes kry ek?
    • Wat moet ek daarmee doen?
  • Lees soos ‘n Speurder
    • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
    • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
    • Wat nou (aksie, met wie)?
  • Lees soos ‘n Skatkisjagter
    • Watter skat lê hier opgesluit (voorbeeld, belofte, opdrag, toepassing, gebed, belydenis, vraag)?
    • Wat moet ek hiermee doen?
  • Lees soos ‘n Vakleerling
    • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
    • Wat moet ek hiermee doen?

Kies een van hierdie metodes (of kies elke week ‘n ander een!) en gebruik dit om diep in die teks te delf na die rykdom wat God vir jou daarin opgesluit het.  En elke week kom ons dan bymekaar om saam te gesels oor wat ons gehoor het, vrae wat ons miskien het uit te pluis, en ons eie verstaan te verdiep vir die reis wat ons saam met Jesus in die lewe onderneem.

Leer hier ‘n paar interessante feite oor die Bybel.

Markus in vergelyking met die ander evangelies

Written by Webmeester on January 26th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Ek het gister geskryf oor die boodskap van Markus.

Net om dit te vergelyk met die ander sinoptiese evangelies:

  • Matteus (apostel?) vertel die storie van Jesus aan Joodse Christene wat ‘n verbintenis het aan die Groot Opdrag aan die heidene.  Heel moontlik is dit geskrywe in Antiochië in die 70’s n.C.  Die storie van Jesus van geboorte tot Groot Opdrag sluit groot blokke van sy leringe in en stel Jesus voor as die Seun van God, die Messiaanse Koning van die Jode, wie se boodskap vir alle mense bedoel is. Die kerk is vir hom die familie van God (broers en susters vir mekaar).
  • Lukas (‘n dokter wat Paulus soms vergesel het – Kol 4:14 – die enigste “heidense” outeur in die Bybel) vertel die storie van die redding van Israel wat Jesus (en die Gees in Handelinge) bring.  Dit is heel moontlik na die val van Jerusalem in 70 n.C. geskrywe aan Christene uit die heidense nasies. Dit word gerig aan Teofilus, andersins onbekend, wat heel moontlik die publikasie onderskryf het.  Lukas plaas die verhaal in die konteks van die wêreldgeskiedenis en sluit die voortgaande bediening van die Gees in die kerk van die begin af in.  Die kerk is vir hom die plek waar alle Jode welkom is, daarom word bv. spesifiek aandag gegee aan die stories van vroue.
  • En natuurlik moet ons nie vergeet dat Handelinge deel twee is van Lukas, wat die storie van redding deur Jesus vertel soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome.  Die kerk is vir Hom die plek waar mense uit alle kulture welkom is (akkulturasie), maar ook deur die evangelie verander word (inkarnasie).  Vergelyk bv. Paulus in gesprek met die Epikureërs en Stoïsyne in Atene (Hand 17 – kyk by punt 3.3.2).

Lees hier meer oor die wyse waarop die Bybel as kanon tot stand gekom het.

Die boodskap van Markus

Written by Webmeester on January 25th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader).  Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.

Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek.  Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit.  Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God.  Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Interessant, die prentjie van die kerk wat ons in Markus kry, is dat dit die plek is waar grense oorgesteek word na gemarginaliseerdes.  Dit pas goed in die situasie van die vervolging in Rome in keiser Nero se tyd.

Ek steun hier onder andere op die uitstekende boek van Gordon D Fee en Douglas Stuart, How to Read the Bible Book by Book – A Guided Tour.  Uitgegee deur Zondervan, Grand Rapids, Michigan in 2002.

Die drie Sinoptiese evangelies

Written by Webmeester on January 22nd, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Vir ons leeswerk gee ek ook die volgende baie kort oorsig van die drie Sinoptiese evangelies.

Markus is een van die drie Sinoptici (sinopties = oorsigtelike, samevattende hantering [van die Griekse “saam-kyk”]).

Uit ‘n vergelyking van die drie sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas, is dit opvallend dat bykans alle gedeeltes in Markus ook in die ander twee evangelies, Matteus en Lukas voorkom.  Slegs drie gedeeltes kom net in Markus voor: 1) 1:1 – die Inleiding tot sy evangelie; 2) 4:26-29 – Die gelykenis van die saad wat vanself groei en 3) 8:22-26 – Jesus wat ‘n blinde man in Betsaida genees.

Matteus en Lukas het egter verskeie gedeeltes wat nie by Markus voorkom nie, die Bergrede bv.  Dit dui volgens geleerdes daarop dat Matteus en Lukas die evangelie van Markus gebruik het as basis-dokument vir hulle eie evangelies.  Markus is dus die oudste evangelie wat ons het.

Matteus en Lukas het ook ‘n tweede bron gebruik, wat blyk uit dié gedeeltes waarin hulle met mekaar ooreenstem (en nie by Markus geleen het nie), ‘n totaal van 62 perikope, wat deur geleerdes die (hipotetiese) Q- bron genoem word (Q is die afkorting vir die Duitse woord Quelle wat bron beteken).  Dit bevat interessant genoeg meesal uitsprake van Jesus, en omtrent geen genesings en wonderdade van Jesus nie, sowel as niks van sy konfrontasie met die Joodse leiers en uiteindelike dood en opstanding nie (Wie was Jesus regtig?, p 56).  Dit is egter redelik sinloos om die bron op grond van aanhalings en weglatings in sekondêre bronne (Matteus en Lukas) nouer te probeer omskryf.  Omdat die ooreenstemmende gedeeltes in Matteus en Lukas egter byna woordeliks ooreenstem, en daarby in dieselfde volgorde in die twee evangelies geplaas is, word wel aanvaar dat dié bron skriftelik was.

Lees hier meer oor die ontstaan van die Bybel.

Die vier evangelies se unieke Jesus-portrette

Written by Webmeester on January 21st, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Soos ek vroeër geskrywe het, gaan ons die evangelie van Markus deurlees in samehang met die ooreenstemmende gedeeltes in die ander evangelies.

Ek doen dit, omdat die vier evangelies van die NT aan ons ‘n verskeidenheid ryk perspektiewe gee op die wonder van God se verskyning in Jesus Christus aan die mensdom.  In die skakeringe van die een verhaal wat met ‘n verskeidenheid van nuanses en foci en beklemtonings deur die verskillende skrywers vertel word, nooi dit ons uit om saam te dink en saam te gesels oor die betekenis daarvan vir die lewe.

Want dit is natuurlik die doel van enige besigwees met die Woord – om só te lees dat die betekenis daarvan vir jou oopgaan en dit jou lewe kan verryk en verander.

Impak

Die impak hiervan is verreikend.  In die eerste plek verander dit ons eie lewe en bring dit ons in ‘n persoonlike verhouding met God en raak Hy ‘n daaglikse metgesel op ons pad.  Maar in die tweede plek het dit ‘n deurslaggewende impak op ons gemeenskapslewe met mekaar.  Soos Francois Wessels in sy lekkerlees akademies-verantwoorde en Andrew Murray-bekroonde boek sê:

Dit is juis in die saamdink wat die geheel saamhang, waarin die onderlinge verskille verduur word deur die “vashou-aan-mekaar, deur die hoog-ag-van-ander, deur saam-dra-aan-mekaar-se-laste, deur onderlinge vergifnis en versoening, deur eenheid as band van vrede te bewaar, en voortdurend afhanklik te bly bid en wag op die wyse leiding van die Heilige Gees – wat aan almal sáám gegee is” (2006, Wie was Jesus regtig? In gesprek … Oor die historiese Jesus.  Lux Verbi.BM: Wellington, p 8).

Só ‘n lees van die Woord keer ook dat ons ‘n Jesus in die evangelies probeer soek, gestroop van enige dogma, die sogenaamde “historiese Jesus”, soos deur sommige geleerdes sedert die Verligting van die 16de eeu probeer is (Reimarus, Lessing, Strauss, von Harnack) of om die evangelies ten minste te probeer stroop tot net Jesus se outentieke woorde oorbly (Jesus Seminar).

Elke evangelie gee ‘n eie Jesus-portret

Die Evangelies gee immers elkeen sy eie Jesus-portret (a.w. p 16) soos ons alreeds uit die unieke ordening van die beskikbare verhale en die nuanse verskille in die oorvertel van dié verhale in die 4 evangelies kan sien.  Die bergrede in Lukas en Matteus is bv. eerder ‘n opsomming van wat Jesus gesê het, as ‘n verbatim verslag van wat Hy gesê het.  Daarby beklemtoon Lukas bv. doelbewus die fisiese implikasie van wat Jesus gesê het: “Geseënd is julle wat arm is …” en Matteus die geestelike implikasie: “Geseënd is die arm van gees is …” wat saamhang met elkeen se onderskeie teologiese doelwit met die skryf van hulle evangelie.

Die evangelie van Johannes verskil die meeste van die ander drie sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas.  Waar die Sinoptici die gebeure rondom Jesus in die geskiedenis vasanker met datums en OT verwysings, vertel Johannes eerder die geestelike betekenis van Jesus se woorde en dade, om daarmee duidelik te maak dat dit God self is wat in Jesus mens geword het. Omdat hy sy evangelie ook ruim 20 jaar na die ander skrywe, bevat dit meer teologiese refleksie oor die betekenis van Jesus as die ander evangelies.

Maar, en dit is die wonder hiervan, dit is in die saamlees van al die verskillende perspektiewe en nuanses dat ‘n veelkleurige prentjie vorm aanneem, ‘n beeld van Jesus waarmee ons in gesprek kan tree, en met Wie ons op reis kan gaan.

En my hoop en wens en gebed vir die volgende paar weke, is dat dié Jesus in ons saamlees en saamgesels ons almal se reisgenoot sal word.

Bybelskool oor die evangelie van Markus

Written by Webmeester on January 12th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Die motto van hierdie Bybelskool

“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:

Om in die Woord te Woon.

My passie is om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.

Die evangelie van Markus

Die afgelope jaar of wat het ons nou al deur die Pentateug gewerk, die eerste 5 boeke van die Bybel; ons het die evangelie van Lukas saam met die Handelinge van die Apostels deurgelees, weer ‘n draai gemaak in die Ou Testament en Josua, Rigters en 1 en 2 Samuel (kyk na die vorige kwartaal se posts by die blog) deurgelees.

Hierdie kwartaal het ek gekies om die evangelie van Markus te neem en dit saam met julle deur te lees, maar op ‘n baie spesifieke manier.  Ek wil dit lees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kan uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.

Werkswyse

Ons gaan die evangelie van Markus in die volgende paar weke deurlees en telkens die tekste ook vergelyk met gedeeltes in die ander evangelies.

  • Markus 1:1-3:6 – Die Proloog en Deel 1: Bekendstelling – 28 Jan tot 3 Feb
  • Markus 3:7-6:6 – Deel 2: Impak op die skares, dissipels en teenstanders – 4 tot 10 Feb
  • Markus 6:7-8:21 – Deel 2: Vervolg – 11 tot 17 Feb
  • Markus 8:22-10:45 – Deel 3: Gefokusde aandag aan die dissipels – 18 tot 24 Feb
  • Markus 10:46-13:37 – Deel 4: Klimaks van die evangelie – 25 Feb tot 3 Maart
  • Markus 14:1-16:20 – Deel 4: Vervolg en Die Epiloog – 4 tot 11 Maart
  • Gedeeltes in die ander evangelies wat nie in Markus is nie, plus die Evangelie van Tomas – 12 tot 24 Maart

Ons kom elke Woensdag bymekaar om 18:30 in die konsistorie van NGK Somerstrand (Louis Bothasingel 77, Somerstrand, PE) vir ‘n uur gesprek oor ons leeswerk van die afgelope week.  Daar is net een Woensdag – 17 Maart – wat ons nie bymekaar kom nie:

  • 27 Januarie – Inleiding vir die Bybelskool
  • 3 Februarie – Markus 1:1-3:6
  • 10 Februarie – Markus 3:7-6:6
  • 17 Februarie – Markus 6:7-8:21
  • 24 Februarie – Markus 8:22-10:45
  • 3 Maart – Markus 10:46-13:37
  • 11 Maart – Markus 14:1-16:20
  • 24 Maart – Ander evangelies

Hulpmiddels

Ek gee vir julle die volgende hulpmiddels:

  • ‘n Lys van die perikope wat ooreenstem tussen Markus en die ander evangelies – daar is net 3 gedeeltes wat net in Markus voorkom.  Volledigheidshalwe gee ek ook ‘n lys van dié gedeeltes wat net in Markus en Matteus voorkom (13) en dié wat net in Markus en Lukas voorkom (2).  Dit is die primêre leesstof vir die Bybelskool.
  • ‘n Dokument wat dié Skrifgedeeltes parallel langs mekaar plaas, ter wille van ‘n makliker vergelyking.
  • ‘n Lys van die gedeeltes wat nie in Markus voorkom nie, maar wel 1) in Lukas en Matteus 2) net in Matteus, 3) net in Lukas, en 4) net in Johannes voorkom.  Julle gaan in die laaste 2 weke ‘n keuse hê watter van dié gedeeltes julle gaan lees.
  • Ek gee ook vir julle die Evangelie van Tomas waaroor ons in die laaste week gaan gesels.
  • ‘n Gesprekforum op hierdie blog by http://www.ngkerksomerstrand.co.za/blog waar ek elke weeksdag gaan skryf oor my eie lees van Markus in vergelyking met die ander evangelies. Julle kan dit lees vir meer inligting en ook julle vrae hier vra.  Ek kan dit ook per e-pos vir julle stuur.  Maar, ek sal dit veral waardeer as julle ook julle eie leeswerk hier as kommentaar – ook kommentaar op ons ander se leeswerk – sal skryf, sodat ons almal daarin kan deel en in die saamgesels ons eie Jesus-portret verryk kan word.

Enigiemand kan inskryf by die Bybelskool (kerkkantoor 041 5835115) en dit saam met ons bywoon op Woensdae.  Enige Internet gebruiker is natuurlik ook welkom om daagliks die blog posts te lees en kommentaar te lewer.  E-pos my by acv.vanwyk@gmail.com vir die onderskeie leeslyste en werk Markus saam met ons deur in die volgende paar weke.