Posts Tagged ‘Geloof’

Markus 9:2-29 – Vir die een wat glo, kan alles

Written by Webmeester on February 19th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Die driemanskap kry die voorreg om 6 dae (moontlik beïnvloed deur die feit dat Moses 6 dae in voorbereiding op die berg was -
Eks 24:15 – Lukas sê 8 dae wat moontlik meer histories korrek is) na die gesprek oor dissipelskap met Jesus op ‘n hoë berg (die Hermonberg noord van Seserea-Filippi en nie die Taborberg soos oorlewering dit het nie), heeltemal alleen, Jesus se verheerliking (letterlik: metamorfose) te ervaar.

Sy voorkoms en klere verander terwyl Elia (verteenwoordig die profete) en Moses (verteenwoordig die wet) met Hom in gesprek is (oor sy dood of “Uittog” soos Lukas dit vertel).  Sy Goddelikheid skyn deur sy menslikheid en laat ‘n mens dink aan Daniël 7:9 se “Ancient of days”.  Sommige geleerdes verbind dié twee ook met die twee getuies in Openbaring 11:3-12.

Petrus se verskrikte reaksie is om 3 hutte vir Elia, Moses en sy “rabbi” Jesus te probeer bou, maar as die wolk (aanduiding van God se teenwoordigheid – Eks 16:10) sy skaduwee oor hulle laat val, en die stem Jesus as God se geliefde Seun identifiseer, bly hulle agter met Jesus alleen, dié een na wie hulle moet luister.  Net Hy kan God se plan in werking stel.

‘n Mens kan ook nie anders as om te dink aan Hebreërs 12:2 waar die motivering vir Jesus se aanvaarding van die kruisdood en die skande daarvan aan die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was toegeskryf word.  Die verheerliking op die berg berei Hom en sy dissipels voor op die lydenspad wat hierna in intensiteit toeneem.

Die dissipels gehoorsaam Jesus se opdrag om hierdie gebeurtenis geheim te hou tot na sy dood, hoewel hulle oor die betekenis hiervan bly gesels het.  Op hulle vraag oor Elia wat eers moes kom (Mal 4:5), wat in die lig van die gebeure op die berg in betekenis vir hulle toegeneem het, antwoord Jesus dat Elia al gekom het (Matteus verbind dit eksplisiet aan Johannes die Doper).  Hy het net soos Elia – onder die hand van die swak koning Agab en sluwe koningin Isebel – gely onder die hand van die swak Herodes en die sluwe Herodias.

Terug by die ander dissipels is daar ‘n menigte mense en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer oor ‘n besete seun, wat volgens die simptome as  ‘n vorm van erge epilepsie presenteer, wat hulle nie kon genees nie.  Let op hoe verras die skare is oor Jesus se verskyning.  Sommige dink dat sy klere miskien nog geskyn het, soos Moses na hy van die berg af gekom het.

Die pa van die seun tree dan met Jesus in gesprek om te verduidelik, waarop Jesus ontsteld word oor die ongeloof wat steeds vaardig is onder sy dissipels.  Op die smekende versoek van die man dryf Jesus die onrein gees uit die seun, nadat die man sy mate van geloof eerlik bely het: “Ek glo.  Help my in my ongeloof.”  Daarmee help Jesus eintlik beide die pa en die seun, die een in sy gebrekkige geloof, die ander met sy siekte.

Toe hulle weer alleen was, het Jesus die dissipels se verwarring oor hulle onvermoë om iets vir die seun te doen, beantwoord deur te sê: “Hierdie goed kan deur niks anders as gebed uitgedrywe word nie.”  Dit beteken, net God kan gevra word om só iets te doen.  Ongeloof en ‘n gebrek aan gebed lei onvermydelik tot geestelike swakheid en oneffektiwiteit.

Matteus en Lukas

Matteus en Lukas vertel beide die verhaal op die berg langer as Markus.  Die detail verskil hier en daar, maar kom in breë trekke ooreen.  Matteus voeg by dat God oor sy Seun sê dat Hy Hom oor Hom verheug, en Lukas dat Hy sy Seun uitverkies het.  Lukas wy kortliks uit oor die gesprek tussen Jesus en die 2 OT figure, terwyl die dissipels aan die slaap was.

Matteus vertel soos Markus van die gesprek tussen Jesus en die 3 dissipels soos hulle die berg afgekom het, en identifiseer Johannes die Doper as die Elia wat moes kom. Lukas volstaan met ‘n enkele sin daaroor as deel van die gebeure op die Berg van Verheerliking.

Matteus en Lukas verkort beide die verhaal van die besete seun, met kleiner detail verskille: in Matteus word die seun as geestelik versteurd beskryf, en in Lukas roep die man uit die skare uit voor hy in gesprek met Jesus gaan.  Matteus voeg ‘n insiggewende beeld by om die dissipels se ongeloof te ontbloot: “As julle maar net geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie … Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Dit tref my baie diep.  Dié week is ek gekonfronteer met baie negatiewe goed wat met mense om my gebeur het: ‘n verkragting, iemand wat 45% brandwonde opgedoen het, iemand wat op die punt staan om alles te verloor en gesekwestreer te word, ‘n huisgesin waar die dogter ‘n ernstige operasie moet ondergaan vir geskeurde ligamente wat haar sportloopbaan kan kelder en ‘n garagedeur duisende Rande se skade aan ‘n splinternuwe geleende motor aangerig het toe dit losgeskeur en op die kar geval het (hulle het dit vir iemand anders gestoor).  En die vraag in my hart is, met watter geloof (en gebed) gaan ek dit tegemoet?  Wat vra hierdie verhale van my in my eie situasie?  Is my geloof nie ook soos die dissipels uiteindelik kleiner as ‘n mosterdsaadjie nie?  En ek luister weereens na Jesus se antwoord aan die pa van die seun:

“Vir die een wat glo, kan alles.”

En ek antwoord Hom net soos die pa:

“Ek glo.  Help my in my ongeloof.”

Na ek verder hieroor gebid het, weet ek, daar is twee goed wat ek kan doen: ek kan vir hulle vra hoe ek moet bid (soos Jesus vir sy dissipels ook leer), en ek kan ondersteun waar ek die vermoë het.  Die antwoorde en uitkomste sal van God af kom.

Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense

Written by Webmeester on February 16th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Jesus is nog steeds besig om stilte te probeer opsoek, soos net te vore in Betsaida.  Hier soek Hy dit in die noordoostelike gebied van Tirus, wat so 25 km van Kapernaum af begin het, die enigste keer dat hy die Joodse gebied heeltemal verlaat het.  Interessant genoeg word die dissipels nie hier en in die volgende verhaal in Dekapolis eksplisiet genoem nie, hoewel Matteus dit wel doen.

Jesus gaan bly in ‘n “heidense” huis waarmee hy verder demonstreer dat Hy ernstig is oor die lering wat Hy oor rein/onrein gegee het.  Nie net alle kos is rein nie, maar ook alle nasies!  Vergelyk bv. Petrus se toespraak aan Kornelius waar hy verduidelik dat Jode nie in heidene se huise mag kom nie, ‘n idee wat hy eers laat vaar het op grond van die visioen wat God hom gegee het (Hand 10:28).

‘n Griekse vrou van Siro-Fenicië het egter gou van Hom te hore gekry en vra dat Hy ‘n bose (letterlik onrein!) gees uit haar dogtertjie dryf.  Jesus wys eers haar versoek af met beeldspraak (heidene is honde genoem, maar Jesus versag dit na hondjies), maar dan troef sy Hom met haar eie beeldspraak.  Let op hoe die tema van brood, wat al by Jaïrus se dogtertjie wat iets te ete moes kry na haar opwekking uit die dood, steeds die gedeeltes aan mekaar bind. Let ook op dat sy Jesus as Here aanspreek, wat ‘n ongelooflike belydenis in haar mond is.

Jesus genees dan haar dogtertjie op grond van wat sy gesê het (letterlik: op grond van hierdie logos), een van die min afstand-genesings, waarmee Jesus haar geloof en vertroue in Hom bedoel.  Sy staan dus in sterk kontras met die onbegrip nie net van die skares nie, maar ook van die dissipels.  En haar verhaal gee ‘n rasionaal aan die latere beweging van die kerk oor sosiale en godsdiens grense – soos Jesus, so ook die kerk.

Jesus keer hiervandaan af terug na Dekapolis, die gebied waar Legio verlos is.  Volgens sommige geleerdes lyk dit asof Hy Galilea vermy deurdat Hy via Sidon reis (‘n mens wonder oor die rede?) terwyl ander geleerdes dink dat dit nie sin maak nie, en moontlik aan se Markus se gebrekkige kennis van die gebied noord van Israel toe te skryf is.

Hoe dit ook al sy, Jesus genees daar onder andere ‘n dowe man (waarskynlik nie doof gebore nie, anders sou hy heel moontlik glad nie kon praat nie), wat deur mense (vriende?) na Hom gebring is (vergelyk die verlamde man se storie – een kommentaar noem dit “intercessory faith”), deur Hom hande op te lê, sy vingers in sy ore te steek, Sy spoeg (sommige het gedink daar is genesende krag in spoeg) aan die man se tong te smeer en ‘n hemelwaartse sug te gee, in Hebreeus (sommige sê Aramees, hoewel die woord nêrens anders só in Aramees voorkom nie) Effata (gaan oop) uit te roep, en sy gebrek te genees (Jesaja 35:5-6 gaan hier in vervulling).  Dit is ‘n baie intieme betrokkenheid van Jesus by die man, wat wys hoe intens Jesus by mense betrokke geraak het.  Dit roer my eie hart:

Hoe intiem en intens is my eie betrokkenheid by mense?

Die reaksie is ongelooflik: “Alles wat Hy doen, is goed,” heel moontlik voorberei deur die getuienis van Legio.  Interessant genoeg word die man nie aangeraai om oral te getuig soos Legio nie, heel moontlik omdat Hy reeds oorbekend was en dit vir Hom moeilik gemaak het om in die openbaar op te tree, iets wat nie nodig was met sy eerste besoek aan die Dekapolis nie.

Die tema van brood word voortgesit met die tweede vermeerdering van die brood, in oorwegend heidense gebied, weereens in die konteks van die onbegrip van die dissipels wat nou weer eksplisiet genoem word.  Hulle verstaan nog steeds nie dat Jesus God is en sy mag wil gebruik tot voordeel van mense wat behoefte het, omdat Hy hulle innig jammer kry nie.  Hierdie keer voed 7 brode (en ‘n paar vissies) 4000 mense en bly daar 7 mandjies (die woord spiridas wat hier gebruik word, dui ‘n groter mandjie aan – vgl Hand 9:25) oor. Die verskille met die eerste broodvermeerdering is te groot dat die twee geleenthede as een verhaal beskou kan word, soos sommige geleerdes doen: die getalle verskil, die woord vir mandjies verskil en Jesus self verwys net hierna in ‘n gesprek met die dissipels na twee geleenthede.

Hulle vertrek na Dalmanuta toe, waarskynlik in die omgewing van Magadan, hoewel niemand die dorpie tot nog kon eien nie.

Matteus

Lukas vertel nie enige van hierdie drie gebeure nie.

Matteus beskryf die vrou as ‘n Kanaänitiese vrou in die gebied van Tirus en Sidon.  Sommige geleerdes dink dat sy Kanaänities was, maar die Griekse taal en kultuur aangeneem het.  Grieks kon ook in die algemeen gebruik word om iemand as nie-Jood aan te dui (Geullich).  Interessant genoeg noem sy Hom die Seun van Dawid, iets wat vir die Joodse lesers van Matteus se evangelie sin sou gemaak het.  Hy vermeld wel dat die dissipels daar is en betrokke raak in die gesprek, maar op ‘n negatiewe manier.  Hulle wil haar wegstuur.  Jesus gooi dan sy aanvanklike weiering eksplisiet oor die boeg daarvan dat Hy net na Israel gestuur is en koppel die beeldspraak van die brood daaraan.

Interessant is dat die vrou sy beeldspraak dan ‘n ekstra detail bykry, waar sy praat van die hondjies wat van hulle base se kos eet.  Sy impliseer dus dat sy in ‘n ondergeskikte posisie ten opsigte van Israel is, hoewel ‘n mens nie te veel van individuele aspekte van ‘n beeld moet maak nie.  Jesus verwys dan ook eksplisiet na haar geloof wat haar wens in vervulling laat gaan.

Die gedeelte in Matteus wat die naaste ooreenstem met dié van Markus is 15:29-31.  Dit kon heel moontlik ook ‘n ander gebeurtenis wees.  Indien dit ‘n ander gebeurtenis was, sou dit moontlik wees om Matteus (8:28-34) se vertelling van die verlossing van Legio, wat hy vertel as die genesing van 2 mans, te verstaan as ‘n sameflansing van Legio se verhaal met hierdie verhaal van Markus oor die genesing van die doofstomme.

Matteus vertel ook die verhaal van die tweede vermeerdering van die brood, ietwat korter, en met kleinere detail wat verskil.  Hierna vertel hy, anders as Markus, dat hulle na Magadan in die weste vertrek het.

Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie

Written by Webmeester on February 10th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Let weereens op hoe belangrik geloof is, of dan hier die gebrek aan geloof.  Waar Jesus die vrou en Jaïrus net tevore kon help, en hulle geloof ‘n rol daarin gespeel het, kan Jesus hier min uitrig, weens die gebrek aan geloof van sy tuisdorp se mense.  Die feit dat Hy aan hulle bekend was as kind beteken dat hulle Hom etiketteer en ignoreer, tot hulle ewige skade.  Selfs sy familiekring en gesin wou nie op dié stadium in Hom glo nie.

Interessant dat die dorpie nie by sy naam Nasaret genoem word nie.

Matteus en Lukas

Matteus plaas die verhaal weereens in ‘n ander situasie, na ‘n aantal gelykenisse wat Jesus vertel het.  Lukas doen dieselfde, maar plaas die verhaal reg aan die begin van Jesus se openbare bediening en brei op beduidende wyse uit op Markus se verhaal.  Hy gebruik die verhaal van Jesaja as invalshoek vir Jesus se aanvangsbediening, hoewel hy ook verwys na sy vorige bediening in Kapernaum, wat dit verseker nie sy eerste openbare optrede maak nie.  En Lukas gee ‘n goeie sinopsis van die res van Jesus se prediking waarin uitvoerig na OT verhale verwys word.

Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!

Written by Webmeester on February 10th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Dit tref my hoe belangrik geloof en vertroue in Jesus is in die twee verweefde verhale van die raadslid, Jaïrus, van die sinagoge (heel waarskynlik van Kapernaum), en die vrou wat aan bloedvloeiing (vgl Levitikus 15:25–30 vir ‘n beskrywing – sy was ‘n sosiale uitgeworpene, omdat sy voortdurend onrein was) gely het.  Die vrou se geloof wentel om die aanraking van Jesus, en word inderdaad daardeur genees.  Die man se vertroue lê in die feit dat hy aanhou glo, al is sy dogtertjie al dood, soos Jesus Hom aanraai:

“Bly maar net glo!”

Jaïrus se naam beteken onder andere “hy staan op” wat moontlik simboliese betekenis kon hê.  Dit is ook interessant dat die vrou 12 jaar gely het aan ‘n volwasse vroue siekte, en dat die dogtertjie 12 jaar oud was en op die rand van volwassewording gestaan het.  Die ooreenkoms van hierdie wonderwerk met soortgelyke gebeure in die lewe van Elia (1 Kon 17) en Elisa (2 Kon 4) is ook merkwaardig.

Let op hoe drie dissipels genoem word, Petrus, en die twee broers, Jakobus en Johannes, wat ‘n soort binnekring van die dissipels vorm en hier toegelaat word om die opwekkingswonder te ervaar.  Hulle is ook die enigste wat teenwoordig is op die berg van verheerliking waar Moses en Elia aan Jesus verskyn.

Matteus en Lukas

Matteus plaas die verhaal direk na die gesprek oor die vastyd (Mark 2:18-22) en vermeld dat die dogtertjie al dood was toe Jaïrus met Jesus begin praat het.  Hoewel hy die verhaal met ‘n ekonomie van woorde vertel, gee hy tog ‘n ekstra stukkie detail oor die fluitspelers by die huis.  Hy vertel nie van die drie dissipels wat saam met Jesus daar was nie.

Lukas plaas die verhaal ook soos Markus na die gebeure met Legio, en volg die orde en detail van Markus se verhaal met kleiner wysigings, soos deur die vraag oor wie Jesus aangeraak het in die mond van Petrus te plaas.

Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie?

Written by Webmeester on February 9th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Die eerste twee perikope vandag is baie bekend.  1) Die mosterdsaadjie is spreekwoordelik die kleinste groentesaad, maar word ‘n boom wat tot 3 meter hoog groei (vgl Eseg 31:6 wat ‘n soortgelyke beeld gebruik vir die koninkryk van die Assiriërs).  Só is die koninkryk van God – dit begin klein, maar word ‘n groot gemeenskap wat baie mense insluit. 2) Die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse maak die punt dat persoonlike onderrig noodsaaklik was vir ware begrip.  Daarom dat Jesus soveel tyd alleen met die dissipels spandeer het.

Die volgende perikoop is die eerste van vier wonderverhale van Jesus: die stilmaak van die storm, die genesing van die besetene, die genesing van die vrou, en die genesing van Jaïrus se dogtertjie.

Wat my aanspreek in die verhaal van die storm op die see, is die vraag van Jesus aan die dissipels, wanneer Hy die storm stilmaak: “Waarom is julle bang?  Het julle dan nie geloof nie?” (vers 40).  Dit wil voorkom asof die dissipels, ten spyte van al die wonderwerke wat Jesus al gedoen het, nog steeds vir Jesus onderskat het, en nie rekening gehou het met Wie Hy is, en wat Hy kan doen nie.  Hoe ironies!  Hy is immers die God waarvan die Psalms sê, dat Hy die golwe van die see kan laat bedaar (Ps 65:8; 89:10).

Dit laat my wonder oor myself – of ek nie baie keer aan dieselfde onderskattingsindroom ly nie! In Jesus is ek immers in die teenwoordigheid van God self!  Dit is die basis waarop my gebede moet berus.  En dit is die basis vanwaar ek my roeping moet uitvoer.  God is aan die werk in die lewe, selfs in die wind en die weer.

Let op hoe die dissipels se vrees (in Grieks deilos) vir die storm verander in ‘n vrees (in Grieks phobeô – ontsag) vir Jesus, Hy vir wie selfs die wind en die see moet luister.  Daarmee roep Jesus ons almal op om (paradoksaal) vreesloos op Hom te vertrou, vanuit ons ontsag vir Hom.

Ekstra inligting: Die See van Galilea is 18 x 9 km groot, en omdat dit 210 m laer as seevlak lê, en daar heelwat berge en klowe daar rondom is, bekend vir sy winde wat skielik opsteek en sterk kan waai.

Ekstra leeswerk: Lees Jona 1 en vergelyk Jona se slapery (1:5) met Jesus s’n.  Wat is die ooreenkomste en wat die verskille?  Jesus slaap in vertroue en sekerheid en Jona in ontvlugting en vertwyfeling.  Jesus word ook verwyt soos Jona vir hulle slapery, maar waar Jona gevra word om te bid, bestraf Jesus egter self die wind en die see (in dieselfde taal as wat hy met die duiwels gehandel het – bv. 1:25).  Die parallel wys dat Jesus groter is as Jona (vgl Matt 12:41), dat Hy God self is.

Ander evangelies

Matteus en Lukas verkort Markus se weergawe van die gelykenis van die mosterdsaadjie, maar voeg daaraan toe die gelykenis van die suurdeeg.  Lukas laat die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse weg, terwyl Matteus interessant genoeg Psalm 78:2 van Asaf (hy noem hom ‘n profeet) aanhaal om die punt van die mededeling nog verder te onderstreep, dat God gelykenisse gebruik as Hy praat, en dat Hy geheime op die manier bekend maak.

Beide Matteus en Lukas gee die verhaal van die storm wat stilgemaak word in hulle eie woorde weer.  Die dissipels se vrees word bv. nie as verwyte vertel, soos Markus se weergawe nie, maar die breë lyne van die verhaal bly dieselfde: die vaart op die see, die storm, Jesus wat slaap, hulle vrees, Jesus wat wakker gemaak word en die storm stilmaak, sy vraag na hulle geloof en hulle verbasing en verwondering oor Wie Hy is.

Markus 2:1-12 – geloof word in gedrag uitgedruk

Written by Webmeester on February 2nd, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Ek sit my leeswerk voort as ‘n Speurder:

  • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
  • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
  • Wat nou (aksie, met wie)?

In vyf tonele van 2:1-3:6 word Jesus se bediening verder beskryf.  Let op hoe die teenstand van die godsdienstige leiers telkens daarmee gekontrasteer word.

Toneel 1: Jesus genees ‘n verlamde man

In die eerste toneel praat Jesus weereens oor sy boodskap (logos) met die skare wat by sy huis (waarskynlik Petrus s’n)  in Kapernaüm saamdrom.  Let op hoe Jesus se eerste reaksie op die geloof van die vriende van die verlamde man is om sy sondes te vergewe.  Dit is eers as die skrifgeleerdes sy vermoë om sondes te vergewe bevraagteken dat Hy die verlamde man genees as bewys daarvan.  Dit wys onomwonde dat vergifnis en genesing eintlik een saak is vir God, die koms van sy koninkryk wat alles verander.

Dit is hartseer dat hierdie Godsbewys die skrifgeleerdes egter ook nie tot geloof beweeg nie, soos ook die geval was met die genesing van die melaatse.  Tog praat Jesus steeds in taal wat hulle sou kon verstaan – as hulle die moeite wou doen – deur na Homself te verwys as die “Seun van die mens” (vgl Dan 7:13 waar Hy wat ewig lewe die koninkryk aan die seun van die mens oorhandig om oor alles te regeer – Jesus doen dit 14 keer in Markus, bv. Mark 2:10,28; 14:41,62).

Dit is ook insiggewend dat die geloof van die vier vriende gewys word deur hulle optrede om die verlamde man deur die dak by Jesus uit te bring.  In die genesingsverhale van Markus word geloof meesal verbind met een of ander optrede of aksie om by Jesus uit te kom, soos Geulich sê:

“Faith denoted an attitude expressed in conduct.”

My geloof moet ook in my gedrag uitgedruk word!

Matteus en Lukas

Matteus vertel net die buitelyne van die verhaal, terwyl Lukas uitbrei oor die skrifgeleerdes, veral van waar hulle orals gekom het.  In Lukas se weergawe prys die man ook God.

Markus 1:40-45 – “Ek wil. Word gesond.”

Written by Webmeester on February 2nd, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Ek lees steeds soos ‘n kunstenaar:

  • Wat tref my?
  • Watter nuwe gedagtes kry ek?
  • Wat moet ek daarmee doen?

Markus

Dit tref my hoe die smeking van die melaatse man die deernis van Jesus ontlok – let op hoe Hy vat aan die man – en Hy hom genees; ook die geloof van die melaatse man wat volledig aanvaar dat Jesus kan genees – Hy moet net wil, in sy verstaan daarvan.  Hoe pragtig ontmoet Jesus hom nie op daardie punt deur te sê: “Ek wil.  Word gesond.”

Ek dink ons het nodig om weer te begin glo soos die melaatse.  Dit sal ons met oorgawe laat vra vir genesing totdat ons hoor wat Jesus wil.  Die feit dat Hy soms nee sê, moet ons nie by voorbaat kleingelowig laat nie. Guelich sê hieroor:

“By addressing Jesus at the level of his will rather than his ability, the supplicant believingly acknowledges that Jesus’ ability or power (δύνασαι) correlates with his will (σέλῃς). Thus, his request arises out of his confidence rather than doubt in Jesus’ ability to heal him.”

Dit is tragies dat die skrifgeleerdes en Fariseërs nie hulle eie tradisies geglo het nie.  Hulle het geglo dat net God melaatses kan genees – net Mirjam en Naäman is in die OT genees.  Maar hulle ignoreer hierdie onomwonde bewys dat Jesus doen wat net God kan doen, en dus God moet wees.  Jesus toon respek vir die tradisies van die Jode deur die melaatse na die priesters te stuur vir die reiningingshandeling, maar word verguis deur die Joodse leiers ten spyte van die duidelike getuienis dat God teenwoordig is in Sy werk.

Ek besef dat ek ook maklik in dieselfde strik van die Fariseërs kan val, deur een ding teoreties te bely, maar in die praktyk ‘n ander uit te leef.  God kan vandag nog genees.  En ek wil met net soveel kinderlike vertroue soos die melaatse man vir die Here sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

Die ander evangelies

Matteus (8:1-4) plaas die verhaal aan die begin van ‘n reeks genesingsverhale, maar vertel nie die gevolg van die man se “verbode” getuienis nie, soos wel die geval is in Markus en Lukas (5:12-16).  Interessant dat Lukas Jesus se reaksie op die toestroming na Hom as gevolg van die nuus wat oor Hom versprei is, beskryf as ‘n opsoek van stilte en afsondering saam met gebed.  Dit leer my dat effektiewe bediening altyd met stilte en afsondering en gebed gekombineer moet word.