Posts Tagged ‘Genesing’
Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers
Ek lees verder soos ‘n Speurder
- Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
- Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
- Wat nou (aksie, met wie)?
In drie verdere tonele (laaste van vyf – vorige twee in 2:1-17) neem die teenstand van die Fariseërs teen die werk van Jesus só toe, dat hulle saam met die Herodiane beplan om Jesus dood te maak.
Toneel 3: Die gesprek oor die vastyd.
In die OT was daar aanvanklik net met die Groot Versoendag gevas (Lev 16:29) en met siekte en dood (1 Sam 31:13; 2 Sam 1:12). Na die ballingskap het die vastye begin toeneem (Sag 7:5; 8:19). Die Fariseërs het dit egter verder aangevul met ‘n vasdag twee keer ‘n week. Dat Jesus die dissipels bevry van hierdie benouende voorskrif wek egter weerstand by die Fariseërs. Jesus se verduideliking dat daar nie in sy teenwoordigheid – die beeld van Jesus as Bruidegom moes die Fariseërs aan die voorspelling van Hos 2:14-23 laat dink het, maar hulle mis dit! – gevas kan word nie, word aangevul met ‘n eerste verskuilde aankondiging van sy dood, waar ‘n vastyd weer sinvol sou wees (soos Johannes die Doper se vastyd ook sinvol was as voorbereiding vir die Bruidegom).
Met die twee metafore van materiaal vir klere en velsakke vir wyn verkondig Jesus onomwonde dat ‘n nuwe bedeling aangebreek het, en dat die ou manier van doen net nie meer pas by die koninkryk wat Hy kom vestig nie. Soos nuwe klere se inkrimping ou materiaal sal laat skeur, en nuwe wyn se gistingsproses die velsakke sal laat rek (en ou klaar-gerekte “verstokte” velsakke sal skeur), so nooi Jesus mense hiermee uit om die nuwe bedeling, d.w.s. Homself, te omarm en die oue agter te laat.
Matteus en Lukas
Matteus plaas die aanvanklike vraag in die mond van die dissipels van Johannes die Doper en Lukas, soos Markus, in die mond van die mense, hoewel aldrie na beide Johannes die Doper en die Fariseërs se vastye verwys. Lukas noem die twee metafore wat Jesus gebruik ‘n gelykenis. Albei Matteus en Lukas las ‘n verdere interpretasie aan die gedeelte, wat neerkom op ‘n waardering ook vir die oue, hoewel die onversoenbare tussen oud en nuut steeds gehandhaaf word. Lukas se laaste vers is as kritiek bedoel op die duidelik-wordende weerstand van die Fariseërs, soos Nolland dit parafraseer:
“I tell you that what I bring is like new wine in one respect; but I see that you will treat it as like new wine in quite a different respect, i.e., as inferior to the old wine.”
Toneel 4: Jesus is Here oor die sabbat.
Die Fariseërs se interpretasie dat are afpluk as oes vertolk kan word (Eks 34:21), was alreeds verkeerd. Jesus probeer egter met die voorbeeld van Dawid (1 Samuel 21), wat in sy vlug van Saul van die offerbrood by die priesters in Nob geeët het, die Fariseërs leer dat die funksie van die wet in ag geneem moet word in die uitvoering en interpretasie daarvan. Die wet is ter wille van die mens geskep en nie andersom nie. En die Here van die sabbat het die reg om te voorsien vir dié wat alles gelos het om Hom te volg.
Terloops: Agimelek was eintlik toe hoëpriester, maar Abjatar het hom hierna opgevolg en was die enigste oorlewende na Saul die priesters om die lewe gebring het vir hulle goeie daad.
Matteus en Lukas
Lukas verkort Markus se verhaal hier, maar Matteus brei daarop uit (een van die min kere wat hy dit doen). Jesus verwys in Matteus se weergawe, as steun vir sy standpunt, ook na die feit dat priesters op ‘n sabbatdag moes werk, en dat dit deel van die wet was. Hy verwyt ook die Fariseërs dat hulle ‘n onbarmhartige gesindheid ten toon stel teenoor onskuldige mense, die dissipels. Dit wys duidelik hoe onbarmhartig ‘n onbuigsame hantering van die wet in die praktyk gebruik kan word.
Toneel 5: Jesus genees die man met die gebreklike hand
Hoe ironies dat Jesus voor die genesing van die man met die gebreklike hand op ‘n sabbat die vraag vra, mag ‘n mens goed doen of kwaad doen, of red of doodmaak op die sabbat … en die Fariseërs direk na die genesing uitloop om Jesus kwaad aan te doen, en te beplan om Hom dood te maak, saam met die Herodiane … op ‘n sabbatdag! Doodmaak was immers verkeerd volgens die wet … sewe dae ‘n week.
Geen wonder dat Jesus se emosies hoog geloop het, dat Hy kwaad en bedroef tegelykertyd was!
Die Herodiane was politieke aanhangers van Herodes Antipas, viervors van Galilea, seun van die Herodes waarvan ons lees by Jesus se geboorte. Gewoonlik was die twee groepe vyande, tot op hierdie dag …
Matteus en Lukas
Matteus brei weereens die gedeelte uit met ‘n verwysing na ‘n alledaagse voorbeeld dat ‘n mens op die sabbatdag tog ‘n skaap uit ‘n sloot sal red, hoeveel te meer nie ‘n mens nie, maar laat die verwysing na die Herodiane weg, soos ook in Lukas. Lukas weer noem die skrifgeleerdes saam met die Fariseërs, maar beskryf interessant genoeg die teenstanders as “rasend van woede”, en nie Jesus nie. Hy herformuleer Markus se weergawe dus heeltemal.
Markus 2:1-12 – geloof word in gedrag uitgedruk
Ek sit my leeswerk voort as ‘n Speurder:
- Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
- Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
- Wat nou (aksie, met wie)?
In vyf tonele van 2:1-3:6 word Jesus se bediening verder beskryf. Let op hoe die teenstand van die godsdienstige leiers telkens daarmee gekontrasteer word.
Toneel 1: Jesus genees ‘n verlamde man
In die eerste toneel praat Jesus weereens oor sy boodskap (logos) met die skare wat by sy huis (waarskynlik Petrus s’n) in Kapernaüm saamdrom. Let op hoe Jesus se eerste reaksie op die geloof van die vriende van die verlamde man is om sy sondes te vergewe. Dit is eers as die skrifgeleerdes sy vermoë om sondes te vergewe bevraagteken dat Hy die verlamde man genees as bewys daarvan. Dit wys onomwonde dat vergifnis en genesing eintlik een saak is vir God, die koms van sy koninkryk wat alles verander.
Dit is hartseer dat hierdie Godsbewys die skrifgeleerdes egter ook nie tot geloof beweeg nie, soos ook die geval was met die genesing van die melaatse. Tog praat Jesus steeds in taal wat hulle sou kon verstaan – as hulle die moeite wou doen – deur na Homself te verwys as die “Seun van die mens” (vgl Dan 7:13 waar Hy wat ewig lewe die koninkryk aan die seun van die mens oorhandig om oor alles te regeer – Jesus doen dit 14 keer in Markus, bv. Mark 2:10,28; 14:41,62).
Dit is ook insiggewend dat die geloof van die vier vriende gewys word deur hulle optrede om die verlamde man deur die dak by Jesus uit te bring. In die genesingsverhale van Markus word geloof meesal verbind met een of ander optrede of aksie om by Jesus uit te kom, soos Geulich sê:
“Faith denoted an attitude expressed in conduct.”
My geloof moet ook in my gedrag uitgedruk word!
Matteus en Lukas
Matteus vertel net die buitelyne van die verhaal, terwyl Lukas uitbrei oor die skrifgeleerdes, veral van waar hulle orals gekom het. In Lukas se weergawe prys die man ook God.
Markus 1:40-45 – “Ek wil. Word gesond.”
Ek lees steeds soos ‘n kunstenaar:
- Wat tref my?
- Watter nuwe gedagtes kry ek?
- Wat moet ek daarmee doen?
Markus
Dit tref my hoe die smeking van die melaatse man die deernis van Jesus ontlok – let op hoe Hy vat aan die man – en Hy hom genees; ook die geloof van die melaatse man wat volledig aanvaar dat Jesus kan genees – Hy moet net wil, in sy verstaan daarvan. Hoe pragtig ontmoet Jesus hom nie op daardie punt deur te sê: “Ek wil. Word gesond.”
Ek dink ons het nodig om weer te begin glo soos die melaatse. Dit sal ons met oorgawe laat vra vir genesing totdat ons hoor wat Jesus wil. Die feit dat Hy soms nee sê, moet ons nie by voorbaat kleingelowig laat nie. Guelich sê hieroor:
“By addressing Jesus at the level of his will rather than his ability, the supplicant believingly acknowledges that Jesus’ ability or power (δύνασαι) correlates with his will (σέλῃς). Thus, his request arises out of his confidence rather than doubt in Jesus’ ability to heal him.”
Dit is tragies dat die skrifgeleerdes en Fariseërs nie hulle eie tradisies geglo het nie. Hulle het geglo dat net God melaatses kan genees – net Mirjam en Naäman is in die OT genees. Maar hulle ignoreer hierdie onomwonde bewys dat Jesus doen wat net God kan doen, en dus God moet wees. Jesus toon respek vir die tradisies van die Jode deur die melaatse na die priesters te stuur vir die reiningingshandeling, maar word verguis deur die Joodse leiers ten spyte van die duidelike getuienis dat God teenwoordig is in Sy werk.
Ek besef dat ek ook maklik in dieselfde strik van die Fariseërs kan val, deur een ding teoreties te bely, maar in die praktyk ‘n ander uit te leef. God kan vandag nog genees. En ek wil met net soveel kinderlike vertroue soos die melaatse man vir die Here sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”
Die ander evangelies
Matteus (8:1-4) plaas die verhaal aan die begin van ‘n reeks genesingsverhale, maar vertel nie die gevolg van die man se “verbode” getuienis nie, soos wel die geval is in Markus en Lukas (5:12-16). Interessant dat Lukas Jesus se reaksie op die toestroming na Hom as gevolg van die nuus wat oor Hom versprei is, beskryf as ‘n opsoek van stilte en afsondering saam met gebed. Dit leer my dat effektiewe bediening altyd met stilte en afsondering en gebed gekombineer moet word.
Markus 1:32-39 – Die bediening draai om God, nie om die vrugte daarvan nie
Ek gaan voort om te lees, maar hierdie keer soos ‘n kunstenaar:
- Wat tref my?
- Watter nuwe gedagtes kry ek?
- Wat moet ek daarmee doen?
Markus
Let op dat die son al onder was, dws dat die sabbat verby was, voordat die skare mense die siekes en dié wat in die mag van duiwels was, na Jesus gebring het. Hulle wou die teenstand van die Fariseërs vermy wat binnekort sou uitbars weens Jesus se genesings op die sabbat (2:23-3:6). Siekte word duidelik van duiwelbesetenheid (unieke uitdrukking wat net verder in 5:15-18 voorkom) onderskei.
Reg van die begin van Jesus se bediening word die duiwels (1:25, 34) stilgemaak en ook mense wat genees is (1:44) verbied om publiek daaroor te praat (selfs die dissipels word op ‘n punt belet om te praat – 8:30). Die rede word in 1:45 gegee – die oomblik toe Jesus se bediening te bekend geraak het, was dit moeiliker om openlik in ‘n dorp te bedien, veral omdat die skare Hom eerder volg weens die wonderwerke as weens sy prediking en boodskap. Die teoloog Wrede het dit die Markus Messiaanse geheim genoem.
Jesus se bediening was ingebed in sy gebedsverhouding met God (vgl. ook 6:46 – op die berg; 14:32-42 – in Getsemane). Let op hoe dit juis na sy gebed is, wat Hy weier om verdere genesings in Kapernaum te doen, want sy missie is om te preek: “want daarvoor het Ek gekom”. Die wonders is afhanklik van die prediking, en nie andersom nie.
Dit tref my – die bediening is nie ‘n selfvervullende beroep nie. Dit het net sin as dit ingebed is in ‘n (gebeds)-verhouding met God. Die bekende gesegde spreek my net weer aan: Besig met die dinge van God, maar nie besig met die God van die dinge nie. Ek wil vandag tyd spandeer met God, my bediening deurbid, en herfokus op wat Hy op my hart lê.
Ander evangelies
Nog genesings en voortgaande prediking
Matteus (8:16-17; 4:23) voeg ‘n aanhaling uit Jesaja 53:4 by in sy weergawe as verduideliking waarom Jesus die siekes genees en die duiwels uitdryf: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.” Hy plaas die bediening ook in ‘n wyer prentjie as ‘n bediening wat vanuit sinagoges sy impak gehad het regdeur Galilea. Lukas (4:40-44) verwoord dit op sy eie manier, deur bv. die individuele hantering van elke sieke te beklemtoon. Interessant dat die duiwels weet wie Jesus is, en dat mense dit so moeilik, ten spyte van sy prediking en wonderwerke, agterkom!
