Posts Tagged ‘luister’
Markus 4:13-29 – om reg te hoor, bepaal jou hele lewe
Markus
Jesus se retoriese vraag aan die dissipels en gevolglike verduideliking van die gelykenis van die Saad is belangrik om twee redes:
- Dit gebruik die dissipels se onbegrip as ‘n voorbeeld vir die lesers van die evangelie (ook ons!) om hulle aan te moedig om regtig te luister, soos net hierna met die voorbeeld van die lamp verder geïllustreer gaan word; en
- Dit identifiseer hierdie gelykenis as ‘n sleutel om ook die ander gelykenisse te verstaan wat oor die koninkryk handel.
Dit tref my dat hierdie deel van Markus se evangelie van 3:20 af tot 4:25 met die regte manier van luister te make het. Luister is die primêre houding of ingesteldheid van ‘n dissipel van Jesus:
“Gee aandag aan wat julle hoor!” (vers 24)
Let op hoe die gelykenis beweeg van:
- Die mense by wie daar soos op ‘n pad gesaai word en nooit die Woord regtig hoor nie, na
- Dié wat die Woord wel hoor, maar swig onder eksterne druk, en die Woord nie laat wortelskiet nie, na
- Dié wat ook die Woord hoor, maar swig onder interne druk, begeertes wat hulle harte gevange hou, en die Woord verstik.
Goeie grond (volgelinge van Jesus) luister EN aanvaar egter die Woord (logos) voortdurend (die teenwoordige tyd van die werkwoord word gebruik wat ‘n konstante voortgaande luister impliseer) , kies doelbewus om nie sporadies of oppervlakkig te hoor nie, maar gereeld en diep, sodat die Woord wortel skiet; waak daarteen dat die interne sorge (angstigheid) van die lewe en die verleiding (misleiding!) van die rykdom en die begeertes na allerhande dinge die Woord verstik en die vrug belemmer.
Maar die krag wat die dissipels, en ook my, verander lê steeds in die saad – die Woord – en die saaier – Jesus. Die voorbeeld van die lamp (simbool van die teenwoordigheid van die koninkryk in Jesus) op die staander in 4:21-25, sowel as die gelykenis van die saad wat vanself groei en vrug dra (die sekel insteek by die oestyd laat ‘n mens in hierdie koninkrykskonteks dink aan die oordeelsdag – Joël 3:13) in 4:26-29 (wat net in Markus vertel word) onderstreep dit. ‘n Ontvanklike luister laat net toe dat die Woord wortelskiet en Jesus sy vrugdraende werk doen.
Die klem op die saad wat vanself groei, is vir my in die bediening ‘n groot stuk troos: die krag lê nie in my werk opgesluit nie, maar in die Een wat my stuur!
Die belang van luister word daarmee saam egter ook onderstreep met die interessante verduideliking: “met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word” (vers 24). As die dissipels (en ons) met ‘n groot maat luister, sal ‘n groot maat vrug die gevolg wees. En dié wat het, sal meer kry (vgl Spr 1:5; 9:9), en dié wat nie het nie, van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, weggeneem word (vgl ook Matt 25:29; Luk 19:26 vir dieselfde gedagterigting).
Die ander evangelies
Matteus maak die gelykenis meer persoonlik (man in plaas van mense), wyt die nie-hoor van die Woord aan ‘n gebrek aan begrip (“dit nie verstaan nie”) waarna die Bose dit wegneem, laat die begeertes na allerhande dinge weg as tekening van die interne druk wat die Woord verstik, en koppel die regte hoor van die Woord aan die regte begrip, eerder as aan die aanvaarding daarvan soos die geval is in Markus. Die vrug word ook in omgekeerde volgorde genoem: 100-voudig, 60-voudig en 30-voudig. Hy gebruik ook nie die voorbeeld van die lamp nie, maar behou die uitdrukking van Jesus oor dié wat het en dié wat nie het nie.
Lukas weer verklaar hoekom die duiwel (Satan in Markus en Bose in Matteus) die Woord wegneem, “sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie,” (wat nogal ooreenkom met God se bedoeling soos in Jesaja 6 uitgespel word – die duiwel tree dus as instrument op?), wyt die gebrek aan wortel skiet aan ‘n korstondige geloof, wat as dit op die proef gestel word, moed opgee (terloops: dit is darem ‘n baie belangrike insig!), en brei uit op die goeie grond se vrugbaarheid deur dit te wyt aan die luister met ‘n goeie en opregte hart, die bewaring van die Woord en volharding in die luister en vrugdra.
Die onderlinge verskille kan waarskynlik aan die mondelinge tradisie toegeskryf word, sowel as aan die unieke perspektiewe wat die onderskeie skrywers wou uitlig.
Interessant is dat die Evangelie van Tomas 33 ook die voorbeeld van die lamp vertel, maar dit verbind aan die innerlike oor se luister, anders as die kanonieke evangelies.
Markus 4:10-12 – Die geheim van die koninkryk word gegee, nie verwerf nie
Markus
Dis duidelik dat daar ‘n groep mense saam met die twaalf by Jesus was wat Hom gevolg en gedien het. Jesus verduidelik hier die doel met sy gelykenisse, voordat Hy in die volgende perikoop die Gelykenis van die Saad verder vir hulle sal uitlê.
Let op hoe Hy die wat buite is kontrasteer me dié wat binne is, en dat dit net laasgenoemde is wat die geheim van die koninkryk van God kan ontrafel. En let ook op dat dit iets is wat gegee word, en nie iets wat verwerf word nie.
Jesus haar hier uit Jesaja 6:9-10 aan en verklaar dat die gelykenisse ‘n versluierende effek het; dit verberg die waarheid vir dié wat buite staan en nie inkom om te luister en verander te word nie. Die implikasie daarvan is dat die lewe by Jesus te vinde is, in ‘n luisterende verhouding met Hom, en nie van ‘n afstand as ‘n buitestaander of teenstander nie.
Matteus en Lukas
Matteus (en Lukas) plaas die gesprek in die konteks van die dissipels alleen. Matteus brei uit op Markus se weergawe in woorde wat herinner aan die gelykenis van die muntstukke. En hy plaas die klem aan die einde van die perikoop op die voorreg wat die dissipels het om te kan hoor en te kan sien, omdat baie dit begeer het, en nie kon nie.
Markus 4:1-9 – Wie ore het en kan hoor, moet luister
Markus
Dit is ‘n baie bekende gelykenis. Jesus is weer op ‘n bootjie langs die see besig om die mense te leer. En wat my tref vanoggend van sy lering is die uitspraak:
“Wie ore het en kan hoor, moet luister!”
Let op hoe daar in die gelykenis twee groepe saad is wat gebruik word: die een groep val op grond wat onvrugbaar is en “die ander saad” val op vrugbare grond. Die eerste groep saad (telkens enkelvoud) groei nie vanweë drie tipes grond wat groei belemmer. Dit word gekontrasteer met die tweede groep saad (meervoud) wat uitstekend groei en drie tipe oeste lewer: party lewer 30-, ander 60- en nog ander 100-voudig. Dit beteken dat die klem in die gedeelte op die saad self is.
‘n Mens sou daarom eerder van dié gelykenis as die Gelykenis van die saad, eerder as die Gelykenis van die Saaier of die Gelykenis van die Vier tipes grond kon praat.
Dit beteken dat Markus hier oor Jesus se bediening praat en die teenstand wat dit ontlok kontrasteer met die vrug wat dit dra.
Jesus se uitspraak aan die einde is daarom ‘n oproep om Hom ernstig te neem en na Hom te luister. Dít is die krag van ‘n vrugbare lewe.
Matteus en Lukas
Matteus en Lukas verkort Markus se vertelling met Lukas wat die gesprek nie by die see plaas nie. Interessant is dat Lukas noem dat die saad wat op die pad geval het, nie net deur die voëls opgepik is nie, maar ook vertrap is; dat die saad op die klipbank verdroog het weens ‘n gebrek aan vogtigheid. En Lukas noem net van die 100-voudige vrug.
