Posts Tagged ‘opstanding’
Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan
Markus
Ek wil nie graag by die onverkwiklike debat oor die opstanding wat deur sommige organisasies en teoloë gevoer word, betrokke raak nie. Ek wil ook nie met allerhande hermeneutiese nuanses met woorde speel rondom die opstanding nie. Markus 16:1-8 sê soos die ander evangelies dat Jesus opgestaan het. Dit was liggaamlik (as jy Paulus se taal wil gebruik, ‘n verheerlikte liggaam soos ons in 1 Kor 15 leer). En ek glo dit.
Verder bly dit darem net ongelooflik hoe die vroue aan die einde van die evangelie na vore tree as ondersteuners en getuies, terwyl al die mans, behalwe moontlik Johannes, gevlug het. Dit is uiters betekenisvol in die lig van die patriargale omgewing waarbinne hulle gelewe het.
Die teks van Markus wat aan ons oorgelewer is, het eintlik 3 eindes. Die beste manuskripte eindig die teks by vers 8. Sommige ander voeg ‘n vers 9 by, en nog ander voeg ‘n paar verse, 9-20 by, soos ons dit tans in die NAV het. Die langer tekstradisies dateer heel moontlik eers uit die tweede eeu nC, heel moontlik om ‘n meer afgeronde afsluiting vir die evangelie te verskaf. Die konsensus onder geleerdes is dat die langer eindes heel moontlik latere byvoegings is, maar dat die korter teks ook te kortaf is, en dat daar van die oorspronklike teks moontlik ‘n deel verlore geraak het.
Korter einde: 3 vroue gaan die Sondagmôre na die graf, Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome. Let op hoe die jongman, ‘n engel, Jesus in sy mensheid as van Nasaret identifiseer. ‘n Boodskap aan Petrus is ook sy missie vir hulle, dat die dissipels Jesus in Galilea moet ontmoet.
Die korter teks eindig met die vroue wat weghardloop en Markus se evangelie wat dus eindig met die woorde: “Want hulle was bang.”
Effens langer teks: Die effens langer teks het ‘n soort opsomming van die gesprek tussen die vroue en Petrus en die ander dissipels, en die mededeling dat Jesus self aan hulle verskyn het en deur hulle die evangelie oral laat verkondig het.
Langer einde: Die langste teks voeg dan by dat Jesus aan Maria Magdalena verskyn het, sowel as aan 2 mense op pad na die platteland, wat ons uit Lukas se weergawe weet die Emmaüsgangers was.
Die onderlinge verskille tussen hierdie Markus weergawe en Lukas s’n wys egter dat dié teks, soos die effens langer teks, heel moontlik nie oorspronklik is nie:
Daar word in vers 13bv. gesê dat ander dissipels die twee Emmausgangers nie geglo het nie. Dit verskil van Lukas 24:34 waar die dissipels vir die Emmausgangers sê dat hulle inligting ooreenkom met dít wat hulleself by Simon gehoor het.
Die teks stel die Emmausgangers ook as dissipels voor wat nie die geval was volgens die ander evangeliste nie.
Hoe dit ook al sy, die teks vertel ons dat Jesus se verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart gou oorslaan in ‘n opdrag om die evangelie te gaan verkondig. Jesus gee hulle voorsmakie van die tipe wondertekens wat by hulle sal voorkom, genesing van duiwelbesetenheid en siekte, tale, en beskerming teen slange en gif (onthou Paulus se ervaring op die eiland Malta – Hand 28).
Markus se langer einde eindig met Jesus se hemelvaart en ‘n kort beskrywing van die evangelieverkondiging wat deur wondertekens bekragtig is.
Matteus, Lukas en Johannes
Korter einde: Matteus noem die ma van Jakobus slegs die “ander Maria” wat ons laat vermoed dat dit dieselfde persoon kan wees. Hy beskryf die toneel by die graf ook meer volledig met ‘n aardbewing waarna ‘n engel die klip voor die graf wegrol en daarop gaan sit, met die wagte wat bewe en soos dooies word. Sy boodskap is dat Jesus opgewek is en dat dié nuus aan die dissipels vertel moet word. Hulle gaan doen dit dan tegelykertyd bang en bly.
Lukas se detail verskil van Markus en Matteus se weergawe; daar is 2 engele en hulle gaan in gesprek met die vroue. Matteus noem ook vir Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, maar met hulle saam was daar ook Johanna (Salome?). En hy vertel van Petrus se besoek aan die graf.
Johannes vertel weer in meer detail van Petrus en sy eie ervarings by die graf. Interessant is dat hulle wel begin glo dat Jesus opgestaan het, maar nog nie sover kan kom om die Skrif hieroor te verstaan nie.
Langer einde: Matteus sluit sy evangelie af met die Groot Opdrag net voor Jesus se Hemelvaart. Lukas brei weer uit oor die pragtige verhaal van die Emmaüsgangers, sowel as die toneel by Galilea waar Jesus vis eet om hulle van die werklikheid van sy opstanding te oortuig. Hy sluit met ‘n korter weergawe van die Hemelvaart. In Handelinge is ‘n langer weergawe. Johannes brei weer uit oor die engele se gesprek met Maria Magdalena, waarna Jesus self aan haar verskyn. Hy vertel van nog twee verskynings van Jesus, een waar Tomas nie by was nie, en een waar ook die ongelowiges Tomas ‘n getuie van die opstanding word.
Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees
Markus
Jesus kondig die tweede keer sy dood aan terwyl hulle reis deur Galilea. Let op hoe Hy die passiewe vorm gebruik: “word oorgelewer” wat beteken dat Hy deeglik bewus is dat dit God is wat hierby betrokke is. Hy verwys heel moontlik na uitsprake soos dié in Jesaja 53:12 en Daniël 7:25 asook Hos 6:2. Hy wil egter steeds nie hê dat dié nuus voortydig publieke nuus word nie, en hoewel die dissipels dit nie verstaan het nie, en selfs te bang is om Hom in te vra daaroor, bly hulle daaroor stil.
Op pad na Kapernaum stry die dissipels egter oor wie van hulle die belangrikste is, waarskynlik onder andere weens die voorkeur wat die driemanskap, Petrus en die twee broers Johannes en Jakobus, die seuns van die donder, op die berg van Verheerliking gehad het. Jesus leer hulle daarom by die huis dat die wat eerste wil wees, laaste moet wees. Om dit met ‘n “acted parable” te illustreer neem Hy ‘n kindjie (die Aramese woord vir kind kan ook dienskneg beteken!), sit sy arm om hom en verklaar dat elkeen wat só ‘n kindjie in sy Naam ontvang, eintlik vir Hom ontvang; meer nog, ook Hom wat Jesus gestuur het (vgl Mark 10:13-16). Uit Jesus se perspektief sal iemand wat ‘n kindjie vriendelik ontvang, ook vir Hom ontvang. En as die dissipels nie as belangrikes by mense aankom nie, sal hulle Jesus in hulle bediening raaksien.
Johannes se vraag oor iemand wat in Jesus se Naam bose geeste uitdrywe (ook Hand 19:13 vertel van só n praktyk), maar nie vir hulle volg nie, illustreer sonder dat hulle dit eers agterkom, eintlik hulle gevoel van eksklusiwiteit en belangrikheid. Ironies genoeg het hulle net tevore gesukkel om ‘n duiwel uit die stom seun te dryf! Dit lei tot die bekende uitspraak van Jesus: “Wie nie téén ons is nie, is vir ons.” Sulke mense moet dus nie gekeer word nie. Daarmee relativeer Hy ook hulle gevoel van belangrikheid, dit is nie status wat tel nie, maar diens in die koninkryk, en bevorder só ‘n ruimheid van hart teenoor ander se diens in die koninkryk. Vergelyk Moses wat op soortgelyke wyse mense toelaat om te profeteer, ten spyte van teenkanting (Num 11:27).
Hy keer terug na die aanvanklike gesprek oor belangrikheid, en voeg by dat elkeen wat vir die dissipels iets kleins soos ‘n beker water te drinke gee, omdat hulle aan Christus behoort, sal beslis daarvoor beloon word.
Met die kindjie wat waarskynlik nog daar in hulle midde staan, brei Jesus uit oor elkeen wat een van hierdie kleintjies afvallig laat word. Dit sal beroerd met só iemand gaan, soos die meulsteen-aan-die-nek uitspraak bewys. Aan die een kant waarsku Jesus sy dissipels om nie mense wat hulle as geringer ag te laat struikel nie (vgl 1 Kor 8-9, Rom 14). Aan die ander kant spreek Jesus heel moontlik ook die vrees by die dissipels aan dat só ‘n houding van diens en ruimheid van hart tot misbruik kan lei wat hulle van ‘n egte oorgawe aan diens kan afskrik en afvallig kan laat raak.
Maar, Jesus spreek ook elkeen van hulle aan, wat sorg moet dra dat nie ‘n hand of voet of oog hulle van Hom afvallig laat word nie. Dit is beter om fisiese gebrek te ly, eerder as om van Hom afvallig te raak.
Die uiteinde van afvalliges is die hel (die Griekse woord gehenna word gebruik wat verwys na die altyd smeulende vullishoop in die Hinnomsdal buite die stad Jerusalem, wat gereeld gebrand is en waar die wurms in die afval gekrioel het) en die onblusbare vuur, waar die wurm nie dood nie en die vuur nie geblus word nie (verskillende Markus manuskripte plaas hierdie laaste mededeling op verskillende plekke in die perikoop, maar dit verander nie aan die betekenis nie). Vergelyk ook die verwysing hierna in Jesaja 66:24 en die grusame praktyke waarvan Jeremia vertel (7:30-33).
Matteus en Lukas
Matteus vermeld ook droefheid by die dissipels by die tweede dood-en-opstanding aankondiging van Jesus, terwyl Lukas skryf dat die betekenis vir hulle bedek was, sodat hulle nie kon begryp nie.
Net Matteus het die vraag oor die tempelbelasting wat hy aanhak aan die vraag oor wie die belangrikste “in die koninkryk” is. Hy voeg ook die uitspraak van Jesus by dat die dissipels soos kindertjies moet word, anders sal hulle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Dit is dié wat hulle gering ag soos die kindjie wat in hulle midde staan, wat die belangrikste in die koninkryk van die hemel is. En, soos Markus, ontvang jy Jesus as jy só ‘n kindjie in Jesus se Naam ontvang, wat heel moontlik op die dissipels slaan. Lukas vertel ook van die stryery en voeg by dat Jesus leer dat dié een wat “die minste onder julle almal is, hý is groot.”
Matteus het nie die uitspraak van Jesus dat wie nie téén ons is nie, is vir ons. Hy het die omgekeerde uitspraak dat “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaar maak nie, jaag hulle uitmekaar.” Daarmee verklaar Jesus dat ‘n kinderlike houding om jouself nie belangriker as ander te ag nie, nie beteken dat ‘n mens nie geloofonderskeidend na mense se aksies kan kyk nie. In die konteks van teenstand teen sy bediening, maak die uitspraak dus sin (Markus se uitspraak kom in die konteks van iemand wat op ‘n positiewe manier Jesus se Naam gebruik, wat weer sy uitspraak verklaar). As iemand nie die skape saam met Jesus bymekaar maak nie, lei die koninkryk skade. Sulke aksies of dan gebrek aan aksies moet afgewys word. Lukas het beide uitsprake in hulle onderskeie positiewe en negatiewe kontekste.
Matteus verkort weereens die Markaanse weergawe oor afvalligheid, bv. deur die uitspraak oor die hand en voet te kombineer, terwyl Lukas eerder van struikeling as van afvalligheid praat. Sy weergawe is nog korter.
Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou
Markus
Hiermee kom ons by Deel 3 van Markus se evangelie. Die skares en die Fariseërs begin nou op die agtergrond verdwyn. Jesus gee sy volle aandag aan sy dissipels, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip. Die drie lydingsaankondigings vorm die hart van hierdie gedeelte.
Jesus kom volgens Markus (enigste evangelis wat die verhaal vertel) uiteindelik in Betsaida aan, maar kry steeds nie rus nie. Mense bring ‘n blinde man na Hom toe vir genesing. Getrou aan sy strategie om die samedromming om Hom te verminder, neem Hy die man buite die dorp, genees hom en stuur hom huis toe met die opdrag om nie weer die dorp binne te gaan nie. Interessant dat Jesus weer spoeg gebruik en dat die genesing twee stadia insluit (uniek in die genesingsverhale).
Sommige geleerdes dink dat die twee stadia eintlik ‘n “acted parable” is, dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien. Soos Guelich sê: “They are in need of a ‘second touch’ which ultimately comes after Easter”. Die man se genesing funksioneer dus ook as ‘n metafoor in die res van die verhaal: net dié wie se oë Jesus genees, kan sien – in geestelike sin.
Op pad na Sesarea-Filippi (eintlik ‘n ompad, weg van Jerusalem af?) draai die gesprek met sy dissipels om sy identiteit: “Wie, sê die mense, is Ek?” Interessant is dat die antwoorde van mense Jesus met sy voorlopers identifiseer (‘n opgestane Johannes die Doper, Elia wat volgens Maleagi weer sou kom, of een van die profete). Petrus maak egter die belangrike belydenis dat Jesus die Christus is, dit beteken: die gesalfde, die Messias, presies dit waarmee die evangelie se openingsin begin: “Die evangelie van Jesus Christus …”. Getrou aan Jesus se werkswyse belet Hy hulle om dié belydenis verder bekend te maak om die leiers van die volk nie iets te gee wat Sy bediening voortydig kan inkort nie.
‘n Wending tree nou in die verhaal in, heel gepas direk na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus. Soos Matteus dit vertel, is Jesus van hier af op pad na Jerusalem toe. Jesus begin om sy dissipels dieper in te lei in sy ware status en roeping: om deur die leiers verwerp te word, doodgemaak te word, maar drie dae later weer op te staan. Hulle het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as die Lydende Messias leer ken (Jes 53). Hierdie eerste reguit aankondiging van sy dood en opstanding word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en berispe Hom. Sy woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie. Sommige geleerdes dink dat Petrus dit verswyg het in die oorvertel van sy herinneringe aan Markus.
Jesus antwoord hierdie onbegrip deur sterk te begin fokus op ‘n dieper lering oor die eise van dissipelskap. In ‘n sekere sin kan ‘n mens dit ook die Lydensweg van die Dissipels noem (Groenewald). Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig. Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie) en navolging. Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou. Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe.
Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaam koppel: Wie Hom nou skaam vir my tussen die mense, vir Hom sal Ek my dan skaam tussen die hemelinge met die wederkoms. Hy sluit die lering af met die verklaring dat baie van dié wat daar staan, in hulle lewe die koninkryk van God met krag sal sien kom. Dit verwys heel waarskynlik na die opstanding uit die dood, wat nie vir almal beskore was om te sien nie (Rom 1:4; Hand 10:41).
Matteus, Lukas en Johannes
Matteus brei uitvoerig uit oor Petrus se belydenis, noem Jeremia as een van die profete waarmee mense Jesus verbind, en voeg die frase by: “Seun van die lewende God”. Jesus tree dan met hom in gesprek wat uitloop op die ongelooflike uitspraak van Jesus, dat op hierdie belydenis sal Hy sy kerk bou. Net so brei hy uit op die eerste aankondiging van Jesus se lyding, dood en opstanding waarin Petrus se berispende gesprek en Jesus se afwysende antwoord daarop weergegee word. Hy verkort die gesprek oor dissipelskap, maar voeg een perspektief by wat nie in die ander twee Sinoptici voorkom nie, waar elkeen by die wederkoms volgens hulle dade vergeld sal word. Dit verwys egter waarskynlik steeds in die konteks na die nakoming van die eise van dissipelskap en nie na enige werksheiligheid nie.
Lukas plaas die gesprek oor die belydenis in die konteks van Jesus wat besig is om te bid, en gee Petrus se uitspraak as volg weer: “Die Gesalfde van God.” Hy verkort Markus se aankondiging van Jesus se dood en opstanding na ‘n enkele sin. Hy volg Markus se weergawe van Jesus se lering oor dissipelskap, hoewel net korter.
Johannes plaas die belydenis van Petrus in die konteks van ‘n hele aantal dissipels wat Jesus verlaat het, en op Jesus se vraag of hulle nie ook wil gaan nie, maak Petrus dan die belydenis dat hulle by Hom wil bly, want Hy is die Heilige van God. Jesus se reaksie daarop is dat daar steeds een van dié wat agtergebly het is wat eintlik ‘n duiwel is, bedoelende Judas.
