Posts Tagged ‘Ou Testament beloftes’
Markus 1:1-8 – Die hart van die evangelie is opgesluit in Jesus Christus
Markus
Markus begin sy verhaal van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, met die optrede van Johannes die Doper. Hy verduidelik met die twee aanhalings uit Maleagi 3:1 en Jesaja 40:3 (uit die Griekse vertaling van die OT wat effens verskil van die Hebreeuse oorspronklike wat sê: “Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn.”) dat Johannes die Doper die pad vir die Here kom regmaak het. Daarmee verbind hy Johannes die Doper met die Ou Testament Messias verwagting.
Sy boodskap was kort en kragtig:
- Die mense van Judea en Jerusalem moes hulle bekeer, en laat doop sodat God hulle sondes kon vergewe.
- Die Een wat na hom kom, is sy meerdere, omdat Hy nie met water sal doop nie, maar met die Heilige Gees.
Dit sê vir my:
Die evangelie gaan nie om allerhande goed op die periferie nie. Die hart van die evangelie is opgesluit in die lewe en boodskap van Jesus Christus self.
Matteus en Lukas
Matteus brei in 3:1-12 hierop uit deur Johannes se gesprek met baie van die Fariseërs en Sadduseërs wat hulle laat doop het, te vertel, waar hy hulle waarsku dat hulle vrugte moet dra wat by die bekering pas, en nie op hulle Abrahamitiese afkoms moet staatmaak nie.
Lukas brei nog verder hierop uit in 3:1-9, 15-17 deur die prediking van Johannes die Doper histories te plaas, en dit aan die woord van God wat tot Johannes gekom het, toe te skryf. Hy haal Jesaja meer volledig aan en spel die vrugte van bekering uit vir gewone mense, tollenaars, en soldate. Lukas haal Johannes, soos Markus, aan in die skerp onderskeid wat hy tussen sy eie bediening en dié van die Een wat kom, tref maar brei meer uit oor wat met die koms van die Heilige Gees sal gebeur, wat onder andere oordeel sal insluit. Lukas se weergawe sluit af met die mededeling dat Johannes ook vir Herodes aangespreek het, en dat dié hom in die tronk opgesluit het.
Johannes
Die evangelie van Johannes vertel ook die verhaal van Johannes die Doper, een van die enkele kere wat Johannes ooreenkom met die ander drie evangelie-verhale, behalwe vir die lydingsgeskiedenis. Johannes, die dissipel, brei uit op die onderskeid tussen Johannes die Doper se bediening en die Christus, en plaas dit in ‘n gesprek tussen hom en die priesters en Leviete. Hy gebruik ook Jes 40:3 as bewysplaas vir Johannes die Doper se bediening.
Vergelyking
Die indruk wat ‘n mens van Markus se verhaal van Johannes die Doper kry, in die vergelyking met die ander drie evangelies, is dat hy net die sentrale punt van Johannes die Doper se bediening wil vertel: die noodsaak van bekering en die te wagte doop met die Heilige Gees, om by die hart van sy verhaal uit te kom, die evangelie van Jesus Christus.
Johannes die Doper word deur Jesus (9:13) met Elia verbind, soos voorspel is in Maleagi 4:5. Johannes het aangetrek soos Elia (2 Kon 1:8) en ander profete (Sag13:4).
Markus 1:1 – Jesus as God-mens vervul die OT beloftes
Ek lees vandag soos ‘n speurder:
- Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
- Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
- Wat nou (aksie, met wie)?
Wat gebeur hier?
Markus begin met die goeie nuus van Jesus Christus as die Seun van God (1:1) wie se menslike natuur bevestig word deurdat Hy van Nasaret in Galilea (1:6) af gekom het. Jesus as Seun van God word ook deur die Gees wat na Hom toe neerdaal en die stem uit die hemel bevestig. Interessant dat Markus beide van die evangelie as die evangelie van Jesus Christus praat (1:1) sowel as die evangelie van God (1:14). Daaruit blyk ook die sterk klem wat hy plaas op die Goddelike karakter van Jesus Christus.
Wat beteken dit?
Jesus is God en mens
Die evangelies begrond merkwaardig genoeg almal die twee nature van Jesus Christus reg in die begin van hulle skrywes, hoewel verskillend.
- Markus, soos ek hierbo gesê het, bevestig Jesus se menslike natuur deur van Nasaret te praat en later met die stem van God wat Hom as Seun van God eien.
- Matteus begin weer met Jesus se menslike afkoms in ‘n geslagsregister (1:1 vv) waarna hy Maria se swangerskap aan die Heilige Gees koppel (1:18).
- Lukas wys ook hoe die kombinasie van die Goddelike en die menslike in Maria se swangerskap aan die Heilige Gees se werk in haar toegeskryf word (1:26 vv).
- Johannes verbind ook die Goddelike oorsprong en status van Jesus, waar hy Hom beskryf as die lig wat mense tot geloof bring, direk aan sy menswording: Hy het onder ons kom woon (1:14).
Jesus vervul die Ou Testament beloftes
Dié evangelie, hierdie goeie nuus, is dat die tyd aangebreek het (:15), en die koninkryk van God naby gekom het. ‘n Mens hoor hier Jesaja 52:7 implisiet eggo: “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede (sjalôm) aankondig, wat die goeie tyding (tôv) bring, wat redding (jesjûa) aankondig, en vir Sion sê: ‘Jou God is Koning’”. Dit word daar as oproep gebruik om die ballinge te laat trek uit Babel, hier om die Jode aan Jesus, die Redder-God, te koppel. Let ook op na dieselfde boodskapper-teks in Nahum 1:15 (geskryf in die 7de eeu v.C. net voor die val van die Assiriërs en hulle hoofstad Ninevé in 612 v.C.) en Jesaja 40:9-11 (wat ook hoop bring vir die ballinge in Babel in die 6de eeu v.C.), sowel as Paulus wat ook hierdie teks aanhaal in Romeine 10:15.
Johannes die Doper word deur Markus as die vervulling van hierdie boodskapper-teks geteken. Jesaja 40:3 word eksplisiet aangehaal, terwyl Maleagi 3:1 (die laaste boek van die 12 kleiner profeteboeke, wat uit die tyd van Esra en Nehemia in die 5de eeu v.C, na die ballingskap dateer) as verduideliking gebruik word (sonder verwysing) om die stem te verklaar waarvan Jesaja praat. Interessant dat Maleagi die voorbereidingswerk van die boodskapper aan die koms van die Here, die Verbondsengel, koppel, die een waarna Israel met soveel vreugde uitsien. Dit laat ‘n mens onmiddelik dink aan die Eksodus 23:20 vv., waar die Here sy engel belowe as gids en beskermer deur die woestyn tot in die beloofde land, wat eintlik niemand anders as die Here self is nie (Hy het volmag en word in vers 25 met die Here God verbind).
Let ook op hoe die Johannes evangelie in sy proloog in hoofstuk 1 hierdie boodskapper gedagte van Jesaja en Maleagi inspan om Johannes die Doper se getuienis te verduidelik, waarmee Jesus – die Woord van God, die een deur wie alles tot stand gekom het, die een in wie lewe is, en daarom die lig vir die wêreld se mense is, ja, God self is – aan die orde gestel word. Hy het die teenwoordigheid van God by ons geword, net soos dit met ‘n vooraf afskaduwing in die woestyn by Moses en sy mense gebeur het. Jesus kom tabernakel by ons (die woord σκηνόω [skênoô - tent opslaan] word hier gebruik en vertaal met “onder ons kom woon” – 1:14).
Wat nou?
Die verbintenis aan die OT beloftes en die koppeling van Jesus se goddelike en menslike natuur bevestig net weer vir my dat die evangelie geloofwaardig is, en dat ek my lewe daarop kan bou. Ek bevestig in gebed my geloof in hierdie Jesus wat al vier evangelies so kragtig as die Seun van God teken.
