Posts Tagged ‘Pottebakker’

Die Pottebakker en jy

Written by Chris on September 6th, 2009. Posted in Preke

God is die Pottebakker en ons die klei.  So leer ons uit Genesis 2:7, Jeremia 18, Jesaja 45 en nog baie ander Skrifgedeeltes.

Ons het vanoggend oor die betekenis hiervan nagedink in die gesinsdiens.  Elkeen het ‘n stukkie klei gehad, en kon daarmee iets maak.  En ek het die gemeente begelei om dieper daaroor na te dink.

‘n Mens moet natuurlik versigtig wees om alles hiervan op God en ons van toepassing te maak.  Maar, van my gedagtes was die volgende:

  • God is net so intiem by jou lewe betrokke as wat jy nou met die klei gespeel en daarvan iets gemaak het. Hy werk nie van ‘n afstand af met jou nie.  Hy hou sy hand op jou.  Hy is bewus van elke gedagte, van elke beweging, van elke besluit wat jy maak.  Soos die Psamdigter sê, Hy omvou my van agter en van voor.  En Hy gee om oor wat met jou gebeur.  Niks wat met jou gebeur, is toevallig nie, en niks is onbelangrik vir God nie.
  • Daar is ‘n spontane interaksie tussen jou en God, tussen jou gawes en vermoëns en wat God daarvan kan maak.  Dit is iets wat my van verlede week se teksgedeelte die meeste getref het.  Die eerlike interaksie tussen Moses en God in die woestyn (Numeri 11).  Jy kan maar praat met God, jy kan selfs verskil van wat God doen, en dit eerlik vir Hom sê.  En Hy sal daarna luister, en daarop reageer.  Uiteraard is dit Hy wat jou vorm, so sy wil sal altyd die deurslag gee.  Maar reg deur die Bybel is daar gedeeltes wat ons oortuig, God verander dinge in reaksie op jou, en jou gebede, en jou wense en behoeftes.  Jy kan Hom daarvoor vertrou.
  • Soms is daar ‘n groot stuk breiwerk nodig in jou lewe.  Om jou voor te berei vir dié voorwerp wat God van jou wil maak.  Niemand van ons hou van die druk van moeilike besluite of moeilike omstandighede nie.  Dit sou masochisties wees!  Maar, dit is nou eenmaal so, as die druk nie daar is nie, bereik ons minder.  Van die groot leiers in die wêreld is dit waar, so sê navorsing by Harvard, dat hulle een of ander tyd in hulle lewe deur ‘n tyd van stres en disoriëntasie gegaan het, waarna hulle gewoonlik meer kon bereik.
  • Daarom is dit so belangrik dat ek plooibaar in die hand van God se werk bly.  Op die wiel, in sy hande, in gesprek met Hom, maar sonder om teë te stribbel, sonder om self te besluit wat ek wil word, maar in die interaksie met God te groei en te floreer.  Dit is eintlik die heel belangrikste perspektief van alles.  Sonder hierdie onmiddellike reaksie op God, kan ‘n mens nie ontplooi in die instrument wat God van jou wil maak nie.

Hoe ervaar jy God in jou lewe?  Watter betekenis het dit vir jou?

Gesels met ons hier dat ons kan leer uit mekaar se stories.

Skakel na preek en liturgie

Klei-resep