Posts Tagged ‘profetiese rede’
Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens
Markus (Matteus en Lukas)
3. Die koms van die Seun van die mens
Jesus verstel weer sy versier en fokus nou op sy Wederkoms, die klimaks van hierdie profetiese rede. Sy koms sal gepaard gaan met kosmiese tekens – ontwrigtings aan die son, maan, sterre, en ander kragte in die hemelruim (Jes 13:10: Joel 2:10, 31; 3:15 – vgl Petrus in sy toespraak op Pinksterdag in Hand 2 wat ook hierna verwys en dit verbind aan die uitstorting van die Heilige Gees). Met die Seun van die mens (Dan 7:13) kom ook die engele wat die uitverkorenes versamel.
Matteus brei uit oor die verslaentheid wat oor die volke van die aarde sal kom en praat ook van die groot trompet wat dit alles sal aankondig. Lukas praat ook van die radeloosheid en angs van die mense vir die “gebulder van die see en sy vloedgolwe”(tsunamis?). Hy bemoedig die gelowiges egter met die boodskap dat hierdie dinge eintlik ‘n teken is dat hulle verlossing naby is. Daarom moet hulle regop staan en hulle koppe oplig!
4. Die voorbeeld van die vyeboom
Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se seisoenale verandering in die lente wat as teken dien dat die somer naby is, om die dissipels op die regte wyse na dié tekens te laat kyk. “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur,” sê Jesus. Die natuurlikste interpretasie van “hierdie geslag” is dat dit na die Jode van Jesus se tyd verwys (vgl Mark 8:12). Dws, die profetiese rede sal in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul word. En dit op sigself is ‘n teken dat die Wederkoms naby is.
Matteus neem Markus net so oor en Lukas noem dit ‘n gelykenis eerder as ‘n voorbeeld. Hy praat ook van die tekens as tekens van die koninkryk van God.
5. Die tyd en datum van die wederkoms
Jesus sluit die profetiese rede af deur sy oproep tot gereedheid en waaksaamheid te herhaal, want die tyd en datum van die wederkoms is net bekend vir Sy Vader. Hy gebruik die voorbeeld van ‘n deurwagter wat nie weet wanneer die huiseienaar weer terug kom nie, en daarom sal wakker bly.
Matteus gebruik ook die voorbeeld van die situasie in die tyd van Noag wat as wekroep vir die dissipels moet dien om waaksaam te wees. Hy praat ook van die onderskeid wat met die wederkoms tussen mense getref sal word, waarskynlik op grond van hulle waaksaamheid al dan nie. Die deurwagter voorbeeld van Markus word anders deur hom vertel. By Matteus is dit die huiseienaar self wat waaksaam is terwyl hy vir ‘n dief wag.
Lukas verbind die oproep tot waaksaamheid baie spesifiek aan die gevaar dat hulle gees deur onmatige etery en drinkery en die sorge van die lewe afgestomp sal word, en die dag hulle soos ‘n vangnet kan oorval. Hy roep hulle ook op tot voortdurende gebed.
Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking
Markus (Matteus en Lukas)
Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid. Ander wag nog steeds om finale vervulling. Matteus sê dit baie helder ”wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”
In 5 dele lig Jesus die gordyn oor die toekoms:
1. Rampe en Vervolginge
Die Olyfberg is aan die oostekant van die stad geleë. Jesus lewer hierdie profetiese rede terwyl hulle na die tempel kan kyk. Die klippe waarvan die tempel gebou is, was regtig besonders. Een klip wat opgegrawe is, was 4x6x12 meter groot. Die tempel was op dié stadium nog nie eers voltooi nie. Bouwerk het in 15 vC ‘n aanvang geneem onder Herodes die Grote en is in 64 nC (International Standard Bible Encyclopedia) eers finaal voltooi – ironies genoeg, net voor dit vernietig is in 70 nC deur keiser Titus.
Die tempel, sê Jesus, sal afgebreek word, klippe en al, sowel as die “gewyde geskenke” daarbinne vernietig word (Lukas). Daar is nie meer ‘n omkeer moontlik vir Jerusalem nie. Let op hoe die eerste geroepe dissipels, twee pare broers – hier in ‘n ander volgorde as in Markus 1:16-20 genoem – met Jesus in gesprek is. Matteus en Lukas het dit dat al die dissipels hierna geluister het.
Jesus het klaar gepraat met die skares en die Joodse Raad en sal hulle eers weer met die verhoor en kruisiging ontmoet. Op die dissipels se vraag na die tyd en teken van die vernietiging, gee Jesus twee antwoorde:
- Hulle moet versigtig wees vir misleiding oor Jesus self. Mense sal voorgee hulle is Hy. Die begeleidende tekens van die eindtyd: oorloë, hongersnood en aardbewings (Lukas voeg epidemies by) moet hulle nie verskrik nie. Dit is geboortepyne van die nuwe tyd wat kom.
- Hulle moet versigtig wees vir wat met hulleself kan gebeur in teenstand. Hulle sal geregtiglik, godsdienstig en polities vervolg word. Maar dit alles sal as getuienis vir Jesus dien en deel wees van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.
As bemoediging en motivering praat Hy oor die wysheid wat die Heilige Gees vir hulle in dié situasies sal gee, soos ook letterlik gebeur het voor die Joodse Raad in Handelinge 4. Matteus praat nie hieroor in hierdie konteks nie, terwyl Lukas verder uitbrei daaroor en aan Jesus self koppel: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee …”. Dit wys op die integrale eenheid tussen Jesus en die Gees.
Jesus waarsku egter ook dat die vervolging ook teenstand binne families sal insluit (vgl Mark 3:31!), en bemoedig hulle om tot die einde te volhard, al sluit dit die dood in. Lukas het ‘n interessante byvoeging: “daar sal nie eens ‘n haar van julle kop af val nie,” waarmee Hy heel moontlik bedoel dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie, dws dat hulle nie geestelik deur fisiese lyding en die dood sal skade ly nie. Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34. Daar word dit egter letterlik bedoel.
2. Die groot verdrukking
Jesus se visier verskuif na die tyd van die tempel vernietiging self. Sy raad aan gelowiges is om in daardie tyd te vlug, omdat dit ‘n tyd van groot verdrukking sal wees. As teken van die verwoesting wat kom, sal “die ding wat ‘n gruwel is vir God” op die “plek waar hy nie moet wees nie”, dws die tempel, opgerig word. Weereens waarsku Jesus teen vals christusse en vals profete waarvoor hulle op hulle hoede moet wees.
Matteus verbind hierdie gebeure aan die soortgelyke gebeure wat in Daniël se profesie voorspel is, waar ook van die gruwelike ding gepraat word wat in die “heilige plek” opgerig sal word (Dan 12:11 – dit is vervul in 168 vC met die Siriese Antiogus Epifanes IV se altaar aan Zeus wat in die tempel opgerig is – 1 Makkabeërs 1:54,59). Hy verduidelik verder dat die valse christusse en profete se aansprake getoets kan word aan die lokale en geheime aard daarvan, iemand moet jou inlig oor die detail: in die woestyn of in die slaapkamer. Die koms van die Seun van die mens sal egter oombliklik, publiek en globaal sigbaar wees, soos ‘n weerligstraal wat van oos na wes alles verlig.
Dit is moontlik om hier ‘n verdere betekenis in te lees, dat hier van die eindtyd en die wederkoms gepraat word, soos baie geleerdes doen, veral as jy dit met ander eskatologiese gedeeltes vergelyk (bv. 2 Tess 2, waar van die Antichris gepraat word wat in die tempel sy troon sal oprig). ‘n Mens moet egter onthou dat die profesie vir die dissipels egter iets was wat in hulle leeftyd betekenis gehad het. Dit was duidelik voorop in Markus se oorvertelling hiervan, heel moontlik net ‘n paar jaar voor dit inderdaad in vervulling gegaan het.
Lukas vertel nie van die tempel ontheiliging, maar wel van leërs wat Jerusalem sal omsingel. Hy verbind die verdrukking aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer. Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die gebeure in 70 nC verbind kan word.
