Posts Tagged ‘Sabbat’

Sabbat as geestelike gewoonte

Written by Webmeester on March 20th, 2011. Posted in Gesprekke

In Jesaja 56 word die sabbat as belangrike deel van Israel se godsdiens bevestig. God vra van Israel dat hulle reg sal laat geskied, self reg sal doen en hulleself eksplisiet tot die onderhouding van die sabbat verbind.

Nou voor ek oor die sabbat self gesels, een opmerking: Let op dat regdoen hier nie ‘n verdienstelike karakter aanneem nie, maar ‘n voorbereidende karakter.  Die sabbat berei die volk voor om God se uitkoms te kan verwelkom.   Dit help hulle om die redding wat die Here bring, te verwelkom.

Waarom is die sabbat dan so belangrik vir Jesaja?

Ons moet eers ‘n entjie teruggaan in die geskiedenis om die betekenis reg te kan interpreteer.

  • Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1).  Dit was ’n noodsaaklike verposing in ’n harde week se werk, wat jou laat asem skep het, weer die lewe laat waardeer het, weer ’n lied in jou hart gebring het na die swaar van jou daaglikse arbeid.
  • Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut 5).  Dit was dus die teken van die verbond (Eks 20:22).  Hulle het rus gekry van die swaar las wat in Egipte op hulle gelê is.  Dit het nes aan die begin weer ’n lied in hulle hart gesit.
  • Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).  Hulle het die Here opgesoek, Hom geloof, na Sy Woord geluister, gebid om sy uitkoms vir allerlei, en hulle offers gebring waardeur hulle die ervaring van skuldvergifnis geniet het.  Dit het ook ’n lied in hulle hart gesit, deurdat hulle vryheid van hulle sondes kon ervaar.
  • Maar in Jesaja se tyd, en dan meer spesifiek in die tyd van die ballingskap, het die sabbat ‘n ekstra betekenis bygekry.  Die sabbat het ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk in die vreemde saamgebind is, en mense uit die onderhouding van die sabbat kon sien dat hulle Jode was wat God gedien het.  En laat ons vir geen oomblik dié funksie onderskat nie.  Dit het in ’n vreemde wêreld – waar hulle vreemd was, en min invloed in die samelewing gehad het – vir hulle ’n identiteit gegee, ’n samebindende krag wat hulle week na week kon laat volhard het in die geloof.
  • Daarom het die sabbat ook ‘n godsdiensbevestigende funksie gehad, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie.  Vandaar die baie belangrike opdrag in Jesaja hier rondom.

Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En dit het ‘n spesifieke lewenstyl gevestig by die Jode – hulle het ‘n gesonde ritme gehad tussen werk en rus, hulle het God se uitkoms in die verlede gevier, hulle het hulle eredienste op die sabbat gehou, hulle het hulle gemeenskap met mekaar gevier, en hulle het hulle geloof gevier en bevestig.

Die sabbat was hulle lewensreël, hulle lewenspraktyk, hulle lewenstyl.  Jy kon hulle uitken daaraan, en hulle is saamgebind daardeur.

Hoekom vier ons dan nie vandag die sabbat nie?

Wel, weer ‘n bietjie inligting:

Oor die volgende paar eeue na die ballingskap het die Fariseërs ‘n magdom wette vir die korrekte nakoming van die sabbat geskep.  Hulle het as’t ware oorboord gegaan en die vreugde uit die onderhouding van die sabbat geneem.  Dit het ‘n sware las geword, en nie meer iets wat lewe gegee het nie.  Jy mag net so ver loop, en nie dit of dat of die volgende doen nie.

Met Jesus se koms in die Nuwe Testamentiese tyd reageer Hy hierop en maak mense weer vry van die benepe reëlbeheptheid.  Hy herstel die oorspronklike betekenis van die sabbat deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark 2:27).  Hy genees bv. ‘n man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag (Joh 5).  Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word op vryword en vryheid, nie beperkings nie.

En omdat Hy self God was, en is, bring Hy in sy persoon die sabbat tot sy volle vervulling.  Hy is in ‘n sekere sin die sabbat van die nuwe bedeling.  Waar ons in sy teenwoordigheid lewe, ervaar ons die sabbat.

Daarom het die kerk na die opstanding begin om die sabbat as vervuld in Jesus self te vier.  En omdat Jesus op die eerste dag van die week opgestaan het, het hulle dié dag as ‘n besondere dag begin vier.  Die opstandingsdag het die sabbat geword.

Toe die kerk bv. moes besluit watter dinge die gelowiges uit die heidene moet nakom, was die Joodse sabbat op Saterdag nie een van die voorskrifte nie (Hand 15).  Dit sou immers van heidense gelowiges Jode maak, hulle ‘n Joodse lewenstyl aanleer en nie ‘n Christelike lewenstyl nie.  Daardeur sou die evangelie ingeperk en eksklusief gemaak word.  Jy sou eers ‘n Jood moes word, voor jy ‘n Christen sou word.

Daarom dat Paulus gelowiges in sy brief aan die Kolossense aanraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak  nie (Kol 2:19).  Hy gaan selfs so ver om te sê, dat as jy alle dae tot eer van die Here wil leef, voel vry om dit te doen, en dié wat een dag as belangriker as die ander wil vier, maak so, maar moet net nie die ander daaroor verag of veroordeel nie (Rom 14).

Wat vier ons dan?

Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.

Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Open 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv. die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeine se name vir die dae van die week.

Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand 20:7) en die dankoffers in te samel (1 Kor 16:2).  Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.

Maar, dieselfde gedagtes wat deel van die sabbat was, is vandag nog deel van die Christelike lewenstyl wat ons op die Sondag, of ‘n ander dag soos die Here jou lei, of op alle dae, vier: ‘n gesonde ritme tussen werk en rus, om God te loof vir sy uitkomste, om ons eredienste te hou, om ons gemeenskap met mekaar te vier, en ons geloof te vier en te bevestig.

Dit is dus ‘n belangrike geestelike gewoonte  wat ons lewenstyl as Christene moet vorm.

‘n Christelike lewenstyl

Written by Webmeester on March 20th, 2011. Posted in Eredienste, Gesprekke

Die Christelike lewe kan op verskillende maniere beskryf word.  ‘n Mens kan sê dat dit oor God gaan wat hierdie wêreld met sy liefde en genade wil oorrompel – die sogenaamde Missio Dei.  ‘n Mens kan sê dat dit gaan oor die koninkryk van God gaan waaraan ons as gemeente meewerk.

Maar, in die praktyk van elke dag gaan dit doodgewoon oor ‘n Christelike lewenstyl.  Dit is wat mense van ons raaksien.  Dit is die cutting edge van die Christelike lewe, nie wat ons sê oor God of oor die kerk of oor die koninkryk nie, maar wat ons leef.

Paulus sê op ‘n kol: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil 1:27).

Een van die maniere waarop die kerk deur die eeue hierdie Christelike lewenstyl aangeleer en gekoester het, was deur praktiese geestelike gewoontes.

En dit is met dié bril wat ek na hierdie perikoop in Jesaja wil kyk, om agter te kom, wat se lewenstyl verwag God van ons?  Hoe wil Hy hê moet ons lewe?  Of anders gestel, wat wil God hê moet ander in my lewe raaksien?

En daar is drie dinge wat vir my hier uitstaan van die tipe lewenstyl wat God van ons vra, drie geestelike gewoontes wat ons moet beoefen – dit het met die onderhouding van die sabbat te make, met die insluiting van anderse mense, en met gebed.

Lees meer in die Woordverkondiging oor Jesaja 56:1-7

Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers

Written by Webmeester on February 3rd, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Ek lees verder soos ‘n Speurder

  • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
  • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
  • Wat nou (aksie, met wie)?

In drie verdere tonele (laaste van vyf – vorige twee in 2:1-17) neem die teenstand van die Fariseërs teen die werk van Jesus só toe, dat hulle saam met die Herodiane beplan om Jesus dood te maak.

Toneel 3: Die gesprek oor die vastyd.

In die OT was daar aanvanklik net met die Groot Versoendag gevas (Lev 16:29) en met siekte en dood (1 Sam 31:13; 2 Sam 1:12).  Na die ballingskap het die vastye begin toeneem (Sag 7:5; 8:19).  Die Fariseërs het dit egter verder aangevul met ‘n vasdag twee keer ‘n week.  Dat Jesus die dissipels bevry van hierdie benouende voorskrif wek egter weerstand by die Fariseërs.  Jesus se verduideliking dat daar nie in sy teenwoordigheid – die beeld van Jesus as Bruidegom moes die Fariseërs aan die voorspelling van Hos 2:14-23 laat dink het, maar hulle mis dit! – gevas kan word nie, word aangevul met ‘n eerste verskuilde aankondiging van sy dood, waar ‘n vastyd weer sinvol sou wees (soos Johannes die Doper se vastyd ook sinvol was as voorbereiding vir die Bruidegom).

Met die twee metafore van materiaal vir klere en velsakke vir wyn verkondig Jesus onomwonde dat ‘n nuwe bedeling aangebreek het, en dat die ou manier van doen net nie meer pas by die koninkryk wat Hy kom vestig nie.  Soos nuwe klere se inkrimping ou materiaal sal laat skeur, en nuwe wyn se gistingsproses die velsakke sal laat rek (en ou klaar-gerekte “verstokte” velsakke sal skeur), so nooi Jesus mense hiermee uit om die nuwe bedeling, d.w.s. Homself, te omarm en die oue agter te laat.

Matteus en Lukas

Matteus plaas die aanvanklike vraag in die mond van die dissipels van Johannes die Doper en Lukas, soos Markus, in die mond van die mense, hoewel aldrie na beide Johannes die Doper en die Fariseërs se vastye verwys.  Lukas noem die twee metafore wat Jesus gebruik ‘n gelykenis.  Albei Matteus en Lukas las ‘n verdere interpretasie aan die gedeelte, wat neerkom op ‘n waardering ook vir die oue, hoewel die onversoenbare tussen oud en nuut steeds gehandhaaf word.  Lukas se laaste vers is as kritiek bedoel op die duidelik-wordende weerstand van die Fariseërs, soos Nolland dit parafraseer:

“I tell you that what I bring is like new wine in one respect; but I see that you will treat it as like new wine in quite a different respect, i.e., as inferior to the old wine.”

Toneel 4: Jesus is Here oor die sabbat.

Die Fariseërs se interpretasie dat are afpluk as oes vertolk kan word (Eks 34:21), was alreeds verkeerd.  Jesus probeer egter met die voorbeeld van Dawid (1 Samuel 21), wat in sy vlug van Saul van die offerbrood by die priesters in Nob geeët het, die Fariseërs leer dat die funksie van die wet in ag geneem moet word in die uitvoering en interpretasie daarvan.  Die wet is ter wille van die mens geskep en nie andersom nie.  En die Here van die sabbat het die reg om te voorsien vir dié wat alles gelos het om Hom te volg.

Terloops: Agimelek was eintlik toe hoëpriester, maar Abjatar het hom hierna opgevolg en was die enigste oorlewende na Saul die priesters om die lewe gebring het vir hulle goeie daad.

Matteus en Lukas

Lukas verkort Markus se verhaal hier, maar Matteus brei daarop uit (een van die min kere wat hy dit doen).  Jesus verwys in Matteus se weergawe, as steun vir sy standpunt, ook na die feit dat priesters op ‘n sabbatdag moes werk, en dat dit deel van die wet was.  Hy verwyt ook die Fariseërs dat hulle ‘n onbarmhartige gesindheid ten toon stel teenoor onskuldige mense, die dissipels.  Dit wys duidelik hoe onbarmhartig ‘n onbuigsame hantering van die wet in die praktyk gebruik kan word.

Toneel 5: Jesus genees die man met die gebreklike hand

Hoe ironies dat Jesus voor die genesing van die man met die gebreklike hand op ‘n sabbat die vraag vra, mag ‘n mens goed doen of kwaad doen, of red of doodmaak op die sabbat … en die Fariseërs direk na die genesing uitloop om Jesus kwaad aan te doen, en te beplan om Hom dood te maak, saam met die Herodiane … op ‘n sabbatdag!  Doodmaak was immers verkeerd volgens die wet … sewe dae ‘n week.

Geen wonder dat Jesus se emosies hoog geloop het, dat Hy kwaad en bedroef tegelykertyd was!

Die Herodiane was politieke aanhangers van Herodes Antipas, viervors van Galilea, seun van die Herodes waarvan ons lees by Jesus se geboorte.  Gewoonlik was die twee groepe vyande, tot op hierdie dag …

Matteus en Lukas

Matteus brei weereens die gedeelte uit met ‘n verwysing na ‘n alledaagse voorbeeld dat ‘n mens op die sabbatdag tog ‘n skaap uit ‘n sloot sal red, hoeveel te meer nie ‘n mens nie, maar laat die verwysing na die Herodiane weg, soos ook in Lukas.  Lukas weer noem die skrifgeleerdes saam met die Fariseërs, maar beskryf interessant genoeg die teenstanders as “rasend van woede”, en nie Jesus nie.  Hy herformuleer Markus se weergawe dus heeltemal.