Posts Tagged ‘Samuel’
2 Samuel 24 – dis beter om in die hande van God te val as in dié van mense – Hy is genadig!
In die ontwikkeling van die idee van God in die OT, was alles aanvanklik gereken, as dat dit alles, goed en sleg, van God af kom. Daarom word hierdie volkstelling gewyt aan die aanhitsing van die Here. Dieselfde verhaal in 1 Kronieke 21, wat na die ballingskap geskryf is, word egter aan die Satan gewyt, waar ons die aanvang van ‘n onderskeid tussen die magte van die bose en die magte van God begin sien.
Die volkstelling as sodanig was nie verkeerd nie. God beveel dit immers self in Num 1. Dit gaan oor die rede daarvoor: Dawid “wou weet hoeveel hulle is,” wat óf tot hoogmoed kon lei, óf tot ‘n vertroue op hulle eie mag, ipv op die mag van God.
Interessant is dat Dawid self tot insig kom dat hy verkeerd was – sy gewete het hom begin pla. Die profeet Gad, wat ‘n noue band met Dawid gehad het, selfs nog voor sy koningskap (1 Sam 22 – let op hoe hy “die siener van Dawid” genoem word) spel eintlik net vir hom die keuse van ‘n straf uit. Dawid kies net teen opsie 2 – hy wil nie weer vlug vir iemand soos Saul of Absalom nie – maar laat die keuse tussen die hongersnood (vgl Josef in Egipte) en die pes (vgl die storie van die ark by die Filistyne) aan die Here oor.
Dit kan wees dat die pes dieselfde roete volg as Joab, van noord na suid, totdat die Here genade bewys aan die volk by die dorsvloer van Arauna, die plek waar Dawid nie net die altaar bou nie, maar waar die tempel uiteindelik gebou word deur Salomo (2 Kron 3:1).
2 Samuel 22-23 – Dit is God wat die oorwinning gee – al my hulp en vreugde kom van Hom af
Hoofstuk 22 kom amper woordeliks ooreen met Psalm 18, op ‘n paar uitsonderings na. Aan die einde van Dawid se lewe besing dit die wonder van God wat in die moeilikste situasies denkbaar, uitkoms gee en Dawid die oorwinning laat behaal. Beelde word gebruik wat resoneer met die uitdagende pad wat Dawid reg deur sy lewe geloop het. Let op hoe Dawid dit koppel aan sy onskuld en opregtheid. Dit was veral die geval in sy stryd met Saul. Hy ontken nie hiermee sy skuld met Batseba en Urija nie, en aanvaar dat hy daarvoor vergewe is (12:13).
Na hierdie Psalm word die laaste woorde van Dawid weergegee in hoofstuk 23, net soos dit met Moses die geval was (Deut 32-33). Waar die Psalm in hoofstuk 22 veral op die verlede gekonsentreer het, is hierdie laaste woorde veral gemik op die vestiging van sy koningskap vir altyd, dws die toekoms. Let op hoe koning Dawid hier ook as profeet geteken word. Omdat hy ook priesterlike funksies van tyd tot tyd verrig het, sien ‘n mens iets in hom van die drie-voudige amp van Christus: koning, priester en profeet.
Dawid se dapper manne word hier in ‘n uitgebreide lys vereer, geplaas in ‘n rangorde van dapperheid. Daar word meer as dertig name in die dertigtal genoem, heel moontlik omdat dit van tyd tot tyd in Dawid se termyn aangevul is.
2 Samuel 19-21 – die politieke pendulum swaai terug na Dawid, maar die onderliggende konflik bly voortbestaan
Joab se geslaagde poging om Dawid uit sy treurmare oor Absalom te ruk om waardering vir die lojaliteit en ondersteuning van die manskappe te toon, boemerang aanvanklik op hom. Dawid stel vir Amasa, neef van Absalom, in die plek van Joab as hoof van sy leër aan om 1) sy misnoë met Joab se optrede te wys, en 2) só Absalom se volgelinge aan sy kant te kry. Joab maak egter korte mette met Amasa en konsolideer eenvoudig met mag en geweld sy houvas op die hele leër van Israel.
Dis insiggewend dat Dawid vanuit die noorde, uit die stad Maganajim, terugkeer na Jerusalem. Hoewel dit dieselfde plek is waar Is-Boset vroeër deur Israel koning gemaak is en vanwaar Dawid se koningskap uitgedaag is, word dit nou die basis vanwaar Dawid weer die troon bestyg. Omdat Absalom se opstand uit die suide geloods was, vanaf Hebron waar Dawid se koningskap amptelik begin het, doen Dawid moeite om die Judese leiers weer aan sy kant te kry. Hulle aanvaarding van hom lei wel aanvanklik tot konflik met Israel, met Seba wat voordeel daaruit probeer trek. Seba se opstand word egter deur Joab en ‘n wyse vrou van die stad Abel in die kiem gesmoor. (Joab het self tevore ‘n wyse vrou gebruik tot Absalom se voordeel.) Seba se woorde sou egter bly voorbestaan en met die skeuring van die ryk onder leiding van Rehabeam weer aangehaal word om hulle optrede te verwoord (1 Kon 12:16).
Let op hoe twee Benjaminiete, Saul se mense, in hierdie terugkeer na Jerusalem Dawid se guns probeer wen: Simeï en Mefiboset. Die politieke pendulum het weer teruggeswaai na Dawid met die ondersteuning van al die stamme van Israel, maar die onderliggende konflik sou bly voortbestaan tot Israel ná die regering van Salomo onherstelbaar in twee ryke sou skeur. Dit is hartseer dat die byvroue, wat op geen manier verkeerd opgetree het, moet boet vir wat Absalom aan hulle en Dawid gedoen het.
Die verhaal van Rispa (byvrou van Saul oor wie Is-Boset en Abner gestry het) en Merab (eers belowe aan Dawid, en toe aan iemand anders gegee) en hulle seuns word nie gedateer nie. Geleerdes meen dat dit vroeër gebeur het, waarskynlik voor Dawid se begenadiging van Mefiboset (2 Sam 9). Die hongersnood word gewyt aan die Here se ingrype weens Saul se moord op die Gibeoniete. Ironies dat Dawid die Here raadpleeg oor die rede vir die droogte, maar nie dieselfde doen om te hoor wat gedoen moet word om die oordeel af te wend nie. Hy vra die Gibeoniete wat om te doen, en op grusame wyse word dan op hulle aandrang ‘n vonnis op 7 seuns uit Saul se nageslag uitgevoer, nogal “voor die Here”, moontlik in navolging van die wetsvoorskrif: “‘n oog vir ‘n oog”. Rispa se aangrypende onverpoosde beskerming van die lyke word beloon met ‘n ordentlike begrafnis vir hulle sowel as vir Saul en Jonatan by die graf van Kis, die stamvader.
Die Filistynse oorloë wat hier vertel word, gaan eintlik om vier besondere Filistyne, almal reuse en uit die geslag van die Refaïete (Gen 14), wat deur Israel oorwin is. Die Goliat episode is in konflik met die bekende Dawid-Goliat verhaal. Dit kan wees dat hier Goliat se broer, Lagmi, bedoel word (1 Kron 20:5). Goliat word ook soms as ‘n titel van ‘n baasvegter geïnterpreteer.
Kanonvorming
Die woord kanon kom van die Hebreeuse qaneh en die Griekse kanon, wat beide maatstaf of meetstok beteken. Die woord word gebruik in die Joods-Christelike tradisie om die versameling geskrifte aan te dui wat as die Woord van God gereken word. Die Joodse (en OT) kanon is geskryf in Hebreeus en Aramees en die Christelike kanon sluit dit in en voeg die NT by, geskryf in Grieks.
Ten diepste word hierdie proses aan die werk van die Heilige Gees toegeskryf wat die kerk deur geestelike onderskeiding gehelp het om die seleksie van kanonieke boeke te maak (1 Kor 2:13 – “Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met die woorde wat die Gees ons leer. So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het.”; 14:37 “Iemand wat dink dat hy ‘n profeet is of ‘n ander gawe van die Gees besit, moet erken dat wat ek aan julle skrywe, ‘n bevel van die Here is.”; Gal 1:8-9 – “As iemand aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!”; 1 Tes 2:13 – “Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.”).
‘n Aantal kriteria is gebruik deur gemeentes en die kerkvaders om die kerk se keuse van die Nuwe Testament se kanonieke boeke te begelei (bv Irenaeus), waarvan die eerste die belangrikste was:
- Jesus Christus – Dit is die allesbepalende gestalte van NT kanonisiteit. Elke boek in die NT word beoordeel deur die oriëntasie rondom die persoon van Jesus Christus. Dit het beide met die objektiewe kant, Jesus as Verkondigde, en die subjektiewe kant, Jesus Christus as Verkondiger, te make. Die NT gaan dus nie in die eerste plek om ‘n boek nie, maar om ‘n persoon. Vergelyk hiervoor bv. die belangrike proloog van die Johannes evangelie wat Jesus met die Woord van God verbind. Dit is ook die rede hoekom ‘n boek soos Hebreërs, wat nie met ‘n apostel verbind kan word nie (vgl die tweede kriterium), maar die duidelike verband tussen die OT en Jesus Christus uitspel, uiteindelik kanonieke status verkry het. Interessant: die Heilige Gees word daarom nie as ‘n bykomende kriterium vir kanonisiteit gebruik nie, omdat Hy die een is deur wie Christus sy werk in en deur die kerk voortsit. Dit is dus genoegsaam om net van Jesus Christus as kanonieke beginsel te praat. Dieselfde argument geld die Triniteit.
- Apostolisiteit – Boeke wat deur die apostels geskryf is, was geredelik aanvaar as kanoniek. Sommige kerke was om die rede aanvanklik huiwerig om boeke waarvan die outeur nie as apostel bekend was nie, bv. Markus, Lukas, Handelinge en Hebreërs (onbekende outeur). Maar dit was nie die alfa en omega van kanonisiteit nie, soos ‘n mens in die argumente hieroor by die kerkvaders lees. Hulle het baie meer geskryf oor die akkuraatheid van die getuienis oor Jesus Christus, en die leerstellige inhoud van ‘n gegewe boek (vgl. bv. Serapion se verwerping van die Evangelie van Petrus), as oor die outeurskap as sodanig.
- Apostoliese inhoud – Boeke wat in inhoud apostolies was, en van mense ná aan die apostels gekom het, al is dit geskryf deur nie-apostels, soos Markus en Lukas, is ook mettertyd aanvaar as kanoniek, hoewel dit langer geneem het en die oriëntasie rondom Jesus Christus steeds die primêre kriterium was. ‘n Boek soos Openbaring, hoewel geskrywe deur ‘n apostel, het langer geneem om aanvaar te word, omdat die teologiese inhoud anders as die res van die NT was. Johannes maak egter in die boek só ‘n sterk aanspraak op sy geskrif as ‘n openbaring van Jesus Christus self, dat dit die kerk uiteindelik oortuig het om dit in die kanon in te sluit. ‘n Boek soos Hebreërs het ook langer gevat om aanvaar te word, omdat sommige (Tertullianus) dit aan Barnabas as skrywer toegeskryf het, hoewel die verband tussen die OT en Christus uiteindelik die deurslag gegee het.
- Goddelike Inspirasie – Boeke wat ‘n aanspraak op Goddelike Inspirasie gemaak het, is ook vroeg aanvaar, hoewel dit steeds sekondêr was aan die sentrale vraag rondom Jesus Christus. Hierdie inspirasie is organies verstaan, d.w.s., die skrywer is gereken deur God geïnspireer te wees in die skrywe van die teks, met sy verstaansraamwerk en vermoëns. Dit staan teenoor die verbale inspirasie-leer, waar geleer is dat die woorde van die teks deur God self gedikteer is.
- Gemeentelike aanvaarding – Dit was ‘n belangrike verdere oorweging, veral ten opsigte van die briewe. Die houding van die gemeente aan wie die brief gerig is, was belangrik vir die breër kerk se aanvaarding daarvan, bv. die gemeente van Efese se houding oor die brief aan die Efesiërs. Dit is egter ‘n meer subjektiewe oordeel, wat ondergeskik was aan die Christologiese kriterium.
- Egtheid – die innerlike (subjektiewe) getuienis van die Heilige Gees oor die egtheid van ‘n bepaalde Bybelboek was ook belangrik, hoewel steeds met erkenning van die eerste allesbepalende maatstaf van Jesus Christus. Baie het die boek Openbaring om daardie rede bevraagteken, sowel as die boek Ester, omdat die naam van God nie daarin voorkom nie.
Anders as die Rooms-Katolieke OT, wat ‘n aantal apokriewe bevat, is die Protestantse Ou Testament kanon gelyk aan die Joodse TENAK, ‘n akroniem wat saamgestel word uit die drie eerste letters van die Hebreeuse name vir die Wet (Torâh), die Profete (Nevi’îm) en die Geskrifte (Ketuvîm). Sommige geleerdes stel voor dat ons nie van die OU Testament praat nie, maar van die EERSTE Testament, omdat dit die kanonieke status van die OT beter uitdruk.
Die vernaamste rede hiervoor is dat die Hervormers die oorspronklike Hebreeuse teks verkies het as bron vir hulle vertalings, terwyl die Rooms-Katolieke die Griekse OT, wat die apokriewe bevat het, verkies het. Interessant genoeg word die orde van die Rooms-Katolieke OT gevolg, wat anders is as die Joodse kanon, hoewel die apokriewe uitgelaat word.
Die Hebreeuse kanon is oor meer as ‘n 1000 jaar gevorm, met die Pentateug wat vroeg kanonieke status geniet het. Die Profete en die Geskrifte is oor ‘n hele aantal eeue geskryf en het mettertyd hulle plek in die harte van mense verower.
Sommige bronne verwys na ‘n Farisese konsilie wat in 90 n.C. in Jamnia bymekaar gekom het as die datum waar die Joodse kanon afgesluit is. Hoewel sommige boeke van die Tenak wel daar bespreek is, was die kanon as sodanig nie eintlik op die tafel nie. Joodse geleerdes het die kanon as afgesluit beskou sedert die skryf van die boek van Maleagi, wat die totaal van OT boeke op 39 bring. Hulle het juis nie die apokriewe ingesluit nie, omdat dit na dié datum geskryf is.
Die Nuwe Testament kanon, soos die Ou Testament kanon, was ‘n proses eerder as ‘n eenmalige gebeure of besluit by ‘n kerkvergadering. Vergelyk bv. die opmerking in 2 Petrus 3:16 waar na die briewe van Paulus verwys word wat deur sommige verkeerd uitgelê word. Petrus verwyt die mense dat hulle dit ook doen met die res van die Skrif. Hy gebruik die woord vermoedelik in die sin wat ons dit self vir die kanon gebruik, wat dui op die prosesmatige aanvaarding van die kanonieke omvang van die Skrif.
Nie alle bronne waarna in die teks van die Nuwe Testament verwys word, is ook ingesluit in die uiteindelike kanon nie. Paulus verwys bv. na ‘n vorige brief van hom aan die Korinte (1 Kor 5:9) en ‘n brief aan die Laodisense (Kol 4:16). Ons het geen getuienis waarom dié briewe nie ingesluit is in die kanon nie. Óf dié briewe het verlore geraak, óf die kerk het nie gereken dat dit van dieselfde universele kanonieke status was as sy ander briewe nie.
Oral in gemeentes was daar plaaslike kanons. Twee van ons beste manuskripte van die Griekse Nuwe Testament het bv. meer boeke in as wat ons vandag as kanon aanvaar. Die kodeks (papirus-boek) Sinaiticus (ongeveer 350 n.C.) bevat die boeke van Hermas en Barnabas, en kodeks Alexandrinus (ongeveer 450 n.C.) bevat 1 en 2 Clement. Dit verteenwoordig heel moontlik die Alexandrynse gemeenskap se kanon. Die Muratoriese kanon het ander boeke by en onderskei bv. tussen boeke wat in die publiek vir almal gelees mag word, en ander wat net vir persoonlike toewyding gebruik mag word. Dit verteenwoordig weer die kerk in Rome se kanon, ongeveer in die tweede eeu n.C.
Soos vroeër genoem (2 Pet 3:16), Paulus se briewe is heel gou as ‘n eenheid versamel wat kanonieke status geniet het, en publiek in die gemeentes gelees is. Die oudste versameling hiervan, die Chester Beatty papiri, dateer uit die tweede eeu n.C. Hy gee ook opdrag dat die briewe uitgeruil word en gelees word in verskillende gemeentes. Dieselfde opdrag is ook in die Openbaring van Johannes gegee aan die sewe gemeentes, aan wie die briewe daarin gerig is.
Die proses van versameling en bewaring van die NT dokumente was dus belangrik reg van die begin af. En elke gemeente sou vrae oor die egtheid en apostolisiteit daarvan gevra het. Dit het gelei tot hulle eie lokale kanons. Soos lyste van ander gemeentes bekend geword het, en dit algaande verfyn is, is plaaslike kanons vervang met die kanons wat meer algemeen aanvaar is deur gemeentes in ander dele van die Romeinse ryk.
Dié kanonieke beweging was dus aanvanklik ‘n gemeente beweging waarin gesoek is na outentieke apostoliese dokumente wat in die gemeentebediening gebruik kon word. Eers later sou die kerk ‘n volgende kriterium vir Nuwe Testamentiese kanonisiteit begin aanlê, waar dit nodig geraak het in die debatte oor die Christologie, die aard van die natuur van Christus, en die Triniteit, naamlik, watter van die boeke kan met reg gebruik word in die beantwoording van Christologiese en Trinitariese vrae. Dit het gelei tot die vierde eeuse proses waar die uiteindelike kanon finaal vasgestel is.
Eusebius skryf hieroor in sy Kerkgeskiedenis en onderskei vier groepe boeke: 1) aanvaar (die meeste van ons 27 boeke), 2) betwis (Jakobus, Judas, 2 Petrus, 2 en 3 Johannes), 3) verwerp (apokriewe), 4) ketters (pseudepigrafiese werke). Openbaring was in beide kategorie 1 en 2, omdat daar meningsverskil daaroor was.
Die eerste eksklusiewe lys van ons 27 boeke, soos dit vandag wyd deur die Christelike kerk aanvaar word, kom uit ‘n brief van Athanasius (ongeveer 367 n.C.).
Die ontstaan van die Bybel
- Die skrif stelling van die Bybelse verhale kom van baie vroeg af. Die Bybel self skryf daaroor alreeds in die verhale van Moses, Josua en Samuel. In Eksodus lees ons dat Moses daarmee besig was (Eks. 24:4), dat sy skryfwerk deur die Leviete bewaar is (Deut 31:9), deur hulle en die leiers bestudeer is, en die boek raak wat Josua sy eie maak (Jos 1:7). Die skryfwerk word ook later deur Josua aangevul (Jos 24:26). Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan. Dan lees ons onder andere ook nog van die Boek van die Opregte (Jos. 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is).
- Ons sien dus hier die begin van ‘n kern-kanon, die begin van die Bybel, wat veral met die berg Sinai verbind word. Later sou Samuel ook regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam 10:25) en saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar. Van tyd tot tyd is die verhale van Josua opgedateer (van die stede in Jos. 15 het moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom) om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou. Ons lees ook van die Annale van Salomo (1 Kon 11:41).
- Uit die ontdekking van die Dooie See rolle in 1948 kom ons agter dat in die latere biblioteke veral op drie tipe boeke gekonsentreer is, die Bybelse tekste self, kommentare op die Bybel en teologiese geskrifte.
- Die meeste Jode van die eerste eeu n.C. was geletterd en kon lees en skryf. Hulle kon ook meer as een taal verstaan, ten minste Aramees (spreektaal) en Hebreeus (OT). Baie kon ook Grieks, die wêreldtaal van die tyd, verstaan en het dit in die alledaagse kommunikasie gebruik. Die Griekse vertaling van die OT, die LXX of Septuagint, was ook baie gewild.
- Shorthand is baie keer gebruik, weens die skaarsheid en prys van papier (papirus of leer [perkament]). Matteus, die belastinggaarder, was heel moontlik vaardig daarmee, en kan verklaar hoe hy die bergrede so volledig kon weergee in Matteus 5-7.
- Daar was van die begin af ‘n hele paar mense wat verhale oor Jesus neergeskrywe het (Luk 1:1-2), wat gedien het as bronne vir die evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Johannes skryf selfs met ‘n tikkie humor daaroor (Joh 21:25). En Paulus het skryf as ‘n baie belangrike deel van sy bediening gesien (2 Tim 4:13: “[bring] die boeke, veral die perkamente [saam].”)
- Hierdie belangstelling in boeke en literêre werke het beteken dat tekste met groot sorg hanteer is en in biblioteke en argiewe opgeneem en bewaar is.
- As ‘n mens natuurlik meer kopieë wou hê, moes dit natuurlik telkens met die hand oorgeskryf word.
Interessante feite oor die Bybel
- Die oudste manuskrip van die NT is ‘n papirus fragment wat verse uit Johannes 18 bevat. Geleerdes dink dat dit uit ongeveer 125 n.C. dateer.
- Vroeë Christene het ook die Bybel lukraak oopgeslaan, as hulle ‘n antwoord op ‘n probleem wou ontdek, en die eerste reël gelees waarop hulle oë val, en dit as ‘n goddelike boodskap aan hulle beskou. Dit was so gewild dat dit gereeld deur die eerste kerklike konsilies veroordeel is.
- Die woord Bybel kom van die ander Griekse woord vir die papirus plant, biblos, omdat die pit daarvan gebruik is as papier. Die pit van die papirus plant (‘n soort biesieplant wat in die Nylrivier gegroei het) is kruis en dwars gelym en dan glad geskuur. Lengtes hiervan is ook aan mekaar vasgelym om boekrolle te vorm. Mettertyd is sulke papirusbladsye aan mekaar gebind in boekvorm, wat kodekse genoem is (bv. die Alexandrynse kodeks ens.).
- Ons hoofstuk- en vers indeling kom uit die tyd toe die teks van die Vulgaat, die amptelike Bybel van die Roomse Katolieke Kerk in Latyn, verdeel is in hoofstukke in die 13de eeu deur Stephen Langton, ‘n professor van Parys, en in die 16de eeu ook in verse deur Robert Estienne, ‘n Franse uitgewer, wat verwysings na die Bybel makliker as tevore gemaak het.
- Maar dit het natuurlik ook tot gevolg gehad dat mense die Bybel anders gesien en hanteer het as te vore. In plaas daarvan dat die Bybel (of ‘n boek in die Bybel) in die eerste plek as ‘n geheel gelees is, kon mense nou makliker fokus op individuele verse om sekere dogmatiese punte te beklemtoon. Lectio (lees) het baie makliker oorgegaan in Questio (bevraagteken).
2 Samuel 16-18 – God is agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense
Midde in die strategiese en politiese spel van die onderskeie rolspelers, Dawid met Gusai en die priesters, Absalom met Agitofel en die opstandelinge – waarin Dawid die oorhand kry – staan die kort opmerking in 17:14 wat ‘n dieper perspektief gee op die verloop van sake:
“Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.”
God is agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense.
Let op hoe verdraagsaam Dawid teenoor Simeï se vervloeking optree met ‘n beroep op die Here se regverdigheid, moontlik ook omdat hy dit as deel van God se oordeel oor sy eie wandade sien (1 Sam 12:10-12). Hy sien die episode selfs oor as Simeï om verskoning vra (hoofstuk 19), moontlik as deel van sy belofte om goedgesind te wees teenoor Saul se nageslag en ter wille van goeie verhoudinge met die Benjaminiete. Let op hoe Dawid vir Abisai keer om Simeï dood te maak, net soos hy doen toe dieselfde Abisai vir Saul wou doodmaak (1 Sam 26).
Dit bly egter vir my ‘n raaisel dat wat hier ‘n lofwaardige en navolgingswaardige optrede is, so omvergewerp kan word deur die laaste opdragte aan Salomo aan die einde van Dawid se lewe, waar Dawid onder andere vir Simeï laat boet vir sy wandade (1 Konings 2). Dit lyk asof Dawid uiteindelik tog toegegee het aan wraakgedagtes.
Let ook op hoe slim Gusai optree. Aanvanklik gaan hy nie vir Agitofel, oupa van Batseba, teë nie. Eers later begin hy baie diplomaties en met baie woorde twyfel saai in Absalom se gemoed oor wat die beste optrede sou wees, streel selfs sy ego deur voor te stel dat Absalom self teen Dawid opruk, en slaag daarin om Agitofel se raad te verydel. Gusai maak selfs voorsiening vir geval sy raad nie gevolg word nie deur die twee priesterseuns opdrag te gee om Dawid deur die Jordaan, 30 km van Jerusalem af, te laat trek.
Om by Dawid se byvroue te slaap, was ‘n openlike bewys van die nuwe koningskap, en goeie raad van Agitofel. Dit druis egter teen die ou tradisies van Israel in, soos verskeie kere te vore uitgespel: (Vgl Ruben se oortreding in Gen 35:22 met Jakob se straf daarvoor in 49:4; ook die verbod in Lev 18:8 en Deut 22:30).
Absalom word uiteindelik deur Joab doodgemaak in die Efraimsbos tot Dawid se groot verdriet. Hy is selfs meer geraak deur Absalom se dood as deur die dood van die eerste kind by Batseba.
Agitofel se selfmoord is een van vier gevalle in die Bybel – Saul (1 Sam 31:4), Simri (1 Kon 16:18) en Judas (Matt 27:5).
2 Samuel 14-15 – Dawid bid tot God EN beplan strategies om die opstand van sy seun Absalom die hoof te bied
Joab, seun van Dawid se suster Seruja, bewerk versoening tussen Absalom en Dawid op ‘n manier wat herinner aan die storie wat Natan gebruik het in hoofstuk 10 met Dawid se sonde met Batseba. Hoewel Dawid aan die versoek toegee dat Absalom weer mag terugkom, neem dit twee jaar voor hy met die verdere bemiddeling van Joab voor sy pa mag verskyn. Let op hoe berekend Absalom optree met die verbranding van Joab se stuk land om hom te dwing om op te tree.
Die breuk blyk egter nie volledig herstel te wees nie, want oor die volgende 4 jaar werk Absalom onverpoos daaraan om die harte van die volk te steel en sy troonopvolging te verseker. Dat Absalom na Hebron toe gaan om sy opstand te beplan, is baie betekenisvol, gegewe die Abraham-verbintenis aan die plek. Dit is ook die plek waar Dawid as koning deur die volk gesalf is.
Agitofel, Batseba se oupa, word ook meegesleur in die sameswering. Hy laat dit toe, moontlik vanweë die Batseba-episode. Dawid vlug uit die stad Jerusalem, moontlik om die stad ‘n beleg en inval te spaar. Dit kan ook wees dat hy interne verraad gevrees het. Daardeur kry hy ook die voordeel dat hy plek waar die uiteindelike botsing sou plaasvind, kan bepaal. Die Filistyn Ittai, ‘n belangrike leiersfiguur (2 Sam 18:2), beloof trou aan Dawid, amper soos Rut dit vir Naomi gedoen het.
Dawid stuur die twee priesters, Abjatar en Sadok, met hulle twee seuns terug om ‘n kommunikasie-kanaal te skep sodat hy kon hoor wat in die stad aangaan. Ook Gusai, sy vriend, word agtergelaat om Agifofel se raad te verydel. Let op hoe Dawid tot die Here bid om hulp, bv. om Agifofel se raad te verydel EN strategies beplan en dan die planne in werking stel om die situasie die hoof te bied. Die ark word ook teruggestuur, heel moontlik om Absalom gerus te stel oor die priesters wat agterbly in Jerusalem, maar ook omdat Dawid weet die opstand is een van die gevolge van sy sonde, en dat dit net die genade van die Here self sal wees wat hom in dié situasie kan red, nie ‘n simbool van God nie (anders as in 1 Sam 4).
Dawid verwoord sy gevoelens oor hierdie gebeure op besondere wyse in Psalm 3 en heel moontlik ook in Psalm 41, 61, 62, 63.
2 Samuel 13 – dis ontstellend dat Tamar geen geregtigheid kry met haar gewelddadige verkragting nie
Verkragting bly in alle omstandighede een van die mees gewelddadige ingrype in ‘n vrou se lewe. In die lig van die oordeel op Dawid se sonde, konsentreer ‘n mens baie keer op die fisiese dood van Dawid se kinders. Maar Tamar se verkragting is vir haar net so erg as die dood: “sy was ‘n wrak”.
Absalom, die derde oudste seun van Dawid, het ‘n mooi suster, Tamar, gehad, van ‘n gedeeltelike Aramese afkoms deur hulle ma, Maäka. Amnon, die oudste seun van Dawid by Aginoam, beraam ‘n plan om met haar gemeenskap te hê, met die hulp van sy neef Jonadab. Maar verag haar na hy sy sin met haar gekry het. Let op hoe Dawid betrek word by die afskuwelike plan, hoewel onwetend.
Na die ontsteltenis van die vorige twee hoofstukke se owerspel en moord, is hierdie verhaal van verkragting vir my eintlik soos ‘n skop in die maag. In die eerste plek oor hierdie ongeveer 16-jarige vrou wie se lewe verwoes is, maar in die tweede plek ook oor die oneffektiwiteit van Dawid se woede. Hy tree nie op teen Amnon nie, amper soos Eli vroeër, ten spyte van duidelike wetsvoorskrifte (Lev 18:9; 20:17). Erger nog, hy versoen hom selfs met Amnon se uiteindelike sterfte aan die hand van Absalom, maar doen niks vir Tamar nie. Hy is meer bekommerd of sy ander seuns ook omgekom het, as oor Tamar se lot. Selfs die optrede van Absalom stel niks reg nie. Dit wis maar net vir Amnon uit, maar doen niks vir Tamar nie, hoewel dit darem lyk asof hy vir haar verblyf verskaf het. Die enigste lydende party in die verhaal, Tamar, word dus geïgnoreer, en daar is geen geregtigheid vir haar nie. Dit is ontstellend en onaanvaarbaar. En sulke goed gebeur baie keer vandag nog!
2 Samuel 11-12 – die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here
Dit is só ‘n bekende verhaal, dat ek verras is met die emosionele impak daarvan op my. Dit is met ‘n sinkende gevoel van afgryse wat ek lees hoe Dawid al dieper sak, van owerspel tot moord en die gevolglike leuens om die ware toedrag van sake te verdoesel. En dit net omdat hy in die oorlog teen die Ammoniete nie sy verpligtinge nagekom het nie, en gevolglik aan versoeking blootgestel is.
Attah ha-ish - Jy is die man – weerklink nog steeds in my ore soos toe my Hebreeuse dosent dit jare terug in die klas gelees het. Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word, Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab. Vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia - Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self voorstel! Selfs Agitofel word daardeur geraak, want Batseba was sy kleindogter (Eliam, Batseba se pa, was sy seun – 2 Sam 23:34), en verklaar moontlik sy ondersteuning van Absalom later in die verhaal.
Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belang te dien.
Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het. Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, gooi ‘n groot skaduwee oor die hele loopbaan van Dawid hierna. Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, “man van vrede”, of Jedidja, “die Here het hom lief”, soos Dawid hom genoem het.
Dawid kom ook uiteindelik sy verpligtinge in die oorlog teen die Ammoniete na, en verower só die hoofstad Rabba.
