Posts Tagged ‘Sinoptiese evangelies’
Die boodskap van Markus
Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13]. Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader). Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.
Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding. Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.
Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek. Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit. Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).
Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:
- Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God. Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God. In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
- Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
- Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
- Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.
Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.
Interessant, die prentjie van die kerk wat ons in Markus kry, is dat dit die plek is waar grense oorgesteek word na gemarginaliseerdes. Dit pas goed in die situasie van die vervolging in Rome in keiser Nero se tyd.
Ek steun hier onder andere op die uitstekende boek van Gordon D Fee en Douglas Stuart, How to Read the Bible Book by Book – A Guided Tour. Uitgegee deur Zondervan, Grand Rapids, Michigan in 2002.
Die drie Sinoptiese evangelies
Vir ons leeswerk gee ek ook die volgende baie kort oorsig van die drie Sinoptiese evangelies.
Markus is een van die drie Sinoptici (sinopties = oorsigtelike, samevattende hantering [van die Griekse “saam-kyk”]).
Uit ‘n vergelyking van die drie sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas, is dit opvallend dat bykans alle gedeeltes in Markus ook in die ander twee evangelies, Matteus en Lukas voorkom. Slegs drie gedeeltes kom net in Markus voor: 1) 1:1 – die Inleiding tot sy evangelie; 2) 4:26-29 – Die gelykenis van die saad wat vanself groei en 3) 8:22-26 – Jesus wat ‘n blinde man in Betsaida genees.
Matteus en Lukas het egter verskeie gedeeltes wat nie by Markus voorkom nie, die Bergrede bv. Dit dui volgens geleerdes daarop dat Matteus en Lukas die evangelie van Markus gebruik het as basis-dokument vir hulle eie evangelies. Markus is dus die oudste evangelie wat ons het.
Matteus en Lukas het ook ‘n tweede bron gebruik, wat blyk uit dié gedeeltes waarin hulle met mekaar ooreenstem (en nie by Markus geleen het nie), ‘n totaal van 62 perikope, wat deur geleerdes die (hipotetiese) Q- bron genoem word (Q is die afkorting vir die Duitse woord Quelle wat bron beteken). Dit bevat interessant genoeg meesal uitsprake van Jesus, en omtrent geen genesings en wonderdade van Jesus nie, sowel as niks van sy konfrontasie met die Joodse leiers en uiteindelike dood en opstanding nie (Wie was Jesus regtig?, p 56). Dit is egter redelik sinloos om die bron op grond van aanhalings en weglatings in sekondêre bronne (Matteus en Lukas) nouer te probeer omskryf. Omdat die ooreenstemmende gedeeltes in Matteus en Lukas egter byna woordeliks ooreenstem, en daarby in dieselfde volgorde in die twee evangelies geplaas is, word wel aanvaar dat dié bron skriftelik was.
Bybelskool oor die evangelie van Markus
Die motto van hierdie Bybelskool
“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house. Give it plenty of room in your lives. Instruct and direct one another using good common sense. And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.
Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:
Om in die Woord te Woon.
My passie is om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.
Die evangelie van Markus
Die afgelope jaar of wat het ons nou al deur die Pentateug gewerk, die eerste 5 boeke van die Bybel; ons het die evangelie van Lukas saam met die Handelinge van die Apostels deurgelees, weer ‘n draai gemaak in die Ou Testament en Josua, Rigters en 1 en 2 Samuel (kyk na die vorige kwartaal se posts by die blog) deurgelees.
Hierdie kwartaal het ek gekies om die evangelie van Markus te neem en dit saam met julle deur te lees, maar op ‘n baie spesifieke manier. Ek wil dit lees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kan uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.
Werkswyse
Ons gaan die evangelie van Markus in die volgende paar weke deurlees en telkens die tekste ook vergelyk met gedeeltes in die ander evangelies.
- Markus 1:1-3:6 – Die Proloog en Deel 1: Bekendstelling – 28 Jan tot 3 Feb
- Markus 3:7-6:6 – Deel 2: Impak op die skares, dissipels en teenstanders – 4 tot 10 Feb
- Markus 6:7-8:21 – Deel 2: Vervolg – 11 tot 17 Feb
- Markus 8:22-10:45 – Deel 3: Gefokusde aandag aan die dissipels – 18 tot 24 Feb
- Markus 10:46-13:37 – Deel 4: Klimaks van die evangelie – 25 Feb tot 3 Maart
- Markus 14:1-16:20 – Deel 4: Vervolg en Die Epiloog – 4 tot 11 Maart
- Gedeeltes in die ander evangelies wat nie in Markus is nie, plus die Evangelie van Tomas – 12 tot 24 Maart
Ons kom elke Woensdag bymekaar om 18:30 in die konsistorie van NGK Somerstrand (Louis Bothasingel 77, Somerstrand, PE) vir ‘n uur gesprek oor ons leeswerk van die afgelope week. Daar is net een Woensdag – 17 Maart – wat ons nie bymekaar kom nie:
- 27 Januarie – Inleiding vir die Bybelskool
- 3 Februarie – Markus 1:1-3:6
- 10 Februarie – Markus 3:7-6:6
- 17 Februarie – Markus 6:7-8:21
- 24 Februarie – Markus 8:22-10:45
- 3 Maart – Markus 10:46-13:37
- 11 Maart – Markus 14:1-16:20
- 24 Maart – Ander evangelies
Hulpmiddels
Ek gee vir julle die volgende hulpmiddels:
- ‘n Lys van die perikope wat ooreenstem tussen Markus en die ander evangelies – daar is net 3 gedeeltes wat net in Markus voorkom. Volledigheidshalwe gee ek ook ‘n lys van dié gedeeltes wat net in Markus en Matteus voorkom (13) en dié wat net in Markus en Lukas voorkom (2). Dit is die primêre leesstof vir die Bybelskool.
- ‘n Dokument wat dié Skrifgedeeltes parallel langs mekaar plaas, ter wille van ‘n makliker vergelyking.
- ‘n Lys van die gedeeltes wat nie in Markus voorkom nie, maar wel 1) in Lukas en Matteus 2) net in Matteus, 3) net in Lukas, en 4) net in Johannes voorkom. Julle gaan in die laaste 2 weke ‘n keuse hê watter van dié gedeeltes julle gaan lees.
- Ek gee ook vir julle die Evangelie van Tomas waaroor ons in die laaste week gaan gesels.
- ‘n Gesprekforum op hierdie blog by http://www.ngkerksomerstrand.co.za/blog waar ek elke weeksdag gaan skryf oor my eie lees van Markus in vergelyking met die ander evangelies. Julle kan dit lees vir meer inligting en ook julle vrae hier vra. Ek kan dit ook per e-pos vir julle stuur. Maar, ek sal dit veral waardeer as julle ook julle eie leeswerk hier as kommentaar – ook kommentaar op ons ander se leeswerk – sal skryf, sodat ons almal daarin kan deel en in die saamgesels ons eie Jesus-portret verryk kan word.
Enigiemand kan inskryf by die Bybelskool (kerkkantoor 041 5835115) en dit saam met ons bywoon op Woensdae. Enige Internet gebruiker is natuurlik ook welkom om daagliks die blog posts te lees en kommentaar te lewer. E-pos my by acv.vanwyk@gmail.com vir die onderskeie leeslyste en werk Markus saam met ons deur in die volgende paar weke.
