Posts Tagged ‘sterwe’

Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe

Written by Webmeester on March 9th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging: Dit bly vir my interessant hoe Pilatus die waarheid skerp kan insien, maar nie daarvolgens kan handel nie.  Hy is die eerste wat die rede vir Jesus se verwerping deur die Joodse Raad insien en verwoord: afguns.  Jesus kan dinge doen wat hulle nie kan nie, en eerder as om Hom daarvoor te erken, verwerp hulle Hom.

Maar om die mense hulle sin te gee, laat los hy eerder Barabbas (Jesus Barabbas [seun van Abbas] – volgens Matteus se weergawe) as Jesus van Nasaret.  Hy is bang vir nog ‘n opstand, aangesien Rome hom vir vorige opstande al voor stok gekry het, soos ons uit die Romeinse geskiedenis kan agterkom.  Jesus word met ’n kats geslaan wat uit ’n aantal smal riempies bestaan waaraan stukkies yster en been vasgebind is. So gaan Jesaja 53:5 in vervulling.

Die soldate bespot Jesus: Voor sy kruisiging loop Jesus deur onder die soldate waar Hy met ‘n pers (koninklike) mantel en doringkroon bespotlik gemaak word.  Markus (en Matteus en Johannes) vertel nie die gebeure by Herodes nie, soos Lukas wel doen.

Jesus word gekruisig: Die breë trekke van die kruisverhaal is vir ons bekend: Simon van Sirene in Noord-Afrika (pa van Aleksander en Rufus – ons tref ‘n Rufus in die gemeente van Rome aan – Rom 16:13) dra die dwarsbalk van Jesus se kruis; Jesus word op Golgota (die heuwel het soos ‘n skedel gelyk) gekruisig, waar die regoppaal geplant is; sy klere word onder die soldate met die lot verdeel; die bordjie aan die kruis kondig sy misdaad aan, dat Hy die koning van die Jode is (waarmee die Jode ook eintlik beledig word), ironies genoeg presies wat Hy is; die mense laster Hom met aanhalings wat Hy vroeër gemaak het oor die tempel.  Interessant is egter dat Markus wel noem dat daar twee ander rowers saam met Hom gekruisig is, wat Hom ook beledig, maar nie dat Hy met hulle in gesprek tree nie.

Jesus sterwe: Na die 3 ure lange duister, roep Jesus na God met daardie beroemde Aramese woorde uit Psalm 22:2: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (My God, My God, waarom het U my verlaat?) en blaas die laaste asem uit.  Twee goed gebeur dan:

  1. Die voorhangsel van die tempel (waarskynlik die een tussen die Allerheiligste en die Heilige) skeur van bo na onder oop – wat die boodskap dra a) dat die tempel se einde begin het en b) dat die toegang tot God nou vir alle mense oop is (Hebr 9);
  2. Die offisier by die kruis bely dat Jesus werklik die Seun van God was – wat die boodskap dra dat Jesus se dood reeds vir almal betekenis het.

Dit ontroer my dat dit Jesus se dood is, wat dié offisier oortuig dat dit God is.

En daarmee is die klimaks van Markus se verhaal bereik.  Hy het begin skryf dat Jesus die Seun van God is (1:1), en hier bely ‘n heidense Romeinse offisier dit (15:39).

Markus brei dan uit oor al die vroue wat Jesus ondersteun het by die kruis, trouens deur sy hele lewe: Maria Magdalena (van Magdala waaruit Jesus 7 duiwels gedryf het – Luk 8:2), Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses (ons weet niks meer van haar af nie) en nog Salome ook (vrou van Sebedeus – Matt 27:56 en die ma van die 2 dissipel-broers, Jakobus en Johannes), moontlik ook nog die suster van Maria (Joh 19:25).  Indien laasgenoemde waar is, was Jesus en Johannes en Jakobus neefs.  Hierdie 3 vroue is dan ook op die opstandingsmôre by.

Jesus word begrawe: Josef van Arimatea (30 km noordwes van Jerusalem) wat ‘n geheime (Johannes) volgeling van Jesus was sorg dat die voorbereidings vir Jesus se begrafnis getref word en voorsien ook die graf.

Matteus, Lukas en Johannes

Pilatus lewer Jesus oor vir die kruisiging:  Matteus brei op Markus se weergawe uit met die naam van Barabbas, Jesus, sowel as die verhale van Pilatus se vrou wat hom probeer waarsku om nie verkeerd te handel met hierdie onskuldige man nie, en Pilatus wat sy hande in onskuld was.  Hy sluit af met die ontstellende woorde van die volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus.”  Lukas noem ook dat Jesus by Herodes was, terwyl Johannes meer uitbrei oor die interaksie tussen Pilatus en Jesus, en Pilatus en die Joodse Raad.

Die soldate bespot Jesus:  Matteus volg Markus se weergawe met die een byvoeging dat Jesus ook ‘n stok in die hand gestop is, waarskynlik as ‘n soort septer.  Lukas vertel nie dié verhaal nie, en Johannes verwys net kortliks daarna.

Jesus word gekruisig: Matteus volg Markus se weergawe met twee byvoegings, die een is dat die mengsel wat hulle Hom gegee het om te drink, wyn en gal bevat het, terwyl Markus sê dat dit wyn met mirre was.  Volgens Matteus was daar ook ‘n ekstra lyntjie op die aanklag teen Hom geskrywe: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”  Lukas vertel van die interaksie van Jesus met die vroue waar Hy onder andere uit Hos 10:8 aanhaal en noem ‘n ekstra kruiswoord: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  Hy is ook die enigste wat die pragtige verhaal vertel van die een moordenaar wat saam met Hom opgehang is, se erkenning van Jesus waarna hy deur Jesus in die paradys ingenooi word.  Johannes brei nog verder uit oor die taal waarin die opskryf bo die kruis geskryf is, in Hebreeus, Latyn en Grieks, en ook oor die verdeling van Jesus se klere met ‘n aanhaling uit Ps 22:19.  Hy vertel ook van die vroue wat by die kruis was, waarvan die suster van Maria, Jesus se moeder, ‘n interessante toevoeging is, en gee ook ekstra inligting oor die ander Maria, dat sy die vrou van Klopas (vir ons onbekend) was.  Dit wil voorkom asof Johannes – die dissipel vir wie Hy baie lief was – die enigste dissipel was wat by die kruis was, wat ook daartoe lei dat Jesus sy ma aan hom toevertrou.  Hy plaas die kruisiging ook ‘n drie uur later (19:14) moontlik om Jesus se sterwe met die slag van die paaslam te laat saamval (Geulich).

Jesus sterwe:  Matteus verkort Markus se weergawe. Lukas het ‘n ekstra kruiswoord uit Ps 31:6: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” en het sy eie weergawe van wat die offisier gesê het: “Hierdie man wat werklik onskuldig” terwyl hy vir God prys.  Johannes het twee ekstra kruiswoorde: “Ek is dors” (Ps 69:22) en “Dit is volbring!”

Hier is die sewe kruiswoorde in hulle waarskynlike volgorde:

  • “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”: Lukas 23:34.
  • “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”: Lukas 23:43.
  • “Daar is u seun” … “Daar is jou moeder”: Johannes 19:25-27.
  • “`Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”: Matteus 27:46.
  • “Ek is dors”: Johannes 19:28.
  • “Dit is volbring!”: Johannes 19:30.
  • “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”: Lukas 23:46.

Jesus word begrawe: Matteus noem dat Josef ‘n ryk man was, benewens sy invloedrykheid op die Joodse Raad, en dat Jesus in sy eie nuwe graf begrawe is.  Die “ander Maria” was waarskynlik Maria, die moeder van Klein-Jakobus, en die vrou van Klopas.  Lukas voeg ook elemente van die voorbereidings by, reukolie en salf, en dat hulle almal op die sabbatdag gerus het.  Johannes het die ekstra detail dat Nikodemus ook betrokke geraak het en 50 liter mirre en aalwyn vir die salwing gebring het, en dat die graf in ‘n tuin was.

Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou

Written by Webmeester on February 18th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Markus

Hiermee kom ons by Deel 3 van Markus se evangelie.  Die skares en die Fariseërs begin nou op die agtergrond verdwyn.  Jesus gee sy volle aandag aan sy dissipels, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip.  Die drie lydingsaankondigings vorm die hart van hierdie gedeelte.

Jesus kom volgens Markus (enigste evangelis wat die verhaal vertel) uiteindelik in Betsaida aan, maar kry steeds nie rus nie.  Mense bring ‘n blinde man na Hom toe vir genesing.  Getrou aan sy strategie om die samedromming om Hom te verminder, neem Hy die man buite die dorp, genees hom en stuur hom huis toe met die opdrag om nie weer die dorp binne te gaan nie.  Interessant dat Jesus weer spoeg gebruik en dat die genesing twee stadia insluit (uniek in die genesingsverhale).

Sommige geleerdes dink dat die twee stadia eintlik ‘n “acted parable” is, dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien.  Soos Guelich sê: “They are in need of a ‘second touch’ which ultimately comes after Easter”.  Die man se genesing funksioneer dus ook as ‘n metafoor in die res van die verhaal: net dié wie se oë Jesus genees, kan sien – in geestelike sin.

Op pad na Sesarea-Filippi (eintlik ‘n ompad, weg van Jerusalem af?) draai die gesprek met sy dissipels om sy identiteit: “Wie, sê die mense, is Ek?”  Interessant is dat die antwoorde van mense Jesus met sy voorlopers identifiseer (‘n opgestane Johannes die Doper, Elia wat volgens Maleagi weer sou kom, of een van die profete).  Petrus maak egter die belangrike belydenis dat Jesus die Christus is, dit beteken: die gesalfde, die Messias, presies dit waarmee die evangelie se openingsin begin: “Die evangelie van Jesus Christus …”.  Getrou aan Jesus se werkswyse belet Hy hulle om dié belydenis verder bekend te maak om die leiers van die volk nie  iets te gee wat Sy bediening voortydig kan inkort nie.

‘n Wending tree nou in die verhaal in, heel gepas direk na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus.  Soos Matteus dit vertel, is Jesus van hier af op pad na Jerusalem toe.  Jesus begin om sy dissipels dieper in te lei in sy ware status en roeping: om deur die leiers verwerp te word, doodgemaak te word, maar drie dae later weer op te staan.  Hulle het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as die Lydende Messias leer ken (Jes 53).  Hierdie eerste reguit aankondiging van sy dood en opstanding word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en berispe Hom.  Sy woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie.  Sommige geleerdes dink dat Petrus dit verswyg het in die oorvertel van sy herinneringe aan Markus.

Jesus antwoord hierdie onbegrip deur sterk te begin fokus op ‘n dieper lering oor die eise van dissipelskap.  In ‘n sekere sin kan ‘n mens dit ook die Lydensweg van die Dissipels noem (Groenewald).  Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig.  Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie) en navolging.  Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou.  Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe.

Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaam koppel: Wie Hom nou skaam vir my tussen die mense, vir Hom sal Ek my dan skaam tussen die hemelinge met die wederkoms.  Hy sluit die lering af met die verklaring dat baie van dié wat daar staan, in hulle lewe die koninkryk van God met krag sal sien kom.  Dit verwys heel waarskynlik na die opstanding uit die dood, wat nie vir almal beskore was om te sien nie (Rom 1:4; Hand 10:41).

Matteus, Lukas en Johannes

Matteus brei uitvoerig uit oor Petrus se belydenis, noem Jeremia as een van die profete waarmee mense Jesus verbind, en voeg die frase by: “Seun van die lewende God”.  Jesus tree dan met hom in gesprek wat uitloop op die ongelooflike uitspraak van Jesus, dat op hierdie belydenis sal Hy sy kerk bou.  Net so brei hy uit op die eerste aankondiging van Jesus se lyding, dood en opstanding waarin Petrus se berispende gesprek en Jesus se afwysende antwoord daarop weergegee word.  Hy verkort die gesprek oor dissipelskap, maar voeg een perspektief by wat nie in die ander twee Sinoptici voorkom nie, waar elkeen by die wederkoms volgens hulle dade vergeld sal word.  Dit verwys egter waarskynlik steeds in die konteks na die nakoming van die eise van dissipelskap en nie na enige werksheiligheid nie.

Lukas plaas die gesprek oor die belydenis in die konteks van Jesus wat besig is om te bid, en gee Petrus se uitspraak as volg weer: “Die Gesalfde van God.”  Hy verkort Markus se aankondiging van Jesus se dood en opstanding na ‘n enkele sin.  Hy volg Markus se weergawe van Jesus se lering oor dissipelskap, hoewel net korter.

Johannes plaas die belydenis van Petrus in die konteks van ‘n hele aantal dissipels wat Jesus verlaat het, en op Jesus se vraag of hulle nie ook wil gaan nie, maak Petrus dan die belydenis dat hulle by Hom wil bly, want Hy is die Heilige van God.  Jesus se reaksie daarop is dat daar steeds een van dié wat agtergebly het is wat eintlik ‘n duiwel is, bedoelende Judas.