Posts Tagged ‘wysheid’

Om te luister in ‘n wêreld waar wysheid nodig is

Written by Webmeester on July 15th, 2010. Posted in Eredienste

Sondag begin ‘n nuwe reeks in ons gemeente: Stories wat inspireer.

Ons lees die verhaal van Salomo in 1 Konings 3 en put inspirasie uit Salomo se legendariese wysheid.

Dit tref my dat Salomo van God gehoorsaamheid vra dat hy reg sal kan regeer en in alles insig sal hê, veral omdat hy nog jonk en onervare is. In die oorspronklike word gehoorsaamheid met twee woorde geskryf: “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal: “discerning heart”.

God voldoen nie net aan sy versoek nie, maar gee ook vir hom rykdom, aansien en ‘n lang lewe.  Die belangrikste is dat God vir Salomo wysheid en insig gee:

‘n luisterende hart.

  • Hy luister met insig na die 2 vroue wat stry oor hul kind.
  • Hy  reël skofte vir sy werkers met die bou van die tempel: 1 maand weg in Libanon en 2 maande by die huis (1 Kon 5).
  • Hy skryf ‘n hele aantal spreuke en psalms, waarvan sommige in die Bybel opgeneem is (dele van Spreuke, Hooglied, Prediker, Psalm 72 en 127).
  • Hy het ‘n internasionale impak soos die talle verhale van hom in die Arabiese en Ethiopiese tradisies getuig, wat hom eer vir sy intellek.

Die feit dat Salomo uiteindelik in sy middel-vyftigs die pad byster geraak het, lief geword het vir perde en vroue – ten minste liewer vir hulle geword het as vir die Here – neem nie weg dat hy ‘n ongelooflike gawe gehad het nie, die gawe van wysheid.

En dit is dié kant van Salomo, sy luisterende wysheid, wat my inspireer.

1 Konings 3-4 – Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here

Written by Webmeester on April 23rd, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Konings

Die verhaal van Salomo word voortgesit met klem op sy wysheid en voorspoed.  ’n Tema wat uiteindelik tot sy afvalligheid aanleiding sou gee, word egter ook aangeraak in hfst. 3, sy huwelik met Farao se dogter.  Salomo was lief vir uitlandse vroue en hulle afgode sou hom verlei om hulle te aanbid.

Let op dat Salomo steeds op die hoogtes offer, hier by die vernaamste een in Gibeon.  Dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting (2 Kronieke 1:2-13) was.  Dit is betekenisvol dat dit juis hier is waar die Here in die droom aan Salomo verskyn.

Salomo wys sy liefde vir die Here deur gehoorsaam te wees aan die opdragte van sy pa.  Let op hoe hy Dawid ook in sy droomgesprek met die Here erken en respekteer.

Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê.  Gehoorsaamheid in die oorspronklike beteken eintlik ’n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.

God gee daarmee vir hom die ander goed ook, dié dinge wat hy nie gevra het nie.

Daarna keer hy terug na Jerusalem toe en bring sy offers daar.

En die wysheid wat God gee is onmiddellik sigbaar met die uitspraak wat hy gee in die geval van die seuntjie wat doodgelê is.  Dit verleen hom hoë agting in die oë van die volk as ’n man wat Goddelike wysheid het.  Hy raak bekend vir sy spreuke, liedere en gedigte in die hele Midde-Ooste (4:29-34).  Let op hoe die onderwerpe waaroor hy skrywe ook die aarde en die skoonheid van plant en dier insluit.

Twee van die streekbestuurders was getroud met Salomo se dogters wat sy greep op die administrasie verklaar.

Die beloftes aan Abraham word waar: hfst. 4:20: “Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see.”  Interessant dat van hulle gesê word dat hulle gelukkig was.

Salomo het ’n groot huishouding gehad: 15 ton meel per dag, 30 beeste en 100 skape behalwe die wild en hoenders!

Salomo heers oor die grootste gebied van al die Israeliese konings.  Hy verwesenlik die Abrahamitiese droom om die land te besit van Dan tot Berseba.  Die ideaal van “elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit” (4:25) word bereik en bly ook die ideaal waaraan die profete die toekoms meet.

Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad

Written by Webmeester on February 26th, 2010. Posted in Bybelskool, Didage, Markus

Oorsig oor vandag se perikope

Let op hoe Markus ons vandag van die interaksie van drie groepe met Jesus vertel wat uiteindelik tot sy dood sou lei:

  1. Die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde (hulle vorm die hele Joodse Raad of Sanhedrin [Romeinse titel] van 71 lede – 15:2) – nadat hulle van die tempelreiniging gehoor het (11:18) vra hulle Jesus uit oor die gesag (11:28) waarmee Hy dié dinge doen, waarop Hy hulle met ‘n gelykenis antwoord wat ‘n verdoemende oordeel oor hulle uitspreek, sowel as om hulle te herinner aan wat die grootste gebod is (in ‘n gesprek met een skrifgeleerde – 12:28).  Vir die eerste keer verstaan hulle ‘n gelykenis, maar vul dit hulle met wrewel!  Dit is met dié groep dat Judas Iskariot uiteindelik saamspan om Jesus te verraai (14:10, 43) en in die saamgeflanste verhoor te veroordeel (14:53, 55).  Onthou egter dat nie alle lede van die Joodse Raad boos was nie: Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad, reël bv. Jesus se begrafnis (15:43).
  2. Die Fariseërs en Herodiane – hulle konkel reeds saam sedert die genesing van die man met die gebreklike hand op ‘n sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum (3:1-6) en probeer Jesus hier vastrek met ‘n vraag oor belasting (12:13).   Die Fariseërs was skrifgeleerdes waarvan sommige ook in die Joodse Raad gedien het.  Die Herodiane weer was volgelinge van koning Herodes, wat ‘n politieke betekenis aan die vraag oor belasting gee.
  3. Die Sadduseërs – hulle was die meerderheid in die Joodse Raad (Hand 23:6) en het die opstanding uit die dood ontken.  Dit is betekenisvol dat die hoëpriester een van hulle was (Hand 5:17).  Hulle probeer Jesus vasvra met ‘n vraag oor die lewe na die dood (12:18).

Na die drie groot gesprekke fokus Markus op die vraag van ‘n skrifgeleerde aan Jesus oor die grootste gebod in die Skrif (12:28) en Jesus wat die leringe van die skrifgeleerdes analiseer (12:35 en 38 [môre]).

Markus

Jesus oornag hierdie laaste week van sy lewe in Betanië terwyl hy dag vir dag in die tempel optree en met die skare en hulle leiers in gesprek tree.  Dit lyk aanvanklik asof Jesus die vraag van die Joodse Raad oor die gesag waarmee Hy in die tempel optree, ontwyk met sy teenvraag (‘n rabbynse manier van argumentasie), deur hulle uit te daag om eerlik te wees oor wat hulle van Johannes die Doper se gesag dink.  Omdat hulle bang is vir die mense, wil hulle nie hulleself tot ‘n uitspraak verbind nie.

Maar dit word gou duidelik dat Jesus met die gelykenis van die bose optrede van die boere in die eienaar se wingerd (vgl Jes 5 waar Israel as ‘n wingerd beskrywe word) hulle ontmasker as mense wat God se gesag uitdaag en deur Hom geoordeel sal word.  Met die metafoor van die afgekeurde klip (Hyself) wat die belangrikste klip in die gebou word, profeteer Jesus die uitkoms van sy naderende dood aan hulle hand, asook sy opstanding (vgl ook Hand 4:11-12 waar Petrus dieselfde teks aanhaal vir die Joodse Raad).  En, interessant genoeg, vang hulle die sinspeling op hulleself, met die verwagte gevolge: hulle soek ‘n plan om Hom te laat vang, ‘n plan waaraan Judas uiteindelik meewerk.  Hulle oë begin dus oopgaan, maar hulle hou nie van wat hulle sien nie.

In opdrag van die Joodse Raad probeer ‘n paar Fariseërs en Herodiane Hom in ‘n strik vang met die vraag oor belasting (die Romeinse belasting dateer uit 6 nC, toe Judea ‘n Romeinse provinsie geword het).  Let op die godsdienstige vleitaal wat die gelaaide politiese vraag verberg – Herodes kon immers net op die guns van die keiser regeer.  Jesus weet egter dat hulle huigel en gee ‘n briljante regverdige antwoord: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

Nog is het einde niet.  Die grootste groep in die Joodse Raad, die Sadduseërs, konfronteer Hom met ‘n vraag oor die huwelikstatus in die hiernamaals van ‘n vrou wat met sewe broers getroud was (die sogenaamde swaershuwelik), hoewel hulle natuurlik self nie in die opstanding geglo het nie.  Die rede vir dié siening was dat daar geen direkte verwysings na die lewe na die dood in die Pentateug (die eerste 5 boeke van die OT) was nie, en dié 5 boeke al Skrif was wat hulle as gesaghebbend aanvaar het.  Jesus ontbloot met sy antwoord hulle swak Skrifkennis sowel as hulle onderskatting van die krag van God.  Interessant is dat Jesus dan juis ‘n teks aanhaal uit die Pentateug (Eks 3:6), wat getuig van ‘n lewe na die dood, om hulle verkeerd te bewys.

‘n Skrifgeleerde staan dan nader baie beïndruk met Jesus se goeie antwoord en vra dan Jesus se mening oor wat die heel grootste gebod is.  Volgens een telling het die skrifgeleerdes 613 wette uit die Pentateug opgeteken!  Jesus haal dan die Shema (die belangrikste gebed van die Jode, wat onder andere elke sabbat in die sinagoge gelees is) uit Deuteronomium 6:4-5 aan, ‘n samevatting van die eerste tafel van die wet,  met die byvoeging van “met jou hele verstand”, wat moontlik kan terugwys op die Sadduseërs se gebrekkige kennis.  Daarby voeg Hy die gebod uit Levitikus 19:18  dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, wat ‘n opsomming is van die tweede tafel van die wet.

Die skrifgeleerde is nog meer beïndruk met dié antwoord van Jesus, soveel so dat hy Jesus se antwoord eintlik volledig herhaal, waarin hy die Shema se “hart, siel en krag” verander na “hart, denke en krag” op voetspoor van Jesus se beklemtoning van verstand.  En voeg daarby dat dit van meer belang is as al die Joodse offers (vgl Hos 6:6).

Jesus reageer met groot waardering vir sy verstandige antwoord: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” ‘n Mens wens Markus het meer detail hieroor verskaf, dat ‘n mens die uitkoms van dié gesprek in die lewe van die skrifgeleerde te wete kon kom!  Maar niemand het hierna gewaag om Jesus verdere vrae te vra.  Jesus se intellek en wysheid was net te veel.

Die gesprekke draai nou om, deurdat mense nie meer vir Jesus vrae vra nie, maar Hy die geleentheid begin gebruik om hulle te leer, onder andere oor hoe ‘n mens Psalm 110 se uitspraak oor die seun van Dawid moet verstaan (vgl Bartimeus in 10:47).

Matteus en Lukas

Matteus en Lukas stem grootliks ooreen met die vertelling van Markus oor Jesus se gesag, met Lukas wat ‘n interessante ander inleiding het dat Jesus besig was om die evangelie aan die volk te verkondig, toe die Joodse Raad met Hom in gesprek getree het.

Met die vertelling van die gelykenis is daar egter groter en interessante verskille.

Matteus praat van die eienaar as ‘n grondbesitter en praat van meer as een slaaf wat op ‘n keer na die wingerd gegaan het om van die oes te gaan haal.  Hulle lot word ook verskillend beskryf: sommige geslaan, ander doodgemaak, ander gestenig.  Waar Markus die antwoord op die vraag aan die einde van die gelykenis in die mond van Jesus plaas, plaas Matteus dit in die mond van die Joodse Raad.  Jesus identifiseer ook, in Matteus se weergawe, die Joodse volk as die mense op wie die gelykenis betrekking het””die koninkryk van God sal van julle weggeneem word en aan ‘n volk (sal) gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer.” (vgl Jes 5)

Lukas weer vertel net dat die seun in die gelykenis doodgemaak is.  Interessant is dat hy ook soos Matteus die antwoord op die vraag aan die einde van die gelykenis in die monde van die gehoor plaas.  Hulle reaksie is egter anders as met Matteus en Markus se weergawe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”

Met die vraag oor die betaal van belasting volg Matteus die weergawe van Markus redelik getrou.  Lukas plaas dié vraag egter in die monde van “geheime agente” wat Jesus eintlik by die goewerneur wil aankla.

Met die vraag van die Saddusëers oor die opstanding volg Matteus ook die weergawe van Markus redelik getrou.  Lukas herskryf dit egter en gee ‘n meer uitvoerige lering van Jesus oor die toekomstige wêreld weer, hoewel dit steeds in breë trekke dieselfde basiese inhoud as Markus s’n vertoon.

Met die vraag oor die grootste gebod is daar ook detail verskille.  Matteus en Lukas plaas dit in die konteks van ‘n vastrek vraag, terwyl Markus Jesus as baie beïndruk met die vraagsteller voorstel.  Lukas plaas die verhaal ook vroeër in die bediening van Jesus, en as ‘n vraag na die beërwing van die ewige lewe, waaraan hy die verhaal van die barmhartige Samaritaan koppel.  Beide Matteus en Lukas laat die eerste deel van die Shema weg, en Matteus ook die verwysing na krag.  Albei het egter die byvoeging van Jesus dat ‘n mens God met jou verstand moet liefhê.  Matteus vertel hierdie uitspraak van Jesus as ‘n samevatting ook van die profete, dws die hele Skrif, en nie net die wet nie.

Matteus plaas die gesprek oor die seun van Dawid in ‘n gesprek met die Fariseërs, wat baie meer sin uit die gedeelte in Markus maak.  Jesus vra volgens Matteus die Fariseërs wie se seun die Christus is, waarop hulle antwoord Dawid s’n. Jesus se aanhaling van Psalm 110 dat die Messias nie net Dawid se seun is nie, maar ook sy Here, snoer vir goed hulle monde.  Hulle sou Hom moes doodmaak om Hom stil te kry.