Dissipelskap

AddThis Social Bookmark Button
AddThis Social Bookmark Button

DISSIPELSKAP PROGRAM

Een van die baie effektiewe maniere van dissipelskap wat in die kerk voor die Reformasie ontwikkel is, is die proses van geestelike begeleiding (spiritual direction). Ongelukkig het baie van die wysheid wat sodoende deur die kerk opgedoen is, mettertyd verlore geraak. Vandag is daar weer 'n herontdekking van die waarde daarvan en word geestelike begeleiers (spiritual directors), weer oral deur kerke opgelei.

In die proses van geestelike begeleiding word daar van die veronderstelling uitgegaan dat God op pad is met elke mens. Elkeen van ons is op 'n reis, ons is nie maar net toevallig waar ons is nie. Op hierdie reis is God besig om in ons lewens te werk en vir ons te probeer duidelik maak wat sy wil vir ons lewens is. Deur middel van geestelike begeleiding word mense dan begelei om te leer onderskei waarmee God besig is in hulle lewens. Die kuns van dissipelskap, soos ek dit sien, is dan ook niks anders as juis dit nie, om te leer onderskei waarmee God besig is in jou lewe.

Met hierdie modules van dissipelskap, wil ons dan mens leer om hierdie kuns te ontwikkel, om te kan raaksien en onderskei waarmee God in hulle lewens besig is. Wanneer mense leer om dit te doen, begin die lewe skielik meer sin te maak en begin mense ook hulleself en hulle eie rol hier op aarde beter verstaan. Om hiertoe te kan kom, is dit natuurlik van wesenlike belang om in ‘n lewende verhouding met God die Vader te leef van dag tot dag.  ‘n Verhouding waarin en waardeur ek in toenemende mate God se Vaderliefde, sy goedheid, sy genade, sy omgee, sy versorging, sy troos, sy betrokkenheid by my lewe en sy leiding van dag tot dag leer ken en ervaar.

Hierdie verhouding neem in aanvang wanneer ek gehoor gee aan Jesus se uitnodiging: "Volg my". Ek word uitgenooi om, soos sy eerste dissipels, `n pad saam met Hom te stap. Sy eerste dissipels het gehoor gegee aan die roeping deur alles net so te los en Hom letterlik te volg. Gedurende hierdie tyd het hulle nie baie vir hom gedoen nie. Hulle het Hom net gevolg, oral waar Hy gegaan het. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle Hom dopgehou, na Hom geluister, van Hom geleer, Hom leer ken, tyd met Hom spandeer, met Hom gesels, gekyk wat Hy doen en hoe Hy dit doen. So is hulle "opgelei" om mense soos Hy te word, mense wat met dieselfde waardes en oortuigings as Hy leef. Na angeveer drie jaar plus se opleiding, het Jesus hulle uitgestuur om uit te gaan en nou ook van ander mense dissipels te gaan maak, of ons kan ook sê om ander te gaan begelei om op dieselfde manier te leer lewe.

Ek glo van harte dat ons pad van dissipelskap vandag nog dieselfde roete volg. Wanneer ons Hom begin volg, moet ons ook net eers volg, luister, dophou, waarneem, gesels, tyd spandeer, leer en leer en nogmaals leer. Ons moet sommer net by Hom wees, Hom leer ken en bewonder, leer hoe Hy "dink", hoe Hy mense sien, hoe Hy die wêreld sien, wat sy waardes en oortuigings is - sodat dit alles ook ons s'n kan word. Dis al manier waarop ons gaan leer onderskei waarmee God besig is, ook waarmee Hy in my eie lewe besig is. As ons dit getrou doen, sal ons ook op `n dag hoor: "soos die Vader my gestuur het, stuur ek ook nou vir jou". Om uit te gaan en vir Hom te begin werk, voordat jy meer duidelikheid het oor wat jou eie "gestuur wees" behels, kan vir jouself baie probleme bring en selfs groot seerkry veroorsaak.

Verder gaan dit ook uit van die siening dat emosionele gesondheid van groot belang is vir innerlike transformasie. In die laaste twee modules wil ons ook mense blootstel en begelei tot `n meer kontemplatiewe spiritualiteit. Ek glo dat beide hierdie aksente van wesenlike belang is vir die pad van dissipelskap.