|
22 November 2009
Posted in
Eredienste -
Dagstukkies
Lees Efesiërs 3:1-21
Ons is beperk in ons begrip van God se doel met die skepping van die wêreld. Sy gedagtes is hoër as ons s'n en sy bedoelinge baie keer vir ons ondeurdringbaar. Maar iets wat ons van God uit die Skrif kan agterkom, is dat Hy ‘n passie vir ‘n intieme verhouding met mense het. Dit sien ons al in die tuin van Eden, en op gesette tye regdeur die eeue, waar Hy mense opsoek en met hulle in verhouding tree. In Jesus se vleeswording sien ons hierdie passie die duidelikste geïllustreer.
Dit sluit in dat God mense uit alle volke een liggaam in Christus wil maak, en daarmee aan die bose magte in die hemelruim iets van die krag van sy liefde ten toon wil stel. Daarom dat Paulus die hoofstuk as ‘n gebed skryf, omdat dié doel van God hom só beetgepak het, dat Hy bid dat ons almal, mense van alle stamme, tale en nasies, God se liefde sal ken en met sy volheid vervul sal word. Dink na oor wat die implikasies hiervan vir jou lewe is, as God jou saam met ander mense, van wie jy miskien verskil, wil gebruik om sy doel met die wêreld te bereik. Hoe kan jy vandag die grens begin oorsteek na iemand wat anders is as jy?
| < Vorige | Volgende > |
|---|






