Artikel Indeks
Rom 6:12-23 - Son 29 Jun 08
Slawerny versus Vryheid
Beloning versus Geskenk
Alle bladsye

Die tweede deel van Romeine 6 roep ons as gelowiges op om God te dien met alles wat ons is en het.  Doen wat God wil (en nie wat die sonde wil nie).

Paulus gebruik 3 teenstellings in hierdie teksgedeelte om sy punt te maak:

·         Sonde versus God: Sonde is die mag wat teenoor God staan en is nie net persoonlik nie, maar ook die mag van die lewenswyse van jou kultuurgemeenskap.

·         Slawerny versus vryheid: Ons almal is óf slawe van die sonde en in gewaande vryheid van God óf slawe van God en vry van die sonde.

·         Beloning versus geskenk: Die sonde gee die beloning van die ewige dood, maar God gee vir sy mense die geskenk van die ewige lewe.

Sonde versus God

Soos ons verlede week in Romeine 6:1-11 gesien het, sonde is ‘n mag wat teenoor die mag van God staan.  En dit is nie net ‘n persoonlike morele begrip, jy mag nie dit nie, of jy mag nie dat nie.  Dit is ook veral ‘n kultuur begrip.  Sonde is die manier van leef van die heersende kulture van jou tyd:

·         Vir die liberale Grieke en Romeine was dit in Paulus se tyd om sonder reëls en wette te lewe: goddeloos (asof God nie bestaan nie) en onsedelik (asof God se wil geen rol in jou manier van lewe speel nie).

·         Vir die konserwatiewe Jode was dit in Paulus se tyd om met reëls en wette te lewe: maar dit was eie geregtig (hulle het gedink hulle kan God se guns daardeur verdien) en baie eksklusief (hulle het gedink hulle is beter as die heidene en wou nie met hulle assosieer nie).

Om vry te kom van hierdie mag van sonde, het God sy genade in die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus gegee, sodat beide die liberales as die konserwatiewes, beide die Grieke en Romeine as die Jode, die vryspraak van vergifnis van sonde binne ‘n geloofsverhouding met Jesus kan kry.  Daarmee het Hy gelowiges uit die domein van die sonde na die domein van God verlos, vanuit die heerskappy van die sondige wil van die heersende kultuur na die heerskappy van sy wil in die gemeenskap van gelowiges.  En waar die sondige lewenstyl van die Grieks-Romeinse kultuur die botoon in hulle lewens gevoer het, het nou die lewenstyl van gehoorsaamheid aan God in sy gemeente die botoon in hulle lewens gevoer.

En ons sal goed doen om ons eie lewens te ondersoek watter domein in ons lewens tans die botoon voer.  Is dit die domein van die sonde of die domein van God?:  Vra jouself af:

·         Lewe jy asof God nie bestaan nie (soos praktiese ateïste) of vertrou jy Hom met jou hele lewe binne die gemeenskap van gelowiges?

·         Lewe jy onsedelik (soos praktiese hedoniste, d.w.s. jy hanteer seks nie volgens God se wil nie, maar volgens jou eie behoefte – en dink ‘n bietjie na oor die impak wat TV en flieks op ons manier van dink het) of lewe jy met die oog op die belang van jou maat en van die gemeente?

·         Lewe jy eie geregtig (dink jy dat jy God se guns verdien omdat jy dink dat jy beter is as ander, soos die Fariseër eenmaal oor die tollenaar gedink het) of lewe jy afhanklik van God se genade, sonder vooroordeel en veroordeling saam met dié wat jou broers en susters in geloof is?

·         Lewe jy uitsluitend (jy besluit wie in is en wie uit is op grond van jou eie maatstaf, hetsy taal, of kleur, of intelligensie, of vermoëns of besittings) of lewe jy met die vraag: vir wie kan ek ‘n naaste wees sonder dat kultuur oorwegings jou liefde bepaal?

Ons moet telkens onthou, herinner Paulus ons, God het ons vrygemaak van die domein van die sonde sodat ons in sy domein, die domein van sy heerskappy in gemeente en gemeenskap, kan lewe.

 



Lewer kommentaar