21 Julie 2008
Posted in
Preke -
Chris van Wyk
| Artikel Indeks |
|---|
| Matt 13:24-30, 36-43 - Son 20 Jul 08 |
| Die verskil tussen die boer en die werkers |
| Die impak op ons |
| Waar laat dit ons as gemeente? |
| Kindertyd |
| Alle bladsye |
Inleiding
Die tekste van die leesrooster het ‘n baie interessante onderlinge verband.
Drie van hulle, Genesis 28, Romeine 8 en Matteus 13, vertel stories van hoe God
mense hanteer, met Psalm 139 wat God se altyd-teenwoordige liefde prys.
·
In die
storie van Jakob, eensaam in die
veld, met net homself te verwyt vir sy penarie, kom ons agter dat God luister,
selfs na só ‘n bedrieër.
·
In die
brief van Romeine vertel Paulus van ‘n ander stem wat roep na God, die stem van
die skepping en die stem van sy kinders wat roep om van die
verganklikheid verlos te word ... en God luister.
·
In die
evangelie van Matteus vertel die apostel van die werkers van God wat worstel met die amper onmoontlike taak wat God
aan hulle toevertrou het, die onkruid lyk immers net soos die koring tot net
voor die oestyd – waarskynlik is die onkruid waarna
verwys word die drabok (’n giftige
plant - bearded darnel [Lolium temulentum]) wat met ontkieming
nes koring lyk, en eers later sy ware kleure wys – en God luister en gee vir hulle hoop sodat
hulle nie verlam raak nie, maar met oorgawe hulle werk kan doen.
Geen wonder nie dat
Psalm 139 dié God prys, wat, soos Murray Janson gesê het, “met genade boer”! Hy word nie verlam nie, Hy raak nie doof nie,
Hy word nie uitgevang nie, Hy raak nie ontsteld nie, Hy is besig om sy
koninkryk te laat kom, op sy terme.
Ons het nodig om dié boodskap te hoor, want as ons te veel bewus raak van ons eie onreinheid en onbekwaamheid en gemengde motiewe in die wyse waarop ons ons roeping uitvoer, dan kan ons huiwerig raak en so ons entoesiasme en waagmoed verloor. Nie dat ons nie ons eie swakhede moet miskyk nie, maar ons moet ook vir God raaksien wat ons, die koring en die onkruid, sal hanteer op sy eie wyse en op sy eie tyd.
Skriflesing
Matteus 13:24-30,
36-43
Die probleem van die onkruid in die
gemeente
Matteus deins nie
terug vir die praktiese probleme wat die kinders van God in die lewe ervaar
nie. Hy praat oor woede, seksuele
gedrag, egskeiding, skynheiligheid, belasting en besittings, waaroor hy nogal
‘n mondvol te sê het. Op plekke is hy so
skerp en radikaal dat ‘n mens amper nie hou van wat hy sê nie: “elkeen wat na
‘n vrou kyk ... het reeds in sy hart ...” (Matt 5:28). Maar jy kan nie sê hy is abstrak nie –
Matteus is ‘n voete-vas-op-die-grond apostel.
En wie van ons het nie
al met dié probleem, die probleem van onkruid, in die gemeenskap van die
gelowiges, in ons eie gemeente geworstel nie?
·
Mense wat
die Here ernstig dien en wat drome droom oor hoe die kerk nou eintlik moet
wees, wat ‘n hawe is vir ander mense, wat met vreugde lewe en met liefde dien
...
·
is saam deel
van die een kerk ...
·
waar ook
ander mense is, mense wat op die oog af eerder deur eie-belang gemotiveer word en
wat onbetrokke en afsydig is en nie regtig inskakel by dié dinge wat in die
hart van die gemeente gebeur nie.
En dit is nie ‘n eenvoudige saak nie – die gemors is dat die houding en mening van dié wat onbetrokke is die geneigdheid het om die ander meer betrokke mense se perspektiewe te oorheers, en die hele gemeente word daardeur geraak. Wie het nie al gewens hulle kan van die vrot appels of die droë hout of soos die gelykenis daaroor praat, die onkruid, in die gemeente ontslae raak nie?
| < Vorige | Volgende > |
|---|





