Artikel Indeks
Rom 6:1-11 - Son 22 Jun 08
Die eerste perspektief
Die tweede perspektief
Steek altyd weer grense oor!
Alle bladsye

Ek worstel al twee weke met dié teks – en maak geen fout nie, dit raak nie sommer ‘n makliker teks met die eerste en tweede en selfs derde lees daarvan nie! 
Hoofstuk 6  vorm deel van die leerstellige deel van Romeine 1-11, ‘n noodsaaklike begronding van die meer praktiese deel van die brief aan die Romeine wat in hoofstuk 12 begin en afsluit in hoofstuk 16.  En dit is ook ‘n belangrike deel van die enger konteks van hoofstuk 5-8, waar dit oor ‘n beskrywing van die nuwe lewe in Christus gaan.
En die rede waarom dit so moeilik is, is aan die een kant te wyte aan die wyse waarop Paulus sy argument voer.  Dit is net nie maklik toeganklik nie, nie in terme van taalgebruik nie en nie in terme van die argumentasie self nie. 
Maar aan die ander kant is dit ook te wyte aan ons gebrek aan begrip van wat hy met sonde bedoel – ons het ‘n ongelooflike private, persoonlike verstaan daarvan, terwyl Paulus eintlik heel anders daaroor praat.
Wat baie help, het ek gevind, is dat ‘n mens eintlik die hele brief van Romeine moet lees, en herlees, en dan telkens die hele boek in gedagte moet hou, om die boodskap van hoofstuk 6 te kan verstaan. 
Maar wat my nog meer gehelp het, was om ietsie te lees oor die gemeente van Rome in die baie besondere standaardwerk van Justo González, The Story of Christianity, wat die verhaal van die impak van Christus die afgelope twee millennia in die wêreld vertel.  Want dít het my gehelp om beter te verstaan wat Paulus hier bedoel met sonde, en hoe ‘n mens sy boodskap op jouself van toepassing kan maak.
Daarom wil ek ‘n paar perspektiewe gee uit die geskiedenis van die Christendom (Christianity en nie die Engelse Christendom nie), sowel as uit die res van die boek van Romeine, wat vir ons kan help om die boodskap van hoofstuk 6 te kan verstaan en vir onsself toe te eien. 
En onthou, God is besig om met ons te praat deur die gedeelte en deur die prediking – luister dus met die oog daarop om God te hoor (en nie vir my nie!).

 



Lewer kommentaar