AddThis Social Bookmark Button

Preek deur Rev Edwin Arrison

Baie dankie aan u almal en veral aan Ds Rethie van Niekerk vir die uitnodiging aan my om vandag hier te preek. Dit is die eerste keer dat ek in ‘n NG kerk preek en heel moontlik is net my teenwoordigheid hier alreeds die helfte van die preek.

Die tema wat vir vandag gekies was (om geregtigheid te doen in ‘n wereld waar ongeregtigheid so baie keer seevier) laat my dink aan die Psalm skrywer (Ps 94:3) se woorde: How long shall the wicked triumph? Hoe lank sal die goddeloses hul verlustig in die leed van ander mense? M.a.w. hoe lank gaan die ongeregtiges nog wegkom met hul ongeregtigheid? Dit is ‘n vraag wat so baie van ons vandag nog vra, en ons sien hoe hierdie vraag in die storie van Nabot se wingerd implisiet gevra en dan ook explisiet beantwoord word.

 
Want - dit is juis in hierdie konteks wat God ingryp. Kom ek begin vanoggend met u te praat oor wie die God van die Bybel is. Eerstens, God neem kant. God staan nie koud of neutraal nie. Baie keer in ons geloofsgesprekke wil ons die indruk van ‘n neutrale God gee, maar nee, God is aan die kant van hulle wie onderdruk word in Egipte, hy is aan Dawid se kant, hy is aan Noag se kant, hy is aan Nabot se kant.

En as hy kant neem vir iemand, neem hy kant teen andere. Hy staan teen ongeregtigheid. In die Nuwe Testament verskuif die klem ietwat en wil God dit duidelik maak dat sy koninkryk in ons harte gevestig moet word, maar ons vind nog steeds dat Jesus praat van die bokke en die skape, die Goeie Samaritaan en hulle wie verby die slagoffer stap.

Tweedens: God staan vir iets. In Engels sê hulle: If you don’t stand for something, you will fall for everything and anything. Met ander woorde, as jy nie bereid is om standpunt in te neem aan God se kant nie, dan is die veld wyd oop vir wat en wie jy bereid is om voor te val. Jy is dan neutraal, en neutraliteit lei amper altyd dat jy die kant neem van ongeregtigheid.

God, my vriende, staan nie neutraal teenoor die situasie waarin Nabot hom bevind nie. God neem die kant van die persoon wie ongeregtigheid lei. En niks het verander nie. Dieselfde God wie Nabot se ongeregtigheid teengestaan het, staan vandag nog ongeregtigheid tee. Hy wil graag hê sy volgelinge moet dieselfde doen, maar al doen hulle dit nie, sal selfs die klippe namens hom begin getuig vir dit wat reg is.

En hoekom neem God kant en hoekom neem God standpunt in? God doen dit vir ‘n rede. Die storie van Nabot is ‘n storie van geregtigheid en ongeregtigheid en hoe God se wese, God se hart, ‘n hart van geregtigheid is. God kan nie anders nie want dit is in wese wie God is. Iemand het gesê: The arc of history is bent towards goodness. Met ander woorde, dit maak nie saak of daar ongeregtighede gebeur nie, geregtigheid sal altyd laaste woord hê. Maar die rede hoekom dit so is, is omdat dit in God se DNA is, en dus is dit ook in ons en ook in die hele skepping se DNA. Soos die titel van Biskop Tutu se laaste boek sê: We are MADE FOR GOODNESS. Ons as mense juig nie as ons ongeregtigheid en lyding en pyn sien nie – nee, ons huil, ons word kwaad en ons wil iets daaroor doen, want dit is hoe ons aanmekaar gemaak is, that is how we are wired. Dit is in ons DNA – ons kan nie anders as om te staan vir geregtigheid nie want ons is in en na God se beeld geskape. Dit is fundamenteel wie ons is.

U mag dan vra: maar as dit so is, hoekom is daar nog steeds so baie ongeregtigheid? Hoekom lyk dit asof net ‘n klein groepie van ons so aanmekaar gesit is? Die rede is dat God ons nie sonder vryheid geskape het nie – God is vry, en hy het ons met daardie radikale vryheid geskape. Hy kon ons robots gemaak het, maar hy het nie. Hy glo in vryheid en ja, ons het selfs die vryheid om te sondig en ons oefen partykeer daardie vryheid uit op maniere wat God nie wil hê nie.  

Ek het nou gesê wie en wat God, nou kom ons keer terug na vanoggend se storie in 1 Konings 21: Daar is ‘n paar gevare wanneer ons hierdie storie benader: Die een gevaar is dat ons dit kan individualiseer en verpersoonlik. Ja, ons praat van individue in die Ou Testament maar die klem in die Bybel is op wat ons noem die “common good”. So u kan nie bv sê dat dit het net betrekking op Nabot nie, en het nie betrekking op my nie asof Nabot se situasie ‘n unieke een was en myne uniek is en dus kan ons nie die twee stories bymekaar uitbring nie. Ek noem hierdie gevaar omdat ek sien dit in die kerk gebeur: Party mense sê: dit is ‘n goeie storie maar dit beteken niks vir my nie.

Laat ek vir u sê: dit het alles met ons te doen. Die storie van Adam en Eva het alles met ons te doen. Die storie van Abraham en Sara en Hagar het alles met my en met u te doen. Die storie van Josef en sy broers het alles met my en met u te doen. Nie alleenlik lees ons die Bybel nie: die Bybel lees ook vir ons. Die Bybel is ‘n lewendige boek en elke storie in die Bybel het betrekking op ons lewe saam as ‘n Christelike gemeenskap.

Die tweede gevaar is dat ons die storie so veralgemeen dat dit ook dan niks beteken nie. Van wanneer af het die Bybel ‘n interresante boek geword? Gaan reis maar in Europa en kyk na die effek van hierdie tipe redenering waar die Bybel interessante literatuur geword het, wat jy met Shakespeare kan vergelyk.

Dietrich Bonnhoefer is die een Europese teoloog na wie ons vandag ernstig  moet luister. Hy praat van hoe ons “goedkoop genade”, cheap grace, wil nastreef. En hy maak die punt baie duidelik: God se genade mag verniet wees, sy genade mag genoeg wees vir my, maar dit is nie goedkoop nie. In die proses van goedkoop genade nastreef vergeet ons dan van wie God eintlik is, en ons vergeet dat die Bybel ‘n lewende boek is.

Geregtigheid ook is nie goedkoop nie. As u dink geregtigheid is goedkoop, kyk maar net na die kruis. God se genade en God se geregtigheid is gekoop en verseel met sy bloed. Dit is nie en mag nooit goedkoop gemaak word nie.

Dit bring ons na die derde gevaar: Die derde gevaar is dat ons die storie lees en dan ons Christelike geloof uitleef asof Jesus nooit mens geword het nie. God is nog in sy hemel en hy moet daarvandaan een of ander intervensie maak sonder dat ons daarin betrokke moet raak. Maar juis omdat hy mens geword het, het ons menswees radikaal verander want die Godheid het nou deel kom word van die mens-heid. Een van die vroeë kerkvaders het gesê: He took on our humanity so that we can take on his divinity. Baie van ons dink nog dat God uit sy hemel moet kom en iets vir ons moet kom doen: Nee, sy werk is gedoen; ons is nou bemagtig om dit voort te sit en totdat ons dit nie besef nie, gaan ons altyd God blameer terwyl God terugpraat en sê: Ek het julle alles gegee wat julle nodig het: doen dit.

En dit is hoekom ons vandag mekaar in die oe moet kyk en vir mekaar moet sê dat ons broers en susters van mekaar is. Ons beheptheid met my groepie, my familie moet vervang word met ‘n beheptheid vir ons familie in Christus. DIT is die evangelie. In die koninkryk gaan mense kom van die ooste en van die weste en van die Noorde en van die Suide. Ons Christelike familie-skap is groot. Dit is alreeds in die Kersfees storie ingeskryf wanneer wyse manne uit die Ooste kom om vir Jesus geskenke te bring, ons sien hierdie inklusiwiteit in Jesus se lewe en ons sien dit dan weer by Pinkster wanneer die Heilige Gees op verskillende mense uitgestort word.

Kom ek noem vir u ‘n praktiese voorbeeld hievan: Ek kyk baiekeer na families, blanke families, in Hermanus wie swart kinders aangeneem het – daar is heelwat sulke families in Hermanus. En dan sê ek vir myself: daardie familie is besig om aan ‘n groter familie te bou. Die oomblik daai kindjie hulle huis betree word hy of sy nou deel van hul familie en dit is nou onmoontlik om mure te bou. Die kindjie gaan begin MA en PA sê vir iemand wie glad nie soos hom of haar lyk nie, maar wie lief is vir hom of haar. En hoe sterker daardie verhouding gebou word, hoe sterker word die band van liefde tussen hulle. En op ‘n klein manier bou hulle iets nuuts, en dit is moontlik.

Dietrich Bonnhoefer, ‘n Duitse teoloog praat van hierdie tipe gemeenskap bou en hy waarsku ons teen idealisme – hy waarsku ons dat as ons eenheid nie in Christus gebou word nie, dan bou ons op valse fondasies. Hy waarsku ons teen ideale groepe wat nie bestaan nie, behalwe in ons verbeelding. Hy praat van werklike gemeenskappe, waar mense kwaad word vir mekaar, waar mense mekaar vergewe, die dinge wat daagliks in ons huise gebeur.

En as dit daagliks in ons huise gebeur, as ons daagliks geregtigheid in ons huis nastreef, as ons daagliks nuwe familiebande en vriendskapsbande smee sonder om dit te romantiseer, kan dit ook daagliks in ons kerk en in ons land gebeur. Dit moet, en die kerk moet die leiding neem. We must be headlights and not taillights, het Martin Luther King Jr gese. Ons moet die rigtingwysers wees, nie die brieke nie. Met so ‘n benadering en met God aan ons kant sal ongeregtigheid nooit seevier nie, maar as ons ons vertroue nie op hierdie God plaas nie en valse gode nastreef, sal ons dink dat en sal ons oortuig word dat ongeregtigheid altyd sal seevier.

Ons moet regtig ophou dat die Malemas en die Terreblanches en hulle wie agter hierdie groep skuil, die pas aangee. As ons stil is, en ons ‘n neutrale God dien, het ons wegbeweeg van die God wie Nabot se kant geneem het. Kom ons keer terug na die God van die Bybel, hierdie God van geregtigheid, en kom ons neem sy woorde in Jh 15 dat ons sy vriende is, die woorde van Paulus dat ons nou broers en susters is, erfgename is, kom ons neem dit ernstig en kom ons sê nee vir die goedkoop bree pad en ja vir die pad van daardie genade en geregtigheid wat op die kruis vir ons gekoop is en wat ons nou in staat stel om te se: Abba vader, omdat ons een met en in Christus is.

Mag die Here sy woord op ontvanklike harte laat val sodat dit baie vrugte sal dra.

Amen.

Lewer kommentaar