Opsomming van preek deur Andrew Fransman

Hierdie gedeelte is vir ons oorbekend.  Dit handel oor Jesus se liefde vir Tomas.   

Ons almal kan met Tomas identifiseer en assosiaeer - hy is 'n gewone ou.  Die ander dissipels is geloofsreuse.  Tomas is 'n gewone mens wat twyfel.

Almal van ons twyfel op een of ander stadium in ons lewe.  Twyfel is iets waaroor ons moeilik praat, net met ons mees intieme vriende.  Ons steek dit weg.  In elke gemeente is daar vanoggend mense wat twyfel.  Ander se getuienis ens.   sal vir hulle wat twyfel hul geloof nog meer opskort.  Dis jammer dat ons neersien op hulle wat twyfel.

Maar twyfelaars is nie mense wat sonder geloof is nie.  Twyfel en ongeloof is nie dieselfde nie.  Dink maar aan die worsteling van Job, die hart van Jeremia:  'n mens kry die gevoel dat hulle twyfel, terwyl hulle diep gelowig is en die Here volg.  

Daarom moet ons nie so hart oordeel oor mense wat twyfel nie.  Tomas was 'n gelowige wat met s geloof geworstel hy.  Hy's 'n eerlike mens, beoefen nie 'n "maak of ek glo"-geloof, 'n skyngeloof, nie.  Hy sê vir sy mede-gelowiges dat hy 'n probleem het om soos hulle opgewonde te wees.  

So is ons ook:  ons sukkel met ons geloof, om dit wat die Here vir ons gee te aanvaar, te verstaan, deel van ons lewens te maak, die Woord te absorbeer, werklik voltyds elke dag op die pad van die geloof te wandel.

Die opgestane Jesus is vir die tweede keer by die dissipels.  Hierdie keer is Tomas by.  Jesus sê:  "...moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig."  Jesus kon vir Tomas verwyt het, hom berispe.  Maar Jesus doen dit nie.  Hoekom nie?  Omdat Jesus vir Tomas liefhet, omdat Jesus Tomas se vermoë en potensiaal raaksien.  Liefde veroorsaak dat Jesus moeite doen met Tomas.  Hy praat baie persoonlik met Tomas - nie algemeen, in die bondel, nie.  Hy noem vir Tomas op die naam:  "Wees gelowig."

Jesus se woorde klink meer na 'n waarskuwing as 'n verwyt.  Dit sê nie:  jy's ongelowig!  Dit sê eerder:  pas op, jy staan op die rand van die afgrond van ongeloof.  Kom weg daarvandaan, sodat jy nie daarvan afstort nie.  

Jesus verwyt nie.  Jesus ryk in liefde uit.  Hy raak aan my, hy sê:  "voel aan my.  Vergewis jouself:  dit is ek." Jesus nooi vir Tomas twee keer uit - kom na my toe.

Dit is die tafel se boodskap.  Jesus sê:  Kom na die tafel, jy wat sukkel in geloof, wat twyfel, wat vol vrae is.  Want daar ontvang jy die geloof, daar word geloof gebore, ontkiem die geloof.  Al die Tomasse:  kom, steek jou hande vanmôre in die (tekens) merke van Jesus. 

Jesus neem die inisiatief, neem die eerste tree na Tomas.   Ons is anders.  As iemand ons teleurstel voel ons daardie persoon moet na ons kom om te kom regmaak.  Maar Jesus reik uit na Tomas.  en so reik die Here vanmôre uit na my en na jou.

Al die ongelowiges, twyfelaars, is vanmôre welkom aan God se tafel.  Mense wat sukkel met hul geloof, is welkom aan God se tafel.  

As Jesus met Tomas so praat, breek daar 'n nuwe dag in Tomas se lewe aan.  Hy sê:  "My Here en my God." Sy hart, oë, lewe gaan voor God oop.  Hy ervaar sy ongeloof skakel oor in geloof.

Mag die Here ook vanmôre ons harte aanraak aan sy tafel, liefdesete, sodat hierdie ook die plek sal wees waar my ongeloof in geloof sal verander.  "Moenie langer ongelowige wees nie, maar wees gelowig."

Dit is die boodskap van die kruis, van God se liefde.  Ons almal se tweede naam is Tomas.  Mag die Here ons almal tot ware geloof lei.

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar