Ons leef oop en bloot voor God se oë

Ons ken almal die fotograwe se jag op die blink en bekende mense van ons dag.  Dit is die paparazzi wat lang telefoto lense wag om ’n foto te neem wat die wêreld graag sal wil sien.  Gewoonlik is dit ’n foto wat geneem is toe die bekende onbewus daarvan was en glad nie verwag het dat daar ’n fotograaf in die nabyheid is nie.

Maar nou lees ons in ons teks dat ons oop en bloot voor God se oë leef!  Die Here sien dus alles wat ek doen.  Die Here weet van alles wat ek dink, Hy weet hoe ek voel!

Nou dit kan vir ’n mens ’n wonderlike ding wees om te hoor as  jy voel dat God ver van jou af is, of as jy voel jy het sy hulp nodig.  Dis wonderlik om te hoor dat die Here alles van jou weet as jy bruis van entoesiasme oor jou verhouding met die Here, as jy groei in jou geloof beleef, as jy die kerk as wonderlik en warm ervaar,  ens.

Maar as jy nie meer so entoesiasties voel nie?  As jy begin wonder oor baie dinge waaroor jy nog nooit gewonder het nie?  As jy  begin voel die kerk help jou nie meer nie?  Nog erger, as jy begin dink die kerk en die gemeenskap van die gelowiges is nie vir jou nie?  Is dit dan nog so wonderlik om te hoor dat die Here alles van jou weet?  Dat jy oop en bloot voor sy oë leef?

 

’n Mens kan probleme in jou verhouding met die Here hê

Ons moenie skrik nie.  Dit is moontlik dat ’n mens probleme met jou geloofslewe kan hê.  ’n Mens kan ’n probleem in enige verhouding waarin jy jou bevind, hê.  Ons kyk vanoggend na ’n situasie waar ’n mens nie geestelik groei nie, dit is asof jy ’n plato fase in jou geestelike lewe bereik het.  Jy het nog steeds dieselfde oortuigings as vroeër, jy aanvaar steeds dat Jesus Christus vir jou aan die kruis gesterf het, jy wil nie jou rug op die geloof draai nie, maar dit is asof die fut uit jou lewe met en voor Christus is.  Jy beleef nie groei in jou verhouding met die Here nie.

In hierdie plato fase glo ’n mens nog, maar daar is nie vooruitgang of groei, of verdieping in jou geestelike lewe nie.  In hierdie plato fase het jy tot stilstand gekom in jou verhouding met die Here.  Al glo jy nog, is dit dikwels nie meer met dieselfde oortuiging as vroeër nie.  Dit doen net nie meer dieselfde vir jou as vroeër nie.  Miskien ervaar ’n mens ’n ligte ontevredenheid met jou geloofslewe in hierdie tyd.

Daar kan baie dinge wees wat  bydra tot so ’n gestagneerdheid in ’n mens se geestelike groei.  Dit kan net wees dat jy geestelike groei nie as ’n prioriteit in jou lewe beskou nie.  Miskien het jy nie geweet wat die effek op jou lewe voor God gaan wees as jy geestelike groei nie as belangrik in jou lewe beskou nie.  Amper soos ’n huweliksverhouding begin agteruitgaan as ’n mens nie dag vir dag weer besluit om jou daaraan toe te wy nie. 

 ’n Mens kan ook so opgeslurp raak in die dinge van elke dag dat jou  fokus net nie meer so helder op jou verhouding met die Here is nie.  Miskien iets wat soos in die gelykenis van die saaier in Mat 13 met die saad gebeur wat tussen die onkruid gesaai word. 

22 Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.

Of daar kan emosionele kwessies in jou lewe wees wat so beslag op jou lê dat dit jou net verhinder om geestelik te groei.  As daar dinge in jou lewe is wat jou emosioneel so raak dat jy so baie van jou energie gebruik om daarmee besig te wees, dan kan dit vir jou moeilik wees om geestelike groei as ’n prioriteit in jou lewe te stel.

Maar soms kan die langdurige gestoei met die swaarkry of met die onvolmaakte ’n mens juis laat fokus op ’n werklikheid buite die onmiddellike realiteit waarin jy jou bevind.  Dit kan soms juis die swaarkry in ’n verhouding, of met siekte, of ’n ander probleem wees wat ’n mens se oë opmaak vir God se werk in jou lewe.  Dan mag die feit dat ons lewe oop en bloot lê voor God juis die impetus wees vir die groei in jou verhouding met die Here.

’n Ander moontlike rede vir ’n plato fase in ’n mens se  lewe mag ontevredenheid wees – ontevredenheid met die kerk.  Hierdie ontevredenheid met die kerk het dikwels nie met die uiterlike dinge te make soos die sang, te make nie, maar met die wesenlike:  dit doen nie veel vir my nie.  Daar is mense wat van mening is dat die kerk al hoe minder belangrik vir ’n mens word hoe jy meer groei in jou verhouding met die Heer.  Die kerk word al hoe meer ’n middel tot ’n doel, en nie meer ’n doel op sigself nie.  Die kerk word al hoe meer, volgens hierdie perspektief, gesien as  die plek waar jy gehelp moet word om jou geloof prakties uit te leef.

Ons kan ook wat dit aanbetref eerlik met onsself wees.  Ons is nie almal ewe tevrede met die kerk nie.  Die kerk voldoen nie altyd aan ons verwagtings nie, die kerk stel ons soms teleur.  Die kerk as instituut doen en sê nie altyd soos ons wil hê hy moet sê nie.  Die ander lidmate van die kerk stel ons soms teleur.  Hulle doen en sê ook nie altyd soos ons wil hê hulle moet nie.  Vroeër in ons lewensreis in die geloof was ons miskien minder krities, maar soms is dit net so dat ons later in ons geloofslewe die kerk net nie meer so hoog aanslaan nie.  Die kerk help ons net later nie meer so soos ons verwag die kerk moet nie.

Wat kan ons daaraan doen?

Dit help ’n mens nooit om oneerlik met jouself te wees nie.  Kom ons kyk na die Geestelike Barometer in die Joernaal wat aan u uitgedeel is.  Daar word gevra dat jy sal nadink oor wie of wat jou geestelik die meeste hinder.  Jy kan tien verhoudings, aktiwiteite, plekke of ervarings lys wat jou geestelike lewe die meeste benadeel.  Kom ons gaan kyk nou daarna.

Weet jy, jy mag maar eerlik wees met die Here.  Hy vra in elk geval ten diepste opregtheid.  In die geloofslewe werk fake it until you make it, glad nie!  Neem maar vir Ananias en Saffira.  Hulle het voorgegee om die ander gelowiges te beïndruk.   In dié proses het hulle hul lewe verloor!  En dit was nie nodig om hulle anders voor te doen nie!  Petrus sê:  Die grond was mos joune, jy kon mos met die geld gemaak het wat jy wou!

Ondersoek jouself dus eerlik.  Watter  emosionele kwessies is daar wat jou verlam?  Wat kan jy daaraan doen?

Hoe is jou houding teenoor ander?  Laat jy vir ander met hulle verskille die ruimte wat jy graag wil hê hulle vir jou moet maak?

Is jy so ’n bietjie (of selfs meer as ’n bietjie) ontevredenheid met die kerk?  Dan mag dit goed wees om baie goed ondersoek in te stel hoekom jy ontevrede met die kerk is.  Is jy om die regte redes of om die verkeerde redes ontevrede met die kerk?  ’n Mens kan ontevrede met die kerk wees omdat die kerk nie in ooreenstemming met God se bedoeling daarvoor is nie.  Maar daar bestaan ook ’n moontlikheid dat jy ontevrede met die kerk kan wees omdat jou verwagting van die kerk nie in ooreenstemming is met die Here se plan vir sy kerk nie.  Hier kan die uitspraak van David Bosch miskien help.  Hy sê jy kry twee soorte kerke:  mitiese kerke en messiaanse kerke.  ’n Mitiese kerk kyk na die verlede en bevestig die kulturele identiteit van sy lidmate.  ’n Mitiese kerk is ’n lekker kerk.  ’n Mitiese kerk is ’n godsdienstige klub waar mense tuis voel.

Hierteenoor is ’n messiaanse kerk ʼn volwasse kerk waar dit nie om die lidmate en hulle belange gaan nie, maar om die belange van die gekruisigde Jesus.  In so ’n kerk gaan dit nie oor hoe ek wil hê die kerk moet wees nie, maar hoe die Hoof van die kerk, Jesus Christus wil hê sy kerk moet wees.

Kom ons keer terug na ons teks van die dag: 

Heb 4:12 lui soos volg:

12 Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

 

Die Woord van God is lewend.  Dit beteken dat dit iets doen.  Die Woord is ook kragtig.  Dit beteken dit kan vir jou en vir my iets laat doen.  Die Woord van God kan vir ons verander!  Dit kan jou maskers afruk en vir jou na jou eie lewe laat sien soos God dit sien.  Dit bring die moontlikheid van verandering in ons lewe.  Dit bring die moontlikheid om te sien of jou bedoelings in ooreenstemming  met Here s’n is.  Dit sien ons telkens in die vroeë kerk gebeur as ons Handelinge gaan lees.  In Handelinge lees ons onder andere dat gelowiges leer dat hulle nie onderskeid tussen mense mag maak nie, dat hulle die Joodse wette waarmee hulle grootgeword het, nou op ’n nuwe manier moet verstaan.  Hulle moes leer om vanuit die nuwe verstaan van hulle verlossing ook nuut oor hulle eie kultuur te dink.  En om dit te kon doen, moes die Woord van die Here lewend en kragtig in hulle gewerk het!

Hervat dus jou persoonlike geestelike gewoontes.  Doen dinge wat jou lewe op die Here fokus.  Moenie in die eerste plek probeer om geestelik te groei nie.  Vra dat die Here ’n nuwe plek in jou lewe sal inneem.  Laat sy lewende en kragtige Woord toe om jou te verander.  Onthou:  Ons voel soos ons doen!

En gaan dit die kerk skielik ’n ander plek maak?  Gaan jou ontevredenheid oornag verdwyn?  Ek lees oor ’n tweede naïwiteit ten opsigte van die kerk.  Dit beteken jy kies bewustelik om verby die dinge te kyk wat jou hinder omdat jy raaksien dat die kerk daar is om vir jou te help om saam met ander jou geloof prakties uit te leef.  Fokus dan meer op dit wat die kerk vir jou prakties kan laat doen in ’n wêreld wat jou baie nodig het.  Kerk is dan ’n middel tot ’n doel:  Dit is jou geestelike motiveerder wat jou help om jou geloof uit te leef.

Kom ons gaan ontvang tekens van die Here se sorg uit sy hand as ons saam aan die nagmaalstafel gaan aansit.  Hy is daar vir ons, versorgend, naby, vergewend, liefdevol ...

Amen

 

’n Foto van ’n mielieplant word as PowerPoint agtergrond gebruik om as beeld van groei te funksioneer.  Willie Jonker het die beeld van ‘n mielieplant gebruik en vertel dat daar soms ’n groot kluit bo-op ’n mieliepit kan beland wat dan veroorsaak dat die mielie nie na die lig toe groei nie, maar ’n verwronge, in homself gekeerde mielieplant word ...

Kindertyd:   Verduidelik aan die hand van ’n verskeidenheid sjokolade waarvan die kinders kan kies dat ons nie almal van dieselfde goed hou nie, die almal dieselfde goed kan doen nie, en ook nog op baie ander maniere van mekaar verskil.  Dit is so ook in die gemeente.  Ook wat ons geloof aanbetref verskil ons.

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar