Geskryf deur Deon
|
16 Februarie 2009
Posted in
Preke -
Deon Binneman
Praat die waarheid – BELYDENIS EN SELFONDERSOEK – een van die gewoontes om die valse self te laat staan
1. Valse Self
Dra ons maskers? Is ek na buite soos wat ek na binne is? Natuurlik nie! Dankie tog vir goeie maniere wat die filter is waardeur my gedrag gestuur word sodat ek doen wat sosiaal reg is en nie soos ek voel om te doen nie. Hoe ek gaap en kou is ook nou die belangrikste voorbeelde nie. Daar is ingrypender dinge wat ek na buite doen, wat miskien nie so eg ek is nie. Dink aan jou verhoudings met ander mense. Jou empatie met mense, voel jy regtig so, of doen jy dit maar net omdat dit die regte ding is om te doen?
My selfversekerde optrede: voel ek na binne ook so, of woel dit soms hier binne-in my van onsekerheid? My geneigdheid om geredelik my mening uit te spreek sonder om ruimte vir ’n ander se mening ruimte te laat, voel ek na binne ook so, of is ek net juis so onseker, daarom het ek dit nodig om hierdie absolute sekerhede vir myself te skep.
My vroom geloofsverhouding met die Here: hoe eg is dit? My dikwels belyde liefde vir God, is dit leë woorde of deurleefde ervaring?
Die baie eise wat aan ons gestel word, die baie komplekse situasies waarin ons geplaas word waarin ons ’n optrede moet vind wat werk, wat doen dit aan ons? Ek wonder soms oor die storie dat ’n mens soveel verskillende lae kan hê soos ’n ui. Jy kan laag na laag afskil, en aan die einde bly daar niks oor nie. Ek is ’n eggenoot, ’n dominee, ’n verhoudingsterapeut, ’n kind, ’n oom, ’n .... Wat is ek in my kern regtig?
Dan vind ons dikwels ons identiteit in verkeerde goed van verbygaande aard. Hierdie valse self probeer om deur middel van minder belangrike goed soos sukses, status, familie, beroep, voorkoms en reputasie, ’n begrip van wie jy is te skep. Dan is ek ’n dominee of terapeut ook in my optrede teenoor my vrou of my familie. Of ek is ook in persoonlike verhoudings die uitvoerende amptenaar, of die hoogleraar.
2. Wie jy is in God se oë?
Die Bybel gee ons ’n ander perspektief op onsself as die wêreld. In die Bybel kry ons God se perspektief op ons. Daar sou veel meer wees wat ons kan aanhaal, maar hier is ’n paar gedeeltes wat tog help:
Ons uitgekies: 16 Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. (Joh 15:16)
Ons is geliefd: Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. (1 Joh 3:1)
Ons is vriende van Jesus: 15 Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. (Joh 15:15)
Ons is ’n tempel van God: 16 Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? (1 Kor 3:16)
Ons is geskep om die goeie te doen: 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Efe 2:10)
Ons op ’n wonderbaarlike wyse geskep: 14 Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: 15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. (Ps 139:14 & 15).
3. Verlore Seun
Is hierdie verhaal nie aangrypend nie? Na al die jare se bekendheid daarmee, tref dit steeds. Moontlik omdat ons onsself daarin kan erken. Die swaar wat hierdie jongman gekry het, dwing hom om op ’n realistiese manier na homself te kyk. Hy is tussen die varke, nie meer joviaal, gewild, ryk, nie. Slegter kan dit seker nie met hom gaan nie. Maar dit verskaf die impetus vir hom om te besluit: Ek sal na my pa toe teruggaan ...
En dan die ontroerende oomblik. Hy kom met al sy verskonings wat hy seker oor en oor soos hy gestap het, ingeoefen het. Pa, ek het teen God en teen pa gesondig ... Maar dit lyk my hy kry nooit die geleentheid om hierdie hele toespraak te lewer nie. Sy pa soen sy woorde van sy lippe af. Wat ’n mooi voorbeeld van ver-soen-ning, skryf ’n teoloog! En ook aangrypend: Sy pa sien hom toe hy nog ver was ... Hy moet dag vir dag vir hom staan en wag het!
So is die God wat ek en jy aanbid!
4. Ken jouself
En daarom, voor hierdie God, kan ek dit waag om myself te probeer vind. Voor so ’n God kan ek myself eerlik verootmoedig, kan ek my swakhede en valshede erken en bely. Want Hy veroordeel nie, Hy het lief, Hy wag vir my, Hy dink baie van my, ek wil my juis op ’n egte wyse voor Hom laat leef.
Daarom kan ek die Heilige Gees vra om my hart oop te maak oor dit wat waar is van my. Ek kan myself voor God oopstel omdat ek veilig by Hom is. Daarom kan ek bely en sy vergifnis vir myself toeëien, wat die begin van ’n pad van vernuwing en verandering is.
5. Hê jouself lief
Aanhaling uit Shirley Valentine.
Ek mag myself maar liefhê. Ek mag myself maar aanvaar. Want hoe sal ek julle kan liefhê as ek nie myself liefhet nie. Ons moet dan mekaar liefhê soos ons onself liefhet. Maar dit beteken dan nie dit is ’n onrealistiese selfliefde wat nie ruimte benodig vir bekering, vergifnis en groei nie! Dit is juis ’n sober oordeeloor jouself met jou sterkpunte maar ook jou swakpunte.
6. Vrug hiervan
Jy behoort in jou verhouding met die Here te kan groei. Hy behoort jou op hierdie pad te kan oortuig van verkeerde dinge in jou lewe. Want jy het ’n nuwe blik op jouself.
Jy behoort ook nuwe verhoudings met ander mense te kan kom. Jy behoort groter deernis met hulle swakpunte te kan hê ....
| < Vorige | Volgende > |
|---|






