Sondag, 22 Maart 2009

Ps 107:1 – 3, 17 – 22

Deon Binneman

Inleiding tot die erediens

Tradisioneel is die Vierde Sondag in Lydenstyd se naam Laetare, of Wees bly! Op hierdie Sondag wil ons bly wees oor God se redding, want sy redding is redding uit die grootste nood. Wanneer jy bedreiging in die ergste aard beleef, kan jy op God vertrou om jou te red. Hieroor kan ons ons verheug. Daarom is vreugde en blydskap die kenmerk hierdie Sondag se liturgie, al is dit ’n gedempte vreugde, omdat ons weet dat dit Jesus se kruisiging gekos het om ons te verlos.

Skriflesing

Voordat ons begin lees, is dit miskien goed om eers ’n geheelbeeld van hierdie baie mooi psalm te kry. Die herstel waaroor daar in die eerste drie verse van die psalm gepraat word, word in die volgende verse (4-32) aan die hand van vier voorbeelde uit die lewe verduidelik. Die ballingskap was baie om soos ’n karavaan in die woestyn verdwaal te wees (4-9). Dit was ook soos om in ’n gevangenis (10-16) te wees. Die verlossing was baie soos die herstel van ’n terminale siekte (17-22). Die bevryding het ook baie ooreenkomste met die redding van ’n skip uit die gevaar van ’n groot storm wat die lewe van almal aan boord bedreig het (23-32). Die tweede helfte van die psalm (33-43) is ’n veralgemening en samevatting van die voorafgaande gedagtes. Die oorspronklike doel van die psalm was lof vir die verslossing uit die ballingskap. Maar reeds van so vroeg as van Martin Luther af egter, is hierdie psalm gesien as ’n psalm van danksegging vir alle vorme van hulp wat God aan mense in hulle uiterste nood bied.

Psalm 107

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” 2 So moet die mense sê wat deur die Here bevry is, dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3 en uit baie lande versamel het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.

17 Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. 18 Alle kos het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai, 19 maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. 20 Hy het hulle met ’n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom. 21 Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 22 Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.

Woordverkondiging

Ons het gisteraand weer ʼn keer na die rolprent Chocolat gekyk. Die meeste van u het dit sekerlik al gesien. Dit speel in die sestigerjare in ʼn klein dorpie in Frankryk af. Vianne en haar opgeskote dogter open ʼn sjokoladewinkel, maar ongelukkig tydens die vas gedurende die lydenstyd. Die burgemeester is die bewaker van die dorp se sedes en probeer hierdie verderflike invloed uit sy dorp kry. Maar haar warm betrokkenheid by mense maak haar geliefd. So ontwikkel die verhaal as ʼn kontrasterende tekening van die burgemeester se vreugdelose vermyding van aangename dinge teenoor Vianne se liefdevolle, helpende betrokkenheid by ander.

Nadat die burgemeester tot ʼn val gekom het, kry die bloedjong priester vir die eerste keer die geleentheid om self sy preek voor te berei. En sy aangrypende boodskap is: Ons goedheid word gemeet nie aan wat ons nié doen nie, maar aan dit wat ons wél doen! Lydenstyd kan juis ’n tyd van blydskap vir die verlossing wees waartydens ons op ons nuwe lewe en die nuwe moontlikhede fokus.

Daarom: Al is dit Lydenstyd, is dit tegelyk ook vreugdetyd. Want dit is verlossingstyd!

Terwyl Lydenstyd in die vroeë kerk met vas en dus boetedoening gepaard gegaan het, was die element van vreugde nie afwesig nie. Daarom het die vierde Lydensondag as Laetare (“wees bly”) bekend gestaan. Te midde van die meelewing van gelowiges met die onpeilbare lyding en smart van die Here Jesus, was daar ’n diep vreugde oor die weldaad van verlossing wat dit teweeggebring het. Ook by die kerke van die Reformasie, waar die klem op lydensprediking val, kan dit nooit losgemaak word van die blye wete dat Jesus se lyding die onontwykbare aanloop tot die opstandingsvreugde was nie. Op die vierde Lydensondag word die hele verlossingsplan in oënskou geneem en die gemeente opgeroep om die Here daarvoor te loof.

Die voorbeeld van die genesing van ’n terminale siekte help ons om te verstaan hoe ingrypend ons verlossing uit die sonde is en hoe dankbaar bly ons daarvoor behoort te wees! Daar is algemene eenstemmigheid dat dit in hierdie gedeelte oor die verlossing uit ’n siekte wat deur ’n sondige lewenswyse veroorsaak is, gaan. Die persoon is dus skuldig en siek. Verlossing beteken dus liggaamlike genesing en bevryding van die verwyt oor die sondeskuld! ’n Dodelike siek mens wat skielik nie meer die simptome van die siekte ervaar nie, en ook kan ervaar dat hy/sy vergewe is, kan nie anders as om baie, baie bly te wees nie!

Ons kan die driedeling wat ook in die Heidelbergse Kategismus voorkom, naamlik Sonde, Verlossing en Dankbaarheid, ook hier van toepassing maak aangesien dit ook so in Ps 107 na vore kom.

1. Sonde

Ons vind dit moeilik om ’n diepgaande besef van die sonde te hê. Ons gebruik dikwels ander woorde daarvoor. Mense se sondige lewenswyse word dikwels dit wat hulle bekend en gewild maak!

Om oor sonde te praat, het in ons dag ongewild geraak. Daar is mense wat sê dat dit nie meer in ’n Nuwe Testamentiese erediens tuishoort nie. Dit ontmoedig mense. Daar moet veel eerder op die nuwe lewe of ander positiewe dinge gefokus word. Ek het al by geleentheid die bekende skildery van Fernand Cormon, Die Vlug van Kaïn, wat in die Orsay-museum in Parys hang, tydens die skuldbelydenis in die erediens gebruik. Dit het soms kommentaar ontlok wat daarop neerkom dat dit darem ’n baie harde, Ou Testamentiese, uitbeelding van die stukkendheid van die sonde is. Dink jy hierdie skildery pas in die erediens?

Kain

Onthou: Dit is slegs as jy die diepte van die sonde verstaan, dat jy diep dankbaar kan wees oor die Here se liefde wat die verlossing bewerkstellig. Is ’n vreugdelose geloofslewe nie toe te skryf aan ’n oppervlakkige begrip van die sonde nie?

2. Verlossing

God verlos omdat Hy volgens Johannes 3:16 uit die drang van sy liefde, wat inderdaad volgens 1 Johannes 4:16 sy wesenseienskap is, sy Seun tot redding van die wêreld gegee. In die konteks van die lydensprediking kan dit toegepas word op die sondaars wat uit alle nasies en tale oor die hele wêreld heen verlos is van hulle straf en vir wie nuwe lewensmoontlikhede gegee is. Vergelyk die vader in die gelykenis van die Verlore Seun. Toe die seun nog ver aangekom het, het die vader hom al gesien en na hom toe gehardloop ... So is God, die Vader. Hy wil vergewe, Hy wag vir ons.

Vers 19 en 20 gee ’n bondige beskrywing van die bevryding van die sondaars uit die nood, sowel as hulle genesing van die siekte tot die dood toe. In hulle ellende roep hulle na die Here om hulp. Dit kan hulle slegs doen omdat hulle aan die een kant van hulle dwaasheid en aan die ander kant van die Here se reddingsvermoë bewus oortuig kon word. Hierdie insig kan nie uit hulle self kom nie. Die Here het sy woord uitgestuur (v 20 OAV) om die hele verlossingsproses te bemiddel. In Job 33:23 en 24 tree ’n engel, vir die mens in nood, as bemiddelaar op wat (a) hom aansê wat sy plig is, (b) wat vir hom pleit en (c) wat ’n losprys vir hom aanbied. Sy reaksie daarop en die Here se antwoord bewerk sy volkome genesing. Uiteindelik weet ons dat God se Woord in Jesus Christus mens geword het (Joh 1). Hy bewerk as Middelaar die vergiffenis, die verlossing en die genesing vir die sterwende sondaar wanneer Hy aan die kruis sterf. Hierdie losprys wat Hy betaal, het nie alleen die sondaar se skuld vereffen nie, maar hom losgekoop van die dood sodat hy die ewige lewe kan verkry en dit sonder enige verdienste aan sy kant. So word ons verhouding met die Vader herstel, so word ons weer ’n kind vir wie die skoene en die nuwe klere en die ring gebring word, en vir wie daar ’n feesmaal voorberei word. Want hierdie kind van my was verlore, maar is gevind ...

3. Dankbaarheid

As die geneesde mens, die verlosde mens, regtig besef wat die implikasies daarvan vir sy/haar lewe is, kan hy/sy nie anders as om die Here met dankoffers te loof en met blydskap van sy dade te getuig nie.

Hebreërs 13:12-16 som die handelinge van danksegging op deur klem te lê op ’n lewe wat in hierdie wêreld geleef word met die oog op ’n vaste toekomstige verblyfplek, ’n voortdurende lofoffer deur Jesus aan God en ’n diens van goed doen en mededeelsaamheid aan ander.

Die lydensweg van die Middelaar vind sy hoogtepunt in die bewerking van die opstanding uit die dood. Daarvoor ken die dankbaarheid van die verlostes geen perke nie en moet dit volgens die voorskrif van 1 Korintiërs 15:58 uitgedruk word: “Daarom, liewe broers (en susters), wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Om so ’n Here te dien, kan nie ’n vreugdelose plig wees nie. Om getrou aan jou lewensmaat vir wie jy liefhet, te leef, is nie ’n langgesig onderneming nie. Dit is ’n spontane vreugde! So behoort dit ook te wees in ons verhouding met God!

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar