Verstaan jy dat die Heilige Gees jou jou grense wil laat oorsteek?

Teks: Hand 8:26-40

Sondag 10 Mei 2009

Deon Binneman

Kyk wat kan gebeur as ’n natuurlike grens oorgesteek word!

kat_en_hond_1b

Hierdie foto word deurlopend as agtergrond beeld gebruik.

1. Steek jy jou grense oor?

As jy die Here ontmoet, beweeg jy die Here, of beweeg Hy jou, pas die Here by jou skema aan, of pas jy by sy skema aan? Laat ons nie te vinnig antwoord nie. Dit is nie so maklik om te weet in watter mate jy die Here toelaat nie ...

In die teks vandag sien ons duidelik hoe die H G mense in beweging bring, en hulle hulle eie grense laat oorsteek ... God se werk in ons word juis sigbaar in die gemeente wanneer ons grense oorsteek en vooroordele laat vaar.

Handelinge vertel die verhaal van hoe dat die kerk onder leiding van die Gees van God die evangelie vanaf Jerusalem reg oor die wêreld verkondig het.  In hierdie proses moes landsgrense, maar dikwels ook eie grense oorgesteek word. Eie vooroordele moes raakgesien en laat vaar word. In hierdie deel van Handelinge word vertel van drie individuele bekerings – die bekering van die naamlose man uit Afrika; Paulus, die vervolger en Cornelius die heiden.  Saam maak hulle dit duidelik dat die evangelie aan almal reg oor die wêreld verkondig sou word.

2. Die evangelie vereis dat grense oorgesteek word

Die Here het Filippus deur ’n engel gestuur om ’n vreemde man op ’n stil pad, op ’n ongewone plek en tyd, te ontmoet. Hierdie persoon met wie Filippus moes gaan praat, was ’n heel interessante figuur:

Hy was uit Afrika afkomstig.  Ons het waarskynlik hier met ’n Nubiër te make, iemand wat in die gebied suid van Egipte woonagtig was.

Hy was ’n hooggeplaaste amptenaar aan die hof van die koningin-moeder wat die titel “kandake” gedra het.  Aangesien die koning van Ethiopië as ’n godheid beskou is, is hy as te heilig beskou om hom met gewone regeringsfunksies op te hou.  Vandaar dat die moeder van die koning hierdie taak op haar skouers geneem het.  In vandag se terme was hy dus hulle minister van finansies.

Hy was ’n eunug, ’n ontmande.  Dit was nie ’n vreemde gebruik in die Ooste dat soldate wat die koning se vroue opgepas het, asook hooggeplaaste paleis amptenare wat saam met die koningin-moeder moes werk, ontman is nie.

Hierdie amptenaar was duidelik ’n godvresende, dit wil sê ’n nie-Jood wat hom tot die Joodse geloof bekeer het.  Hy was op pad terug van Jerusalem af waar hy God gaan aanbid het.  Die reis van meer as 3200 km kon so lank soos tien maande geduur het!  Hy was dus ’n vasberade man.

3. Hierdie man het iemand nodig

Lukas vertel dat hierdie Etiopiese amptenaar op sy wa uit die profete boek Jesaja sit en lees het.  Filippus het hom egter gevra of hy verstaan wat hy lees (vers 30), waarop die amptenaar antwoord dat hy niemand het wat die teks vir hom kan uitlê nie.  Die woord wat hy gebruik vir uitlê beteken om te lei of begelei (soos ’n gids).

Filippus het die gedeelte oor die lydende dienaar van die Here uit Jesaja 53:7–8, waaruit die amptenaar sit en lees het (8:31–33), vir hom verklaar.  Filippus het hierdie gedeelte, wat oorspronklik vertel het van ’n verlossingsfiguur in Israel, op Christus toegepas (8:34-35).  Hy is immers die Een wat soos ’n lam na die slagplek toe gelei is ter wille van ons sondes en wat tot in die dood toe verneder is.

4. Watter grense verhinder dat hierdie man uit Afrika gedoop word?

Nadat die amptenaar die goeie nuus aangaande Jesus gehoor het, vra hy vir Filippus toe hulle by water verbyry of iets hom verhinder om hom te doop (8:37–38).  Die vraag van die amptenaar of iets hom verhinder om gedoop te word, is ’n belangrike een.  Hy het naamlik geweet van grense tussen hom en God en tussen hom en die geloofsgemeenskap.

Die Etiopiër was ’n heiden.  Maar as God dan die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden afgebreek het (Ef. 2:14), wie is hy, Filippus, dan om weer mure op te rig?  Die feit dat hierdie man uit die heidendom is, vind Filippus geen verhindering nie.

Hierdie man was ’n hooggeplaaste staatsamptenaar van die koningin van die Etiopiërs, letterlik ’n “magtige.”  Binne die samelewing mag die verskil tussen magtiges en onmagtiges groot wees, maar binne daardie vreemde gemeenskap wat ons die kerk noem, dit wil sê daardie gemeenskap wat leef uit die vreemde geregtigheid van God in Christus Jesus, is die muur van skeiding tussen ‘high society’ en ‘hoipolloi’ afgebreek.

Die man is ook ryk.  Maar hoe dit ook al sy, die verskil tussen ryk en arm mag in die samelewing baie belangrik wees maar binne die kerk, as daardie gemeenskap wat leef uit die rykdomme van God in Christus Jesus, is die verskil tussen ryk en arm, tussen elite en skorrie-morrie, irrelevant.

Die Etiopiër was ’n ontmande.  Dit het beteken dat hy nie in die Ou-Testamentiese volk van God opgeneem sou kon word nie (sien Deut. 23:1).  Sou hierdie man sonder geslag of nageslag so by die deurblaai van Jesaja se profesie dalk afgekom het op Jes. 56:3-5 wat sê: 

3 ’n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ’n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ’n droë boom nie. 4 So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, 5 aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.

’n Laaste grens was dat hierdie man van ’n ander “ras” was, ’n Kusiet uit Afrika.  Maar dit kan Filippus nie skeel nie.  Binne die kerk as die gemeenskap van mense wat net maar leef uit God se genade, het rasseverskille nie opgehou om te bestaan nie, maar dit het opgehou om belangrik te wees.  Wat wel afgebreek is, is mure; mure van vooroordeel, mure van minagting.”

5. Wat hoor jy vanoggend by die Here?

Hoe die Heilige Gees vir Filippus gelei het, word baie duidelik in ons Skrifgedeelte vir ons uitgewys.  Dit mag sommige mene dalk laat wonder waarom hulle nie self die Gees so duidelik met hulle hoor praat nie.  Die Heilige Gees lei mense vandag nog deur die Woord; en deur omstandighede (soos waar daar vir ons ’n deur oop- of toegaan); en deur ander mense (soos waar ons binne die gemeenskap van die gelowiges deur die Here van iets oortuig word); en selfs deur die gebruik van ons gesonde verstand wanneer ons dit in diens van die Here stel. Stel ons ons beskikbaar om gelei te word?

Hoe bruikbaar is ons vir die Here? Watter mense is daar wat God wil insluit in sy koninkryk wat dalk nog deur onsself of ons gemeente buite gehou word?  Watter grense is daar wat ons nie vandag wil oorsteek na ander nie?  En ook: Is ons werklik sensitief vir die leiding van die Gees sodat ons nie ’n hindernis vir God se plan met die wêreld is nie?

Daar is ’n wonderlike in dié verband van Franciscus van Assisi. Hy het eenmaal ’n leerling van hom genooi om saam met hom in ’n nabygeleë dorpie te gaan preek. Die jong priester het dadelik ingestem. Wat ’n kosbare leerervaring! Om die groot leermeester self te hoor … Toe hulle in die dorpie kom, het Franciscus dadelik ’n geselsie gaan aanknoop met die slagter, toe ’n draai gemaak by die skoenmaker, en later gaan inloer by ’n vrou wat haar man onlangs verloor het. Daarna is hulle na die dorpie se skool waar hy met die kinders gespeel en na die onderwysers se probleme geluister het. So het dit die hele oggend aangegaan. Teen die middag sê Franciscus: “Nou ja, ons is klaar hier, my vriend. Ons kan maar huis toe gaan.” Die student was stomgeslaan en het kwaai geprotesteer: “Met alle respek, Meneer, maar ons het tog gekom om te preek? En ons het nog glad nie dáárby uitgekom nie.” “Het ons nie?” vra Franciscus. “Mense het tog die hele oggend na ons gekyk en geluister. Elke woord wat ons gepraat het, elke daad wat ons gedoen het, was ’n boodskap. Ons het die hele môre gepreek!”

Geen wonder nie Franciscus van Assisi het gesê: “Preek sonder ophou. En as jy regtig moet, kan jy woorde gebruik!”

AddThis Social Bookmark Button

Lewer kommentaar